Standpunte oor menslike versus KI-ondersteunde psigoterapie

  • 0

The death of human empathy is one of the earliest and most telling signs of a culture about to fall into barbarism. – Hannah Arendt

Die sielkundige Mart-Marie Uys (2026:11) maak die opmerking dat die menslike brein maklik mislei word deur die illusie van ’n goeie luisteraar, wat verband hou met die toenemende hedendaagse gewildheid daarvan om diepgaande aanlyn gesprekke met KI-gedrewe kletsbotte te voer, waar komplekse menslike emosies en persepsies ter sprake kom. Nadat sy ’n deeglike ontleding van die voor- en nadele van hierdie tendens gemaak het, kom sy tot die gevolgtrekking dat ’n gesprek met ’n KI-stelsel gewoonlik glad, ordelik en veilig verloop, maar ook minder geleenthede bied vir emosionele ontwikkeling wat uit werklike persoonlike verhoudings groei, omdat dit so min emosionele spanning impliseer.

Dit is moontlik om op grond van bostaande waarneming ’n afleiding te maak dat ’n outoriteitsverskuiwing besig is om hier plaas te vind. Die outoriteit verskuif na die KI-stelsel en terselfdertyd geleidelik weg van die individu, terwyl, veral in die geval van individuele psigoterapie, die algemene doel juis is om outonomie, selfbeheer, selfstandigheid, selfinsig en realisme by die kliënt/pasiënt te bevorder. In die alledaagse praktyk begin die terapeutiese proses met die terapeut as deskundige en eindig met die kliënt as die deskundige op die gebied van sy eie lewe (Rockville 2019).

Sou die Franse filosoof Roland Barthes se konsep “death of the author and birth of the reader” aangepas kon word na “death of the client and birth of AI”? Barthes het met hierdie beginsel bedoel dat sodra ’n teks gepubliseer is, die outeur in werklikheid afstand doen van sy outoriteit en die interpretasie van die betekenis van die teks aan die lesers oorgelaat word. In die geval van psigoterapie bestaan die gevaar dat ’n outoriteitsverskuiwing weg van die kliënt en na die KI-stelsel ’n situasie meebring dat die volle implikasies van die verskuiwing nie professioneel doeltreffend hanteer word nie. KI doen in so ’n geval hoofsaaklik gedragsinterpretasies en die kliënt word bloot ’n passiewe luisteraar.

Die doel van hierdie artikel is om kortliks ’n oorsig te gee van enkele onlangse standpunte en deskundige menings in verband met die rol en gebruik van KI-stelsels in psigoterapie en ook te verwys na enkele navorsingsbevindings in hierdie verband. Met “KI-stelsels” word bedoel alle huidige beskikbare KI-variasies soos hier onder verduidelik word.

Kunsmatige intelligensie

Volgens Lenovo (s j) word KI-stelsels gewoonlik geklassifiseer op grond van drie oorvleuelende dimensies, naamlik vermoë/kapasiteit (of simulasievlak van intelligensie), funksionaliteit en beliggaming. Wat die kategorie kapasiteit betref, word onderskei tussen eng fokus (narrow intelligence) of reaktiewe KI, algemene KI (sisteme met beperkte geheuefunksies) en superintelligensie (byvoorbeeld simulasie van menslike emosies, intensies en opvattings). Funksionaliteit verwys volgens Lenovo na generatiewe, perseptuele en voorspellings-KI asook kletsbotte. By beliggaamde KI word breedweg onderskei tussen onbeliggaamde KI, humanoïede en industriële robotte.

Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (2022) gee voorkeur aan ’n klassifikasie wat KI-stelsels ontleed in terme van die samelewingsimpak, tegniese ontwerp en praktiese toepassing; met ander woorde die kernidee is om te onderskei tussen: mense en die planeet, ekonomiese konteks, data-invoer, KI-modelle, en  funksionaliteit en uitsette.

