Suid-Afrika: een groot tuisland

  • 0

Boekomslag: verskaf

Dertig jaar gelede is die Rapportprys vir niefiksie vir Die Derde Oorlog teen Mapoch aan my toegeken. Die prysgeld was welkom, want ek het in die skuld geraak met die skryf daarvan, en in 1992 was R7 500 baie geld – dit was die ruimste pryse in die land – maar groter nog was die verligting, dat ek nou ’n streep onder ’n tydperk in my lewe kon trek. Ek hoef nie meer oor apartheid of vir die struggle te skryf nie! Ek wou die wêreld gaan verken.

Toe ek sukkel om die boek in Engels uitgegee te kry, het ek nie te hard baklei daarvoor nie. Ad Donker, wie se uitgewery voor in die stryd met die publikasie van Engelse dissidente boeke was, was gaande daaroor en het ’n kontrak gestuur. Ek het egter nagelaat om dit te teken, en toe hy kort daarna sterf, was die konserwatiewe Jonathan Ball, wat Ad Donker Publishers gekoop het, nie vreeslik proaktief om sy nalatenskap voort te sit nie. Buitendien, het hy verklaar, niemand stel meer in tuislande belang nie.

Ek het ook so gedink. Die grootste impak is gemaak deur die deel in die boek oor die 19de eeu in die aanloop tot die tweede oorlog teen Mapoch, soos die ZAR se mense die twee Ndebele-stamme, die Ndzundza en die Manala, genoem het na hul groot opperhoof van die 1840’s, Mabhogo. Hy het ’n wit setlaarmag in die eerste oorlog verslaan. Oorlogstories werk altyd beter.

Die ander twee dele handel oor die res van die Ndebele-geskiedenis, insluitende die stigting van die tuisland van KwaNdebele in die 1970’s tot net ná die mislukking van die apartheidstaat se geheime veldtog van terreur teen die koningshuis en sy ondersteuners in 1988, toe ANC-lede vir die eerste keer aan ’n verkiesing in Suid-Afrika deelgeneem het. Daar was te veel tuisland en te min Nuwe Suid-Afrika.

.............
Die ander twee dele handel oor die res van die Ndebele-geskiedenis, insluitende die stigting van die tuisland van KwaNdebele in die 1970’s tot net ná die mislukking van die apartheidstaat se geheime veldtog van terreur teen die koningshuis en sy ondersteuners in 1988, toe ANC-lede vir die eerste keer aan ’n verkiesing in Suid-Afrika deelgeneem het. Daar was te veel tuisland en te min Nuwe Suid-Afrika.
...............

Twee klassieke boeke werk met materiaal uit KwaNdebele, Joseph Lelyveld se reportage in Move your shadow en David Goldblatt se fotografie in The Transported. Maar beide het omgedraai by die laaste busterminus van die reusagtige vloot Putco-busse wat werkers vir 20 uur van die dag na en van Pretoria aangery het; die res van die tuisland het gemarginaliseer gebly. In die jare hierna het Tafelberg ingestem tot publikasie van my eie Engelse vertaling, mits ek allerhande ekstra werk doen, en soos Lelyveld en Goldblatt het ek gereken die kool was die sous nie werd nie.

Helaas, nou weet ek van beter. Vandag is die “Nuwe Suid-Afrika” lankal daarmee heen en al wat ek sien, is tuisland, oral om my. Suid-Afrika is een groot KwaNdebele. In die 1980’s het stories uit KwaNdebele die wêreld verstom, as die kleinste en mees onvolhoubare tuisland was dit sinoniem met die absurde aard van afsonderlike ontwikkeling. ’n Minister het verklaar ’n Ndebele sal nog eendag maan toe gaan. Afvalliges is gestraf deur hulle op seepvloere onder swepe te laat dans. Enigiemand met ’n Afro-haarstyl is ondervra as ’n vermeende comrade. Toe PW Botha se sentrale regering nie wapens wou uitdeel aan “kitskonstabels” nie, het hulle met pikstele geparadeer.

