Standbeeld-gedig: entropie

  • 0

entropie

In my agterplaas vorm ek beeldjies,
elkeen uniek:
oom paul en gandhi
jock van die bosveld
ou lastig van Simonstad
oorlogsponies, en cecil wat op pad
na egipte kapsie maak dat hy tolgeld moet betaal –
natuurlik generaal
de la rey de la rey
en die ry olifante by sun city
en castor en pollux met hulle gespierde boude
by die uniegebou.

Almal is ewe groot
sodat nie een afgehaal voel nie.

Ek boetseer ’n skaakstel
van pionne, dames en ruiterlose perde –
my torings het presidensiële gesigte
met gragte en ophaalbrûe.
My biskop dra ’n pers py
en die koning ’n rooi beret.

Ek maak ook ’n selfoon-app
met koördinate van beelde as nodusse
van ons connect-the-dot geskiedenis:
jy kan so jou teikens met GIS bepaal
en punte verdien
deur hulle te kantel of te kleur,
in kakie en vierkleurserp
te verdedig,
of by kerkplein pannekoek te bak –
voorspel tot die hoofdis.

Slaan die munt terwyl dit warm is
terwyl ons wag vir die gal om te breek:
die beelde wat bloei
en ikone gewreek.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top