Staatsrede Junie 2019: Is Cyril versin in sy kop?

  • 6

Staatsrede Junie 2019: Is Cyril versin in sy kop?

Die staatsrede na ’n verkiesing is gewoonlik mos maar groot op hiperbool en kort op substansie. Daar was immers al vroeër vanjaar ’n staatsrede, en behalwe Bathabile en kie wat eerder tuis gebly het, was dit mos maar die ususal suspects. Met auntie Pats as minister wat tong uitsteek vir die DA.

President Ramaphosa wil graag as ’n verenigende persoonlikheid gesien word. Vir die eerste keer is daar ’n Khoi-pryssanger, en Ramaphosa het ’n lid van die opposisie in ’n senior posisie in sy kabinet geplaas. In sy toespraak het hy moeite gedoen om lede van die opposisie in te trek, en dit duidelik gemaak dat om Bootjie RSA te red, spanwerk verby partypolitieke grense gaan kos.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het ek die indruk gekry van ’n president wat die president van ’n land is, en nie net van die giere en geite van een politieke party nie. Hy’t ’n reusetaak op sy skouers, en hy het elke bietjie hulp nodig wat hy kan kry.

In sy toespraak het ek sulke ligte sweempies van Barack Obama se “Yes we can”-toespraak gekry. Ramaphosa het probeer om hoop en drome en ’n toekoms in sy toespraak te verweef. Dit kan gedoen word, maar hy is nie die regte orator daarvoor nie. Of hy sukkel om dit self te glo, want daar is ’n Luthuli-huis-grootte-sak bagasie wat hy moet saamsleep.

Die President, en die ANC, het voeling verloor met wat regtig op voetsoolvlak aan die gang is, ten spyte van sy versekering dat hulle die land deurkruis het. Dis die ruimhartigste verklaring vir sy drome. Of anders is hy, soos ons in die Kaap sê, taatie, hy’s versin in sy kop.

Sy toespraak was gerig op die middelklas. Dis immers hulle wat droom van ’n sneltrein tussen Gauteng en Kaapstad. Die res van ons wil net asseblief graag hê Metrorail moet ons by ons fabriekswerk uitbring sonder dat die trein uitbrand, of ons beroof word, of die spoor gesteel word. Net van Eersterivier tot Kaapstasie of Soutrivier, asseblief.

Hy praat van ons kinders wat opleiding moet ontvang om die vierde industriële revolusie as leiers binne te gaan. Die meeste van ons wil net asseblief hê dat ons kinders lewend sal terugkom van die skool se putlatrine af.

Dis moeilik om opgewonde te raak oor nuwe stede wat gebou word as my plaaslike munisipaliteit nou al jare sukkel om die sinkgat voor my deur reg te maak. Dis moeilik om te glo dat Eskom onontbeerlik is vir ’n florerende ekonomie as dit hulle twee jaar neem om ’n straatlig se gloeilamp te vervang.

Hy praat van twee miljoen werksgeleenthede wat binne die volgende tien jaar geskep gaan word, maar geen woord van gerusstelling aan die mense wat sy toespraak moet uitsaai wat nie seker is of hulle hierdie maand ’n salaris gaan ontvang nie.

Hy nooi ons uit om plaaslik te koop, maar hoe doen mens dit wanneer die “Made in China”-produk soveel goedkoper as die plaaslik-vervaardigde produk is en ons elke sent moet omdraai?

Met watter geld gaan als gedoen word, in elk geval? Tussen Zuma en die Guptas en Trillian en wie weet wie almal is ons rot en kaal besteel, en belastingmoraliteit is bitter laag. Ek sou dink dit behoort een van die regering se groot prioriteite te wees – gee belastingbetalers geloof dat hulle nie weer ingeloop gaan word nie. In ’n land soos ons s’n weet ons genoeg van misdaad om te weet wanneer ons beroof word – al was daar nie ‘n mes of vuurwapen betrokke nie. En as dieselfde tsotsi’s weer kom, gaan ons ons broeksak vasdruk.

