Stef Bos oor sy vertoning by die ABSA KKNK saam met Koos Kombuis

  • 0

Niemandsland, 'n vertoning deur Boskombuis (Stef Bos en Koos Kombuis), word beskryf as "'n samekoms van twee manne van dieselfde generasie wat weet wie hulle was, wie hulle is en wie hulle eendag wil wees. Ook waar hulle was, waar hulle is, en waar hulle eendag wil wees." Stef Bos het vir Naomi Meyer vertel waarna teatergangers by die KKNK kan uitsien.

Hallo Stef. Toe ek die naam sien – Boskombuis – het ek net gewonder: Hoekom het iemand nie al lankal hieraan gedink nie? Dit kom so half natuurlik! Ken julle mekaar al lank, en hoe het dit gekom dat julle besluit het om saam die Niemandsland-show by vanjaar se KKNK te doen?

Ons ken mekaar inderdaad al lank, maar eintlik het die idee om ’n show saam te doen ontstaan toe Koos aan sy 13-album gewerk het en ek net klaar was met
In een ander licht. Al twee CD’s se basis-vertrekpunt is spiritualiteit of hoe ons soos agnoste aankyk teen die metafysische ding op ’n mooie en konstruktiewe manier. Ons wou dit eers noem God en die Duiwel on tour, en toe het ons besluit dit moet oor baie meer gaan dan alleen spiritualiteit, en toe kom die liefde in, en die land en die kinders en die liefde as temas. En dasei, daar was die vertoning. Ons sit rond die tafel soos by die huis en ons gesels en sing asof jy by ons op besoek kom.

Die vertoning is regtig ook so, want elke aand praat ons anders met mekaar en daar is gelukkig nie ’n teks waaraan ons ons moet hou.

Na twee oefenlopies in die Kaap en twee volaandvertonings in Pretoria kan ek sê daar is iets moois gebore ... Dis die soort vertoning waar ek van hou ... ’n reis deur die lewe met humor en ontroering van twee mans wat verby die ego-ding is. Dis ook baie lekker dat ons gemaklik is op die verhoog om baie te improviseer – dit maak dat die vertoning voelbaar hier en nou gebeur.

Ek lees in die inligtingstuk oor Boskombuis dat julle noem julle kom uit dieselfde generasie. Maar is dit volkome waar? Die een generasie in Europa en die ander een in turbulente Suid-Afrika. Het julle nie die wêreld gans en al verskillend ervaar nie, dieselfde generasie ten spyt?

Jy is reg ... Wat era betref is ons van dieselfde generasie wêreldwyd, maar natuurlik nie wat kultuur en land betref nie. Dit maak die vertoning ook lekker, want ons kyk vanuit verkillende hoeke na die wêreld en mekaar. My verhouding en my kyk op hierdie land is daardeur ook anders as Koos syne en dit skep ’n lekkere verwijsingsraamwerk. Ek kom van ’n kultuur wat homself nie moes bevraagteken in die afgelope 50 jaar, terwyl ons nou wel ons gat begin sien en sukkel met probleme waarop ons nie ’n antwoord ken nie, terwyl in hierdie land die kompleksiteit van probleme so ver gaan dat dit waaroor ons in Europa kla, nogal pateties is. Aan die ander kant is ons wel ongeveer van dieselfde leeftyd en is daar baie inzigte wat jy kan deel net deur die ouderdom en die feit dat ons laat begin het met kinders.

Wat is die show wat julle aanbied? Sing julle, gesels julle ... en doen julle dit onafhanklik van mekaar, of gesamentlik? En wie skryf die teks?

Ja, ons sing en gesels, soos eerder gesê, asof ons by die huis is.

Die teks wat praat betref, ontstaan op die moment in die dinamiek tussen ons. Ons het ’n list of songs as ’n structure waarvan ons ook kan afwyk. In die songs ondersteun ons mekaar deur saam te speel of te sing op ’n basic manier, want ons moet diensbaar wees aan die inhoud van die songs. Daardeur kry dit nogal ’n verrassende sound en baie songs word mooier wanneer hulle kaler raak.

Julle show was ook pas in die Atterbury-teater in Johannesburg. Gaan dit ’n gereelde ding word waar julle twee saam optree?

Ons gaan in Augustus Baxter toe in Kaapstad (23 en 24 Augustus) en daarna Windhoek toe. Ek dink ons gaan hom seker nog op ander plekke speel ook wanneer ons agendas dit toelaat in die komende jaar. Maar ek toer in April en Mei en Oktober en November in die Lae Lande.

Stef, wat is jou gunsteling-liedjie van Koos?

Daar’s baie, maar my die eerste song wat ek van hom gehoor het, “Whiskeyglas”, is vir my nog altyd wonderlik.

Lees nog inligting oor die Stef Bos en Koos Kombuis se vertonings by die ABSA KKNK.

Lees 'n onderhoud met Koos Kombuis oor Niemandsland

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top