Stroomop – Herinneringe van ’n koerantman in die apartheid-era deur Harald Pakendorf: ’n lesersindruk

  • 5

Stroomop: Herinneringe van ’n koerantman in die apartheid-era
Harald Pakendorf
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776091171

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Verbeel jou ’n tyd toe Afrikaners die middelpunt van amper alles was. (Vir die doeleindes van hierdie bespreking moet ons die woord Afrikaner verstaan soos Pakendorf, naamlik wit Afrikaanssprekende mense.) Afrikanermense het daardie jare Suid-Afrika regeer en alle belangrike poste gevul. Dit was in die jare toe daar nog middagkoerante was. Lank, lank gelede, voor televisie, slimfone en die internet. Ondenkbaar, maar daar was so ’n tyd. As jy soos ek in die 1990’s jou breins gekry het, toe apartheid op sy knieë was, dan ken jy eintlik net die Naspers Afrikaanse koerante. Dis die drie susters van Naspers: Beeld, Die Burger en Volksblad. En as jy sin het aan die geskiedenis, of dalk ten minste in ekonomiese ontwikkeling, dan ken jy dalk Nasionale Pers se storie. Hoe dit ontwikkel het. ’n Afrikaanse Kaapse koerant wat stelselmatig beheer gekry het oor die meeste Afrikaanse koerante. Een van hulle redakteurs was DF Malan, wat die eerste apartheidkabinet gelei het. Maar eintlik was Volksblad ouer as Die Burger; dit is eers in Potchefstroom gedruk en het bekendgestaan as Het Westen, maar is later na Bloemfontein verskuif. Dit was die jare toe joernaliste nog uitgeroep het dat Die Burger nie daar is om wins te maak nie, dis daar om goeie berigte te skryf!

Alles het sedertdien verander. As maatskappy was Naspers ’n geoliede masjien. In die einste Bloemfontein sou ’n onafhanklike streekskoerantjie genaamd Bloemnuus kompetisie vir Volksblad gee gedurende die 1980’s en adverteerders afrokkel. Bloemnuus is beantwoord deur Naspers met Ons Stad, maar uiteindelik is ook Bloemnuus deur die Naspers-masjien verorber. Een van die heel oudste streekskoerante in Suid-Afrika, die Stellalander, is ook ’n Naspers-koerant. En later het Naspers ook in die televisiemark begin meeding. Eers was daar M-Net in 1986, toe SuperSport en later DStv en kykNET.

Soos konserwatiewe Afrikaners vandag van Naspers-koerante praat, sal mens glo dat dié mediagroep nog altyd ’n doring in die vlees van behoudende Afrikaners was. Maar dit was allermins die geval. Inteendeel was ’n koerant soos Die Burger juis die Nasionale Party se mondstuk, en hulle joernaliste had groter toegang tot die politici. Daarom is dit lekker om ’n boek te kon lees wat ’n totaal ander perspektief gee. Harald Pakendorf se werk as joernalis was as deel van ’n ander Afrikaanse mediahuis genaamd Perskor, waar Pakendorf vir baie jare betrokke was as redakteur. Soos dit gaan met joernaliste, sou verskeie van Pakendorf se kollegas later bekende skrywers word. Veral interessant is die sanger en liedjieskrywer Koos du Plessis, wat ook een van Pakendorf se kollegas was en as subredakteur gewerk het, en oor wie Pakendorf in Stroomop skryf.

Stroomop is meer die storie van Oggendblad en Die Vaderland as wat dit ’n outobiografie van Harald Pakendorf is. Natuurlik is daar biografiese besonderhede, maar die fokus bly deurgaans op die koerante en Pakendorf en sy kollegas se werk as joernaliste. Pakendorf was in die parlement die dag toe Hendrik Verwoerd deur ’n parlementêre bode doodgesteek is.

Hoewel hy ’n gematigde uitkyk op die politiek gehandhaaf het, het die besef later tot hom deurgedring dat die toekomstige politiek van Suid-Afrika onmoontlik sou wees sonder onderhandelinge met die African National Congress (ANC). Die uiteinde was dat Pakendorf die etiket van “liberalis” gekry het, en dat Perskor se koerante ook mettertyd deur behoudende Afrikaners as “liberale” koerante gesien is.

As redakteur het Pakendorf probeer om die perspektief van die ANC in die koerant weer te gee, tesame met ander perspektiewe. In die proses is daar dan telefonies gekorrespondeer met die ANC, en hoewel daar op daardie stadium ’n verbod was op enige verwysings na die ANC en enige van dié party se leiers in die media, kon die koerant onder Pakendorf dié probleem omseil deur bloot die idees weer te gee sonder om melding te maak van waarvandaan dit kom. Uiteindelik het Pakendorf ook self informele ontmoetings met die ANC se leiers gehad, wat die besef by hom versterk het dat onderhandelinge met die ANC die enigste oplossing vir Suid-Afrika se apartheidsvraagstuk sou wees.