Diverse standpunte

Legg (2025) baseer sy standpunt op ’n Christelike perspektief en noem dat alhoewel KI-kletsbotte sommige aspekte van terapie kan naboots, dit ontbreek aan professionele verantwoordelikheid, realistiese oordeel en toepaslike veiligheidsmaatreëls. KI is dus ’n riskante plaasvervanger vir menslike psigoterapeute. Hy waarsku ook teen oorafhanklikheid van KI, en vergelyk dit met afgodediens: “But the cultural practice of having literal, physical depictions of representing gods, is paralleled by AI in some ways. Generative AI reflects humanity’s nature. Idols and false gods do the same.” Dié standpunt klink radikaal in ’n sekere opsig, maar behoort nogtans gerespekteer te word.

Die sielkundige Pawel Szczesny (2026) neem deel aan ’n paneelbespreking in verband met die kritiese evaluering van ’n eksperimentele Kanadees-Amerikaanse navorsingstudie wat oor eensaamheid handel. Die doel met die studie is om die waarde van KI as ’n ondersteunde metgesel of “vriend” te bepaal in vergelyking met die ondersteuning van ’n ware menslike vriend. Hy wys daarop dat die korttermyneffek van KI-kletsbotte wel ’n bydrae kan lewer om negatiewe emosies te reguleer. Kletsbotte alleen verlig egter selde eensaamheid betekenisvol op lang termyn en bly ver agter by die doeltreffendheid van menslike ondersteuning. Net soos werkoutomatisering dikwels die onsigbare menslike bydraes ontbloot wanneer die menslike faktor verdwyn, ontbloot KI as gespreksgenoot die onvervangbare eienskappe van natuurlike menslike interaksie.

Die volgende menings word geopper tydens ’n webinaar aangebied deur The New England Journal of Medicine (2026) wat oor KI en kliniese besluitneming handel. Tydens die toepassing van KI-tegnologie in die kliniese praktyk behoort kliënte se voorkeure vanuit ’n moreel-etiese invalshoek gerespekteer en belyn te word met die toepaslike regsreëls (legal alignment). Wat die beskerming van die kliënt betref, weet die professie nie altyd presies wie watter tegniek gebruik nie; doeltreffende monitering is dus ’n netelige kwessie, en wie is daarvoor verantwoordelik om hierdie regulering te doen? Wat presies word bedoel met “redelike optrede” deur praktisyns wat KI gebruik? ’n Belangrike vertrekpunt is gevolglik die vraag: “Watter rol behoort KI te speel om ’n spesifieke kliënt optimaal behulpsaam te wees?” Dit kom neer op eerlike, oop, wedersydse kommunikasie tussen kliënt en praktisyn.

In ’n vroeëre publikasie in Psychology Today beweer Romeo Vitelli (2014) dat KI menslike terapeute nooit heeltemal sal kan vervang nie. Die gebruik daarvan kan tot kostevermindering aanleiding gee, die werkslading verlig en toegang tot dienslewering uitbrei. Die rol van KI in psigoterapie sal waarskynlik toeneem namate die tegnieke meer gesofistikeerd en bekostigbaar word, veral vir demensiepasiënte en individue met outisme.

Die regsfirma Michalsons (2023) lig ook die toeganklikheid en kostebesparingseffek van KI-ondersteunde psigoterapie as voordele uit, maar wys terselfdertyd op leemtes soos dat hoëvlak- empatiese begrip as ’n sentrale terapeutiese element, tegniese betroubaarheid, databeskerming en regs-etiese nakoming tans nie haalbaar is nie. Dit is ’n veld wat wel potensiaal toon, maar terselfdertyd ook noukeurige regulering en etiese waarborge vereis.

