
Hallo Annemarié, ek het twee maande gelede ’n onderhoud tussen jou en die Nederlandse digteres en Vodou-priesteres, Maria van Daalen, geplaas.
Jy is ’n letterkundige in Den Haag, maar skryf ook boekresensies vir Rapport en Die Burger.

En jou naam duik ook op in ’n kykNET-kookprogram, toe Marita van der Vyver saam met jou en jou man in Frankryk kosgemaak het. En jy resenseer boeke vir Trouw, soos hierdie resensie en hierdie een. Kennelik is jy in albei lande in die letterkunde en literêre wêreld ingeburger. Hoe vergelyk Afrikaanse letterkunde met Nederlandse letterkunde op die oomblik – is daar byvoorbeeld temas wat oorvleuel?
Ja, ek was gelukkig om, kort nadat ek in 2004 in Nederland kom woon het, by Trouw in te kom as resensent. Omdat die kwaliteitspers ’n beperkte getal resensente kan gebruik en hierdie posisies voortdurend onder mededingende druk staan, moet mens sorg dat elke resensie wat jy skryf, van hoogstaande gehalte is, anders is jy uit. Die uitdaging is heerlik. Boonop gee dit my die geleentheid om op hoogte van sektore van die wêreldliteratuur te bly en my kritiek en opinie te midde van internasionale stemme te kan uitspreek. Dis ook vir my belangrik en lekker om die vertaalde Suid-Afrikaanse letterkunde hier onder die aandag te bring.
Dis heerlik om vir Trouw te resenseer. Hulle maak besonder mooi boekeblaaie met sterk stukke, wat ook visueel pragtig aangebied word. Ek het ’n week of wat gelede ’n groot driebladsy-resensie-artikel gehad oor die belewing van die stad in wêreldliteratuur van die 21ste eeu. Dis ’n absolute plesier om aan sulke stukke te mag werk en boonop te sien met hoeveel keurigheid dit aangebied word.
Jy vra oor die verskil tussen die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Wat my veral opval, is hoe daar in die alreeds beperkte Afrikaanse boekeblaaie aandag gegee word aan triviaalliteratuur, aandag wat dit werklik nie verdien nie. En ek kom ook al hoe meer agter uit kommentaar in die sosiale media (soos Facebook) dat mense hierdie goed begin verwar met letterkunde. Dit is jammer. Dit bring ’n sekere vervlakking. In Nederland is hierdie soort literatuur ook groot, maar die pers ignoreer dit, omdat die lesers van daardie tipe boeke in elk geval nie veel koerant lees nie, en daar vir die goeie literatuur alreeds te min persruimte bestaan.
Wat temas betref: die Afrikaanse letterkunde bly nog baie besig met die Suid-Afrikaanse geskiedenis, Suid-Afrikaanse werklikheid en Suid-Afrikaanse vraagstukke – en dit is nie noodwendig ’n punt van kritiek nie! Maar in Nederland gaan dit baie minder oor huishoudelike aangeleenthede, waarskynlik omdat hier nie sulke unieke en prominente huishoudelike vraagstukke bestaan nie. Die temas wat hier aan bod kom, is meer universeel. Omdat allochtone-skrywers in die Nederlandse letterkunde ook toenemend prominent is, is temas oor immigrasie, identiteit en die multikulturele samelewing baie sigbaar. Die Nederlandse immigranteskrywers laat ’n belangrike en gevarieerde stem in die literatuur hier hoor: ek dink aan Abdelkader Benali, Hafid Bouazza, Kader Abdolah en Naima Tahir; en in Vlaandere is daar Rachida Lamrabet en Chika Unigwe. En dis maar ’n paar.

Wat is jou gevoel oor die veranderde omgewing rondom die boek, met boekwinkels wat swaarkry in Kaapstad sowel as in Amsterdam?