Dertig jaar later is die vlak van absurditeit in die land as geheel nie laer nie, inteendeel. Die president veg om sy politieke lewe, want hy steek geld in ’n rusbank weg. Transnet is in ’n gemors nadat hy lokomotiewe vir die verkeerde spoorwydte bestel het. ’n SAUK-baas verklaar hy is korrup, maar dis goed vir almal. Eskom het die land se toekoms verkoop aan Japans-Amerikaanse spekskieters oor skoon steenkool. “Only in Mzansi” is al amper ’n slagspreuk vir toerisme. 

............
Dertig jaar later is die vlak van absurditeit in die land as geheel nie laer nie. Allermins. Die president veg om sy politieke lewe, want hy steek geld in ’n rusbank weg. Transnet is in ’n gemors nadat hy lokomotiewe vir die verkeerde spoorwydte bestel het. ’n SAUK-baas verklaar hy is korrup, maar dis goed vir almal. Eskom het die land se toekoms verkoop aan Japans-Amerikaanse spekskieters oor skoon steenkool. “Only in Mzansi” is al amper ’n slagspreuk vir toerisme. 
.............

Ek bevind my in ’n soortgelyke toestand as 30 jaar gelede, nie soseer van ontnugtering nie as van herontdekking. Destyds was ek nie veronderstel om ’n boek oor KwaNdebele te skryf nie. As ’n direkteur van Taurus en ook joernalis het my bydraes wel gegraviteer na meer politiese werke; ek het gevoel my kamerade in die akademie was geneig om sensuur bloot as a ’n literêre ding te sien, terwyl apartheid een hele, massiewe oefening in sensuur van swart mense in ons lewens was. Ons het mekaar ook nie verstaan oor bemarking nie; ek het gevoel ons doen gans te min. Op ’n kol is ek selfs verbied om met die pers te praat  – my eie kollegas! – nadat ek in ’n aanval van deursigtigheid tydens ’n onderhoud verklaar het Taurus maak nie juis hond haaraf teen die staat nie. Ook was ek erg ongemaklik oor die gebruik om vergaderings met ’n rassistiese grap te open, al kon ek wegkom deur “porra”-stories aan te dra.

Ek het rondgeloop op soek na materiaal en by Brian Currin van Lawyers for Human Rights beland, ’n onbesonge held wat later een van die argitekte van die Waarheidskommissie sou word. Dit was nie moeilik om hom oor te haal om ’n pak dokumente aan my te gee nie oor die moord op die polisieman Richard Motasi deur wat soos ’n moordbende gelyk het.

Ek het dit bo-aan ’n lys van projekte vir myself geplaas om op ’n vergadering te bespreek. Toe ek dit voorlê, en die Motasi-saak uiteensit, het John Miles verklaar: “Ek sal dit doen.” Ek wou nog teëstribbel, dit was dan my lys van take, maar dinge was nie lekker tussen ons nie, en ek het in ’n flits ’n kans tot groter harmonie gesien. Maar die konsternasie op my gesig was seker duidelik, en Miles het bygevoeg: “Jy gee nie om nie, nè?”

“Nee,” het ek gesê, en die stel dokumente in hul inkopiesak wat ek saamgebring het, net so aan hom oorhandig. Dit het uiteindelik Kroniek uit die Doofpot geword.

Ek het aanbeweeg na die tweede projek op my lys: ’n inligtingsboekie in Afrikaans oor die vakbonde. Ek is na Cosatu se hoofkwartier, maar niemand wou met my praat nie. Daar was ’n eienaardige atmosfeer van vrees en verstarring, geen werk was aan die gang nie. Naderhand het ek by ’n saal uitgekom waar drie gelate mans op ’n verhoog gesit het. As die enigste wit mens daar het die voorsitter my van die verhoog af gevra wat ek daar maak. “Press,” het ek van agter geroep, waarop ek uitgeboender is. Die volgende dag het die aaklige waarheid bekend geword: die mans was besig om verhoor te word op aanklagte van verraad en is later die dag tussen mynhope langs Johannesburg se ikoniese Top Star-inry gehalssnoer.

