Strangers you know
Met Anisha en Joey van Niekerk
Regisseur: Willem Grobler
Op M-Net Kanaal 101, Sondagaande 20:00 vanaf 27 Junie
Hierdie onthutsende reeks, wat uit agt episodes bestaan, is broodnodig. Dit fokus op van die bekendste en mees berugte Suid-Afrikaanse moordverhale waarin vrouens die slagoffers was. En dit vertel die ware verhale, kopbene en al, op onderhoudende wyse.
.......
Hoekom “broodnodig”? Want dikwels was die beriggewing op sommige platforms so sensasioneel of vol bespiegelings en ’n wanbalans van feite dat die waarheid soms verdwerg is of gekommersialiseer is. Dit was dikwels soos ’n sin wat te veel byvoeglike naamwoorde bevat om die impak verder te verhoog en ’n halsbandjie om die waarheid se nek te bind.
.........
Hoekom “broodnodig”? Want dikwels was die beriggewing op sommige platforms so sensasioneel of vol bespiegelings en ’n wanbalans van feite dat die waarheid soms verdwerg is of gekommersialiseer is. Dit was dikwels soos ’n sin wat te veel byvoeglike naamwoorde bevat om die impak verder te verhoog en ’n halsbandjie om die waarheid se nek te bind.
Regisseur Willem Grobler het nie in daardie strik getrap nie. Hy het ’n verskeidenheid onderhoude gevoer, nie slegs met die mense wat betrokke was by die moorde nie, maar ook met gewones wat die slagoffers geken het, byna soos Jozua Malherbe met Griekwastad (2019) gemaak het. Want dikwels kom daar in doodgewone onderhoude die waarheid, of klein dingetjies, na vore wat as “onbelangrik” afgemaak kon word, maar nou prominensie kry. Dit plaas sekere gebeure ook onverwags in perspektief.
Die grusame, ware gebeure is welbekend. ’n Paartjie wat nie ’n vlieg sou skade aandoen nie, Joey en Anisha van Niekerk, het op ’n plot op Mooinooi gewoon. Deur gereelde droneringskote wys Grobler nie net uit die lug hoe afgeleë die plot was nie, maar ook die omgewing. Dis asof sommige mense moed opgegee het.
Uit die lug kyk jy af op ’n vaal, droë, broeiende landskap, “normaal” en doodgewoon. Anders as in ander lugskote in dokumentêre oor moordverhale, word die moordtoneel of huisvesting bloot gewys voor daar voortbeweeg word na die meer sensasionele. Hierdie kamera dwing jou om na ’n kultuur te kyk. Dit kritiseer nie, dit wys bloot onder watter omstandighede die mense woon en hoe desperaat die twee meisies moes geraak het om hier weg te trek.
Daardie dorre landskap, die onversorgde grondpaaie en die eenvoudige huise lyk soos dobbelstene wat tussen onkruid rondgestrooi is. Dit vorm die aangewese plek vir die uitbroei van misdaad, korrupsie of intense frustrasie. Die cliché “op moedverloor se vlakte” dwing hom hier aan die kyker op deur die oë van die regisseur.
Dit ontbloot die omstandighede waaronder die twee weerlose meisies gewoon het en maak die moorde (wat in besonderhede in onderhoude beskryf word) nog meer vreesaanjaend. ’n Buurman, Koos Strydom, wou die van Niekerks se plot koop om ’n besigheid te begin, maar het nie genoeg geld gehad nie. Hy het die vroue toe gedwing om sekere dokumente te teken.
En dan die raarste gedeelte van hierdie dokumentêr: die mense wat Strydom, die baasbrein, versamel het om met die moorde te help. Daardie bekentenisse, beskrywings en gesigte sal jou lank bybly. Ook die verlate, ingeduikte behoueringskiste waarin die vroue gemartel is.
.......
Natuurlik is ’n gedeelde geheim glad nie meer ’n geheim nie, en hoe meer mense betrokke raak, hoe groter die kans op bekentenisse of wraakmotiewe of om as staatsgetuie op te tree. Voetjie vir voetjie loop Grobler tussen die feite deur en ontbloot die skuldiges.
.........
Natuurlik is ’n gedeelde geheim glad nie meer ’n geheim nie, en hoe meer mense betrokke raak, hoe groter die kans op bekentenisse of wraakmotiewe of om as staatsgetuie op te tree. Voetjie vir voetjie loop Grobler tussen die feite deur en ontbloot die skuldiges.
Daar word met almal gepraat, of daar is amateurbeeldmateriaal van skuldiges wat praat, en daardie verskoning van “so en so wou nie ’n onderhoud toestaan nie”, geld nie hier nie. Stukkie vir stukkie word die waarheid tussen die kakiebosse en knapsekêrels uitgedelf. Die kuns is egter watter inligting die regisseur in watter stadium van sy visuele vertelling met ons deel. En dis hier waarin episode 1 se kuns lê, die enigste episode van die agt wat ons as resensente gesien het. Hoe gedissiplineerd en kundig die episode gekonstrueer is.
Die sukses lê ook in die beheerste, maar tog ook onthutste blik van die ondersoekspan wat die feite koel en klinies met ons deel. Dit maak ons deel van die ondersoek, want daar is geen slim kunsmatige om agter weg te kruip nie. Dis asof jy op ’n jurie sit en die feite teen mekaar opweeg. Maar as die kanaries eers begin sing, verloor die voëls hul mooi stemme.
Die mense met wie gepraat word, word dikwels in onderbeligte vertrekke, soms in profiel, gewys en praat doodgewoon, asof onbewus van die kamera. Maar dis ’n ma se smart wat sonder sentiment kaalvuis gewys word wanneer woorde opdroog wat die sterkste impak het.
En dan die moordenaar wat kon gelyk het na iemand uit Cape Fear (1962 en 1991), maar onder skerp beligting ’n grusame lomp wals met die waarheid voer, van die weerligstraal-tatoeëermerk tot die stipstarende oë. Daardie kyk kan geen akteur naboots nie.
Maar episode 1 beeld ook ’n bloedbevlekte land uit waar daar geen veiligheid meer is nie en weerlose mense na hul dood gelok word. Die sosiale (en in ’n mate politieke) kommentaar wat in die visuele subteks lê, slaan die kyker se kakebeen skeef. Daar word geen parfuum of vlieëgif om die feite of mense gespuit nie.
’n Reeks wat só begin, verras jou natuurlik met so ’n hoë standaard dat jy wonder of dit volgehou kan word. En ’n mens sal eers later kan vergelyk tussen hierdie hantering van feite en ander gebeure, soos die Henri van Breda-saak wat later aan die beurt kom.
Miskien is dit ook nou tyd om na ons ander tergende en wreedaardige aanvalle op vroue te kyk wat die slagoffers ’n soort verwronge kans gee om die waarheid te ontbloot soos die Bubbles Schroeder-moord. Maar dit sal seker nog in ’n ander reeks volg. Dit vorm nie deel van hierdie een nie.
Wees daarop voorbereid dat Strangers you know jou sonder verdowing met feite konfronteer. Jy wonder wat sommige voormalige Suid-Afrikaners, nou in veiligheid in die buiteland, wat dikwels laat weet dat hulle “Suid-Afrika so mis”, se opinie gaan wees oor die land en sy mense ná hierdie reeks.

