Stefaans Coetzee gesels met Hestelle van Staden oor bloed en outopsies

  • 0

Titel (Afr): Outopsie, bloed vertel ’n storie
Titel (Eng): Blood has a voice: Stories from the autopsy table
Skrywer: Hestelle van Staden
ISBN: 9780624093633 (Eng)
Uitgewer: Tafelberg

Hestelle, baie geluk met jou blitsverkoper en baie dankie vir die tyd wat jy afstaan om met LitNet-lesers te gesels. Som jouself asseblief in ’n paar sinne op vir diegene wat nie jou TV-reeks, Outopsie, gekyk het nie.

Baie dankie, Stefaans. (Ek dink jy het met die moeilikste vraag begin.) Ek is een van daardie baie geseënde mense wat my droom uitleef – ek is ’n forensiese patoloog, wat verseker nou nie almal se idee van ’n droomberoep is nie. Ek woon in Johannesburg en my eintlike gunstelingwerk is dat ek ’n ma is, soveel soos ek absoluut mal is oor my “amptelike” beroep. Ek dink, uit die aard van my beroep ook, maar ook oor wie ek is, is ek eintlik baie privaat en is die TV- en boek-teenwoordigheid nogal ’n aanpassing vir my. Ek getuig baie makliker in die hof as om vrae oor myself te beantwoord. Maar die amptelike weergawe is dat ek streng is (veral met myself), baie gedrewe en baie presies. So, ek het my familie gevra en die konsensus is dat ek doelgerig en gemotiveerd is, konsensieus en kompeterend en dat ek glo nie nonsens vat nie. (Ek het gedink ek is darem bietjie fun ook, maar my een sussie sê fun mense kry nie die werk gedoen nie.)

Nechama Brodie in gesprek met Hestelle van Staden (Foto: Tracy Reindorp)

Hierdie een is ’n drieledige vraag. Eerstens, hoekom die boek, Blood has a voice: Stories from the autopsy table? Tweedens, moet ons eerste die TV-reeks kyk en dan die boek lees? En wat gaan ons raaklees wat ons nie ook in die TV-reeks gesien het nie?

Ek is genader om die boek te skryf nadat dit bekend geraak het dat ons besig was om die TV-reeks te skiet. En ek het nog altyd gedink daar is stories wat vertel behoort te word. Ek dink ook daar is ’n baie groter wêreldwye bewustheid van forensiese patoloë en die wêreld rondom misdaad, buiten dat dit glad nie is soos wat reekse soos CSI uitbeeld nie. Maar verder het ek ook gevoel dat dit belangrik is dat mense besef alles is nie net doom and gloom nie – daar is mense (en ek praat nie net van myself nie, maar van SAPD-beamptes, staatsaanklaers en nog ander) vir wie dit belangrik is dat daar geregtigheid geskied. Wat die tweede en derde deel van jou vraag aanbetref, die TV-reekse (daar was nou al twee op die kassie) vertel bietjie ander stories, alhoewel daar twee mense is wie se verhale ook in die TV-reeks is. Maar in ’n TV-reeks het mens maar 22 minute per episode, so alles is baie gekondenseer. In die boek kan ek beter verduidelik wat gevind is en wat die betekenis en implikasie van sekere feite is. Dus is dit eintlik twee losstaande entiteite. Ook, die boek is uit my oogpunt geskryf, so buiten dat die eerste hoofstuk handel oor hoe dit gekom het dat ek doen wat ek doen en die tweede hoofstuk die proses van outopsies en die wet verduidelik, is die boek meer persoonlik met my eie ervarings en emosies daarin verwoord. Mens kan dus onafhanklik van mekaar die boek lees en die reekse kyk. Die reekse handel ook in sekere gevalle oor sake waar ek nie self betrokke was nie, maar bloot die forensiese patologie interpreteer.

Met meer as 7 000 outopsies, hoe het jy die nege verhale gekies? Verskoon my dubbele vrae, maar is daar nog verhale wat jy in wou hê waaroor jy of die uitgewers besluit het liewers nie?