Ja, ongelukkig is dit die nare werklikheid van ons tyd: die boekewêreld beleef ’n krisis … oral. Uitgewers, boekwinkels en almal betrokke in die boekebedryf trek swaar. En wanneer daar swaar getrek word, word daar soms genadelose maar ook kortsigtige besluite geneem. Ek en Pieta van Beek het dit onlangs aan eie lyf gevoel. ’n Voorstel van ons aan Amsterdam University Press is sowat twee jaar gelede met ope arms aanvaar. Die voorstel was vir ’n boek oor Nederlandse en Afrikaanse vroueskrywers in Suid-Afrika vanaf die eerste tekste tot en met die literatuur van vandag. Dit sou ’n seleksie uit alle genres wees, met baie visuele materiaal. Nadat Amsterdam University Press ons voorstel ondersoek het en dit ekstern laat evalueer het, is daar besluit om dit as deel van hulle Engelse Women’s Writing Series op te neem. Die boek sou dus die oorspronklike Nederlandse en Afrikaanse tekste bevat, maar ook vertalings in Engels om dit vir ’n breë internasionale mark toeganklik te maak. Ek het vir meer as ’n jaar daagliks hieraan gewerk, alle ander groot projekte van die hand gewys, ’n klomp energie, tyd en geld in die projek gesteek. Maar toe word ook Amsterdam University Press deur die boekekrisis getref. Hulle moes alle duur projekte laat vaar, en ons s’n was een daarvan, duur vanweë die oordrukkostes en die vertaalkoste. So … ja, die omgewing rondom die boek is ’n bedreigde omgewing. Maar ek en Pieta het nie opgehou nie, ons gaan aanhou soek tot ons ’n uitgewer kry!
Boekwinkels kry natuurlik ook swaar. Hier in Nederland moes baie boekwinkels die deure sluit. En groot boekkettings (Selexys en De Slechte – lg verkoop outlet- of tweedehandse boeke) moes hul kragte saamspan en probeer om deur samesmelting die krisis te troef. As boekwinkels boonop nie ook meedoen aan internetverkope nie, word dit ’n groot stryd. Bol.com lag lekker in die mou.
Jy het ’n sterk teenwoordigheid op Facebook. Is dit ’n goeie omgewing om inligting oor boeke te kry?
Die sosiale media is nie meer weg te dink nie. Dit is inderdaad ’n ruimte waar mens inligting kan versprei en op hoogte kan bly van verwikkelinge, trends, nuus, ens in die kultuur- en literêre wêreld (ander gebiede ook, maar die kultuur en literatuur is wat my interesseer). Ek sien daar is deesdae op FB ook baie skrywersgroepe waar veral beginnerskrywers mekaar ondersteun. Omdat ek in Nederland woon, maar tog nog vir die Suid-Afrikaanse media skryf en tred wil hou met die Suid-Afrikaanse kulturele en literêre wêreld, is dit vir my ’n belangrike plek om my vinger op die pols te hou. (LitNet is ook ’n lekker webwerf om agter te kom wat gebeur en hoe mense dink.) Benewens hierdie kulturele funksie van FB het dit ook vir my ’n sosiale funksie – dit is ’n maklike en vinnige manier om my familie en vriende op hoogte te hou van waarmee ek besig is en om vir my ’n idee te gee van wat hulle beleef. Mens moet net versigtig omgaan met die dosering daarvan, dat jy nie te veel tyd daaraan spandeer nie. My gewoonte is om ’n paar uur te werk en dan gou te kyk wie wat op FB te sê het, en soms self ’n eier te lê. Maar ai tog, daar word ’n klomp selfverheerlikende snert kwytgeraak en dan die heen-en-weer heuning-om-die-mond-smeerdery van meesal triviaalskrywers wat deur FB tot die oortuiging gekom het dat hulle werk tot hoge literatuur behoort. Hulle het dikwels leerskares van dissipels wat hul voete salf en lof besing. (Vreemd genoeg, ek sien bittermin hiervan by my Nederlandse FB-vriende – dis tipies van die Afrikaanse vroue-scene, sorry to say). Dis grappig, maar mens moet net eenvoudig vinnig daardeur scan en soek vir dit wat regtig interessant en belangrik is.
Ek maak ook ’n punt daarvan om, as ek ’n goeie boek gelees het, dit op FB aan te beveel. Op hierdie manier kan mens ook goeie letterkunde onder ander se aandag bring.
Ek lees ’n nuusberig raak oor expats in Nieu-Seeland wat op Facebook sulke negatiewe uitlatings oor Mandela gemaak het dat dit verwyder is. Uit jou oogpunt in Den Haag, hoe lyk die versoeningsproses tussen Suid-Afrikaners?
