James Stewart and John Ellis explore the music of Sting is by Die Boer-teaterrestaurant vir slegs een aand. Sê “Sting” en ons is daar, maak nie saak waar dit opgevoer word nie. Voeg dan vir James Stewart en John Ellis daarby en ons is eerste daar.
James Stewart is ’n multi-Emmy-benoemde, multi-SAMA-bekroonde sanger en liedjieskrywer wat bekendheid verwerf het by The Usual. John Ellis het sy orkes, Tree63, tot internasionale erkenning gelei as hul sanger, kitaarspeler en bekroonde liedjieskrywer. Hy is genomineer vir ’n SAMA-toekenning en het vyf solo-albums vrygestel.
“Dis Vrydagaand, Saterdagaand. Double whammy op die einde van die maand,” sing my geliefde toe hy die datum, kunstenaars én plek hoor. Ons mis dit beslis vir niks. Dis skuins na pay day en ons is kultureel uitgehonger.
Die sterre is in ’n perfekte lyn toe ons vriende boonop instem om saam te gaan. Want, sien, Durbanville is anderkant die Boereworsgordyn vir ons Somerset-Wes-vrinne en met ’n naam soos Die Boer is dit dalk nie die plek vir Engelssprekendes nie. Maar hulle is bereid om te gaan ontdek.
Ons lag in ons mou. Wag maar, ons praat weer.
Die teaterrestaurant is lekker vol toe ons instap. Die ligte is laag gestel, die messe en vurke speel koskitaar op die borde en die wyn spog purper in glase. Die verhoog is uitnodigend, die instrumente wag.
“Sjoe, hoe cosy is dit nie,” kom dit ewe verbaas van die twee.
Die kos – skaapnek en pap en vleis (uit moedswilligheid bestel) – arriveer, die Groot Phesantekraal Syrah is fluweelsag op die tong.
Die musikante neem hul plekke in. Die ligte doof op die tafels en die verhoogligte tooi die fluweelgordyne met ’n dieppers skynsel. Die eerste note van “Don’t stand so close to me” vul die vertrek. Die gehoor se opgewondenheid styg.
Daar is ’n goedige gekorswel tussen die twee: James vertel John is van Durban tot Durbanville. “Die klank wat jy op jou voorruit gehoor het, is toe jy deur die boerewors gery het,” vertel hy laggend. James woon in Franschhoek en het sekerlik daardie selfde klank op sy ruit gehoor. Hy het altyd solo gespeel, maar hul ontmoeting was regtig vir albei ’n geskenk. John erken met ’n vonkel in sy oog: “Ons is albei ongelooflik beroemd, maar tog só nederig.”
Die gehoor skaterlag. Die ys is gebreek.
Al die gunstelinge is daar: van “Next to you”, “So lonely”, “Englishman in New York”, “Roxanne”, “If I ever lose my faith in you” tot “Message in a bottle”. Die gehoor sing uit volle bors saam. As daar gevra word vir vingerklap of handeklap, is almal in. Die gees is goed, die koors is hoog.
Die kunstenaars vertel dat beide hul vorige bands deur The Police beïnvloed is. John korswel en sê as jy iets verkeerd op kitaar hoor, is dit James (al speel hy net klawerbord).
Teen die tyd dat hulle “Shape of my heart” saamsing, is almal se gedagtes baie ver. Myne ook.
Dis weer die vroeë tagtigs. Ek is ’n kaalvoet hoërskoolmeisiekind. Musiek is ons wat op afgeleë dorpe bly se lewenslyn, met die groot wêreld daarbuite. Die OK Bazaars op die dorp se musiekassistent is hip and happening; bestel vandag jou langspeelplaat, ’n week of twee later is dit daar. Jy skeur die plastiek gretig af voor hy dit op die draaitafel van die winkel toets om seker te maak dis nie gekrap nie.
Maar ons albei weet dis net sodat hy ook sy gunstelingmusiek op die splinternuwe plaat kan luister – oor die winkel se luidsprekers nogal.
Dan huis toe op jou fiets, waar al jou vriende kruisbeen voor jul hoëtroustelsel kom sit met Oros en Marie-koekies en droomverlore luister en weggevoer word na die lewe wat anderkant die beperkinge van kleindorpie-Suid-Afrika in die tagtigs moet wag. Of hoe?
........
Saterdagaande luister ons vir die trefferparade voor ons gaan sokkie in die skoolsaal. Sondagmiddag maak ons mixed tapes vir mekaar en die klankbaan van ons tienerlewens is met Sting se liedjies deurspek.
........
Saterdagaande luister ons vir die trefferparade voor ons gaan sokkie in die skoolsaal. Sondagmiddag maak ons mixed tapes vir mekaar en die klankbaan van ons tienerlewens is met Sting se liedjies deurspek.
Die gehoor fluit en raas en klap en vra vir ’n encore, nee, twee encores, asseblief. John lag en sê vir James: “Wat sal ons sing, Sting het tog nie soveel goeie hits geskryf nie...”
Met ’n drankie ná die vertoning, kom gesels die twee by tafels. James vertel: “Ek en John het spesifiek gewaak daarteen om nie ’n huldeblykprogram saam te stel nie – bloot Sting se treffers te herhaal. Die magic vir ons (en hopelik word dit aan ons gehoor oorgedra) sentreer rondom die dekonstruering van hierdie wonderlike liedjies om die genie daaragter te openbaar en om ons eie stempel op hierdie ongelooflike liedjies af te druk, om een van ons grootste liedjieskryf-invloede te vier.
“Ons delf diep in Sting se solo-juwele en The Police classics, en vul dit aan met ons eie stories, emosies en kreatiwiteit. Ons vier die genialiteit van ’n liedjieskrywer wat ons eie loopbane ingrypend beïnvloed het, deur die liedjies te stroop en dit met liefde en sorg te herskep – in wat ons hoop ’n meesleurende uitvoering is van geliefde liedjies.”
Hulle hoef beslis nie te hoop nie, meesleurend is dit gewis. As jy jou oë toemaak, kan jy jou verbeel jy sit iewers in ’n kroegie in Engeland en dis Sting self wat vir jou sing.
En soos hul persvrystelling voorspel het, is dit ’n aand wat generasies en style oorbrug. “Dis ’n huldeblyk aan die blywende krag van Sting se komposisies en ’n uitdrukking van ons innige dankbaarheid vir die invloed wat hy op ons musikale reise gehad het.”
En ons vriende? O, nee wat, hulle is bekeerd. Vir sulke vertonings sal hulle weer die Rubicon oorsteek na Die Boer toe.
James Stewart & John Ellis explore the music of Sting
Met James Stewart en John Ellis, kitaar, klawerbord en stem
Franschhoek Theatre (22 Maart); Simon’s, Groot Constantia (23 Maart); The Alma Cafe, Rosebank (6 April); en Suikerbossie, Houtbaai (12 April).