Maffly (2026) is van mening dat KI nie noodwendig menslike psigoterapeute sal vervang nie, maar veel eerder verstaan moet word as ’n reeks hulpmiddels wat psigoterapie op verskillende vlakke van outomatisering kan ondersteun, elk met unieke voordele en risiko’s. Die skrywers stel vier vlakke van KI-outomatisering op ’n kontinuum voor: volteksstelsels (scripted systems) waar kletsbotte voorafgeskrewe advies gee); evalueringsinstrumente (KI-beoordeling van terapiesessies en die effektiwiteit van die terapie); ondersteunende hulpmiddels (KI stel ingrepes voor, maar die terapeute behou die beheer van toepassing); outonome KI-terapie (direkte blootstelling van kliënte aan KI-gesteunde psigoterapie).

Ten spyte van die vooruitgang in KI-tegnologie is daar kritieke areas waar KI tekortskiet in vergelyking met menslike psigoterapeute (Zhang en Wang 2024). Eerstens ontbreek KI-stelsels diepgaande empatie en die vermoë om professionele terapeutiese verhoudings met pasiënte te vorm. Menslike terapeute, daarenteen, gebruik professionele intuïsie en etiese oordeel om komplekse terapeutiese situasies te hanteer. Psigoterapeute interpreteer subtiele leidrade en is in staat om hul terapeutiese benadering in reële tyd aan te pas. KI is nie hiertoe in staat nie, weens afhanklikheid van voorafbepaalde algoritmes. Daarbenewens is menslike terapeute vaardig in die interpretasie van nieverbale kommunikasie, soos liggaamstaal en gesigsuitdrukkings, wat ’n dieper insig in ’n pasiënt se emosionele toestand bied. KI-stelsels, veral dié wat tot teksgebaseerde interaksies beperk is, kan nie hierdie prikkels waarneem nie. Verder is kulturele sensitiwiteit uitsluitlik ’n menslike vaardigheid. Psigoterapeute pas hul terapeutiese benadering aan by die pasiënt se kulturele agtergrond, terwyl KI nie in staat is om die implikasies van kultuurverskille effektief te vertolk nie.

Die Amerikaanse psigiater Eric Plakun (2026) beklemtoon die betreklik vinnige tempo van aanvaarding van KI-psigoterapie deur die algemene publiek. As gevolg hiervan ontstaan wetgewende en regulerende dokumentasie, wat tans uit ’n gefragmenteerde en onsamehangende lapwerk bestaan. Navorsingstudies word wel stelselmatig oor die effektiwiteit van KI-ondersteunde psigoterapie gepubliseer. Die sentrale kwessie van doeltreffendheid, hetsy in terme van simptoomvermindering of impak op gesondheidsverwante lewenskwaliteit, behoort die eerste prioriteit te wees. Hierdie faset ontvang egter minder aandag in die literatuur, net soos die aard van die terapeutiese verhouding in KI-ondersteunde psigoterapie.

Navorsing

’n Voorbeeld van ’n deeglik gekontroleerde navorsingstudie, en in aansluiting by Plakun (2026) se opmerkings, is die werk van Costescu, Vanderborght en David (2017). Hul sentrale argument is dat kinders op die outismespektrum ernstige uitdagings ervaar om hul gedagtes en gevoelens logies te identifiseer en te konseptualiseer. Dit presenteer in ’n proses wat hul vermoë om emosies doeltreffend te bestuur nadelig beïnvloed. Die navorsers maak gebruik van robotondersteunde terapie (ROT) met die doel om die strategieë wat hierdie kinders in verskillende sosiale situasies gebruik, te verbeter, hul irrasionele oortuigings te wysig, aanvaarbare gedragspatrone in sosiale situasies (wat goeie emosionele regulering vereis) aan te leer, asook om die intensiteit en frekwensie van negatiewe emosies te verminder. 27 kinders met ’n primêre diagnose van outismespektrumversteuring, in die ouderdomsgroep 6 tot 12 jaar, is lukraak toegewys aan óf ’n ROT-groep (n=12) óf ’n standaardterapiegroep (n=15). Die kinders in beide groepe het aan ses weeklikse groepsessies van twee uur elk deelgeneem. Kinders met outismespektrumversteuring in die ROT-groep het in vergelyking met die groep wat standaardbehandeling ontvang, statisties betekenisvol minder irrasionele kognisies en laer vlakke van negatiewe emosionele responsintensiteit na behandeling getoon. Geen beduidende verskille tussen die twee groepe is gerapporteer ten opsigte van sosiale insig en/of aanpassing nie.