Perskor sou uiteindelik doodloop. Dié koerantgroep se personeelbestuur herinner aan die probleme waarmee baie organisasies en maatskappye vandag nog sit: ongunstige besoldiging en moeilike werksomstandighede, en ten spyte van Pakendorf se pogings om dit reg te stel, het niks eintlik verander nie. Die Perskor-koerante moes voortdurend nuwe joernaliste oplei, wat dan eenvoudig weer groener weivelde elders gaan soek het. Nogtans het Pakendorf uit lojaliteit nie by mededingende koerante aangesluit na sy afdanking nie. Dis moeilik om vandag te besef hoe belangrik die koerant daardie jare was. Die koerant was so belangrik vir die Afrikaners soos die kerk. So belangrik dat Pakendorf se afdanking op televisie aangekondig is deur niemand anders nie as Riaan Cruywagen.

Stroomop dokumenteer ’n interessante stuk verlede van die Afrikaanse media, en het beslis my perspektief verruim. Pakendorf sluit sy boek af met ’n waarskuwing aan die “Afrikaners”: julle moet uit julle dop kruip. “Ons het onsself as’t ware uitrangeer,” skryf hy (230). Volgens Pakendorf is dit asof wit Afrikaanssprekendes nie besef dat wit mense eintlik die minderheid van die Afrikaanssprekende gemeenskap is nie. Die meeste sprekers van Afrikaans is swart of bruin, maar kyk mens na die media “sal jy sweer die Afrikaner is die somtotaal van die gemeenskap” (230). Volgens Pakendorf moet wit mense nog waarlik leer om met ander rasse saam te praat, saam te werk en vir mekaar om te gee, en eers dán sal die Afrikaner behoorlik vastrapplek kry en wortelskiet in die Suid-Afrika. “So van alleen staan, sal ons nog vergaan” (230), en daarmee voltrek Pakendorf sy boek.

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Pakendorf het van Die Vaderland (in 'n mate) 'n liberale koerant gemaak. Ek dink nie dit kan sonder meer van die ander Perskor-koerante gesê word nie.
    "... onderhandelinge met die ANC die enigste oplossing vir Suid-Afrika se apartheidsvraagstuk sou wees." Dit het sekerlik nie die land se (grootste) probleme opgelos nie en baie nuwes geskep.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dit is ook iets waaroor ek gewonder het Johannes, in hoe 'n mate mens wel sou kon sê dat die hele koerant of mediagroep deur hom beïnvloed is, en hoe akkuraat die boek in daardie opsig is.

  • Avatar
    Derick Coetzee

    Dis vir my vreemd hoeveel mense daar deesdae rondgaan en vertel hoe hulle vd destydse regime verskil het en dat hulle die lig toe al gesien het. Ek betwyfel dit. Wat niemand kan betwis nie is die feit dat die destydse Afrikanerregime na die Anglo-Boereoorloë homself uitnemend geposisioneer en laat geld het – polities, ekonomies , militêr en andersins. Dis net so duidelik dat ons leiers so gemoeid was om ons te laat geld dat ons nie na die duidelike werklikheid van meerderhede en minderhede aandag gegee het nie. Die ANC met hulle buitelandse en Afrika-vennote se strategieë het Vorster, PW en FW en hulle leierskap ,wat eintlik maar die Afrikanerbinnekring was, heeltemal onkant gevang. Dis so duidelik soos daglig as mens na die grondwet en die se gevolge kyk. Nou na die tyd peul daar soveel wyses uit die kaste vol geraamtes – dis eintlik om van naar te word. Ek sou graag diesulkes wou vra, as julle so wys is gee ons as Afrikaners nou leiding en moenie wag tot later en dan weer slim wil wees nie. Ek beskou talle van die hedendaagse "slim" mense wat almal nou boeke skryf as ’n bewys van hulle mislukkings om die regerings van daardie tye te kon beïnvloed. Sommiges het inderdaad, maar meeste nie en dis juis daardie stilles wat nou die wêreld wil vertel hoe verkeerd ons was – plaas van nou rigting gee. Ek mag laf klink maar ek kry soms die indruk dat Dr Verwoerd eintlik die laaste Afrikanerleier was wat proaktief wou optree om ’n vorm van toekomsreorganisasie te wou toepas. Al die daaropvolgende leiers was reaktief en ons as Afrikaners was so oorbluf dat ons blindelings gevolg het.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    'n Mens moet darem appels met appels vergelyk Derick. Pakendorf was 'n joernalis en Verwoerd was 'n politikus. Dat die media die rol van waghond speel is nie net 'n bewering nie, dit is 'n gedokumenteerde feit. Die media het daardie rol gespeel voor 1994 en dit speel vandag nog daardie rol.

  • Avatar
    Derick Coetzee

    Ek kan nie met jou verskil nie Barend. Ek praat eintlik in die breë - moet miskien eerder na "meningsvormers" verwys as joernaliste of politici. Miskien ook net dit - my kommentaar was baie krities en dit is soos ek voel maar het nagelaat om by te voeg dat daar darem die stem of meer uit die woestyn was, en nog is, wat regtig rigting wou gee. Harold was een van hulle.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top