Stellenbosch Poësiekring met Lina Spies

  • 0

Hier is ’n stukkie geskiedenis van 'n baie aktiewe groep poësie liefhebbers wat as Stellenbosch Poësiekring bekend staan.

Dié merkwaardige poësiekring van Stellenbosch vier vanjaar hul 21ste bestaansjaar en op 5 Augustus word 'n feesvergadering gehou waartydens Lina Spies die spreker sal wees met die tema "Vroue in die Afrikaanse poësie met klem op Kirsch en Rousseau". Enige persoon is welkom om die verrigtinge by te woon, maar dit is noodsaaklik om vir Petrusa te kontak by petrusa@mweb.co.za of 082 320 1983 ten einde te verseker dat daar genoeg stoele beskikbaar is. Plek van samekoms: Saal van NG Kerk Stellenbosch-wes, Alexandrastraat, Stellenbosch.

Geskiedenis
Die kring het in 1998 ontstaan toe Afrikaanse poësie min blootstelling in die pers gekry het en bitter min bundels verskyn het. 

Marina le Roux en Petrusa Oosthuizen het belangstellende vriendinne gevra om gedigte saam te kom lees. Aanvanklik het ons afwisselend by ons huise byeengekom. Ons het besluit om slegs Afrikaanse poësie te lees en geen literêre verhandelings aan te bied nie, en so kom ons steeds op 'n Maandagoggend bymekaar – om die res van die week minder blou te laat lyk. Na afloop van die bespreking word steeds saam tee gedrink.

Sedert 1998 het daar etlike nuwe digters in Afrikaans gepubliseer en het Protea-boekhandel 'n prominente rol daarin gespeel. Afrikaanse poësie het sedertdien ook 'n besonder aktiewe afdeling van Afrikaans geword. Vanjaar het ons ons toegespits op nuwe stemme soos Pieter Odendaal en Hendrik Botha, om maar twee te noem.

Belangstellendes
Ons bywoning wissel nou tussen 30 en 40 persone per oggend en belangstellendes kom ook van omliggende dorpe en uit die noordelike voorstede.

Die ouderdomsgroep wissel tussen 30 en 80+ jaar en verteenwoordig die hele gemeenskap, vroue en (soms) mans, en verteenwoordig vele beroepe: huisvroue, medici, juriste, ens.

Werkswyse
Ons het geen formele ledelys of jaargelde nie. Elke individu betaal R50 per oggend om die lokaal se huur te kan betaal en 'n koppie tee of koffie en ligte versnapering daarna te geniet. Elke belangstellende word 'n geleentheid gebied om 'n bundel se bespreking te lei. Elkeen doen dit op haar individuele manier. Af en toe kry ons 'n besoekende spreker. 

Programsamestelling
Gedurende die jaar word alle belangstellendes aangemoedig om voorstelle te gee vir die volgende jaar se program – hetsy temas of digbundels. Die programsameroeper en haar komitee vergader in Oktober. Die program word uit die voorgestelde digbundels en temas gefinaliseer. Belangstellendes word genader om as inleiers op te tree. Almal ontvang dan by die November-vergadering 'n program vir die volgende jaar.

Na 21 jaar is ons dankbaar dat ons die "herontdekking" van die Afrikaanse poësie kon meemaak en beskou dit as 'n voorreg om ook die nuwe digbundels as ’n groep te lees en te herlees. Belangstellendes word ook aangemoedig om die bundels aan te koop en vooraf te lees. Ons is dankbaar vir Protea-boekhandel wat boeke teen 'n afslagprys aan ons beskikbaar stel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top