
Erkenning vir collage: https://www.facebook.com/LAPA.Uitgewers
Jaco Jacobs, wat al 20 jaar lank boeke skryf, praat kort na Internasionale Kinderboekdag met Naomi Meyer oor die Stalmaats-reeks.
.........
Stalmaats het begin as ’n opdragwerk van my uitgewer, Miemie du Plessis. Sy het op ’n dag met my gesels oor die Afrikaanse kinderboekmark en haar “wenslysie” vir boeke wat sy graag sou wou uitgee. Omtrent heel boaan was ’n reeks perdestories, primêr op meisielesers gemik.
..........
Hallo Jaco! Dis ’n voorreg om met jou te kan praat. Jy het ’n reeks onder die naam Lize Roux geskryf wat dogtertjies verslaaf maak aan lees – en ek praat uit persoonlike ondervinding. Die Stalmaats-boeke word absoluut voos gelees in ons huis. Waar het die idee vir hierdie reeks vandaan gekom? (En wat van die naam: Lize Roux?)
Stalmaats het begin as ’n opdragwerk van my uitgewer, Miemie du Plessis. Sy het op ’n dag met my gesels oor die Afrikaanse kinderboekmark en haar “wenslysie” vir boeke wat sy graag sou wou uitgee. Omtrent heel boaan was ’n reeks perdestories, primêr op meisielesers gemik. Ek het in daardie stadium reeds liefdesverhale vir tieners geskryf, onder die skuilnaam Tania Brink, en Miemie het my uitgedaag om so ’n perdereeks aan te pak. Sy het op die ou end besluit ek moet die reeks onder ’n skuilnaam uitgee, omdat navorsing bewys het dogtertjies hou nie van ’n mansnaam voor op ’n “dogtertjieboek” nie, en dit moes ’n nuwe skuilnaam wees omdat “Tania” reeds sinoniem was met boeke soos Liefde laat jou Rice Krispies anders proe en Ouens is nie pizzas nie. Ek onthou nog ek het besluit ek gaan dit vir haar moeilik maak en gesê as ek dan ’n nuwe skuilnaam moet gebruik, moet sy dit uitdink – en die naam moet ’n “x” en ’n “z” bevat. Sonder om ’n oomblik te huiwer het sy gesê: “Goed, wat van Lize Roux?” (Ek moet darem net byvoeg – ek het al gehoor van heelwat seuns wat ook Stalmaats lees, en ek dink dit is fantasties!)
Het jy baie van perde af geweet, of baie van perde gehou, toe jy die reeks begin skryf het? Hoe het jy jou huiswerk en jou navorsing gedoen? En ook: Hoe skryf mens ’n hele reeks oor perde? Hoe is jou idees dan soos die weduwee se kruik – dit raak eenvoudig nie op nie?
.........
Die ryskool en die perde is eintlik net die agtergrond waarteen Anri, Megan en Karen se tipiese grootworddramas en -avonture afspeel.
..........
Ek het op ’n Karooplaas grootgeword en ons het ’n perd gehad toe ek klein was. Ek onthou ’n foto uit my kinderdae waar ek op ons perd, Goldie, se rug sit. Afgesien daarvan weet ek egter betreklik min van perde. Ek het ’n lywige handleiding oor perdry gelees voor ek Stalmaats begin skryf het, en ek doen baie leeswerk wanneer ek oor ’n spesifieke aspek van perde of perdry navorsing moet doen. Eintlik gaan die Stalmaats-boeke egter nie primêr oor perdry nie – dit gaan oor drie vriendinne se avonture by ’n ryskool, en die uitdagings van vriendskap en gesinne en boelies en verlief wees en sulke dinge. Die ryskool en die perde is eintlik net die agtergrond waarteen Anri, Megan en Karen se tipiese grootworddramas en -avonture afspeel.
Die perde en die tema van die reeks is natuurlik net een komponent van die boeke. Jy moes jou leser geken het om die boeke te kon skryf. En toe hierdie reeks geskryf is, het jy nog nie eens klein dogtertjies in jou eie huis gehad nie, weet ek. So hoe op aarde het jy dit gedoen? Verklap asseblief jou geheime.
