Storiekaros deur Wendy Maartens, goeie stories om te kan lees

  • 0

Titel: Storiekaros
Skrywer: Wendy Maartens
Illustreerder: Megan Bird
ISBN: 9780639604015
Uitgewer: LAPA

Storiekaros is ’n toevoukombers van stories vir slaaptyd of speeltyd, maar is ook soveel meer as net ’n storieboek.

Die belang van goeie storieboeke en die bemagtiging wat lees vir jong kinders bring, word in hierdie toeligtingsartikel ondersoek na aanleiding van drie artikels wat in LitNet Akademies verskyn het: “Kinderboeke in die tyd van COVID-19” (Lombard 2020), “As ’n kind nie kan lees nie” (Le Cordeur 2010) en “Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed” (Lessing-Venter en Snyman, 2017).

Alhoewel leesvaardighede en goeie storieboeke belangrik is, moet die funksie van ’n storieboek as bewaringsagent ook nie buite rekening gelaat word nie. Daar sal na Human-Nel en Van Coller (2016) se omskrywings van kanonisering en hulle ondersoek na literêre oordeel verwys word om die proses van kanonisering, wat ’n storieboek soos Storiekaros kan fasiliteer, uit te lig.

Skrywer

Wendy Maartens het ’n gevestigde agtergrond in kinderboeke, waarvan Lena se bottelboom (2005) haar eerste storie was. Maartens het in 2019 een van Suid-Afrika se bekendste leeus verewig in haar versameling legendes en verhale Sylvester Ramkat van die Karoo en nog 21 lekkerlees legendes, ware verhale en staaltjies.

Sy bring nie net legendes en diereverhale bymekaar nie, maar ’n hele biblioteek van verhale, rympies en selfs speletjies. Dit sal beslis in hierdie buitengewone tye die jongspan se verbeelding aangryp. In die voorwoord moedig Maartens juis ouers aan om vir hul kinders slaaptydstories te lees, en beklemtoon ook die belang van die leeservaring. “Maak seker jou kind assosieer storietyd met pret en koestering. Dis nie die tyd vir raas nie.” (2020:4)

Kinderboeke in 2020

Die belang van kinderboeke, spesifiek goeie-gehalte-kinderboeke, is iets waaroor Ruchelle Lombard ook baie sterk voel. Des te meer tydens die strenger nasionale inperking sedert Maart 2020. Sy onderstreep die belangrikheid vir uitgewers van kinderboeke om e-boeke ten volle te benut en boeke vir kinders toeganklik te maak. Dit is veral toegang wat in 2020 sedert die inperking van belang is, omdat biblioteke ook vir ’n lang tydperk gesluit was. Sosiale media (Facebook en Instagram) is deur uitgewers gebruik om boeke te bemark. Boekbekendstellings en onderhoude is ook regstreeks op sosiale media gestroom. Tog beklemtoon sy die belang van egte papierboeke: “‘There’s no app better than your lap.’ Dis beslis iets wat my na aan die hart lê. Niks kan die plek inneem van ’n goeie storie wat net voor slaaptyd voorgelees word nie,” skryf sy. En dit is ’n plek wat Storiekaros beslis kan volstaan.

Maartens wys op ’n baie belangrike faktor met betrekking tot hierdie kinderboek: dat kinders lank voor hulle skool toegaan, leer lees. Ouers, oumas en oupas, boeties en sussies kan almal help om ’n liefde vir lees te kweek, sodat lees ’n lekker ervaring vir kinders is.

’n Lekker leeservaring

Dit is juis die liefde vir lees wat van leerders presteerders maak. Michael le Cordeur beaam hierdie standpunt deur die hartseer werklikheid in “As ’n kind nie kan lees nie” aan te spreek. Hy vertel dat sy vrou besig was om graad 8-opstelle na te sien. Hulle seun het gehelp nasien en was verbaas oor hoe swak ’n bepaalde leerder vaar: “Dit mag mos nie wees nie. Hoe het die kind op die hoërskool gekom?” Le Cordeur se vrou se reaksie spreek boekdele: Sy ken die leerder goed en weet dat hy nie kan lees nie.

