Suid-Afrika is in ’n volle ekonomiese resessie. “Tegniese resessie” se voet.
Die wisselvalligheid van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, ons fiskale tekort wat dreig om ons oor die fiskale afgrond te stoot, en die algehele gebrek aan ekonomiese groei wat verantwoordelik is vir die erge werkloosheidsyfer van nagenoeg 38% is besig om inflasie te laat styg en pryse van goedere deur die dak te druk.
Maak jou gordel vas. ’n Skurwe reis lê vir ons voor.
Nie eens die aanstelling van die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, gaan ons in die nabye toekoms red nie. Net drastiese ekonomiese besluite sal ons van die huidige ekonomiese trajek van ondergang kan red.
Terwyl die rand tot sowat R14,71 teen die dollar versterk het ná Mboweni se aanstelling nadat dit aanvanklik weens die onsekerheid oor Nhlanhla Nene se posisie tot R15 verswak het, het die fokus intussen na die lewering van die mediumtermynbegrotingsrede op 24 Oktober verskuif.
Die verwagtinge is groot, maar die beweegruimte vir Mboweni is min, want die staat se uitgawes oorskry sy inkomste. Die begrotingstekort gaan vanjaar tot ongeveer R51 miljard styg en dit gaan broekskeur om dit onder 60% van die bruto binnelandse produk (BBP) te hou. Breek dit deur die 60% merk, word ons afgegradeer tot ekonomiese rommelstatus deur kredietgraderingsagentskappe. Inflasie en die werkloosheidsyfer sal die hoogte inskiet tot op ’n punt waar die lewe onbekostigbaar sal wees.
Die bevolking groei vinniger as die ekonomie – op pad na 60 miljoen mense. Hoe gaan ons dus in die behoeftes van die mense voorsien terwyl staatsfinansies vermors of gesteel word?
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Wêreldbank het reeds hul verwagtinge vir Suid-Afrika se ekonomiese groei tot onder 1% verlaag, teenoor die wêreldekonomie se 3,7% vir vanjaar en volgende jaar.
Boonop het Suid-Afrika 12 plekke gedaal en is nou in die onderste helfte van 162 lande in die jongste jaarverslag oor ekonomiese vryheid. Die verslag deur die Fraser-instituut – wat beskou word as die vyfde mees invloedryke verslag wat deur die wêreld se 6 618 dinksentrums uitgereik word – bevestig Suid-Afrika se vryval van die 45ste plek in 2003 tot 94ste in 2016.
Die wegholpetrolprys maak die lewe nog moeiliker. Nagenoeg 60% van alle werkende mense is afhanklik van die taxibedryf. Hulle spandeer ongeveer 30% van hul inkomste aan openbare vervoer – wat moontlik weer kan styg omdat petrol binnekort R20 per liter sal kos.
Die groot vraag is hoe om die finansiële en ekonomiese krisis op te los, veral omdat die onlangse werkberaadooreenkoms gefinansier moet word met geld wat die regering nie het nie. Die regering wil ’n “afval-ekonomie” skep wat werk kan verskaf. Om dit te finansier gaan verbruikers ’n “herwinningsbelasting” op sekere items moet betaal.
Boonop moet Cyril Ramaphosa se ekonomiese-stimuluspakket van R50 miljard ook gefinansier word deur geld wat die land ook nie het nie.
Beteken dit hoër belastings? Is daar ruimte vir hoër belastings?
“Nee,” sê regter Dennis Davis. Hy sê Jan Taks se insamelingsvermoë moet liewer verhoog word. Davis laat egter na om te noem dat die belastingbasis van ongeveer 10 miljoen mense nie genoeg is om vir luukshede te betaal nie. Boonop het die staat se vermoë om belasting in te vorder verswak. Dit is waarom die Inkomstediens (SAID/SARS) verlede jaar R50 miljard minder belasting ingesamel het. Vanjaar sal die syfer tot R51 miljard styg.
Die belastingbasis kan egter vergroot word net indien meer mense werk het om belasting te betaal. Dit is die groot olifant in die vertrek. Die fokus moet dus wees op werkskepping en nie op hoër belastings nie – hetsy persoonlik of deur BTW.
Die goeie nuus is dat groei veral in die landbou, mynbouwese en vervaardigingsektor gaan plaasvind. Wat die regering moet doen, is om ’n gunstige ekonomiese klimaat te skep vir dié groei om te kan plaasvind. Dit is hoe die resessie geklop kan word.


Kommentaar
HOOGSTE PRIORITEIT: Die Suid-Afrikaanse nasie moet spoedig as nasie volhoubaar en voldoende ekonomies wêreldkompeterend raak om buitelandse valuta te verdien vir voorspoed vir ALLE Suid-Afrikaners. Dit verg 'n nasie-visie, kreatiwiteit en dissipline en 'n agiele strategie en behoorlike professionele implementering.
Vergeet van buitelandse beleggings. Onbetroubaar. Direkteure en top bestuurslui moet hulself deeglik vergewis van die verpligtinge en verantwoordelikhede van direkteur wees. En hulle moet hulself op hoogte bring van die VSA se Baldrige Excellence Framework for Performance Excellence en ISO standaarde op hul besighede van toepassing. Fokus op kwaliteit dokumentasiebestuur vir naspeurbaarheid en om die luiaards en korruptes uit te vang en die eerbare ware presteerders te beloon.
En die regerende party moet afstand doen van hul noodlottige ideologie van NDR en NDS en daarop fokus om 'n gebruikersvriendelike gelyke speelveld vir besighede en entrepreneurs en ALLE Suid-Afrikaners te skep.
Die meerderheid staatskole is 'n nasionale skande. Dit is nie die rol van universiteite om swak onderwys op skoolvlak reg te stel nie. Die Minister en Topbestuur van die nasionale departement moet vervang word met passievolle ervare onderwysers en skoolhoofde. Fokus op die spoedige daarstelling van onderwyskolleges.
Fokus onmiddellik op die onwettige immigrante en "wettige immigrante" wat op onbehoorlike wyse SA binnegekom het terwyl Suid-Afrikaners smag na werk. En voed die nasie op om nie meer as drie kinders per gesin te hê nie. Finish en klaar.
So die sleutelvraag is: "Is daar die nasie-wil en nasie-integriteit?"
Al die probleme saam is mos nie moeiliker as kernfisika nie? Waarom al die gesloer en baie praat en vrotsige prestasies sedert 1994?
Suid-Afrikaners gaan beslis in die toekoms kry wat hulle verdien.