Barzkar en medewerkers (2026) bespreek ’n gevallestudie waartydens KI (spesifiek ChatGPT) gedurende die psigoterapeutiese proses van ’n 35-jarige vrou met angs en depressie geïntegreer is. Die kliënt, wat reeds in psigodinamiese terapie was, het begin om ChatGPT op haar eie inisiatief (met ander woorde, onafhanklik van die professionele psigoterapeutiese proses) te gebruik, wat gelei het tot die ontwikkeling van “robotiese oordrag”, met ander woorde, die projeksie van mensagtige eienskappe op KI. Sy het byvoorbeeld gereeld tydens die spreekkamersessies verwys na haar gesprekke met KI en sy was oortuig daarvan dat die kletsbot haar beter verstaan as haar menslike terapeut. Met verloop van tyd het sy ’n bykans oorgeïdealiseerde kwaliteit aan KI begin koppel.

Die skrywers kom tot die gevolgtrekking dat alhoewel KI oor die potensiaal beskik om geestesgesondheidsorg radikaal te beïnvloed, moet dit met omsigtigheid, kritiese nadenke en etiese verantwoordelikheid geïntegreer word. Die kernvraag bly egter of KI werklik die diepte, spontaanheid en verhoudingskwaliteit van menslike psigoterapie kan vervang. Hierop is die antwoord onomwonde “nee”, ten minste vir die huidige fase van ontwikkeling. As dit egter verantwoordelik ontwikkel en geïmplementeer word, kan KI toeganklikheid verbeter, terapeutiese insig fasiliteer en sielkundiges toerus om meer effektiewe ingrepe te lewer.

Bostaande uiteensetting verteenwoordig slegs ’n beperkte getal uiteenlopende standpunte oor die onderwerp. Daar word geensins aanspraak gemaak op ’n volledige oorsig wat hier aangebied word nie.

Ten slotte som Plakun (2026) se perspektief die kerngedagtegang in hierdie artikel baie goed op en bied dit ’n realistiese, weldeurdagte goue middeweg tot die vraagstuk: “AI psychotherapy is here, whether we are ready for it or not. It offers a combination of hopeful potential benefits and worrisome challenges that are yet to be adequately understood, studied, regulated, and utilized appropriately.”

Samevatting

In hierdie artikel is die rol van KI in psigoterapie in vergelyking met tradisionele menslike terapeute onder die loep geneem. Die sentrale argument is dat hoewel KI-stelsels toenemende voordele bied (soos beter toeganklikheid, kostedoeltreffendheid en ondersteuning in sekere terapeutiese kontekste), dit steeds wesenlike tekortkominge toon, veral met betrekking tot diepgaande vlakke van empatiese begrip, etiese oordeel, kulturele sensitiwiteit en die vermoë om professionele terapeutiese verhoudings te bou.

Verder word gewaarsku teen ’n moontlike verskuiwing van outoriteit vanaf die kliënt na die KI-stelsel, wat die kerndoelwitte van psigoterapie, naamlik die bevordering van selfinsig, outonomie en selfstandigheid, kan ondermyn.

Dit word aangevoer dat KI nie menslike psigoterapeute kan vervang nie, maar eerder as ’n aanvullende hulpmiddel beskou moet word. Die optimale benutting van KI lê dus in ’n gebalanseerde integrasie waar menslike oordeel en tegnologiese ondersteuning mekaar aanvul.

Eindnota

ChatGPT en Perplexity is vir vertalingsdoeleindes vir hierdie artikel gebruik, maar nie om enige teks te skryf nie. Die interimriglyne van US (beskikbaar by https://libguides.sun.ac.za/c.php?g=1497969&p=11205267) in verband met die gebruik van KI in navorsing, is sover as moontlik nagevolg.

