Die besluit van die Raad van die Universiteit Stellenbosch om die taalbeleid wat in November 2014 aanvaar is, te handhaaf, moet as ‘n skoot koue water in die gesig van die rektor, Wim de Villiers, kom. In wese is hy deur Raad gerepudieer. Maar vir hoe lank?
Voordat ek ‘n mening oor die jongste verwikkelings waag, net gou ‘n storie uit die middel 1970’s wat ‘n – vir my belangrike – punt illustreer: Ek staan eendag op ‘n sypaadjie in een van Port Elizabeth se minder gegoede buurte en wag op ‘n agterjaart-outjie om geringe skade - ná iemand se mislukte poging om by my Volksie in te breek - te herstel. Geld vir ‘n ordentlike paneelklopper ontbreek immers.
| Lees ook Gustaf Pinaar se Regsalmanak-rubrieke |
|---|
| • Die kousale ketting in strafsake |
| • Diefstal van eie goed |
| • Bram Fischer |
Toe ek by die systraatjie ingedraai het, was daar twee voertuie op daardie straathoek wat kort vantevore in ‘n ligte botsing betrokke was. Terwyl ek so op die sypad rondtalm, kom daar ‘n bruin vrou straatop aangestap. Sover sy stap roep sy vir ene Ronnie om te kom kyk na die "smêsj" op die straathoek. Uiteindelik kom Ronnie by die voordeur van ‘n huis reg oorkant my uit. Hy is ‘n wit outjie, merk ek. Hy is kaalvoet en is gemaklik geklee in ‘n kortbroek en frokkie. Uit sy reaksie merk ek dat hy en die bruin dame in aantog mekaar meer as net terloops ken. Hy lyk gelukkig in sy omgewing en met sy lewenskeuses. Toe kom dit by my op: vir wat moet Suid-Afrika in die raadsale van die wêreld oor sy kleurbeleid – en in die besonder sy kriminalisering van verhoudings oor die sg "kleurgrens" heen – verguis word? Is dit om hierdie wit outjie - wat klaarblyklik geluk in een van PE se agterbuurtes gevind het – téén sy sin te "beskerm"? En moet hy en sy bruin lewensmaat dáárvoor tronk toe gaan? Dit was vir my ‘n lewensveranderende oomblik: Ek was daarna glad nie meer gemaklik met sekere aspekte van die regering se apartheidsbeleid nie; ontnugtering met die res sou later kom.

Terwyl Waldimar Pelser op 23 November 2015 op "Insig" ‘n onderhoud gevoer het met die ondervoorsitter van die Universiteit van Stellenbosch se studenteraad, het dieselfde gedagte by my opgekom: waarom karring ons almal oor Afrikaans op Stellenbosch as dit straks nie meer vir die studente, hul ouers, die personeel en die gemeenskap van Stellenbosch saakmaak nie? Die betrokke studenteleier het immers beweer dat meeste van die studente op kampus gelukkig is met die rektor se voorgestelde aardskuddende swaai wég van Afrikaans na Engels. Tolkdienste, het die student met groot oortuiging voortgegaan, slaag nie. Ek glo hom. Ek hoor ook dosente mor dat die stelsel van parallelmediumonderrig tydverspillend is en ook glad nie so gewild onder die studente is nie.
Ek dink ons moet mekaar nie probeer bluf nie: op die lange duur gaan dit nie op Stellenbosch werk om op twéé taalstoele – Afrikaans en Engels - te probeer sit nie; laat staan nog die Wes-Kaap se derde amptelike taal, Xhosa. Maar hoe sal ons weet watter stoel – Afrikaans of Engels - die aangewese een sal wees? Kan dit aan ‘n instelling soos die Universiteitsraad oorgelaat word om oor ‘n jaar of drie so ‘n lotsbeslissende besluit te neem? En behoort ons ons te steur aan die klompie petisies, versoekskrifte, betogings en ander blyke van ondersteuning een of ander kant toe, wat tans heen en weer vlieg? Ek dink nie so nie: dis gans te onwetenskaplik en met te veel emosie belaai.
Dawie - Die Burger se gerespekteerde rubriekskrywer op Saterdae - stel onlangs voor dat daar oor die US se taalkwessie ‘n referendum gehou moet word. Die vraag, sê Dawie, moet wees of US moet verengels, alternatiewelik of die stelsel van parallelmediumonderrig eerder behou moet word.
