Enkele persoonlike herinneringe aan prof Stefans Grové

  • 0

My eerste kennismaking met professor Grové was in 1986 in sy klas oor Suid-Afrikaanse kunsmusiek. Wat ‘n voorreg om die langslewende lid van die driemanskap vaders van die Suid-Afrikaanse kunsmusiek eerstehands te hoor praat oor sy vak. Dit was reeds hier waar hy interessante biografiese kennis gedeel het – soos toe hy en prof WH Bell vir net oor ’n jaar kon saamwerk, was dit nie Engelse orkesmusiek wat hulle bestudeer het – soos met sy ander studente – nie, maar Debussy en Ravel se kleurryke partiture. Hy het ons vertel van sy Hindemith- en eklektiese fase ná hy ’n volledige uitvoering van Ludus Tonalis gehoor het, ook van sy tuiskoms in Afrika.

Grové was vir my aanvanklik ’n Beethoven-figuur en ek het ophou asemhaal as hy by my op die trap sou verbystap. In die dekade tagtig wat Obelisk-musiek Suid-Afrikaanse werke gepremière het, het Étienne van Rensburg my gevra om Grové se Afrika Hymnus (later bekend as Nr 1) in te studeer. Prof Grové was bereid om saam met my registers uit te soek en te help met die interpretasie. In 1996 het ek die werk volledig op Unisa se Riegerorrel gespeel. Kort daarna het ons besluit om dit vir Oudemeester Stigting op CD op te neem by Universiteitsoordkerk. Dit was juis ná ons eerste sessie by hierdie imposante nuwe Rieger-instrument met sy geheue wat oor die duisend registerkombinasies kan stoor wat die Tweede Afrika Hymnus ontstaan het. Prof Grové was uitgelate en het al wat onmoontlike kombinasie uitprobeer soos ’n diep 16’ tongwerk saam met ’n skril 2’ Fluitjie. Een ding wou hy nie hê nie en dit is dat die instrument soos ’n kerkorrel moes klink. Die nag het hy die droom gehad waarin ek blykbaar die Tweede Hymnus reeds van buite geken het en die eerste deel aan hom voorgespeel het. So het ons mitiese musiek- en vriendskapsband ontstaan – een van die groot seëninge in my lewe. Die Tweede Hymnus het in paaiemente by my aangekom – eers die opening en slotdele toe die tweede, die vierde en laaste die middeldeel in Julie 1997. In hierdie werk is daar heelwat verwysings na die postapartheidsimbole (soos die tweede deel geïnspireer deur ’n houtsnee van die uitgeweke Xhosa-beeldhouer Ernest Mancoba – ’n Afrika Madonna uit geelhout – of Mandela seimbongi wat met die eerste parlementsopening in demokratiese Suid-Afrika opgetree het). Hierdie juweelwerk is met die gesogte Helgaard Steyn-komposisieprys bekroon. Grové was baie trots op hierdie werk en het dikwels vir my genoem dat hy dit jammer vind dat ander orreliste nie die werk aandurf nie.

Toe ek die Eerste Hymnus saam met die komponis ingestudeer het, het ek die vrymoedigheid geneem en gevra of hy na my eie komposisies wou kyk. Hy het ingestem en so het ek met ’n stapel musiek eendag daar opgedaag. Hy het na koorsettings van Sheila Cussons se Kwelafluit gekyk en gesê: “Hierdie is nie koormusiek nie – dis liedere.” Toe ek vra of ek Rameau, Hindemith of Messiaen se boeke oor komposisie moes lees, was sy antwoord: “Nee – jy volg eers jou neus!”

Elke week het ek vir hom twee of meer liedere gebring. Hy het dit met sensitiwiteit deurgespeel en vir my gelei om my neus te volg – hier ’n F-kruis eerder as die F, daardie passasie ‘n oktaaf hoër – eerder halfpedaal hier, legato daar. Toe ek wil langer werke skryf, sê hy: “Jy moet ‘n storie vertel en besluit waar moet jy vorentoe kyk en waar bietjie terugkyk – die terugblikke is die herverskyning van materiaal.” Hy het later gesê ek kan enige tyd as ek iets gereed het, dit vir hom bring.

Ons het heelparty keer saam gaan koffie drink en deugniete eet – soos hy die dough nuts genoem het. Hy het dan vertel van nuwe werke wat hy skryf – of sommer staaltjies. Soos oor sy oom DJ Roode – toe sy orrelleermeester – wat vies was toe hy nie vir hom vertel het hy gaan ’n stuk improviseer tydens ’n konsert nie. Hy het herinneringe gedeel aan sy tyd in Amerika – sy orrelspeel in die Joodse kerk en later die Lutherse kerk. Hoe hy sy improvisasies kon onthou en toegedig het aan obskure onbekende vroeg-barokkomponiste; toe hy in die skooltjie op Mooiplaats gewoon het, en die tyd na sy tweede egskeiding, toe hy soos ’n bruin hond gevoel het. Hy het die Beethoven-simfonieë onthou wat hy en sy ma saam op die klavier gebladlees het. Ons het baie oor orrelspel gesels – hy was gefassineerd met my kofferorrel wat ek in my kar kan laai en op boot camp saamneem. Soms het hy aan my boeke geleen om te lees – soos Karel Schoeman se Die laaste Afrikaanse boek of Hennie Aucamp se Allersiele. Van Suid-Afrikaanse komponiste het hy altyd gesê as jy ‘n klip gooi in die bos kom daar ‘n duisend Suid-Afrikaanse komponiste uit. Van sekeres het hy gesê hy vind hulle werk baie oorspronklik – jammer dat hy dit nie uitgedink het nie.

