
Nik Rabinowitz het geen ontsag vir ons volkie se heilige koeie nie. Die dag toe takt uitgedeel is, het hy iewers onder ’n boom langs ’n waterstroompie gelê en mense dophou vir sketse vir sy vertonings. En die lekkerte daarvan is dat jy in die gehoor kans sien om ook vir jouself en jou mede-burgers te lag. Van buite af te kyk hoe belaglik ons soms kan optree en hoe ’n komplekse samelewing ons het, maar dat ons almal saam kan lag.
Sy jongste vertoning – sy eerste in twee jaar by die Baxter, Stand Up, wat die hele feesseisoen op die planke is – laat geen steen onaangeraak nie: van Jacob Zuma, Boer soek ’n vrou, aanbouings, ouerskap, politiek, Oscar Pistorius, almal loop deur.
Sy vertoning word voorafgegaan deur ’n kort optrede van Kagiso "KG" Mokgadi.
Kagiso in sy swart pak en wit hemp wat meer soos ’n chauffeur as komediant lyk, het veral met sy velkleur en kultuur draakgesteek. “As die wêreld nou vergaan, wil ek wit terugkom. Nee, ek wil nie nou wit wees nie, dis dom. Maar as dit vergaan, wil ek wit terugkom Suid-Afrika toe, net ingeval die geskiedenis homself herhaal!”
Hy het vertel hoe hartseer hy was toe hy hoor Julius Malema is afgedank. “Ek het by Spier wyn geproe, oor die wingerde en Kaaps-Hollandse geboue uitgekyk en gedink as hy nog vyf jaar in die ANC kon bly en ons almal grond van die witmense kon wegneem, sou ek Spier vat, dankie!”
Hy het ook tong in die kies genoem dat as jy swart, bruin of Indiër in Suid-Afrika is en jou pa kry nie groot geld van die staat nie, het hy niks in die struggle gedoen nie. “En al wat jou pa moes doen, was om sy ID by die huis te vergeet en dorp toe te stap. Dit was so maklik om in die moeilike jare in die tronk te beland en dan te sê jy was as deel van die struggle in die tronk!”
Op die verhoog met die reuse rooi letters met liggies op wat "uNIK" spel, het Nik Rabinowitz kort-kort gestop om asem te skep soos hy vir eie grappies lag.
Hy vertel dat hul verbrekings by sy huis deur Moslembouers gedoen is en toe dit by daknatmaak kom, hulle Jive moes gebruik – dis vreeslik taai en hulle sukkel steeds om die taaistrepe af te was.
Hy is positief oor die groei in die demokratiese Suid-Afrika, want verduidelik hy, “as jy jou hot cross buns kan koop met die kosher-stempel en halaal-logo, het ons al baie ver gekom in hierdie land!”
Maar politici bly ’n groot bron van sy sketse. Hy merk onder meer op dat Mandla Mandela ’n lewendige voorbeeld is dat integriteit nie ’n ingebore eienskap is nie en dat die regering nou mense op voorkomende skorsing sit, “vir al die goed wat jy nog in die toekoms gaan verkeerd doen. So as jy volgende maand jou salaris kry en by die huis rondlê, dink aan al jou foute”.
Maar dis die afsluiting van sy vertoning oor sy onkunde as pa, wat die gehoor nou regtig laat skaterlag het. Die vertoning is beslis net wat die dokter vir die einde van die jaar swartgalligheid voorgeskryf het.
Die vertoning is nie geskik vir kinders onder 16 jaar nie.
Met: Nik Rabinowitz
Die Baxter-sentrum konsertsaal
26 November tot 11 Januarie, Maandag tot Saterdag om 20:30.
Kaartjies van R130 tot R150, met ’n Nuwejaarsvertoning van R210, deur Computicket of die Baxter Teater, 021-680 3962, afslag vir studente, groep-besprekings en seniors.