Le Cordeur doen sedert 1991 navorsing oor leesprobleme. Hy is oortuig dat lees die sleutel tot ’n suksesvolle skoolloopbaan is en dat dié leerders wat kan lees, beter presteer.

As lees so belangrik is, waar lê die korrelasie tussen lees en skoolprestasie?

Lessing-Venter en Snyman haal skrikwekkende statistiek aan: “43% van graad 5-leerders in Suid-Afrika het nie die basiese leesvaardighede bemeester om op die ekwivalente internasionale graad 4-vlak te kon lees nie” (2017:870). Nóg ’n syfer wat lig werp op die saak is: “Meer as 79% van Suid-Afrikaanse skole beskik nie oor biblioteke nie. Dit is die tweede hoogste internasionale persentasie naas Marokko” (Lessing-Venter en Snyman 2017:870).

Dit kom daarop neer dat minder as die helfte van kinders van ongeveer 11 jaar nie behoorlik kan lees nie, en amper 80% van skole het nie die noodsaaklike hulpbron van ’n biblioteek om die eerste statistiek te verbeter nie.

Hierdie feite dui op ’n probleem wat groter is as net die skool of die onderwysers of kinders se akademiese prestasie. Dit loop inderwaarheid uit op ’n domino-effek van as ’n kind nie kan lees nie, sukkel hy of sy om te verstaan en daarom sal hulle sukkel om te leer. ’n Stap in die regte rigting sal wees om ’n ervaring by die huis te skep wat lees lekker maak. Dit sal kinders help om beter te kan lees en daarby ook beter te vaar op skool. Want sou ’n kind goed kan lees, sal hy of sy beter kan leer en inligting prosesseer.

Die pret wat opgesluit is in Maartens se boek, probeer die aangename ervaring van lees bevorder. Daar is lekker rympies en aftelrympies, soos “Raai, raai, riepa!” en “Lekker lawwe sêgoed”. Daar is ook die verhale wat as volksbesit beskou kan word, soos “Die heks van Hexrivier” en “Antjie Somers”, asook stories oor waarom hond vir die maan tjank, waarom padda kwaak en oor Klein Swaap en die spook. Daar is iets van alles.

Die pragtige illustrasies moet beslis ook genoem word. Die groen op die buiteblad bring alreeds ’n bietjie opgeruimdheid vir die gees na hierdie winter van ’n nasionale inperking.

Die vaardigheid van lees

Wanneer daar oorweeg word hoe goed ’n kind moet of kan lees, is dit van belang om te verstaan persies wat die proses van lees behels. “Eenvoudig gestel behels lees die verwerking van inligting en om ’n gedrukte teks te verstaan” (Lessing-Venter en Snyman 2017:874). Daar is dus ’n kognitiewe proses van inligtingsverwerking betrokke.

Wat moet kinders eintlik kan doen voordat hulle die vaardigheid het om met begrip te kan lees? Lessing-Venter en Snyman raadpleeg Klopper vir ’n antwoord op hierdie vraag:

Die algemeenste begripstrategieë wat opvoedkundiges gebruik om leesbegrip by lesers te ontwikkel is woordeskatontwikkeling, letterlike begrip, begrip waarin ’n gevolgtrekking gemaak word, evaluerende en kritiese lees en leeswaardering (2001:12).

Dit beteken dat die hoofdoel van lees is om inligting te verstaan en om met begrip te kan lees. Dit bedoel dat om bloot die woorde te kan herken nie genoeg is nie. Daar moet kognitiewe prosessering van betekenis saam met die herkenning van letters en woorde wees. Gevolgtrekkings moet gemaak kan word en die leser moet betekenisvolle skakels met die teks kan maak om betekenisvolle begrip daaruit te kry.

Die sleutel in die strategieë waarna Klopper (2001) verwys, rus op die fondamente van woordeskat en dat die vaardigheid klein begin. Dit begin met woorde, en hoe meer woorde, hoe langer en meer kompleks is die sinne wat die kind kan lees en verstaan. Ongelukkig bestaan daar eenvoudig nie ’n kitsoplossing vir die aanleer van leesvaardighede nie.

Die onderliggende probleem, wat eintlik baie eenvoudig is, word deur Lessing-Venter en Snyman geïdentifiseer as: Lees is nie lekker nie, want die kind kan dit nie doen nie.

