Stop press: Nog verdagtes aangekeer in Kerkorrel-dood

  • 1

Elvis Presley. Jim Morrison. Jim Reeves. ’n Hele optog ander name. Wie het hulle vermoor? Watter komplot skuil daaragter?

Dis nou as hulle regtig dood is … Veral in Kerkorrel se geval. Sy lyk is mos weer opgegrawe en elders herbegrawe, nie waar nie? Dat niemand nog ’n dokumentêr gemaak het oor “Is Kerkorrel regtig dood?” nie, het dalk slegs te doen met die gebrek aan tydsverloop sedert sy dood, die gebrek aan wasem ...

’n Opvallende kenmerk van populêre kultuur is die histerie en moontlikhede vir fetisjering wat dit kan opwek. Dit gaan gewoon nie oor feite in die eerste plek nie, of oor die mense en kunstenaars wat die fokus is nie, maar oor die kapasiteit vir populistiese projeksie wat gebied word.

Dit gaan hier oor die roman wat Jan Alleman besig is om te skryf. Oor Sarie Marais se movie. Inderdaad oor Deon Maas se dokumentêr.

Fetisjering is ’n interessante verskynsel: dis gebeur wanneer die “verborge essensie” van iets opgesoek word deur middel van doelbewuste verstrooiing.

Sielkundiges sou kon redeneer dis ’n manier waarop begeerte vrye teuels kry sonder om aan bande gelê te word deur die objek van die begeerte. En daar is wesenlik niks mee verkeerd nie. Dit maak deel uit van elke lewe. Dis veral deel van populêre kultuur.

Maar wat nou as jou fetisjering ’n ander se waardigheid aantas? As dit gebeur sonder hulle toestemming of deelname? Dink aan die outjie wat aan die meisies se fietssale ruik. Wat van as ’n fetisjis moord pleeg?

Of – iets wat nie so ver verwyder is daarvan nie – as jy iemand anders as ’n moordenaar voorstel … to get your rocks off? Of dit laat lyk dat ’n persoon ’n hand had in ’n ander se dood, sonder klinkklare bewyse? Mmm? Is dit reg?

Vraag: Waarom sou enige iemand ’n moordenaar wou vind vir Johannes Kerkorrel? Antwoord: Want Suid-Afrika het hom vermoor. Ons almal saam.

Jip, Uit die Blou van Onse Hemel, homselwers. Laat ek verduidelik.

Maar eers: die “vrae” wat die dokumentêr vra, lyk myns insiens alles na dubieuse omstandigheidsgetuienis. Kerkorrel se bloed was aan albei voorste sitplekke van sy motor. Waarom? Omdat hy aan die ander kant van die kar uitgeklim het. Daar kan ’n honderd goeie redes voor wees.

Hy was ’n vredeliewende mens wat nooit so gewelddadig sy eie lewe sou neem nie … Maar hy was ook volgens getuienis ’n musikant wat aan wordende doofheid gely het. Voeg daarby ’n geneigdheid tot depressie en die opkropping van woede – wat duidelik uit die dokumentêr blyk – en jy het ’n resep vir ekstreme frustrasie. Voeg nou daarby die tienpondhamer van finansiële frustrasie, wat volgens ingeligte bronne ’n onbetwisbare feit is. Vir sy laaste optrede in Stellenbosch het hy na bewering slegs R780 gemaak.

Die getuienis rondom die selfmoordnotas, die rekenaars en die testament mag hoogstens daarop dui dat die moontlikheid van bedrog deur iemand na aan hom ondersoek sou kon word. Sy minnaar is iemand wat deur die dokumentêr verdag voorgestel word in die dood van Kerkorrel. Daar kan wat betref die vrae rondom Kerkorrel se dood goeie redes vir die moontlikheid van bedrog (met die testament) bestaan. Die persoon sou kon bewus gewees het van Kerkorrel se selfmoordagtigheid. So iets kan geweldige angs by ’n naasbestaande skep. Maar dan moet dit nog bewys word dat sodanige “bedrog” wél plaasgevind het en dat dit ook kwaadwillig was.

In Engels praat mens van “casting aspersions” – om iemand anders se reputasie te beklad, of om ’n persoon te beswadder sonder voldoende bewyse. Dit gebeur daagliks hier. A day in the life of South Africa sou in ’n land soos Amerika tot ’n bottelnek van siviele klagstate lei.

My eie ingeligte bron wou my vraag nie beantwoord oor die bewering – deur ’n ander ingeligte bron – dat Ralph Rabie Vigs gehad het nie. Bron nr 1 was absoluut oortuig daarvan dat finansiële druk die enigste rede vir selfmoord was.