Ek stem saam oor die referendumgedagte, maar dit moet verder gaan as Dawie se voorstel. Die belanghebbendes (wat ek hierna sal aandui) moet voor ‘n eenvoudige keuse gestel word: sal die Universiteit Stellenbosch se primêre onderrigtaal Afrikaans of Engels wees?
Ek sou dink dat ingeskrewe studente, hul ouers/wetlike voogde en die Universiteit se personeel aan so ‘n referendum behoort deel te neem. Ook moet die gemeenskap van Stellenbosch se mening gepols word. Alle stemgeregtigde (dws belastingpligtige) kiesers in Stellenbosch wat kan bewys dat hul oor ‘n tersiêre kwalifikasie beskik, moet kan stem. Sluit die Konvokasie met sy duisende lede uit: Dit gaan immers oor US se toekoms, nie die verlede nie.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie kan stellig gekontrakteer word om so ‘n referendum te reël. ‘n Kieserslys moet saamgestel word (een stemgeregtigde, een stem); veldtogte moet in ooreenstemming met die Kieswet gevoer word; geen geweld moet geduld word nie en die uitslag moet bindend wees op die Universiteit, die gemeenskap van Stellenbosch en die Staat - selfs al is daar oplaas ‘n meerderheid van slegs één stem.
Gestel Afrikaans sou "wen" - wat dan? Wel, vir ‘n instelling soos Open Stellenbosch sal dit natuurlik ‘n uitdaging wees om hul by die meerderheidsbeslissing te berus. (Ek het nog altyd maar ‘n suspisie dat hul uit ANC-, EFF- en/of SAKP-geledere aangevuur word en hul reaksie op ‘n nederlaag op Stellenbosch behoort vir ons ‘n aanduiding te gee van hoe die ANC en kie in die toekoms op langverwagte dragte slae by die stembus sal reageer. Dit net terloops.)
Maar hier is ‘n ander gesigspunt ivm ‘n oorwinning vir Afrikaans op Stellenbosch: een van US se huidige studente in die geesteswetenskappe het pas ‘n beurs verwerf om ‘n tweede meestersgraad in Duitsland te gaan verwerf. Die beurs is vir twee jaar toegeken en gedurende die eerste ses maande van sy verblyf aan die betrokke Duitse universiteit is daar net één saak op die agenda: hy moet Duits onder die knie kry. Ek dink dieselfde moet by "Afrikaanse" Stellenbosch gebeur (dws as dit ‘n werklikheid sou word): Vir nie-Afrikaanssprekende studente moet die ruimste geleentheid gebied word om die taal te bemeester alvorens hul studies in alle erns kan begin. Dieselfde geld akademici wat nie Afrikaans magtig is nie. As dit in Duitsland vermag kan word, dan tog ook aan US.
Instansies wat tans so hard en met oorgawe vir die behoud van Afrikaans aan US stry, kan genader word om sulke nie-Afrikaanse studente en akademici finansieel en andersins te ondersteun. Solidariteit kan die deure van sy ontluikende Akademia sluit en sy kragte, talente en geld na ‘n primêr Afrikaanse US toe kanaliseer. Vir ‘n instansie soos die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans behoort dit ‘n gulde geleentheid te wees om sy bestaan verder te regverdig. Die uiteinde sal wins vir Afrikaans in die ruimste sin van die woord wees.
In die lig van die stortvloed reaksies op die rektor se onlangse "gespreksdokument" waarin beslissend na Engels oorgehel word, maar ook vanweë die erg negatiewe reaksie uit sekere kringe op die Raadsbesluit van 1 Desember, behoort die Raad gewaarsku te word: as u oplaas hierdie gewigtige sprong in Engels se rigting sou maak, sonder om bogemelde belanghebbendes op ‘n betroubare wyse te raadpleeg (‘n referendum is myns insiens die enigste praktiese opsie), kan US verwag dat daar omvattende sanksies teen hom deur invloedrykes in die Afrikaanse gemeenskap toegepas sal word: Donasies sal weerhou word, die universiteit en sy akademiese personeel sal straks toenemend gewoon geïgnoreer word (mag die Afrikaanse pers dan tog hul deel doen!); baie Afrikaanse studente sal hul begin wend tot alternatiewe, soos Akademia; universiteite in die buiteland sou ooreed kon word om alle bande met US te verbreek. So sou ek kon aangaan. Of US dan nog ‘n kans sal hê om ‘n "wêreldklasuniversiteit" te word, staan erg te betwyfel.