Dus die derde onderwerp op my lysie: KwaNdebele, en die waas van geheimhouding rondom gebeure daar. As die “mees tradisionele”-tuisland het die koningshuis onafhanklikheid verwerp, en ek het gedag ons almal behoort te weet presies waarom. Die lus het egter ontbreek, en ek was besig om te knies oor die Motasi-storie. Currin stel my toe egter voor aan Mighty Mgidi, ’n werker in sy kantoor wat uit KwaNdebele gevlug het, waar hy die klerk van die tradisionele owerheid was.

Mighty en ek het uit die staanspoor gekliek, en hy het goed verstaan wat ’n skrywer nodig gehad het. Maar eers wou ek ’n hoofstukkie oor die geskiedenis skryf, en ek het dit in Tukkies se argiewe gaan soek. Daar het ek ontdek die Ndebele-geskiedenis was net so weggesteek as die tuisland.

 Daar was selfs ’n skandaal daaroor. Albert van Jaarsveld, seun van die welbekende FA van Jaarsveld, se MA-verhandeling oor die 19de eeuse oorloë teen die Ndebele is afgekeur deur Tukkies, maar daarna het Rhodes-universiteit ’n MA met lof aan hom toegeken. Die vet was in my vuur. Albert het my toegelaat om al sy materiaal te gebruik, het foto’s gestuur en wenke verskaf vir my eie navorsing in Tukkies se biblioteek, in die “Mingebruikte”-afdeling, eintlik ’n eufemisme vir “sensuur”.

My opoffering was verniet. My Taurus-kamerade het ’n hele lys aanklagte opgestel en wou dit aan my voorlê met die oog op afdanking. Self was ek nie van blaam te onthef nie, ek was te aggressief en het nie in goeie maniere geglo nie, maar ek het hulle voorgespring en bedank. Teen daardie tyd het my eie lysie besware die gewoonte ingesluit dat skaars geld van oorsee bestee word op ’n oorsese reis deur een van ons, kwansuis om donateurs te gaan besoek. Die afkeuring van ’n werk deur my boesemvriend, Harry Kalmer, het ook nie gehelp nie.

Maar tydens die Watervalberaad met die ANC in Zimbabwe het ek en Ronel Scheffer gesels en haar werkgewer, Idasa, het tussenbeide getree as borg. Dit kon nou groei van iets skaars meer as ’n pamflet na ’n uitgebreide navorsingsprojek. Weens ’n misverstand was dit die enigste Afrikaanse boek wat Idasa sou uitgee. 

Hierdie relaas is van toepassing op vandag omdat ek dieselfde verskuildheid van gebeure en politiese neigings ervaar as toe. ’n Paar toevallighede moes plaasvind voor ek die volle, fassinerende verhaal teësinnig kon uitkrap en so half per abuis genoeg geld kon kry om alles behoorlik na te vors  – die destydse gebeure, verskuil agter ’n polisiekordon om KwaNdebele en die geskiedkundige gebeure, verskuil agter nie net ’n akademiese gordyn nie, maar ook die aktiewe geheimhouding deur die ZAR en die Britse koloniale regering.

..........
Vandag is die gordyn weer daar. Net soos die nasionaliste die Ndebele aanvanklik nie erken het nie, erken die ANC die koningshuis nie, en probeer hy die de facto-tuisland wegwens.
................

Vandag is die gordyn weer daar. Net soos die nasionaliste die Ndebele aanvanklik nie erken het nie, erken die ANC die koningshuis nie, en probeer hy die de facto-tuisland wegwens. Kort ná die 1994-omwenteling het ANC-politici verklaar dat KwaNdebele “ontbind” sou word en Mac Maharaj, die minister van vervoer, het hom beywer om subsidies vir die vervoerdienste na Gauteng te staak.