Le Cordeur se antwoord op hierdie probleem, wat vele akademici al aangespreek het en waaroor daar reeds baie navorsing gedoen is, soos deur Lessing-Venter (2017), Snyman (2006, 2017) en Kruger (2002), is dat die negatiewe houding teenoor lees geswaai moet word. En dit sal slegs kan gebeur wanneer onderwysers, ouers en leerders saam lees en lees ’n lekker ervaring is. Elke onderwyser behoort leesonderrig deel van hul vak te maak. Le Cordeur stel dit op ’n baie eerlike manier, deur te verwys na die “ingesteldheid van sommige leerkragte dat hulle ‘inhoudsvakke’ onderrig en leesonderrig nie hulle probleem is nie, is louter snert” (2010). Hy slaan hier die probleem op sy neus – lees gaan oor meer as net die inhoud verstaan.

Lees moet ook die kognitiewe prosessering van inligting insluit wanneer dit by onderrig kom en nie net as ’n middel vir leer gesien word nie. Daarom is dit belangrik om ook aandag aan die affektiewe aspekte van lees te gee. 

Storiekaros bied die geleentheid vir ’n aangename leeservaring vir jong lesers, en die kweek van ’n liefde vir lees. Boonop kan dit tuis gedoen word: 

Met behulp van elke aand se slaaptydstorie is jy besig om jou kind vir die groot wêreld daar buite voor te berei. Lees gaan oor veel meer as boeke. Dis ’n kultuur. Lees gaan oor hoe ek my boek hanteer en hoe ek myself in ’n biblioteek of klaskamer gedra. (Maartens 2020:5)

Maartens bevestig in haar storieboek dat lees nie net vir skool en leer is nie. Dit is ’n belangrike middel om begrip by ’n kind te ontwikkel en dat lees die kognitiewe sowel as affektiewe prosesse fasiliteer.

Lees is een van die groot plesiere van die lewe, want dit het nie elektrisiteit nodig nie en ook nie geld nie. Daar is altyd die biblioteek, boekklubs en leeskringe wat sal kan help as jy nie jou eie boeke kan koop nie. Boeke neem jou op reise na ander wêrelde en jy kan leer uit karakters se ervarings. Lees is ook ’n manier om met mense kontak te maak en om verbind te voel met die menslike ervarings van ander. Dit is nóg ’n rede om tydens hierdie tye van inperking te lees.

Lessing-Venter en Snyman (2017) se navorsing dui verder daarop dat humor ’n groot rol kan speel in die aanmoediging van lees in ’n onderrigsituasie ten opsigte van die volgende aspekte:

Die opbou van verhoudings; bemagtiging van leerders; kreatiewe denke; stimulering van belangstelling; die opbou van selfbeeld en sosialisering om houdings (gesindhede en waardes), motivering, leerderoutonomie en selfwerksaamheid te bevorder. (2017:886)

Dit is juis hierdie aspekte wat Le Cordeur uitwys as belangrik wanneer dit kom by lees en die vaardigheid daarvan om met begrip te kan lees. Buiten om al hierdie aspekte van ’n kind se ontwikkeling te bevorder, kan dit ook bydra tot ’n genotvolle leeservaring.  

Wanneer kinders gemotiveerd is om te lees, sal hulle die proses van lees geniet, en dit versterk hul selfvertroue in hulle leesvermoë. Daarom kan lees nie net as ’n kognitiewe proses aanvaar word nie, maar moet die affektiewe komponente van leesmotivering en die leeservaring ook belangrik geag word.

Die vaardigheid om te kan lees hang dus saam met hoe lekker dit is om dit te doen en of dit só lekker is dat die kind dit uit eie wil wil doen.

Die kern van die saak lê in hierdie waarneming van Lessing-Venter en Snyman: “Kinders (ook adolessente) se inligting- en leesbehoeftes kan bevredig word wanneer hulle met begrip lees en sodoende insig bekom in hulle eie emosies en dié van ander” (2017:876).