Hy het altyd verwys na die Afrika Madonna-deel uit die Tweede Hymnus – waar die voete gelyktydig speel – ‘n tromnabootsing in die uiterste omvang van die pedaalbord – as die rompskeurderdeel. Met die speel moes ‘n bepaalde slotakkoord klink soos ’n sak kole wat val, of ’n moeë “ag ja”-uitroep. Met die skryf van die wilde imbongi-deel het hy by wyse van spreke gesê hy moet gaan rou vleis eet – sodat hy hierdie barre energieke deel kan skryf. As hy gaan komponeer het hy vertel dat hy op sy linkersy gaan lê. In sy musiek was dit veral die energieke dansmusiek en tokkates wat afgewissel is met misterieuse nagmusiek. As ek van sy werke oorsee gaan speel het, wou hy altyd graag hoor wat die terugvoer was. Hy sou my ook dikwels bel en vra waar gaan ek die werke weer speel? Het ek al konsertplanne gemaak, of hoe vorder die moontlikheid om van die werke te publiseer?

Twee jaar gelede het NWU aan prof Grové ‘n kanseliersmedale oorhandig en het ek en hy gaan kyk na die huis in Potch waar sy ouers ‘n ruk gewoon het wat steeds daar in Kampstraat staan. In Bloemfontein het Hoërskool Sentraal aan hulle oudskolier ‘n oorkonde oorhandig. Tydens ‘n naweek van konserte met net Grové-musiek het ek en Tinus Botha oa sy Gesprekke vir orrel en klavier gespeel. Die vyfdelige werk verklank gevoelens met die ontstaan van ‘n vriendskap – van die eerste kennismaking – die afsonderlike introspeksies, die deel van ’n mistieke ervaring en die slotdeel waar die twee karakters soos ou kennisse gemaklik in mekaar se geselskap is.

Prof Grové was altyd jonk van gees – hy het graag vertel dat as hy die trappe na die Toonkunsakademie se biblioteek uitdraf langs ‘n student, was dit nie hy wat kortasem was nie. Hy het vertel Alison en die kinders het hom jonk gehou.

’n Paar jaar gelede het hy sy heupe laat vervang – dit was ’n donker tyd en so klink sy musiek ook uit die tyd. Hy het eendag vir my ’n orrelwerk gewys wat netjies gekopieer was, afgerond met artikulasiedetail en dinamiese aanduidings. Hy vra toe of ek die werk ken. Dit het vir my gelyk soos ’n Afrika-interpretasie van ’n trio wat waarskynlik kort ná die Tweede Hymnus geskryf is. Hy skryf toe “Stemme uit die duisternis” en “Verlossing” by en noem die werk die Derde Afrika Hymnus. Ek het hom gevra of die engtevrees in hierdie tweede deel outobiografies is – waarop hy gesê het nee, dit gaan oor kulture wat vasgevang is in Afrika en uitsien na bevryding.

Ná een van ons koffiekuiers het ek vir hom ‘n altvioolduowerk Skadudans in die hand gegee. Hy het so gekyk en gesê ja, dit is altvioolmusiek. Ek het hom by die hek afgelaai, hy klim toe uit en stap teen die skuinste af van hulle motorafrit by die Sibeliusstraatwoning. Toe ek omkyk, sien ek hy het geval en my musiek lê wit verspreid oor die afrit. Ek het hom gaan help om op te staan. Kort daarna het hy en Alison besluit om die huis te verkoop en in ’n meenthuis te gaan woon – dié keer ironies genoeg in Boesmanstraat. Ek dink dit was die begin van sy afskeidneem.

Prof Grové het in ’n paar van sy laaste werke die tragedie van die San-kultuur wat aan die uitsterwe is, as inspirasie gebruik. Ek het die setwerk van die San-gebede Dubbelkonsert vir klavier en tjello gedoen – dit was sy laaste voltooide werk – werk 45 in sy Musiek uit Afrika-reeks. Met die trek het hy ’n groot deel van sy boekery uitgedeel. Sy bladmusiek en musiekhandboeke het na my gekom. Tydens my laaste besoek het hy gesê, trek ’n stoel nader en kom sit hier – en hy het nog boeke een vir een vir my gegee – “Nee, hierdie een wil ek weer lees. Lees jy Duits? Kyk na hierdie artikel oor Werckmeister.” So het hy die laaste tyd paar keer gebel om te vra wat die omvang van sekere instrumente is. Jare terug het hy begin dink om ’n altvioolkonsert te skryf – ek onthou dat hy vertel het dat in die opening, die klarinet sou uitrank bo die orkes en dan sou die altviool haar eerste verskyning maak. Daar was egter nie befondsing beskikbaar nie en hy het die projek laat vaar. Drie weke terug was hy opgewonde omdat die eerste deel van die altvioolkonsert klaar was. Hy het daarna een keer gevra wat die algemeenste omvang van die konsertmarimba was en toe weer gebel oor die cassa rullante – die tenoortrom. Hy wou weet of daar verskillende groottes bestaan. Hy het my vertel dat die klank van ’n roffel met harde stokke op hierdie instrument vir hom so aantreklik is.

Donderdag met hemelvaart het ek die volgende SMS gekry: “Hi Gerrit. I am so sorry to inform you about this but my beloved father has passed away about 1 hr ago ... Christopher.” En met tenoortromgeroffel in my kop het ’n groot kolk van herinneringe ontstaan aan ‘n groot man wat my nooit klein laat voel het nie. Ek hoor steeds sy singgroet, wat dieper word en opgly na bo: “Tot siens!” Tot siens, professor Grové.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top