Storielied by die Woordfees – Luna Paige in gesprek met Naomi Meyer

  • 0

Luna Paige het Junie 2011 begin werskaf aan haar eerste Afrikaanse produk. Die idee het voortgespruit uit ‘n optrede by 'n vorige jaar se Woordfees: ‘n huldeblyk aan Margaret Bakkes se tagtigste jaar. Luna het besluit om ‘n temalied vir een van Margaret Bakkes se romans te skryf en komponeer. Storielied was die eindproduk van die uitdaging.

Hallo, Luna, en dankie vir die geleentheid tot gesprek. Vertel asseblief heel eerste vir ons lesers van jou eie agtergrond, jou musiek en wat jy doen.

In my eie woorde: ek is al vir die afgelope tien jaar sangeres; het my debuut gemaak op 'n compilation album in 1999. Daarna het ek die paadjie begin stap en intussen drie CD's vrygestel. Ek is 'n onafhanklike kunstenaar, so die onus rus op my om dinge te maak gebeur. 🙂 Al drie my CD's is Engels. Ek het besluit die tyd is reg om iets in Afrikaans te doen. Die konsep het klein begin en toe ek my oë uitvee, toe is dit skielik 'n baie groot projek wat my lewe oorgeneem het. Ek is baie opgewonde oor Storielied en hoe musiekliefhebbers daarop gaan reageer. Ek hou ook daarvan om saam met ander kunstenaars te werk. Om dié rede doen ek ook 'n collaboration show saam met Gerald Clark - 'n blues en country show - wat baie lekker is. Ons kry heerlike terugvoer by ons gehore. Ons het groot planne vir dié projek ook. Ons beplan ook om in Meimaand met de vertoning te toer.

Vertel ons asseblief van jou item Storielied op die Woordfeesprogram.

Storielied is 'n konsep wat gebore is by die Woordfees 2011. Ek is gevra om 'n item te lewer by die huldeblyk van Margaret Bakkes, wat in 2011 80 geword het. Mens kan dit glad nie glo nie. Sy lyk vrek goed! Ek het besluit om een van haar boeke te lees en te kyk of ek inspirasie daaruit kan put vir 'n Afrikaanse liedjie. Dit het presies so gebeur. En ek het die proses vreeslik geniet. Die reaksie van die gehoor was baie positief. Die saadjie was geplant. Ek het kort daarna begin rondvra watter boeke my vriende aanbeveel, en ek het van my gunsteling-skrywers se boeke en bundels gaan opsoek en begin werk. Dit het so sonder waarskuwing binne-in my vlamgevat. Wat dit basies is, is my interpretasie van die romans en kortverhale wat ek gelees het. Ek skep amper 'n temalied vir elke verhaal ... wat 'n eerste is in Afrikaans – ek dink nie iemand het dit al gedoen nie. Ek hou baie van die idee, omdat dit mense inspireer om weer in Afrikaans te begin lees. Dit het al baie gebeur dat gehoorlede na die tyd vir my kom vra vir 'n lys van die boeke. Hulle voel begeesterd en opgewonde oor die konsep dat 'n boek iemand so kan inspireer om 'n liedjie te skryf. Hulle wil dit vir hulself gaan ervaar en uitvind op welke manier die boek hulle sal inspireer. Dis opwindend!

Jy noem skrywers soos Ingrid Winterbach, André Brink en Chris Barnard in die beskrywing van jou item in die Woordfeesprogram. Wat van hierdie skrywers inspireer jou?

Sjoe ... Al die skrywers wie se werke ek gekies het, het my op een of ander manier geraak. Ek vermoed dit is die styl waarin elkeen skryf. André P Brink se werk is sensueel. Ek voel sexy as ek sy boeke lees. Ingrid Winterbach se verhaal was vir my wonderlik, omdat humor so fyn verweef was in wat eintlik 'n baie ernstige boek is. Ek kon vreeslik identifiseer met die gesprekke en die idees waarmee die hoofkarakter geworstel het. Chris Barnard se kortverhaal het eintlik so goed aangesluit by 'n kortverhaal deur Danie Botha. Beide skryf oor die dood / Christus / die Pelgrim - een vanuit die perspektief van 'n jong seun en een vanuit die perspektief van 'n ou man. Ek het aanklank by die tema gevind omrede die dood en ons beheptheid daarmee vir my 'n realiteit is. Ek móés 'n liedjie daaroor skryf - van kleins af weet ons ons gaan sterf - dit is 'n "vriend" wat jou hele lewe lank (hoe lank hy ook al mag wees) saam met jou die pad stap. ‘n Ander skrywer was Dana Snyman - wat ek van hom geniet is sy vermoë om die kleinste, mees onbeduidende gebeurtenis te vat en dit te omskep in 'n wêreld wat jou intrek, maak lag of maak huil. Mens identifiseer met die eenvoud en alledaagsheid van die mense in sy stories. Dis heerlik. Elias P Nel was vir my so lekker ... Ek het sy hele bundel Iets goeds uit Verneukpan? verslind. Die stemme word wakker in mens se kop. Hy skryf soos die karakters praat – in so ‘n mate dat mens dit rêrig in jou kop kan hoor. Binne sy humoristiese verhale skuil ook 'n hartseer realiteit.

Skryf of musiek eerste?

Dit wissel maar van lied tot lied. Met Storielied het ek gelees, notas gemaak en gewag vir idees om daaruit voort te spruit. Ek het dan voor die klavier of met die kitaar gaan sit en speel met melodieë. Die melodie sal soms vra dat jy die lirieke moet verander. Ek moes harder werk aan die songs as wat ek gewoonlik doen met my Engelse musiek. Maar dis 'n goeie ding! Dit is vir my lekker om die songs te sing en stories met hulle te vertel. Wat wonderlik was van die proses, was dat elke storie vanuit 'n ander wêreld kom. Dit het my forseer om te speel met genres en om bietjie buite my gewone klankboks te dink. Ek speel met wêreldmusiek, Afrika-klanke, pop, reggae en kontemporêre klanke. Dit sorg vir 'n diverse program. Ek dink daar sal iets vir almal wees in die vertoning.  

Na watter ander items by die Woordfees sien jy self uit?

Daar is so baie wat ek wil sien. Ek wil Mooi Maria en Nag Ma gaan kyk. En daai lekker Klapmuts-stappie gaan doen. En ek wil graag Tertius Kapp se stuk ook gaan kyk. O, en ons gaan definitief ook die 27 Club gaan kyk.

Woordmusiek by die US Woordfees  

Storielied
Met Luna Paige, Schalk Joubert, Kevin Gibson en gaskunstenaars
In dié uitsonderlike produksie dink Luna Paige saam met Ingrid Winterbach oor evolusie en godsdiens; sing oor vuur en verbode liefde op grond van André Brink se Die ambassadeur; haal ’n lewensles uit ’n Margaret Bakkes-roman en sing oor ’n Boesman-gelykenis soos beskryf deur Elias P. Nel. Sy identifiseer met Dana Snyman se hartseer oor sy ouma en skryf ’n wiegelied vir een van Chris Barnard se sterwende karakters. Sy dans tot dagbreek toe saam met die bevryde slawe in Raithby. ’n Moet vir liefhebbers van woord en klank!
5 Maart 19:00 | De Vette Mossel | 60min | R90

Keer terug na die program-indeksblad.  

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top