Hierdie waarneming bring nog ’n belangrike rede na vore waarom lees ’n lekker ervaring vir kinders moet wees: Dit kan as ’n hulpmiddel gebruik word om emosionele groei by kinders te help ontwikkel. Dit is belangrik om daarop te let dat die storie nie vir die kind ’n didaktiese les behoort voor te hou nie, maar bloot ’n storie moet wees, soos in “Die goeie fee”, waar daar duidelik oor goeie maniere vertel word. Maartens sluit by hierdie verhaal ook wenke en inligting in oor op watter ouderdom kinders ontvanklik is vir sekere begrippe en wanneer om te waak teen fel kritiek. Sulke verhale kan die kleinspan reeds help om hulself te oriënteer in die wêreld om hulle.

Hierdie verskynsel waar sosiale praktyke, lewenslesse of selfs waarskuwings ’n beduidende rol speel in ’n verhaal, kan dikwels gevind word in legendes, mites of selfs sprokies. Storiekaros (2020) gebruik ook legendes, mites en volksverhale wat eg Suid-Afrikaans is. Dit maak dié boek ideaal vir vandag se jong lesers, en dit word op ’n manier aangebied wat dit interessant en nuut laat voorkom.

Die praktyk om ouer verhale tussen nuwer verhale in een boek te plaas en hulle daardeur in gesprek te bring met mekaar, raak aan ’n proses wat meestal vir die akademie toegeëien word: kanonisering.

Bewaring en kanonisering

’n Literêre aspek wat soms ongesiens onder lesers se radars sluip, is dat storieboeke soos Storiekaros ’n eiesoortige bewaringsfunksie vervul. Tussen die eietydse verhale soos Lena se bottelboom word daar verhale geplaas wat so oud soos Tafelberg is. Hier is ’n proses van kanonisering in die kleine vir die jong leser aan die gang.

Wat presies met kanonisering bedoel word, kan vasgestel word deur die volgende omskrywing uit Human-Nel en Van Coller:

Die woord kanon (Grieks kanón; Latyn canon) se oorspronklike betekenis is dié van “reël”, “maatstaf” en “norm”. Daaruit is reeds die normatiewe aspek inherent aan hierdie begrip duidelik. Verskeie kritici (onder andere Benson 1987; Fokkema en Ibsch 1992 en Mooij 1985) gebruik ook die term kanon in hierdie sin as iets wat ’n maatstaf, verwysingspunt of ykingspunt is. (Human-Nel en Van Coller 2016:88)

’n Kanon is dus ’n korpus waarteen die waarde van ander of nuwer werke gemeet kan word. Sou daar meer spesifiek gekyk word na ’n “literêre kanon”, is dit eerstens ’n uitgesoekte versameling tekste. Tweedens is dié versameling tekste deur ’n bepaalde gemeenskap kenners of literêre hekwagters op ’n spesifieke tydstip beskou as waardevol, daarom is dit geskik vir bewaring én funksioneer as ’n verwysingspunt (Human-Nel en van Coller 2016:88).

Kanonisering as ’n proses is dus baie formeel en kan as negatief voorkom. Dit kom per slot van rekening neer op ’n oordeel wat gevel word. Tog is dit nie die enigste doel van kanonisering nie – om bloot ’n waardeskatting of evaluering weer te gee van ’n bepaalde werk of teks. Dit verteenwoordig ook ’n keuse om dit te bewaar. Dié twee aspekte gaan hand aan hand.

Dit is die bewaringsaspek wat van belang is in Storiekaros. Tog word die verhale wat bewaar word, ook uit ’n nuwe perspektief beskou, en word moontlik om ander redes na waarde geskat as met hulle aanvanklike ontstaan.

Kanonisering deur kinderboeke

Daar is verskeie maniere waarop kinderboeke gesien kan word as agente vir kanonisering.

Eerstens geskied dit deur die stories wat gekies word om in ’n bepaalde boek te plaas. Alles word met ’n doel gedoen en keuses word uitgeoefen. Dit impliseer ’n waardebepaling, en gebaseer op daardie waarde word ’n keuse gemaak. In die geval van Storiekaros was daar die keuse van watter stories om in te sluit.

Tweedens is daar die kwessie van wie hierdie keuses maak en met watter agtergrondkennis dié keuses gemaak word.