Daardie subsidies bestaan vandag nog. Die pad na Pretoria, Molotoweg, is bekend as die “Pad van die Dood”, weens die talle motor- en busongelukke. Elke kort-kort is daar ’n nuwe plan om die pad te verbreed of te probeer beveilig, en daar is nou al vir ’n dekade lank praatjies oor ’n sneltrein. KwaNdebele het gekom om te bly, maar veel meer weet ons nie. Dit haal net die nuus wanneer sy leeutemmer-sokkerspan, TS Galaxy, die een of ander groot stedelike klub verslaan.

Die gebied, nou sonder naam, en sy bewoners hoort tot ’n nuwe, uitgebreide netwerk van ou tuislandkolle, honderde der honderde plakkerskampe, agterplaasjapies in die townships en gekaapte geboue in die middestede  – mense wat meestal onder die broodlyn en die datalyn leef, mense sonder stem, of liewer mense wat net een stem vir ’n paar sekondes lank elke twee jaar of so het, wanneer plaaslike of nasionale verkiesings plaasvind. 

Dit alles is gewortel in die gebeure amper presies 140 jaar gelede. As enigiemand nog twyfel dat wit kultuur, en spesifiek Afrikanerkultuur op die onderwerping van swart mense rus, hoef jy net na die verhaal van Mampuru te kyk. Ja, die man wat aan ons die naam “mampoer” nagelaat het, daardie essensiële bestanddeel van die rasegte boerebraai.     

Kroonprins Mampuru het in die laat-1870’s uit Sekhukhuneland gevlug nadat sy uitgebreide familie in botsings oor koninklike opvolging uitgewis is. Die Ndebele-regent, Nyabela, het geweier om hom aan die ZAR te oorhandig, en hom op grond toegewys om sy mense te vestig. Die ZAR het dit ’n “locatie” genoem. Die tweede oorlog teen Mapoch het gevolg, geveg met loopgrawe en tonnels aan beide kante en die eerste pantserwa in Suid-Afrika. Naburige swart groepe is gekoöpteer met beloftes van beeste en grond.

Die Ndebele se gebied is in ’n Kimberley-styl stormloop na kleims onder die ZAR-burgers verdeel en die twee stamleiers is ter dood veroordeel. Een is in Pretoria gehang, op ’n plek waar die Kgosi Mampuru-hoësekuriteitstronk nou is. Nyabela is 17 jaar tronk toe, die Nelson Mandela van die 19de eeu.

Nog 16 veldtogte het dieselfde patroon gevolg: stamme op die ZAR se “locatie-lys” is tot rebellie aangespoor, dit is tot hoogverraad verklaar en in verskroeide aarde beleërings is die stamme uiteengejaag en hul grond ingepalm. Die oorlewendes is met oorlogsboetes belas, wat hulle met jare se arbeid op wit plase kon terugbetaal. Hulle was de facto slawe. Kommando’s is op die been gebring om hulle op die plase te probeer hou met ’n rits passe. Desondanks het mense na die dorpe en stede gestroom, waar hul plakkerskampe ook “lokasies” genoem is.

In Britse kolonies rondom die ZAR is soortgelyke strategieë van aanhitsing tot “hoogverraad” gevolg. Teen die tyd dat die Britte teen die Boere gedraai het en dieselfde op hulle toegepas het, in ’n grondgryp wat deur die 20ste eeu se eerste konsentrasiekampe aangehelp is, en uiteindelik geëindig het met die stigting van die Unie van SA, het alle eiendom behalwe sowat 7% aan wit mense behoort. 

In die oorblywende reservate is die opstandige opperhoofde vervang met valses. Lank daarna is hierdie verdere verdeeldheid onder tuislandburgers sinies deur die apartheidbeplanners in hul verdeel-en-heers-strategie uitgebuit. Vandag is daar botsende aansprake van valse en egte stamme en hul leiers, wat lei tot onteiende grond wat beset word deur mense wat nie geskik is vir boerdery nie, een van die hoofredes vir die mislukking van grondhervorming.

KwaNdebele was nie veronderstel om te bestaan nie of alleen as ’n “weekend special”. Dit was nie oorspronklik op die Nasionale Party se lys van tuislande nie, aangesien die Ndebele-stamme – bestaande uit die Ndzundza en die Manala – as te klein beskou is en anders as ander “volkere” nie op hul tradisionele grondgebiede gewoon het nie.

