Vyf dames is almal besig is om stroomop te swem in hulle afsonderlike lewens. Verskillende situasies en gebeure lei elkeen van hulle om op dieselfde rivieravontuur te gaan. Tydens die avontuur word die boot waarin die dames vaar, omgegooi en die gids raak verlore. Die dames word gedwing om op hulle eie in die water en wildernis te oorleef, onwetende dat hulle onderskeie realiteite en lewenservaringe hulle reeds bevoeg maak vir dié uitdaging. In die oorlewingsproses vind hulle vriendskap en ook hulle eie innerlike krag en binnestemme soos hulle een golf na die ander moet aandurf. Soos hulle die fisieke uitdagings oorwin, oorkom hulle ook ander swakhede en groei hulle in karakter en selfvertroue wat tot genesing in hulle unieke lewens lei.
Eerstens: ek en Donnalee Roberts was die laaste twee jaar medebeoordelaars by die Silwerskermfees. Sy was regtig gaaf met my, met ander mense en teenoor ander mense se films. Dit maak dus hierdie resensie moeilik. Tweedens: ek het eindelose respek vir die hoeveelheid werk wat sy en Ivan Botha in al hulle flieks insit. Hulle besoek skole, deel poskaarte uit, ontmoet-en-groet, en hulle bou ’n “brand”. Vir Stroomop het hulle selfs vertonings gereël vir weeshuise en maatskaplike werkers. Ongelukkig maak dit nie van Stroomop ’n foutlose film nie. So here goes.
Stroomop is ongelooflik mooi geskiet. Chanelle de Jager en Simone Nortmann beïndruk soos altyd. Chanelle gee ’n menslikheid aan Adri, maar kan jou met een kyk laat skaterlag. Van die temas wat aangeraak word, is belangrik vir vroue. Liggaamsbeeld. Als vir die verkeerde ou weggooi. Nie oopmaak teenoor ander nie. Om vervreemd te raak van jou kinders. Die onvoorwaardelike aanvaarding van ’n gay kind. Selfmoord. Die lys gaan aan.
Ek het twee fundamentele probleme met Stroomop. Een: die melodramatiese manier waarop al die drade bymekaar gebring word voel geforseerd en asof dit streng volgens ’n formule gedoen is. Twee: die ongeloofwaardigheid van die avontuur het gemaak dat ek nie vir ’n oomblik geglo het die vroue is in gevaar nie.
Kom ons begin by die netjiese drade. ’n Klomp vroue wat eers baklei, en dan saamstaan is nie ’n nuwe konsep nie. (Die vreeslike gehuil en gelag in hierdie film is eintlik ’n belediging, om eerlik te wees.) Dus moet jou aanslag vars wees. Ek dink nou aan Annihilation. Ja, ek weet, dit is wetenskapfiksie, maar daar is ooreenkomste. Jy vat ’n groep uiteenlopende vroue, almal met bagasie, en jy stuur hulle saam die wildernis in. Waar Stroomop die karakters se bagasie en heelword lepel vir lepel vir jou voer, moet jy in Annihilation noukeurig oplet om al die besonderhede te sien. (Die fliek het gelei tot ’n magdom opstelle en potgooie wat die betekenis van die film probeer ontsyfer.) Die depressielyer in Annihilation maak byvoorbeeld heeltyd haar bril skoon. Sy voel afgesny van die lewe. Die dwelmverslaafde sit en staan en loop senuweeagtig rond, terwyl sy haar kappie opsit en afhaal, opsit en afhaal. Hul rugsakke, met ander woorde hul bagasie, word elke keer neergesit wanneer iets belangriks gebeur, maar dan weer opgetel. Hul verlossing is ook nie volledig of netjies of maklik nie. Die regisseur laat baie aan jou verbeelding oor. Stroomop se draaiboek en regie verduidelik elke laaste klein besonderheid aan jou. Oor en oor en oor.
Elke moontlike muur in die terapeut se spreekkamer is oortrek met plakkate vol Facebook-tipe sêgoed. (“You cannot pour from an empty cup.” “Go where you feel most alive.”)
Wanneer die as van die afgestorwe pa in ’n waterbottel gegooi word, mors die ma daarvan. Dit gaan gepaard met eers ’n gelag, dan natuurlik trane. Die waterbottel gaan verlore op die rivier, maar word dan weer gevind, nogal deur iemand indirek betrokke by die pa se dood. Die dogter wat glimlag en sê “You saved him” was te dik vir ’n daalder.
Wanneer die eerste stroomversnelling bereik word, lei die bakleiery onder die vroue tot die boot wat omkantel. Regtig? Die tweede keer wat ’n stroomversnelling bereik word, werk hulle mooi saam. Daar was sekerlik meer as twee stroomversnellings in hierdie rivier?
Ons weet Lana ly aan PTSD. Ons hoef nie ’n boek daaroor te sien rondlê nie. Hoekom moes almal aan die begin van die film in die hospitaal aan mekaar verbind word? Behalwe Lana wat blomme op Vivian se bedkassie sit, het dit geen doel gedien nie.
Hoekom moes Diona se man verongeluk toe hy ry om die melk te gaan koop wat sy vergeet het? Ons weet reeds sy werk te hard en skeep haar familie af. Ons het die punt gekry. Vyf tonele terug. Die lys gaan aan.
