Suddenly the storm: ’n teaterresensie

  • 0

Paul Slabolepszy se Suddenly the storm

Met Paul Slabolepszy, Charmaine Weir-Smith en Renate Stuurman
Regie: Bobby Heaney
Beligting: Wesley France
Stelontwerp: Greg King

Tot 8 Julie in die Baxter: The Flipside.

Ons sit links in die ouditorium. Ek kan hulle daar in die skemer langs die kant sien sit: mense wat ’n belangrike bydrae gaan lewer tot die aangrypendheid van hierdie sterk toneelopvoering. Hulle sorg vir die byklanke, musiek en beligting.

Dit herinner my aan talle aande in die Universiteit van Kaapstad se teaters, die Akademie vir Dramakuns se Die Kamer, Die Ruimte en ander eksperimentele teaters oor die Kaapse Skiereiland heen. Produksies van jare gelede waarin jy die tegnici kon sién.

Op die verhoog is daar vir jou ’n deurmekaar kantoor cum werkplek. Byna alles lyk verweerd, dalk yslik vuil. Die rusbank kom uit ’n ou motor. ’n Renosterhoring, glo waardevol, sal uit ’n wankelmoedige staalkas gehaal word. Hier ontvang Dwayne (Paul Slabolepszy) ’n “East Rand Cowboy” in sy sestigs, mense wat byvoorbeeld veiligheidshekke by hom wil bestel.

Ons sal ’n keer die sweiswerk in die aangrensende werksplek hoor en die vonke sien spat. Die stelontwerper en die versorger van die rekwisiete sorg dat alles oor en oor gebruik lyk. Dit kom beslis outentiek voor. Die beligting en die byklanke werk uitstekend saam om die donderstorm en die bewegings van voertuie te skep. En dan is daar die musiek wat jou bly herinner ons is in Suid-Afrika van nou. Dis veral Zulu-liedere wat al hoe dringender opklink, selfs dreigend as jy nie die taal ken nie: “Lelilungelo ngelakho” en “Noyana” byvoorbeeld, albei uitgevoer deur die Soweto Gospel Choir.

Renate Stuurman, Paul Slabolepszy en Charmaine Weir-Smith in Suddenly the storm. Foto: Eric Miller

Slabolepszy vertolk hier ’n ouer karakter. Tog herken ’n mens sy vertolkings van vroeër: energiek, selfs nerveus soos daar in Saturday night at the Palace, Under the oaks of The return of Elvis du Pisani. Ek hoor hoe weerklink sy stem deur die dekor heen na ander teaterruimtes wanneer hy aggressief raak. Dit was vir my ’n opwindende gedagte dat ons weer ’n slag die teks en spel van dié ware teaterman kan ervaar, ondersteun en gelei deur ’n regisseur wat eweneens al lank voortreflike werk lewer: Bobby Heaney.

Charmaine Weir-Smith ís eenvoudig Shanell. Sy is beslis ouer as wat sy lyk in haar “prikkelende” uitrustings. Sy was sowaar eenmaal die eerste prinses in die Miss Foschini Pageant. Nou is sy glo op pad na veer... nee, vyftig. In ’n vroeë humoristiese toneel pak sy giggelend haar inkopies uit. Die houers vir die kombuis het ongewone spelling vir die inhoude: UGARS, ASLT, LOURF, ens. “Like the lady in the shop said, it’s dyslectic-proof!” Hierdie karakter met haar uitgesprokenheid soms en haar borrelende entoesiasme laat die intrige voortstu. Jy kom agter wat ’n moeilike verlede sy en Dwayne al gehad het. Sy het seker maar menige nag gaan slaap met haar “fucking vibrator”. Veral van toneel 4 laai nog ’n storm in hulle huwelik op. Woeste uitbarstings word goed deur die twee akteurs gehanteer.

Sy en Dwayne maak ruimskoots gebruik van aangepaste Afrikaans so tussen die Engels deur: gaaning-aan, tit-hot-lekker, haregat, gagga, skriks-for-niks, ens. Dit het my as Afrikaanssprekende so half “tuis” laat voel!

In talle sterk dramas daag vreemdelinge op. Hier is dit Namhla, beheersd vertolk deur Renata Stuurman. Met haar netjiese voorkoms en haar kort en saaklike spraakbeurte ontstaan ’n dramatiese kontras met die ander twee.

Met haar karakter se optrede presteer Slabolepszy as dramaturg.

Eers net verduidelik: Wits University Press het die teks vanjaar besonder netjies uitgegee met ’n boeiende inleiding deur Bobby Heaney en enkele foto’s van Suzy Bernstein. Ook ’n woordelys met aanduidings of die woorde Afrikaans, Zoeloe of Ndebele van oorsprong is en watter sleng is. Die aand van die opvoering koop ek die boek in die voorportaal.

Terwyl die opvoering aan die gang is, kom ek diep onder indruk van die drama se diepgang, maar terselfdertyd die toeganklikheid daarvan.

Toe ek die volgende dag begin lees, word die sterk subteks nóg duideliker. Jy kan oor elke uitlating of iets visueels nadink, en iets word baie duidelik. Die agtergrond is 40 jaar in Suid-Afrika. Wat het hierdie karakters met hulle verskillende agtergronde in die apartheidsjare beleef en hoe hanteer hulle die gevolge van hul optredes nou? Gebeurtenisse word vir mekaar gedramatiseerd beskryf. Dit word duidelik waarom Namhla eintlik vir Dwayne kom besoek het en waarom sy in ’n stadium ’n vuurwapen te voorskyn bring. Shanell vertel vir haar van die tragedie in Dwayne se jeug.

Sterk is die opbou. Dan, wanneer Dwayne sy weergawe van die verlede gee, toe hy nog ’n polisieman was, en Namhla hare oor ballingskap en haar familie, begin een van die sterkste en mees emosioneel gelaaide onthullings en ontknopings in ons toneelkuns.

Dit sou nie raadsaam wees as ek sou uitwei daaroor nie. In ’n televisieonderhoud het Paul Slabolepszy dit ook nie gedoen nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top