Maar mens sou dink dat ’n verantwoordelike dokumentêr meer pertinent sou ingegaan het op die Vigs-bewering. Wat het van die verdwene bloedmonsters geword wat by die nadoodse ondersoek geneem is? Rabie se naasbestaandes had – vanuit my eie (relatief oningeligte) buitestaanderoogpunt – eng idees oor waardigheid. Sy graf is dan opgediep omdat dit na bewering te naby aan ’n plakkerskamp geleë was.

Punt is: Rabie was vir geruime tyd voor sy dood nie homself nie. Hy het siek en afgerem voorgekom vir vele mense. En dis ’n alombekende feit dat Vigs ekstreme, tydelike toestande van dementia kan skep – wat die wyse van sy dood sou kon verklaar. Helaas, dit sou geloofbaar genoeg wees om bloot depressie te noem as ’n oorsaak vir Kerkorrel se selfmoord.

Ou Bloues. Uit die Blou van Onse Bloues. Wat uit die Dieptes Antwoord gee. Kerkorrel se selfmoord hang nóú saam met die feit dat hy ’n kunstenaar was vanuit sy Suid-Afrikanerskap. ’n Suid-Afrikanerskap wat oornag oorgegaan het van ’n rewolusionêre staat na ’n postrewolusionêre staat. Wat sou dit ingehou het vir ’n kunstenaar soos Kerkorrel?

Hy was in sentiment ’n kunstenaar van die rewolusie. In sy musiek het hy “sosiale oorgang” bepleit. Hy was selfs volledig afhanklik van hierdie plasing – in Suid-Afrika het hy op grond daarvan kontrakte gekry, in die Benelux-lande roem. In die dokumentêr sê die swart promotor reguit dat hulle in Kerkorrel belang gestel het weens sy sigbare opposisie teen apartheid. Kunstenaars, selfs dié wat die oorgang nie steun nie, voel belangrik voor ’n rewolusie – die afwagting en die verwagting, dis die metier van hulle siele.

Vir die rewolusie – enige rewolusie – is kunstenaars en skrywers, veral popkunstenaars, uiters belangrik. Hulle is bo aan die eregaslys. Hulle is inderdaad die papegaaie van verandering, die buiksprekers, die extension cords.

Maar moenie glo nie.

Vir die “postrewolusie” – enige postrewolusie – is hulle (met enkele betergeplaaste uitsonderings) heel onder aan die lys. Onbetroubaar en verdag. En ’n las. En as daardie ommekeer implisiet is en nie onomwonde gesê word nie, is dit net soveel meer voelbaar. Hulle is die vorige act se handskoene in die poppekas. Tot verdere kennisgewing. ’n Kennisgewing wat nie opdaag nie.

Sommige praat van die Majakofski-sindroom. Die digter Wladimir Majakofski was die stem van die Russiese rewolusie, maar het kort daarna sy eie lewe geneem “na ’n uitval met sy beminde”. Heel waarskynlik “geknel oor geld” ook.

Die sosiale stramien verander dus radikaal vir kunstenaars, veral vir dié wat baie hoop vir hulself gekoester het. Des te meer vir “wit” kunstenaars. Nóg meer, vir dié wat kom uit ’n “NIE voormalig besonder bevoorregte” stand ...

Die oorvereenvoudigings van rewolusie is dodelik vir baie kunstenaars. Suid-Afrika het Johannes Kerkorrel vermoor, indien enige iemand.

En die media. Dit wat hom aanvanklik gevoed het. Hy wou sy skuilnaam, Kerkorrel, weer verruil vir sy eie naam – hy het. Die sentiment in “Kerkorrel” was te nou opgesluit met “verandering” en opstandigheid. Hy het gesoek na ’n herplasing binne sosiale verband.

Maar die projeksie was te sterk. Die projeksie van andere. Die projeksie van die media. Die Maas-dokumentêr is maar die jongste voorbeeld.

Rus in vrede, Ralph Rabie.

G’n kos vir sulke lelle. I’ Afrika.

LitNet: 12 September 2005

  • 1

Kommentaar

  • Twaalf jaar nadat Charl-Pierre Naudé bg geskryf het, is dit steeds relevant. Nie soseer omdat dit oor Kerkorrel/Rabie gaan nie, maar vanweë die dieperliggende aktualiteit wat ter sprake kom. In die lig van Naudé se artikel: 'Afrikaner is nie nét apartheid' [Beeld 14/10/2017] - wat die direkte oorsaak was wat my agtergrond-inligting oor die skrywer laat google het, is dit bemoedigend om af te lei dat die postmoderne 'trauma-psigose' toenemend in perspektief gesien word. Om te verneem dat Naudé eintlik 'n joernalis is, is verder 'n troos in die sin dat hy hopelik 'n bydrae sal lewer om die skade wat nalopende en selfs misleide en misleidende standpunte en kommentare - sedert die Sestigers al - aan 'n manipuleerbare publiek opgedis het, waar enigsins moontlik, te neutraliseer. Genoemde artikel dui op 'n kentering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top