Stef Bos terug op die verhoog – op sy weerloosste

  • 0

Stef Bos (foto: verskaf)

Danksy ’n kansellasie kry ons vier sitplekke vir die Stef Bos-vertoning Bitterlief by Die Boer Teaterrestaurant in Durbanville. Hy het twee vertonings daar, sy eerste vertonings in Suid-Afrika sedert inperking in Maart 2020.

Die program beskryf dit as “Stef Bos sing homself uit die Lockdown naar ’n nuwe tyd; Met ’n andere horison; En ’n oop kop; Met gedagtes; Wat is skoongewaai; Deur die Coronastorm”, en op sy Facebook-blad sê hy dis ’n “solovertoning wat gebaseer is op die solo wat ek gespeel het in Die Lae Lande einde laasjaar. Ek sien so uit om weer agter die klavier te gaan sit en my siel uit my lyf te sing ...” Dis nou op die blad van die man wat homself op Facebook beskryf as “Kaaskop in Kaapstad en Vlaamse Nederlander”.

.......

Stef Bos se pad met musiek in Suid-Afrika gaan al lank terug; sy pad met die verhoog in die algemeen al meer as drie dekades.

........

Stef Bos se pad met musiek in Suid-Afrika gaan al lank terug; sy pad met die verhoog in die algemeen al meer as drie dekades. Ons pad met sy musiek gaan ook al ’n lang pad terug en optredes op Stellenbosch, Kaapstad en in die bos-amfiteater van Paul Cluver-landgoed en Oude Libertas doem voor mens op as hy voor die klavier gaan sit en die stilte oor die teater neerdaal.

Ons vriende het hul eie herinneringe van Stef en die grappie loop in ons vriendekring oor my vriendin se flater toe sy bykans 30 jaar gelede as au pair in Nederland gewerk het en die geleentheid gehad het om na afloop van een van sy vertonings haar CD te laat teken. Sy het in haar beste Nederlands aan hom verklaar: “Ik bin je heel grootste held” in plaas van “aanhanger”! Hy het gelukkig die flater gesnap en vol humor daarop reageer. Sy veg teen kanker en dié vertoning bring vir haar haar eie herinneringe en ver dink.

Die gedagtes wat deur my kop vlieg terwyl ek hier en daar in die paraffienliggie op ons tafel notas neem, is hoe anders hierdie resensie van ander gaan wees. Nie omdat Stef Bos se lang geskiedenis in die musiekbedryf, sy gewildheid hier en oorsee óf sy voete wat aan een kant in Nederland en die ander in Suid-Afrika staan, nie lofprysinge verdien nie. Inteendeel. Dis eerder asof die aantal CD’s, toekennings, optredes en liedjies wat hierdie liedjieboer al geskryf het, bloot nie ter sake is in daardie kosbare paar ure nie.

..........

Terwyl hy vertel hoe inperkend die nasionale inperking van 2020 vir hom was, die benoudheid van sy huis se mure, die afwesigheid van gehore, die toere en vrystellings wat gekanselleer is, en die onsekerheid oor die toekoms, kan jy sien hoe elkeen in die gehoor se eie wroeging van skraps twee jaar gelede weer deur hulle spoel.

.........

Terwyl hy vertel hoe inperkend die nasionale inperking van 2020 vir hom was, die benoudheid van sy huis se mure, die afwesigheid van gehore, die toere en vrystellings wat gekanselleer is, en die onsekerheid oor die toekoms, kan jy sien hoe elkeen in die gehoor se eie wroeging van skraps twee jaar gelede weer deur hulle spoel. My vriendin se sagte “mmm” en ingedagte “ja” spreek baie meer as ons gesprekke die afgelope paar maande.

Stef vertel hoe hy saans ’n uur voor die klavier gaan sit en gespeel en gesing het, net om nie mal te word nie en net verligting te bring aan die benoudheid in sy bors. Hoe hy elke dag gaan “inkopies” doen het net om uit te kom; hoe stil en leeg Kloofstraat was. Hoe hy vir die eerste maal in sy verblyftyd in Kaapstad voëls hoor sing het wat andersins deur die stadsgeraas uitgedoof sou gewees het.

Hy sing van die kollig wat hom geroep het; hoe hy sy heil in musiek vind. “Ek is ’n teaterman,” verklaar hy terwyl hy sy hele lyf na die gehoor draai. Sy hande rustig op sy skoot.

Hy gesels lang stukke, oor ervarings, gewaarwordings wat hierdie pandemie by hom wakker gemaak het. Die mense wat indrukke op hom gemaak het, die gevoel van afsondering wat grendeltyd meegebring het.

Die gewydheid van die optrede hang oor almal. Die gewone luidrugtigheid van ’n gehoor wat voor en tydens ’n vertoning kan eet en drink, is weg. Dit beteken egter nie dat daar nie gehoordeelname is nie. Hy het ’n versoek vir ’n verjaardagliedjie; noem dat ’n man hom in die kleedkamer voorgekeer en gevra het: “Is dit nu later?” Is dit die “alles sal beter wees as jy eers groot is later” wat jou skoolmeesters jou belowe het? Hoe ironies dat dié later waarvan ons almal op die speelgrond gedroom het, niemand juis tot vreugde stem nou te midde van ’n pandemie nie.

“Ek het nie gedink baie Suid-Afrikaners verstaan die strekking van die liedjie nie, want julle ken boonop wegkruipertjie, wat ons as ‘verstoppertje’ ken, en ek het gedink die boodskap is dalk tussen die woorde verlore, maar dié man se voorkeer het my laat besluit om ‘Is dit nu later?’ te sing en ek is bly julle beleef ook die lirieke soos ek.”

Teen alle verwagtinge in fokus hy nie heelaand op die motorongeluk van enkele dae tevore waarin hy sy skoonma verloor het en sy seun beseer is nie. Hy erken wel dit was ’n traumatiese ervaring vir sy gesin, maar voeg by dis ons almal se lewe. Ons almal ken verlies en swaarkry.

Hy erken dat hy nie sy optredes wou kanselleer nie, dat sing “geestelike asemhaling” vir hom is. Dat hy dankbaar is om op te tree; so ontsettend bly dat die gehoor opgedaag het. En die kopknikke van die gehoor eggo sy dankbaarheid. Hoe min geleentheid het ons die afgelope twee jaar gehad om ons in ’n teater oor te gee aan woorde en note – veral van dié kaliber.

Hy gesels oor die tyd as tiener toe hy sy liefde vir sy taal ontdek het; hoe hy die liefde vir sy vrou in woorde omsit; hoeveel indruk die woorde van Herman van Veen se vertonings op sy siel gemaak het.

Hy vertel van sy eerste ontmoetings met Johannes Kerkorrel, van die geweerskote wat destyds saans in Johannesburg geklap het. Dat hy kon vlug terug Nederland toe, maar dat hy in hierdie land wou bly.

“Angs is ’n slegte rigtingwyser,” verklaar hy.

Nou nog meer as destyds toe hy dié besef in Hillbrow gehad het.

Ek is dankbaar die kollig het hom weer geroep; dankbaar dat hy in musiek sy heil vind; want sy optredes het my geroep; sy musiek bring heil vir my siel.

Bitterlief
Met: Stef Bos

Deur: Stef Bos
29 Januarie op Stellenbosch (uitverkoop); 7 Februarie in Pretoria by die Atterburyteater (uitverkoop); 10 Februarie op Swellendam by Teatro at Ten on Main.
Kaartjies by 028 514 2202.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top