Bibliografie

Barzkar, F, A Zaribaf en F Mirfazeli. 2026. The machine as therapist: Unpacking transference and emotional healing in AI-assisted therapy. Contemporary Psychotherapy, 55:361–8. https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1007/s10879-025-09677-7. https://link-springer-com.ez.sun.ac.za/article/10.1007/s10879-025-09677-7.

Costescu, C, B Vanderborght en D David. 2017. Robot-enhanced CBT for dysfunctional emotions in social situations for children with ASD. Journal of Evidence-Based Psychotherapies, 17(2):119–32. https://www.researchgate.net/publication/321828468_Robot-Enhanced_CBT_for_dysfunctional_emotions_in_social_situations_for_children_with_ASD#fullTextFileContent.

Legg, M. 2025. Could AI chatbots take over therapy? How AI can become an idol. Denison Forum. 27 Februarie. https://www.denisonforum.org/current-events/could-ai-chatbots-take-over-therapy.

Lenovo. S j. Classification of artificial intelligence: Levels and categories explained. https://www.lenovo.com/us/en/knowledgebase/classification-of-artificial-intelligence/?orgRef=https%253A%252F%252Fwww.google.com%252F&srsltid=AfmBOorjAPbXnUKFs6L7ZMnRbFcKWfEfJR7HNbL981v9FiXpqR_PCGOO.

Maffly, B. 2026. How far can automation and AI support psychotherapy? University of Utah, 6 April. https://attheu.utah.edu/health-medicine/how-far-can-automation-and-ai-support-psychotherapy.

Michalsons. 2023. Robo-therapy: the future of mental health treatment? A legal migraine. https://www.michalsons.com/blog/robo-therapy-the-future-of-mental-health-treatment-a-legal-migraine/65287.

New England Journal of Medicine. 2026. Webinar: Value alignment and incentive divergence in clinical AI, 22 April. Value Alignment & Incentive Divergence in Clinical AI.

Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling. 2022. Framework for the classification of AI systems. OECD Digital Economy Papers No. 32. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://www.oecd.org/content/dam/oecd/en/publications/reports/2022/02/oecd-framework-for-the-classification-of-ai-systems_336a8b57/cb6d9eca-en.pdf.

Plakun, E. 2026. Psychotherapy and AI 2.0: an update. Journal of Psychiatric Practice, 32(1):31–4. DOI: 10.1097/PRA.0000000000000902. https://oce-ovid-com.ez.sun.ac.za/article/00131746-202601000-00007/HTML.

Rockville. MD. 2019. Enhancing motivation for change in substance use disorder Treatment. National Library of Medicine. Treatment Improvement Protocol Series, No. 35. Hfst 3: Motivational interviewing as a counseling style https://www.ncbi.nlm.nih.gov/books/NBK571068.

Szczesny, P. 2026. Chatbots apparently won't reduce loneliness. What a surprise. LinkedIn. https://www.linkedin.com/posts/pawelpszczesny_chatbots-apparently-wont-reduce-loneliness-share-7457676161158987776-XoPz?utm_source=social_share_send&utm_medium=android_app&rcm=ACoAAAY7kz8B6iIZFgcHPz2PCnM6G-20rFAoj5c&utm_campaign=gmail.

Uys, M. 2026. Bieg jy ook teenoor ’n algoritme? Die Burger By, Tegnologie, 11.

Vitelli, R. 2014. The rise of the robot therapist. Is there a robot therapist in your future? Psychology Today. https://www.psychologytoday.com/za/blog/media-spotlight/201411/the-rise-of-the-robot-therapist.

Zhang Z en J Wang. 2024. Can AI replace psychotherapists? Exploring the future of mental health care. Frontiers in Psychiatry,15:1444382. DOI: 10.3389/fpsyt.2024.1444382. PMID: 39544371; PMCID: PMC11560757. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC11560757.

Lees ook:

Replika: ’n Kunsmatige Intelligensie- (KI-) metgesel in ’n gebroke wêreld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top