Dit bring my by die ongeloofwaardigheid. As mens ’n doelbewus buitensporige film maak, dan kan sekere ongeloofwaardighede toegeskryf word aan die opskorting van ongeloof. Kyk byvoorbeeld na die briljante 2018-film Revenge. Die slagoffer val van ’n krans af, maar sy tref nie die klipvloer nie, want sy val op ’n ou boom. Die tak wat haar sy deurboor, red haar lewe. Om los te kom brand sy die boom af! Sy neem meskalien om te hallusineer, sny ’n bierblikkie oop, maak die hele ding warm en brand die wond nogal toe! Dit mag dalk nie moontlik wees in die regte lewe nie, maar die fliek moedig jou van die begin af aan om jou ongeloof prys te gee en saam te kom vir die rit. Revenge is ongelooflik brutaal, maar ook werklik snaaks en ’n onwrikbare pluimpie vir vroue. Stroomop is nie een van hierdie goed nie. Dit is ’n doodgewone verhaal wat met erns vertel word. Dan moet jy jou feite regkry, want niemand se ongeloof gaan opgeskort word nie.
Geen avontuurmaatskappy gaan gebottelde water saamroei en uitdeel nie. (Hulle sal ’n waterfilter of watersuiweringsdruppels saamvat.) ’n Groot seiltent gaan ook nie toegelaat word nie, want dit is ongelooflik swaar en sal ’n kwart van daardie rubberboot vol lê. (Jy kan steeds die punt van die familietent maak met ’n liggewig-plastiekfamilietent.) Hulle gaan ook nie klippe gebruik om vuur te maak nie. Geen siel wat twee dae lank in die woestyn lê met ’n stok in hul maag gaan dit oorleef nie. Die lys gaan aan.
Ek besef ek kyk na die film vanuit ’n filmresensent se oogpunt. Ek sien foute wat die algemene filmganger dalk nie gaan pla nie, en ek onderskei ook tussen ’n goeie film en ’n film waarvan ek hou. Byvoorbeeld, The White Ribbon is pure marteling om te kyk. Dit is ’n swart-en-wit-144-minute-mes-in-jou-ribbes wat handel oor die generasie wat die Nazi’s geword het. As ’n film is dit wel geniaal. Na die verstommende R2.5 miljoen wat Stroomop tydens die openingsnaweek gemaak het, is dit duidelik dat die Roberts-/Botha-span iets bied waaroor die volk gaande is. Dit beteken egter nie dit is ’n goeie film nie. Ek is nuuskierig oor hoekom die film so gewild is. Kom vertel my.


Kommentaar
Ek stem saam met die idees van die resensent, Reney Warrington: dit is 'n hartroerende film, maar ook tog so cliché. Die film is voorspelbaar en baie ongeloofwaardige dinge gebeur, soos om vuur te maak met klippe; 'n normale mens sal vuurhoutjies saamneem wildernis toe. Dit is net nog 'n film wat oor mense gaan wat met hulle bagasie sukkel. Geen mens raak so vinnig ontslae van langtermyn bagasie nie. In die film huil hulle en lag, dan is als weer honderd persent tussen mekaar. Die kyker hoef oor niks te dink nie, want alles word duidelik en eenvoudig uiteengesit en lepeltjie vir lepeltjie aan die kyker gevoer. Alhoewel dit 'n goeie film is, is dit nie iets nuut en anders nie.
Ek stem saam met jou. Alles was vir my net asof ek kon sien dit gebeur en dit het gebeur, mens kon baie maklik agterkom wat gaan gebeur en dit los geen tyd vir die kyker om te dink wat gaan nou gebeur nie. In Engels sê hulle dit is baie “cliché”, en net so is dit!
Ek persoonlik stem saam, iets wat nie vir my lekker sin gemaak het nie, is Vivian in die hospitaal in die begin. Die deel van die oorlede pa se as, wat laatval word en dan ook verloor word, het my 'n snaakse gevoel in my maag gegee. Die karakters se emosionele toestande is vir my verskriklik deurmekaar. Ek meen hulle was in 'n natuurlike ruimte, maar gebruik klipppe om vuur te maak! Dit is n goeie film, maar ek sal hom 'n punt gee van 7 uit 10.
Die film is baie voorspelbaar. Ons sien al wat gaan gebeur voordat dit gebeur het, maar dit is so met baie films. Ek het persoonlik gedink dat die film meer 'n storie wil vertel as realisties wees. Die film is baie hartroerend, al is dit nie realisties nie. Dit is wel 'n cliché, maar dis mooi.
Ek dink die film is baie mooi; die meisies is op 'n avontuur om oor hulle probleeme te kom. Ek dink net dis bietjie nie realisties waar hulle nou die boot omtiep nie. Die film is mooi geskiet en so aan. Ek hou ook daarvan waar die meisies op die ou einde goed oor die weg kom met mekaar.
Elkeen van ons is geregtig op ons eie opinie, hetsy sinies en bitter of nie. Die hele doel van vermaak is om ’n mens weg te voer na ‘n ander realitiet. Jou te laat vergeet vir ‘n paar uur van beurtkrag of die misdaadsyfer. Hoekom is dit dan nodig om hiperkrities te wees? Geniet die film vir wat dit wel is. Die film is nie ‘n ligsinnige ”slapstick”-komedie wat eintlik ‘n belediging vir die mark is nie. Ja daar is dalk elemente wat die storielyn bietjie ongeloofwaardig maak, maar wie gee om? Dit is ‘n vermaaklikheidsfilm, nie ‘n indiepte-dokumentêr oor oorlewing teen die elemente nie. Ek persoonlik het die film geniet en daarin het die doel van die film vir my geslaag.