Maar die kenmerkende patrone wat ’n handjievol kreatiewe vrouekunstenaars op die mure van hul gemoderniseerde vierkantige huise geskilder het, is deur nasionalistiese propagandiste toegeëien as demonstrasie van diepgewortelde etniese verskille onder swart mense, en so het hulle op die laaste oomblik tuislandstatus gebaseer op eiendomme rondom die “koninklike kraal” by Siyabuswa gekry. Die koningshuis het vir jare lank ondergronds van plaas tot plaas beweeg en die grond uiteindelik self gekoop.

Omdat KwaNdebele ’n gefabriseerde reservaat was, gesetel in die niemandsland van die sentraal-Transvaal van die 1970’s, iewers tussen onbenullige dorpe soos Marble Hall en Bronkhorstspruit, het dit ’n stortingsterrein vir apartheid geword. Wie ook al nie by die regering se klassifikasie van “volkere” ingepas het nie, is eenvoudig daar afgelaai. Gou het allerhande mense wat nie wou inpas nie, soos bendes en vlugtelinge voor die gereg, hulle ook daarheen gewend. Die koningshuis het hom dit laat welgeval en selfs verder gegaan en die gebied oop verklaar vir enigiemand wat wou kom. Teen hierdie agtergrond het dit sy aanvanklike steun vir onafhanklikheid teruggetrek.

’n Marionetregering is aangestel en die veiligheidspolisie is op die koninklike familie losgelaat. Afvalliges, waaronder uiteindelik die koning se twee seuns, is tronk toe gestuur of vervolg in ’n gewelddadige veldtog van terreur deur ’n tuislandmilisie, wat eers geëindig het toe die leier daarvan, Piet Ntuli, deur ’n polisiemoordbende vermoor is, waarskynlik die enigste sodanige moord wat as “goed” bestempel kan word. Die tuislandregering se vervolging van sy eie mense was so irrasioneel en buitensporig dat vele lede van die nasionale polisie, intelligensiediens en die weermag teen hom gedraai het.

Ek het by die diepverskanste departement van bantoesake in Pretoria ingesmokkel, maar ’n doodloopstraat bereik toe ’n senior amptenaar weier om sekere dokumente aan my te gee. Gefrustreerd het ek ’n anti-apartheidvloermoer gegooi, maar in plaas daarvan om sekuriteit te bel, het hy my gevra wat die titel van my boek gaan wees. Toe ek die woord “oorlog” gebruik, het hy my vermaan: Waarom het ek dit nie van die begin af gesê nie? Hy het gedink ek is net nog ’n Nat-ondersteunende navorser wat probeer om ’n PhD te kry.

Ja, het hy gesê, die optrede teen die koninklikes was ’n oorlog, maar hy kon dit nie waag om dit so te noem nie, want hy sou verplaas word. Hy het my ’n vertroulike “blou boek” uit die 1920’s uit die spesiale argiewe gewys. Tot op daardie tydstip het verskeie Unieregerings probeer om die “naturellereservate” uit te brei, in die besef dat 7% net te min was om enige separatistiese beleid te laat werk. Maar die verskillende kaarte van regoor die land het gewys hoe hulle oor en oor deur een noodlottige gebrek gestuit is: die baie ersatz-hoofmanne en selfs hele gefabriseerde stamme wat aanspraak gemaak het op antieke grond.

Dit was ook die geval in KwaNdebele in die 1980’s se rits noodtoestande. In hierdie omstandighede het chaos geheers en het almal teen mekaar te velde getrek. KwaNdebele was die gebied waar die meeste halssnoermoorde tydens die jare van die noodtoestande gepleeg is, tussen 300 en 400, en dit het selde oor die struggle gegaan.

