Standbeeld van Louis Botha: 'n simbool waarvan?

  • 0

'n Herrie in die kleine is ontketen toe dit vandeesweek aan die lig gekom het dat 'n ANC-LP haar daarvoor beywer dat die standbeeld van genl Louis Botha voor die parlement in Kaapstad verwyder moet word.

Thandile Sunduza (35) is van mening dat dié standbeeld deur een van oudpres Nelson Mandela vervang moet word, het Die Burger berig.

Sunduza het aan LitNet gesê 'n debat is op Mandeladag in ANC-geledere gevoer oor versoening.

"Ons het hom [Mandela] nog nie geëer by die Uniegebou of by die parlement nie. Hy was ons eerste demokratiese president en hy spreek tot ons almal, swart en wit.

"Louis Botha spreek nie tot ons almal nie. As swart Suid-Afrikaners sien ons hom as 'n onderdrukker."

Op 'n vraag oor of dit nie gesien kan word as 'n poging om die geskiedenis probeer uitvee nie, het sy heftig gereageer.

"'n Mens kan nóóit die geskiedenis uitvee nie ... maar die standbeeld moet geskuif word na 'n ander plek, waar mense dit kan besoek." Die Apartheidsmuseum is deur haar as voorbeeld uitgelig in hierdie opsig.

Sy sê daar kan onmoontlik plek vir standbeelde van beide Botha én Mandela op die parlementêre gronde wees.

"Die geskiedenis van Louis Botha spreek nie tot ons nie. As ons die standbeeld sien, sien ons pyn en onderdrukking."

Sy beweer dié voorstel geniet groot steun in ANC-kringe en selfs binne die DA.

"Nou wag ek nog net vir my vriende van die Vryheidsfront Plus ..."

Gert Opperman, besturende direkteur van die Erfenisstigting, is egter van mening dat Botha wel as 'n simbool van nasiebou beskou kan word en dat die blote verwydering van standbeelde kortsigtig is. Hy het enkele vrae van LitNet oor die kwessie beantwoord:

Wat is die belangrikste erfenis en nalatenskap van Louis Botha wat betref sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing? Watter plek het dit in die moderne Suid-Afrika?

Louis Botha het in ‘n kort tydperk getransformeer van ‘n leidende Boere-generaal wat met onderskeiding teen die Engelse geveg het, tot die leidende persoon in die grondlegging van die Unie van Suid-Afrika. Gegewe die geweldige bitterheid en emosie wat in die na-oorlogse jare, asook tydens die Eerste Wêreldoorlog, moes bestaan het, het dit sekerlik baie groot eise aan sy leierskap en deursettingsvermoë gestel. Hy sou sekerlik in vele kringe as ‘n rolmodel vir die bevordering van nasiebou, versoening en sosiale samehorigheid voorgehou kon word. Iemand wat dít nie verstaan nie en bloot sy standbeeld wou verwyder om plek te maak vir iemand anders wat ook ‘n groot rol in die geskeidenis gespeel het, openbaar totale onkunde en ondermyn presies dít waarvoor Botha en Mandela, in verskillende tydvakke in ons geskiedenis, gestaan het.

Sommige ANC-LP's meen daar kan nie 'n standbeeld van Botha én Mandela op die parlementêre gronde wees nie. Wat is u gevoel hieroor en wat is 'n werkbare oplossing met betrekking tot versoening?

Die standbeeld van Botha as die eerste minister van Suid-Afrika hoort ongetwyfeld op die parlementêre terrein, maar ek sou begrip daarvoor hê as daar ook ‘n standbeeld vir Mandela, as die eerste president in die nuwe na-1994-bestel, op die terrein opgerig sou word. Die een sonder die ander kan presies dit waarna hier bo verwys is, ondermyn.

Die kwessie van die verandering van plekname, straatname ensovoorts bly 'n sensitiewe onderwerp - uiteraard ook die moontlike verwydering van standbeelde. Wat is 'n pragmatiese en inklusiewe wyse om met hierdie proses voort te gaan, spesifiek met verwysing na die kwessie van die Botha-standbeeld?

Ongelukkig is die kwessie van verandering van plekname iets wat met elke nuwe politieke bedeling gepaardgaan, aangesien die nuwe bewindhebbers voel dat daar ‘n regstelling van die oordaad en vergrype van die vorige bestel bewerkstellig moet word. Daar is in die vorige bestel ook name verander om by nuwe aksente en sienings aan te pas. Sommige name is uiteraard baie meer emosioneel as ander. In ‘n meer volwasse bestel sou gekyk kon word na dubbel-naamgewing asook die vernoeming van die talle nuwe plekke en strate wat gebou word. Ons het egter nog nie daardie graad van politieke en kulturele volwassenheid bereik nie; trouens, dit lyk of ons al hoe verder daarvan wegbeweeg. Reeds daarom is die tendens anders in Suid-Afrika. Snaaks dat baie van die koloniale en Engelse plek- en straatname ongeskonde bly en dit skyn net teen die Afrikaners en hul voorsate se erfenis gemik te wees. Daar is wel ‘n behoefte en plek vir nuwe standbeelde, maar om bestaandes af te takel en te verwyder en bloot met nuwes te vervang, getuig van ‘n kortsigtige vernielsug! As ‘n mens kyk na die tipe uitsprake wat onlangs by die ANC en SAKP se beleidskonferensies gemaak is, kan hierdie proses selfs verder versnel namate ons nader aan die ANC se leiersverkiesing kom en daar vir strategiese maar ook vir korttermyn taktiese gewin selfs meer roekeloos gewerk word om die nasionale demokratiese aanslag te verwesentlik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top