Stefans Grové se laaste werk ...

  • 0
Stefans Grové en Jeanne-Louise Moolman

My selfoon lui.

"Stefans Grové," lees ek op die skerm. Ek was altyd so bly om van hom te hoor en bietjie te kon gesels. Dit was ’n voorreg om te hoor wat hy op die hart het en sy spitsvondigheid het my telkens heerlik laat lag.

Sy stem is nou stil, maar ons het sy musiek waarin hy voortleef. Hy het gekomponeer tot op die einde. Selfs die oggend voor hy opgeneem is in die hospitaal, het hy gewerk. Hy het ’n dringende begeerte gehad om die lang beloofde altvioolkonsert te voltooi. Alison, sy sielsgenoot en eggenoot het vertel dat Stefans die laaste paar dae feitlik heeldag gekomponeer het – amper asof hy geweet het sy tyd is min.

In Februarie 2014 het Stefans gebel en gesê dat hy aansoek gaan doen by SAMRO om vir my ’n altvioolkonsert te skryf. Dit gaan ’n werk vir altviool en kamerorkes wees, het hy gesê – met hierdie besetting sal dit nie so duur wees om uit te voer nie. Ek was baie opgewonde en het ’n motiveringsaansoek ingestuur waarin ek onderneem om die werk uit te voer. Met groot opgewondenheid het hy my twee maande later gebel om te vertel dat die kommissie goedgekeur is en dat die werk in Julie voltooi sal wees. Min het ons geweet dat dit sy laaste komposisie sou wees.

As student by UP was ek en my man – Piet Moolman – van die talle bevoorregte studente wat by Stefans Grové kon klas hê. Almal van ons het sulke goeie herinneringe van Stefans Grové wat voor die klavier sit en speel “sonder om die grense van beskeidenheid te oorskry”, soos hy altyd gesê het. Baie staaltjies is vertel by die begrafnis oor daardie dae en telkens het sy wonderlike humorsin en sy nederigheid en respek vir ander uitgestaan.

Stefans Grové het in 1994 ’n altvioolsonate gekomponeer wat hy aan my en Piet opgedra het. Voor ons dit opgeneem het, het ons die sonate ’n paar keer vir hom gespeel en die werk bespreek. Ek was beïndruk met Stefans Grové se kennis van stryktegnieke en klankmoontlikhede van die altviool. Die pedaalgebruik in die klavierparty is baie presies aangedui, veral in die tweede beweging. Unieke klankkleure en effekte word verkry wanneer die pedaalaanduidings baie noukeurig gevolg word.

In 1999 het ek vir Stefans Grové gevra om ’n concerto vir altviool en kamerorkes te skryf. Hy het voorgestel dat ons  ’n brief vir SAMRO moes skryf om aansoek te doen vir ’n kommissie. (Dit was ongelukkig afgekeur.) Ons het ’n kopie van die brief in sy posbus by die universiteit gelaat. Sy reaksie in  ’n brief aan ons getuig van Grové se besondere kreatiewe skryfstyl (as woordkunstenaar):

Julle mooi brief, DIÉ BRIEF, het soos ’n soet rosie in my donker posbus beland, waarin onguurhede gedy, soos akademiese rompslomp en ander posmos wat slegs in donker posbusse kan floreer.

In hierdie brief verduidelik hy waarom hy daarvan hou om werke aan jongmense op te dra.

Ek hou daarvan om vir dié jong musici te komponeer wat ek ken, soos julle ... Dis asof ek in gesprek tree met die mens wat ek voor my sien, en vertel van dinge wat hy of sy ook só moet sien, soos ek dit gesien of ervaar het. (1999)

Die nuwe werk is ’n eienaardige stuk met wie ek aanvanklik moeilik kennis kon maak, omdat dit so ontwykend was, en so vreemd. Miskien moet die werk heet: “Requiem vir gister” of Stuk met vele gestaltes”. Dit lyk asof ek nou, met die tiende probeerslag, eers sy wese kan begin begryp, en ook waartoe hy wil dwing.

Sou ons vandag iets hierin kon lees?  Stefans Grové het op die derde bladsy van hierdie altvioolkonsert se eerste beweging, wat hy op 20 Mei 2014 om 16:00 voltooi het, geskryf: “Nou of nooit”.

’n Wonderlike tydperk in ons lewens was die aanloop tot, en verloop van die feesvieringe van Stefans Grové se negentigste verjaarsdag. Ons het in daardie tyd baie met hom gesels oor sy musiek. Ek het by hom aan huis gekuier om te gesels oor die werk MUSA en inligting vir my MMus-verhandeling in te samel. Een middag het ek en Ben Schoeman saam by hom gekuier in die Sibeliusstraatwoning in Pretoria. Stefans Grové het sy nuutste komposisie “Jaargetye” wat hy aan Ben Schoeman opgedra het, vir ons op die klavier gespeel. Ek het vir hom gevra of hy nie ’n klavierkwintet wil komponeer nie.

Handgeskrewe nota aan Jeanne-Louise Moolman deur Stefans Grové

Groot was my verbasing toe “The Venda Legend” vir klavierkwintet gebore is. Die Odeion Strykkwartet en die pianis Ben Schoeman het die eerste uitvoering van hierdie werk op 20 Augustus 2012 gegee. Stefans Grové was baie dankbaar oor die simposium wat in Bloemfontein deur die Odeion Skool vir Musiek aangebied is. Hy het self besluit oor die werke wat uitgevoer is tydens die naweek. Na vele telefoongesprekke is ’n wonderlike program van verteenwoordigende werke uitgevoer.

Ek besef elke dag net meer en meer hoe bevoorreg ek was om hierdie besondere mens beter te leer ken en dat hy sy laaste werk met my in gedagte gekomponeer het. Stefans Grové het ’n besondere liefde vir die altviool gehad.

Ek sien met verwagting uit na die eerste beweging van die altvioolkonsert wat Stefans Grové voltooi het. In ’n gesprek met die orrelis en oud-student van Stefans Grové, Gerrit Jordaan, het hulle baie gesels oor die werk. Stefans Grové het reeds al sy boeke vir Gerrit Jordaan gegee en het hom elke nou en dan gebel om iets te vra ten opsigte van die omvang van sekere instrumente. Hulle het ook baie gesels  oor die tweede beweging van die werk wat ons ongelukkig nooit sal hoor nie.

In ’n faks wat ek ontvang het van Stefans Grové op 21 Mei, ’n week voor hy oorlede is het hy ook ’n navraag gehad oor dubbelgrepe. Dit is interessant dat hy die presiese datum en tyd wat hy die werk voltooi het aangedui het.

Ek is hartseer om afskeid te neem van Stefans Grové. In my lewe was hy ’n vriend, ‘n mentor en ook ’n vaderfiguur.

Lees ook Jeanne Zaidel-Rudolph se huldeblyk aan Stefans Grové.

Lees ook 'n onderhoud wat Stephanus Muller met wyle Stefans Grové gevoer het.

Lees Bertha Spies se omvattende huldeblyk aan Stefans Grové.

Lees ook enkele persoonlike herinneringe aan Stefans Grové.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top