Laat daar gestém word! Laat die teerling finaal langs daardie weg gewerp word - ons het immers gans te min referendums in Suid-Afrika.
- Die skrywer het hom as regseleerde aan die vermaledyde, nekomgedraaide Randse Afrikaanse Universiteit bekwaam. Hy het agt jaar lank geswoeg en gesweet om twee van sy kinders suksesvol in Afrikaans aan US te laat studeer. Hy beskou homself as ‘n demokraat en gee geredelik toe dat hy nie sal kwalifiseer om aan die voorgestelde referendum deel te kan neem nie. Nietemin: die lot van Afrikaans aan US lê hom na aan die hart.



Kommentaar
Soos ek die hele geskarrel waarneem hier uit my hoekie op Stellenbosch, wil dit vir my al meer voorkom asof die struweling nie gaan oor taal nie, maar oor tradisie. As Afrikaans wegval, soos voorgestel verdwyn 'n hele klomp Afrikaanse tradisies daarmee saam.
Hierdie voorstel verdien aandag. ' n Ordelike stemming wat aan alle eise voldoen, is demokraties moeilik te verontagsaam. Dit is 'n bekende sosiolinguistiese wysheid dat waar 'n kleiner taal ( soos Afrikaans) op die ope mark ( blote aanvraag en aanbod) teen 'n Wêreldtaal ( soos Engels) meeding die kleiner taal verloor. Dit is nie net vir Afrikaans en Engels geldig nie. Die teenargument is dat "'n Afrikaanse universiteit nie meer moontlik is nie" maar 'n aanvaarbare akademiese beredenering van die bewering en waarom dit vir prof Jakes Gerwel wel moontlik was, het ek nog nêrens gelees nie. Die grootste gevaar is dat in 'n basies politieke geroesemoes ( voor die plaaslike verkiesing) táálbesluite geneem word sonder om die politieke omgewing in ag te neem. Die US se Raad het dit net-net ontloop, maar nie die Vrystaat en ook nie Elsenburg nie. Jan Rabie het gewaarsku, maar miskien is dit nodig om sy argument te moderniseer en te herhaal: Afrikaans kan maklik steeds die rekening kry vir politiek se wandade, dié van apartheid maar ook dié van die huidige heksebrousel.
Ek dink Gustav Pienaar se voorstel is 'n baie goeie, wel oorwoë - en demokratiese - een.
'n Mens wil nie pessimisties wees nie, maar met hierdie aangeleentheid is ek van mening dat die onvermydelik vir 'n wyle uitgestel is, en dat beide die ANC-regering, selfs enige alternatiewe regering, plus die non-Afrikaanssprekende studente mettertyd hul sin gaan kry.
Die vorige Victoria College, later die teenswoordige US se onderrig was oorspronklik in Engels, wat vanaf stigtingsdatum in 1881 tot omtrent 1930 geleidelik tot uiteindelik oorwegend Afrikaans geword het en sodanig gebly het tot die hede. Die huidige vinnig veranderende demografie van studente en voorkeur deur hulle vir Engelse onderrig wat deur die ANC aangemoedig word, soos die geval met ander vorige uitsluitlike Afrikaanse universiteite gaan mettertyd die doosknou op kampus vir Afrikaans wees.
Ek is verder van mening dat die enigste sekerheid vir ’n Afrikaanstalige universiteit in die vorm van ’n private universiteit sal moet geskied, soos bv deur AfriForum voorgestel. Hoe gouer hoe beter, sodat teen die tyd wat die son op openbare Afrikaanssprekende universiteite gesak het, daar oor dieselfde tydperk ’n volwaardige private Afrikaanssprekende universiteit ontwikkel het wat die tradisie van die voortreflike opvoeding waarvoor Stellenbosch tans bekend staan, sal voortsit.
Harvard, Stanford en Yale, drie van die vele private universiteite in die VSA tuur kop en skouers bo die van openbare universiteite in die VSA. Wat die Amerikaners kon vermag het, keer nie dat die Afrikaner dit nie ook kan vermag nie. As klein volk het ons vele benydenswaardige wonders in die verlede vir ons mense verrig. Die einde van Afrikanervernuf is nie naastenby in sig nie.