Ja, ek was 27 jaar oud toe die eerste Stalmaats-boeke verskyn het, en in daardie stadium was ek nog ongetroud en my dogtertjies nog nie gebore nie. So, wat jy eintlik vra, is: Hoe op aarde kry ’n man dit reg om oor dogtertjies se leefwêreld te skryf? Ek moet erken, ek weet eerlikwaar nie. Vir my voel dit nooit regtig vreemd om my in die leefwêreld van byvoorbeeld ’n elfjarige dogtertjie in te dink nie. Ek kan my kinderjare regtig goed onthou en ek het ’n jonger suster en heelwat meisiemaats gehad wat deel was van my lewe. En ek lees baie kinderboeke, wat vermoedelik ook help. Op die ou end skep ’n mens maar net karakters, en jy blaas lewe in hulle in so goed as wat jy kan. Ek dink nooit regtig veel oor die proses nie.
Ek voer vandag ’n onderhoud met jou omdat jy ’n hoogs suksesvolle skrywer is en ’n mylpaal in jou loopbaan gedenk. Ek praat ook met jou omdat dit aan die begin van April Internasionale Kinderboekdag was. Wil jy iets oor albei aangeleenthede sê?
.........
Dit is ’n ongelooflike groot voorreg om vir kinders te kan skryf.
..........
Dit is moeilik om te glo dis vanjaar 20 jaar sedert die verskyning van my eerste kinderboek. Ek onthou nog soos gister die dag toe Miemie du Plessis, destyds van LAPA Uitgewers, my op my neongroen huistelefoon in my piepklein studentewoonstelletjie gebel en gevra het: “Wie is jy, Jaco Jacobs?” Dié vreemde vraag het my amper so onkant betrap soos die nuus dat sy my manuskrip vir publikasie aanvaar en dadelik nog manuskripte wou hê. Dit was nie ’n maklike besluit in my jong dae om ’n loopbaan van skryf te maak nie, maar die afgelope twintig jaar het regtig my wildste verwagtinge oortref en ek het meer pret gehad as wat ek ooit sou kon gedroom het. Dit is ’n ongelooflike groot voorreg om vir kinders te kan skryf.
Wat Internasionale Kinderboekdag betref: Dit is altyd ’n lekker geleentheid om meer blootstelling aan kinderboeke te gee en die fokus op lees en geletterdheid onder jongmense te plaas. Maar eintlik voel ek elke liewe dag behoort ’n kinderboekdag te wees. ’n Kind wat met boeke grootword, se wêreld is oneindig groter en kleurvoller.
........
Maar eintlik voel ek elke liewe dag behoort ’n kinderboekdag te wees. ’n Kind wat met boeke grootword, se wêreld is oneindig groter en kleurvoller.
.........
Ek het nou al by ’n paar ander ma’s wie se dogtertjies so versot is op Stalmaats, die vraag gehoor: Wat gaan ons vir die dogtertjies gee as die Stalmaats-reeks nou op is? Hulle het die reeks nou al weer ’n slag deurgelees. Wat is jou eie aanbeveling? Gee raad, asseblief.
Die beste raad wat ek jou kan gee, is vat hulle saam boekwinkel toe en laat hulle ’n bietjie tussen die rakke rondsnuffel. Ek weet ongelukkig nie van ’n Afrikaanse perdereeks op dieselfde leesvlak as Stalmaats nie, maar daar is wel talle Engelse perde- en dierestories waarby hulle waarskynlik aanklank sal vind. Soos ek egter reeds gesê het, lê ’n groot deel van Stalmaats se bekoring in die uitbeelding van vriendskapsdinamika en gesinsverhoudings, en daar is ’n magdom boeke – reekse sowel as enkeltitels – wat dié temas aanspreek, so ek dink nie ouers moet hulle noodwendig in die perdetema vasstaar nie.
Kommentaar
Is daar enige studiegidse beskikbaar wat saam met Stalmaats 1 aangekoop kan word?
Kontak asseblief Lapa-uitgewers, hulle sal weet of daar is.