Een van die raaisels was die ondersteuning wat die tuislandregering geniet het, ten spyte van die duidelike minagting onder die inwoners daarvoor. Die Ndebele-koning was ’n geliefde man en sy seuns, die “twee prinse”, is wyd geëer. Maar lede van die tuislandparlement het steeds ander kandidate as hoofde van die marionetregering ingestem. Ek het die naaste aan begrip gekom toe Mighty verduidelik: Eendag sien jy hierdie ou op sy fiets verbykom, en die volgende dag in ’n Merc en jy weet ...

Daar was ’n massiewe gaping tussen die onstuimige, permanente vlugtelingbestaan van die tuislandbewoner en die enorme wortels wat deur die apartheidstaat voor aspirantpolitici gehang is. Dit was openlik in sy begeerte, kom wat wil, om ’n swart middelklas te skep as bolwerk teen andersdenkendes en tradisionele groepe.

............
Daar was ’n massiewe gaping tussen die onstuimige, permanente vlugtelingbestaan van die tuislandbewoner en die enorme wortels wat deur die apartheidstaat voor aspirantpolitici gehang is. Dit was openlik in sy begeerte, kom wat wil, om ’n swart middelklas te skep as bolwerk teen andersdenkendes en tradisionele groepe.
.............

Die korrupsie het beide kante toe gesny. Wit entrepreneurs het frontmaatskappye in die tuislande op die been gebring waarmee hulle tientalle miljoene rande gewas het, dikwels met behulp van kanale en verbindings wat deur geheime Afrikaner- en Engelse organisasies gefasiliteer is. Ek het ’n Hoëveld-wingerd besoek waar die wyn nog in geheime vate was, nie beskikbaar vir besigtiging nie, laat staan nog proe. Die kantoor het bestaan uit verskeie manlike bestuurders en dosyne vroulike tiksters wat geheimsinnige take agter kletterende tikmasjiene verrig het.

Volledige begrip het egter eers gekom ná ’n diep duik in die vlakwater van die kleinste tuisland se politiek. Die sentrale regering het by wyse van “konsolidasie” grond by die tuislande gevoeg deur plase in wit besit te onteien, teen ruim vergoeding. Behalwe dat dit nog ’n turbine vir korrupsie was – veral vir lede van geheime organisasies wat gou plase opgekoop het – was die beleid dat net mense wat nie lede van tradisionele stelsels was nie, in die nuutgeskepte kiesafdelings as kandidate vir die betrokke tuislandregering kon staan.

Die skep van geskikte kandidate vir tuislandelites was werklik die doel met die “grensnywerhede”, die gesubsidieerde ondernemings wat opgerig is in tuislandgebiede aangrensend aan grond in wit besit. Swart Ekonomiese Bemagtiging is nie deur die post-1994-ANC en sy Big Business-adviseurs ontwerp nie, maar deur die Nasionale Party.

Die KwaNdebele-middelklas het wel ontstaan, maar hulle het oor die veld gesluip na geheime huise in townships soos Vosloorus en Mabopane, en nie baie jare later nie het hulle ’n hulpbron vir kaderontplooiing deur die ANC geword. Die Natte het tereg geglo dat daar ’n mate van antagonisme tussen die middelklasse en die koninklikes sou wees, maar hulle het eersgenoemde se beweeglikheid geringgeskat. 

In hierdie omgewing van valsheid en dubbelslagtigheid wat oor geslagte strek, het die meer intelligente mense van KwaNdebele geen gewetenswroeging ervaar om hul lojaliteit van en na die Natte en die tuislandregering te verskuif nie. Dit was ook nog altyd ’n toevlugsoord vir bendelede, nie net weens die koninklikes se oopdeurbeleid nie, maar omdat dit as ’n stortingsterrein vir gedwonge verskuiwings van regoor die destydse Transvaal moeilik was om enigiemand op te spoor.

