Stroomop deur Adeline Radloff: ’n resensie

  • 0

Stroomop
Adeline Radloff

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801747

Die Stroomop-boek is gebaseer op die draaiboek van die Stroomop-film, ’n film wat ek nie besonder baie geniet het nie. Die boek word nie toegelaat om op eie voete te staan nie, maar vorm bloot deel van die bemarking vir die film. Die filmplakkaat as voorblad, die 16 filmfoto’s regdeur die boek en die boodskappies voorin vanaf regisseur Ivan Botha en aktrise DonnaLee Roberts verswelg als.

Radloff volg die narratief (en dialoog) van die film heel getrou. Ek bewonder die bietjie vleis (en waagmoed) wat sy hier en daar bygewerk het, maar sy was einde ten laaste vasgekeer binne ’n stroopsoet en veels te veilige resep waarmee Ivan Botha en DonnaLee Roberts al jare lank werk.

Die teks is te stroperig en dramaties vir my smaak, maar dalk nie vir almal nie. Besluit self aan die hand van die volgende voorbeelde.

Die verwese figuur van ’n klein dogtertjie, haar skraal lyfie vol hulpelose verlange na iemand wat sy nooit eens regtig geken het nie.

Sy probeer haarself regruk, maar die amperse geweld van die verligting klief deur haar skanse …

Sy klem die blomme stywer vas, smyt dit dan in ’n oomblik van rebelse woede met al haar mag teen die muur. Dit tref ’n geraamde sertifikaat … Die sertifikaat tref die grond met ’n harde slag. Die glas breek in ’n duisend skerwe.

Op bl 57 (waar Adri oor haar jongste skryf) verskyn die volgende beskrywings almal op een bladsy: “haar kleintjie”, “klein seuntjie”, “klein seuntjie”, “baba”, “ou kleintjie”.

Die leser word met ’n lepel gevoer. Die inleidende hoofstuk, “Oomblikke”, bevat lewensbelangrike oomblikke in elke karakter se lewe. Die formaat van die paar paragrawe is deurgaans dieselfde. Radloff vat een karakter op ’n slag en beskryf die toneel waarin hulle hul bevind. Dan sê sy:

Tot jy weer kyk
Kyk van naderby
Maar knip weer jou oë
Tot jy weer kyk
Maar kyk weer
Maar knip jou oë vinnig.

Daarna beskryf sy ’n dieper betekenis / ander invalshoek binne dieselfde toneel.

Konsepte word tot vervelens toe herhaal, wat ook aansluit by lesers met ’n lepel voer.

Daar is altyd die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. ’n Laaste strooihalm wat die kameel se rug breek. ’n Laaste oomblik wat selfs die sterkste wil laat knak. Vir Lana kom daardie oomblik op ’n gewone oggend, na ’n gewone noodgeval – ’n doodgewone, eintlik alledaagse tragedie vir iemand met ’n werk soos hare. 

Die ry swartgeraamde mediese grade en toekennings is die enigste persoonlike items in Lana se moderne oop-plan-woonstel. Alles anders is duidelik van ’n hoë gehalte – funksioneel, prakties, duursaam – maar ook effens klinies en sonder karakter.

Soos in die film, is dit baie gou duidelik dat Stroomop, die boek, op een sentrale karakter, Lana, fokus. Sy word egter nie toegelaat om jou te wys wie sy is nie. Sy word aan jou beskryf (en opgehemel, as jy kyk na die beskrywing van haar fisieke voorkoms en die hoeveel nabyskote van DonnaLee Roberts in die boek [en film]). Die volgende voorbeelde is net binne die eerste helfte van die boek raakgelees:

Die vrou is sekerlik nog nie eens vyf-en-dertig nie (hoewel dit met Botox deesdae moeilik is om regtig te weet) en absoluut beeldskoon: lang donker hare, goudbruin oë, perfekte gelaatstrekke, fantastiese lyf.

Sy was nog nooit juis een vir hande vashou of trane wegpink nie.

… haar gewone gedissiplineerde manier …

’n Sterk wil en ’n skerp intellek …

Die woonstel van ’n vrou wat nie tyd het vir tierlantyntjies nie. Iemand wat nog altyd op haar loopbaan in plaas van haar leefstyl gefokus was – wat goed weet waarheen sy op pad is en wat sy van die lewe wil hê.

… haar intellek ingespan en voluit gefokus op die nuutste mediese boeke en joernale, vasbeslote om ’n antwoord te vind …

Sy het nog nooit in haar lewe ’n toets gedop nie.

… niemand is beter in haar werk as dokter Lana Marais nie.

Sy bring haar emosies met een diep asemteug onder beheer, haar brein gefokus.

In die geordende, kliniese woonstel …

Die ander karakters bly agterweë. Adri is oorgewig. Vivian oorleef ’n selfmoordpoging. Diona werk te hard. Jy weet nooit hoekom nie.

Stroomop lees boonop op plekke soos ’n hygroman:

… en begin haar soen, sy tong soos ’n lomp oester in haar mond. Dis romanties, probeer Vivian haarself oortuig, toe hy haar optel en bed toe dra.

Vivian voel hoe haar oë rek toe sy nader kom, want selfs die man se kakieklere, swartleerhoed en vol, donker baard kan nie die lyne van daai sterk kaak, reguit neus en breë skouers wegsteek nie.

… Sy oë is net só mooi, en sy voorarms so gespierd, en hy is net so … mánlik.

Die ontknoping (en herknoping) gebeur te maklik. Oor ble 107 en 108 (waar die perspektief heen weer spring tussen karakters) kom al die vrouens een vir een binne ’n paar minute tot nuwe insigte (en val dan maar net weer later terug op ou patrone).

Die boek (en film) se lighartige hantering van ernstige vraagstukke soos PTSD, depressie, poging tot selfmoord, liggaamsbeeld en die rouproses is vir my veral problematies. Ek dink nie ek verklap te veel as ek sê al die karakters is wonderbaarlik genees teen die einde nie. Volgens Stroomop verg dit slegs een avontuurbootrit om al die karakters se jare lange sielkundige probleme op te los.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top