Ek is op kort termyn nogal pessimisties oor die versoeningsproses tussen Suid-Afrikaners. Daar gebeur baie goeie dinge en daar is ’n baie mense wat werklik probeer om versoening te bewerkstellig, maar daar is ook nog soveel wrokkigheid en haat en rassisme wat bly smeul. Die wonde van die verlede kan nie so vinnig genees nie; ons moet geduldig wees; die skade wat aangerig is deur apartheid is onvoorstelbaar groot. Dit smeul nog voort, en elke nou en dan word daar weer nuwe vuurtjies aangesteek. Maar daar is ook baie mooi dinge wat gebeur en daar is definitief positiewe veranderinge te sien onder groot dele van die jonger generasie. Dit gaan ’n tydjie duur voordat al die vrot uit die appel gesny is.
As Suid-Afrikaners iets van Nederlandse skrywers wil lees, wie sou jy aanbeveel?
Die romanskrywers wat ek so vinnig-vinnig kan aanbeveel, is Arnon Grunberg, Oek de Jong, AF Th van der Heijden; digters: Maria van Daalen, Tsjitske Jansen, Eva Gerlach en die Vlaamse Leonard Nolens, wat nou onlangs die groot Prijs der Nederlandse Letteren ontvang het; en onder kortverhaalskrywers is Sanneke van Hasselt interessant.

En vertel vir ons lesers van die woonstel wat jy aan skrywers uitverhuur, asseblief.
Ek het ’n klein studio in Amsterdam, ’n klipgooi van Vondelpark af. Ek lees en werk self daar vir ’n dag of twee per week (ek woon eintlik in Den Haag). En nou en dan gaan ek en my man, Jaap Goedegebuure, en my seun Stephan (14) vir ’n naweek daarheen as daar iets is in Amsterdam is wat ons wil bywoon of as ons net ’n blaaskans nodig het. Dis vir my ’n ongelooflik heerlike lafenis om met my gesin daar tyd te spandeer.
Op ’n stadium het ek besluit om die studio ook aan Suid-Afrikaanse skrywers beskikbaar te stel. Baie skrywers wil graag vir ’n tydjie in Amsterdam kom inspirasie soek, kom skryf of sommer net kom nadink en lees, maar verblyf is meesal onbekostigbaar. Ek het toe besluit om die studio uit te verhuur teen ’n tarief wat jy nie sommer elders in Amsterdam sal kry nie. Ek het dit aanvanklik gratis aangebied, maar die instandhoudingskoste in Amsterdam is so duur dat ek nie anders kon as om ’n minimale tarief te vra nie – so dek ek my eie koste. Maar naby-vriende is natuurlik met alle liefde my gaste. Bekendes wat al daar was, gereeld daar werk, of al daar kom kuier het, is die sanger-skrywer Gert Vlok Nel, die taalkundige Wanda Smith-Müller, die argitek Martin Kruger, die Princeton-teoloog Wentzel van Huyssteen, en skrywers soos Richard de Nooy, Lina Spies, en Marita van der Vyver se seuns (want dis ook nuttig vir oorbly vir popkonserte!), en hierdie somer is Melt Myburgh my “gasskrywer”. En die studio stoom al soos hy skryf. Maar dan is daar natuurlik allerhande verloklike afleidings, soos JM Coetzee wat vandag by Athenaeum is, en ek weet dat Melt die versoeking nie gaan weerstaan nie!
|
Annemarié van Niekerk het 'n skrywerstudio in Amsterdam wat te huur is vir skrywers of ander besoekers. Hiervoor kan sy gekontak word by avnemail@gmail.com. Die webwerf is Amsterdam Studio. |
Dankie, Melt Myburgh, vir al die foto’s wat ek darem met jou toestemming van jou kon steel. Die rede waarom ek die foto van die stillewe met die wynglas geplaas het, is omdat dit veronderstel is om lesers te inspireer om by Annemarié in Amsterdam aan te klop en haar woonstel vir skryfdoeleindes aan te wend. Naomi M.


Kommentaar
En wat 'n voorreg was dit nie om te ontsnap na Annemarie se apartement in Amsterdam. Ek wens elke Afrikaanse skrywer die geleentheid toe.