Al wat getel het, was oorlewing. Byna almal in KwaNdebele het ’n tweede of selfs derde identiteit gehad. Een jongeling het diens gedoen as toyi-toyi comrade en SAUK-propagandis. Iemand het my in alle erns gevra of ek eintlik ’n Indiese dokter is. Die koning self was ’n klandestiene vragmotorbestuurder in sy jeug. Wit polisie en weermaglede het in die geheim die koninklike huis se saak begin steun. Toe die gehate brig Hertzog Lerm as polisiehoof aangestel word, is ’n moordbende op hom en sy polisiemanseun gesit – maar hulle het hulle met ’n ander pa en seun verwar en dié twee vermoor.

Skuilname en spotname het mitiese afmetings aangeneem. Die koning is die Inyanga, die Krokodil, genoem; die grootbaas volgens wet van hulle almal, destydse president PW Botha was bekend as die Groot Krokodil. Die titel van my Engelse vertaling was The Wars of the Crocodile Kings

Vandag word die verskuiwende identiteite wat apartheid genoodsaak het, deur die internet en sosiale media voorgeskryf; ’n mens kan redeneer dat dit ’n nuwe fase van Westerse kolonialisme is wat soortgelyke verwoesting weens die verdeling van gemeenskappe teweeg bring. In plaas daarvan dat SA ’n gelykmakende, oopgestelde republiek geword het, lyk dit asof verdeeldheid net groter is. 

.............
Vandag word die verskuiwende identiteite wat apartheid genoodsaak het, deur die internet en sosiale media voorgeskryf; ’n mens kan redeneer dat dit ’n nuwe fase van Westerse kolonialisme is wat soortgelyke verwoesting weens die verdeling van gemeenskappe teweeg bring. In plaas daarvan dat SA ’n gelykmakende, oopgestelde republiek geword het, lyk dit asof verdeeldheid net groter is. 
................

Die enorme gaping tussen dié wat het en nie het nie, bestaan steeds, maar nou oral op nasionale skaal. Aan die een kant mense wat uitgeput en liggaamlik aangetas is deur honger, aan die ander kant ’n elite waarin ’n bietjie Engels en beheer van nuwe sjibbolette, hierdie keer vulgêr-Marxisties in plaas van etniese slagspreuke, jou toegang tot ’n winsgewende loopbaan as ’n kader kan besorg. Daardie gaping dryf steeds ’n etiek waarin die redding van jou gesin, stam of identiteitsgroep van uitmergelende armoede, maklik die Westerse etiek van administratiewe doeltreffendheid en die besuinigingskodes van ’n korporatiewe ekonomie troef. Grensnywerheidsubsidies is vervang met Swart Ekonomiese Bemagtiging en uitbuiting deur apartheid se wit aasvoëls is nou uitkontraktering aan “konsultante” deur omgekoopte kaders. Dikwels dieselfde mense as tydens die NP-bewind, of hul kinders. Net soos in die KwaNdebele van destyds word opstande byna daagliks met geweld onderdruk. Waar bendes daarheen gekom het om skuiling te soek, gebruik al meer internasionale bendes Suid-Afrika as ’n sleutelnode.

Dis nie vir my ’n groot raaisel waarom arm mense bly stem vir die ANC en sy skynheilige uitbuiters nie. Soos die tuislandregering beteken die nasionale regering niks vir hulle nie, dit speel nie veel van ’n rol in hul lewens nie. Maar elke vier jaar is dit tog die bietjie moeite werd om minstens die mense in te stem by wie jy die grootste kans het om iets onder die tafel te kry. 

In hierdie omstandighede is dit nie wys om te veel na jou of jou gesin se herkoms in plekke soos KwaNdebele te verwys nie. Of selfs die woord “tuisland” te gebruik nie. In daardie gebiede op 13% van die grond woon 25% van SA se bevolking nog, maar hulle tel nie, soos in die verlede is hulle oortollige mense van wie ons baie min weet. Ook die mense in die plakkerskampe aan die uithoeke van ons stede tel nie, baie van hulle kom uit hedendaagse tuislande soos Zimbabwe, Mosambiek en Malawi. Maklik die helfte van die bevolking leef in ’n waas van geheimhouding wat joernaliste en skrywers, soos ek dertig jaar gelede, net toevallig en vir ’n paar oomblikke kan deurpriem.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top