Wanneer daar wegbeweeg word van die keuse en magskwessies daarrondom, is dit belangrik om te oorweeg dat kanonisering nie noodwendig gebruik word om uit te sluit nie, maar ook om te bewaar. Verhale wat lank reeds mondelings van generasie na generasie oorgedra word, in ’n teks bewaar kan word. Dit beteken dat ’n verhaal soos “Die heks van Hexrivier” vir die nuwe geslag bewaar word, maar ook op ’n manier oorgedra word wat interessant en gepas is vir die tyd waarin dit gelees word. Dieselfde geld vir die Tyl Uilspieël-verhale. Dit word bewaar. Dit is soos om die saad van een oes te gebruik vir die volgende oes, en des te beter as jong lesers só aangemoedig word om lekker stories te lees.

Wat Storiekaros ’n besonderse kandidaat maak as ’n boek wat positiewe leeservarings aanmoedig en terselfdertyd kanoniseer, is die aftelrympies, speletjies, slaaptydstories en rympies. Daar is ’n kombinasie van tekssoorte in een storieboek geplaas wat die leeservaring aktief en lekker maak.

Wanneer mens aktief besig is met iets, verwerk jou brein dit beter as wanneer jy net passief sit en inneem. Maartens kry dit dus reg om ’n storieboek wat mens bloot net kan lees, ook interaktief te maak. Dit is ’n baie goeie begin vir ’n reis na ’n kind se vaardigheid om te kan lees.

Goeie stories, ’n liefde vir lees en kanonisering

Aanvanklik kan daar dalk veronderstel word dat die kwessies rondom kinders se vermoë om te lees, hulle leeservaring en die proses van kanonisering niks met mekaar te doen het nie. Dit is juis waar die oordeelsfout lê, want hierdie drie aspekte van kinderboeke se wortels is integraal verbind.

As die storieboek nie lekker is nie, gaan die kind nie wil lees nie. Maar ook omdat die kind nie kan lees nie, is die storie vir storie se onthalwe nie genotvol nie. En waar word die waarde van stories bepaal? Nêrens anders as in die groot literêre kanons nie. Dié drie aspekte van kinderboeke en stories is integraal verbind tot ’n kind se funksionering in sy of haar wêreld – ’n algemeen aanvaarde afleiding van die waarde van letterkunde. Tog word hierdie waarde nie vrymoedig genoeg aan kinderboeke toegeken nie. Daarom is storieboeke soos Storiekaros, Sylvester Ramkat van die Karoo en nog 21 lekkerlees legendes, ware verhale en staaltjies, Helde van Suid-Afrika 1, 2, 3 en Stories van die see deur Wendy Maartens belangrik.

Storiekaros is bedoel vir die lees van slaaptydstories en die deel van prettige rympies. Dit is ’n kombers vir elke seisoen van die jaar en kan net die kleinspan help om lief te word vir lees, want lees ís lekker!

Verwysings

Human-Nel, M en HP van Coller. 2016. Literêre prestige: Die geval Eleanor Baker. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/05/LitNet_Akademies_13-1_HumanNelVanColler_86-111.pdf (18 Desember 2020).

Klopper, M. 2001. Leesverryking en leerontwikkeling as metodes van leerderondersteuning vir die verbetering van akademiese prestasie van eerstejaar risikostudente. Ongepubliseerde MEd-verhandeling, Noordwes-Universiteit.

Kruger, E. 2002. Die invloed van ’n motories fundamentele vaardigheidsprogram op die fisieke en kognitiewe ontwikkeling van die graad 1-kind. Ongepubliseerde PhD-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Le Cordeur, M. 2010. As ’n kind nie kan lees nie. LitNet. https://www.litnet.co.za/as-n-kind-nie-kan-lees-nie (12 Desember 2020).

Lessing-Venter, N en Snyman, M. 2017. Aspekte wat kinders se leermotivering beïnvloed. LitNet Akademies. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2017/12/LitNet_Akademies_14-3_LessingVenter-Snyman_866-895.pdf (13 Desember 2020)

Lombard, R. 2020. Kinderboeke in die tyd van COVID-19. LitNet. https://www.litnet.co.za/kinderboeke-in-die-tyd-van-covid-19/ (14 Desember 2020)

Lees ook:

Kinderboeke in die tyd van COVID-19

Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed

As 'n kind nie kan lees nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top