Dis ’n vraag wat ek gereeld kry en verskriklik sukkel om te beantwoord. Ek is baie reguit (eintlik is die Engels straightforward die beter beskrywing van my) in my benadering tot die lewe, maar kan amper nie vir jou sê hoe ek besluit het nie. Ek het hoofstuk 3 eerste geskryf, want ek het gedink ek het genoeg inligting, maar was ek nie verkeerd nie! Ek het vinnig agtergekom mens het nogal baie addisionele inligting nodig wat ons nooit het teen die tyd dat ons die outopsie doen of gewoonlik eers daarna nie. So, daarna het ek hoofstukke 1 en 2 geskryf, want ek ken darem my eie storie en die proses en wet. Ek dink eintlik ek het so moed opgebou om die res te skryf. Ek dink maar mens dra sekere oorledenes se stories met jou saam, dalk vir altyd, en dit is hierop wat my oorspronklike voorlegging vir NB gebaseer is. (Ek moes voorstelle maak nadat hulle my gekontak het, voordat die kontrak geteken is.) So, ek het teruggegaan na die oorspronklike dokument en dan besluit ja of nee. Die uitgewers was ongelooflik – hulle het my nooit verhoed om enige storie te skryf nie en my net aangemoedig. Hier moet ek veral vir Carla Coetzee baie krediet gee: Sy het my gereeld bemoedig en veral gekalmeer as ek gewonder het wat my besiel het. Sy moes (en moet) natuurlik ook gelief neem met my OCD-strepe...

Ek wonder ook, met soveel outopsies, wat laat jou as mens ontspan? En elke leser gaan wil weet hoe jy hiermee cope? Of moet ek eerder vra hoe kry jy dit reg om afstand te hou tussen jou werk en Hestelle as mens?

Ek dink dis baie anders as mens kies om te doen wat ek doen vs as jy “toevallig” daarin beland. (Nie dat ek weet hoe jy toevallig doen wat ek doen nie.) Maar as dit jou keuse is, dan is dit ook jou passie, of in my geval in elk geval. Ek voel ook nie dat ek gedefinieer word deur my beroep nie, alhoewel dit integraal deel is van wie ek is, omdat ek nog altyd ’n strewe gehad het tot geregtigheid. Maar as ek by my familie is, is ek net Hestelle, daar is niks van ’n TV-reeks of ’n boek of dies meer nie. In fact, my siel word genadeloos uitgetrek deur my sibbe. Ek het in Edith Eger se boek The Gift gelees van haar skoonseun wat ’n Nobel-prys in die laai gesit het, want (en ek verkort en vereenvoudig nou verskriklik erg) dis nie wie hy is by die huis nie. By die huis is ek net my kinders se ma. So, ek doen saam huiswerk of leer hulle om te kook (ek is baie lief vir kook en bak) of luister as hulle musiek oefen (gewoonlik ná ek hulle moes dreig). Maar oefening was nog altyd vir my belangrik en ongelukkig kry ek tans kans om net een maal per week tennis te speel, maar ek glo regtig ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

Hierdie vraag sluit by bogenoemde vraag aan. Huil jy soms?

Ja, ek doen. Maar verseker nie langs die outopsietafel soos daar in sekere TV-programme uitgebeeld word nie.

Hestelle van Staden (Foto: Tracy Reindorp)

Hoe is die terugvoer op jou boek?

Wel, ek weet uiteraard nog nie wat jou resensie sê nie, maar resensies deur Nadine Petrick, Anschen Conradie en Paul O’Sullivan (almal mense wat om verskillende redes weet waarvan hulle praat) is baie positief. Ek voel in werklikheid baie humbled – nou kan jy sien hoekom ek in Engels geskryf het. Die terugvoer van ander mense is ook baie positief, maar natuurlik is dit ook nie almal se koppie tee nie. Ek dink regtig nie wat ek doen fassineer almal nie, en dis ook reg so.

Ek lees dat jy van Patricia Cornwell se boeke gehou het, ek wonder nou of jy ’n Suid-Afrikaanse weergawe van Kay Scarpetta gaan skep? Al is dit ’n kortverhaal vir Huisgenoot of LitNet?

Op daai noot, baie geluk met jou nuwe krimi in Huisgenoot wat ek hoop om vanaand te lees! Ek sê altyd truth is stranger as fiction, so ek dink steeds die ware verhale is soms baie vreemder. Maar ek speel nog met die idee daarvan. En ek moet nog gewoond raak daaraan om my eie gesig in die winkels op die boek te sien voor ek weer my hand aan iets publieks waag.

Laastens, wat lê vir Hestelle voor? Nog ’n boek? ’n Tweede seisoen?

Wel, hopenlik eerstens ’n derde seisoen van Outopsie. ’n Tweede boek sal natuurlik afhang van hoe goed hierdie een vaar. Maar ek het nog altyd gesê ’n PhD is in die pyplyn, so dis ook nog ’n droom. En ek het nou geleer dat drome nie noodwendig altyd op 25 waar word nie, soms eers in ons 40’s of later. Maar dalk moet ek net eers gaan vakansie hou ná ’n wild besige jaar...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top