Stefaans Coetzee in gesprek met Graham Coetzer, skrywer van Hunting with the Hawks

  • 0

Titel: Hunting with the Hawks
Skrywer: Graham Coetzer
ISBN: 9780624093565
Uitgewer: Tafelberg

Die ondersoekende joernalis en Carte Blanche-vervaardiger, Graham Coetzer, lyk soos ’n Springbok-slot in sy T-hemp en denim.

Sy groot houttafel is vol notapapiere, dokumente, flash drives en ’n Apple MacBook Pro-skootrekenaar. Hoeveel “ontbloot-episodes” is nie op die twee ekstra groot skerms geredigeer nie? Hoeveel daarvan het polisielede, wat skuldig was aan ernstige misdrywe, aan die kaak gestel? In sy boek, Hunting with the Hawks, maak hy melding van korrupsie, afpersing, ontvoering en selfs moord.

“Hoe moeilik was dit om die red tape rondom die polisie te omsingel?” val ek met die deur in die huis. Ek meen, die laaste ding wat ek wil hê, is vir die Valke om met toue uit ’n helikopter af te seil ... soos op die voorblad.

“Dit was nogal ’n storie,” lag hy. “Gelukkig het ek oor die jare al ’n paar mense in die polisie oortuig dat ek by my woord hou. Maar selfs met die toestemming van die Valke se nasionale hoof, Generaal Lebeya, was die voorwaarde dat die ondersoekbeamptes self moes gewillig wees om deel te wees van die navorsing.” Die tropiese vistenk se borrels is sag, kalmerend. “Hulle is maar skrikkerig vir joernaliste. En boonop het hulle genoeg werk om hulle mee besig te hou. So vir dié wat wel bereid was, het ek die grootste respek en ewige dankbaarheid.”

Coetzer besit ’n klein Alfa-renmotor, so ek kan nogal verstaan hoekom hy soos sy helde – Derek Watts en Devi Sankaree Govender – ondersoekende joernalistiek wou doen.

Hy sê hy was ’n stoutgat op skool en ek glo hom wanneer hy laggend erken dat daar nog steeds diep binne hom ’n stoutgat is. “Miskien is dit hoekom ek van die joernalistiek hou – mens moet kan opstaan teen outoriteit as jy ’n joernalis wil wees.”

Maar in sy debuutboek staan hy nie op teen outoriteit nie – nee, hy werk saam met die Bennie Griessels van die werklike lewe om aan Suid-Afrika ’n polisiemag te wys wat alle landburgers in aksie wil sien en in kan glo.

In sy 15 jaar as joernalis het Coetzer mense in die polisie ontmoet wat hulle lewens toewy aan hulle werk, ten spyte van nepotisme, politiese inmenging en min resources.

“Die koerantopskrifte lees gereeld iets soos: ‘Man kry 40 jr tronkstraf vir moord’, maar ons hoor nooit wie die speurder was agter die saak nie. Of hoe hy/sy die moordenaar vasgetrek het nie.”

Hy wou graag daardie tipe stories vertel het. Hy kies nege uiteenlopende sake uit om die staal van die Valke te wys.

Tussen al die stories wat hy kon skryf, hoekom het hy op hierdie paar besluit? Coetzer staar na sy horlosie-arm. Die datum, 4 Maart 2012, is in groot Romeinse skrif getatoeëer. “Soos ek gesê het, die ondersoekbeamptes self moes ook hulle toestemming gee. Daar was baie stories wat ek graag sou wou vertel, maar die ondersoekbeamptes wou nie deel wees van hierdie projek nie. Ander ondersoekbeamptes was in die middel van groot hofsake en kon net nie in my skedule inpas nie. Ek het stories gesoek wat vir my interessant was en wat ek gedink het lekker sal lees. En natuurlik wou ek soveel moontlik van die diverse werk wat die Valke doen, inpas.”

Ek wonder of daar een storie is wat vir hom uitstaan en hoekom.

Hy loer weer na die tatoeëermerk. “Vir my was die mensehandelstorie een van die donkerste – dit is ’n walglike manier om geld te maak.”

Die eerste hoofstuk stel lesers aan ’n jong meisie voor, skaars 16 jaar oud. Albei haar ouers dien tronkstraf uit: haar pa vir moord en haar ma vir dwelms. Bendes gee vir haar ’n bed, dak oor die kop. Voed haar. Maar hulle deel ook alkohol met haar. En later coke, meth en heroïne. Alles gratis. Tot op ’n dag. Daarna moet sy met haar liggaam en siel betaal. Die spiraal waarin sy verval en die netwerk se uitgeslapenheid bied vir haar geen hoop nie.

Haar enigste hoop is Kaptein Lizelle Herbst van die Valke. En haar partner, Kaptein Gerhard Kotze.

Sy gunstelingstorie, voeg hy self by, was rondom die werk wat die TOMS – die taktiese eenheid van die Valke – doen.

“Hulle doen van die gevaarlikste werk. En die mans en vrouens in daai eenheid verdien almal, in my opinie, medaljes. Een van hulle huidige mandate is om aan die kontant-in-transitorowe in Suid-Afrika te werk. Om die sindikate agter daai rooftogte aan te vat, is ongelooflik moeilik en lewensgevaarlik.”

Omdat Coetzer voltyds werk en boonop twee klein dogtertjies het, het baie van die skryfwerk laataand of in vroeë oggendure plaasgevind.

Graham Coetzer loer weer na die tatoeëermerk en antwoord my nuuskierigheid.

“Dit is die datum wat ek en my vrou, Louise, tydens ons heel eerste swangerskap ons tweelingdogtertjies verloor het. Hulle is te vroeg gebore, op 20 weke, en weens ’n rare mediese toestand en swangerskapkomplikasie, twin to twin transfusion syndrome.”

Stilte, behalwe vir ’n klein swart Pekinese-hondjie, Brownie, wat kliphard snork. “Vandag herinner die tattoo my hoekom ek moet aanhou baklei. Wanneer die werk en dinge in die land alles so negatief is, is daar ’n rede om aan te hou. Ek doen dit vir my kinders. Daar moet vir hulle ’n toekoms wees in die land.”

En net so gee Hunting with the Hawks lesers hoop – die polisie het nog nie hul oorlog teen misdaad verloor het nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top