As skrywers weet ons dat ons werk gemik word op ’n ideale leser. Die romanskrywer mik nie om die wetenskapfiksieleser in te trek nie. Krimi-skrywers verwag nie dat hulle groot aftrek by Romanza-lesers sal kry nie. Dis verskillende markte. Dis tog oral waar. ’n Graad R-onderwyser gaan nie lesse aanbied op die vlak van ’n matriekleerder nie. Mens lees jou gehoor, en jy probeer ’n aanslag vind waarby die grootste gedeelte van jou gehoor kan aanklank vind. Moeiliker wanneer mens praat met 57 miljoen mense wat ten minste elke verskillende amptelike taal praat, en met wyd uiteenlopende opvoedingsvlakke.

Dit kan gedoen word. Madiba het dit reggekry. Zuma, bless his soul, kon dit doen solank daar nie syfers betrokke was nie. Maar Ramaphosa?

Die President se staatsrede was gemik op die middelklas wat nog keuses het. Gemiddelde Suid-Afrikaners knyp reeds, en vir hulle was die staatsrede geen rede tot vreugde of hoop nie.

 

  • 6

Kommentaar

  • Hoe reg is jy Bettina, die kloof tussen die mense wat gisteraand daar voor die President gesit het en die groot meerderheid wat daar naby die Parlementshuis in plakkerskampe, parke en sommer net op straat nie genoeg gehad om te eet of warm te bly nie, is net té groot. Ek dink nie die rykes weet in hulle vaagste drome presies hoe die armoede en wanhoop vir 'n groot deel van die bevolking is nie.

  • Cyril Ramaphosa wil die indruk wek dat sy dagbreekplan en sy stuur-my ideaal werk, tog weet ons dat hy nie in staat is om die Zuma-verkragting van ons ekonomie te heel nie. Ons President moet besef dat hy met 'n spul politici sit wat net aan hul eie sak dink en nie omgee waar die geld vandaan kom nie. Hy word aan die neus gelei deur Ace Magashule en sy Zuma-trawante wat dink 'n ekonomie groei deur net randnote te druk daarom hul strewe om die Reserwebank oor te neem. Soos my ma altyd gesê het "geld groei op my rug, kom pluk net af" met haar manier om ons op te voed dat jy moet werk vir jou geld. Cyril weet dat hy nie daarin sal slaag om sy mede-politici te te oortuig dat hulle hul vinger moet roer en hard werk ten einde die ekonomie te laat groei nie, daarom sy niksseggende rede van gisteraand.

  • Andries G H van der Walt

    Ramaphosa se toespraak het my laat dink aan wat Leo Barnard oor die ABO geskryf het: “Robert Lacouer-Gayet voer die volgende argumente aan in sy onderskatte, vertaalde werk uit Frans, A history of South Africa: ‘The British were taking possession of a country that had been decimated, devastated and humiliated.’" Om sy argument in reële terme uit te spel, gaan by verder: "On October 27 1902 five months after the conclusion and peace, Lord Salisbury told the French ambassadors that it would take thirty years to organize South Africa." Kyk ons na die gemors waarin Zuma ons land gelaat het en die probleme wat opgelos moet word, wonder mens hoe lank dit gaan vat om Suid-Afrika weer op sy voete te kry. En die ander vraag is, waar is die opgeleide mense wat die huidige probleme moet reg maak voordat ons droomstede begin bou. Of is hy Marin Luther King se "I have a dream"?

  • En van Martin se beroemde droom het ook nie baie gekom nie. Ten spyte van regstellende aksie vir amper 70 jaar struggle swart Amerikaners nog voort. Die persentasie swart gevangenes oorskry by verre die wit gevangenes. So drome is net illusies en as dit nie met harde werk en deursettingsvermoë en sonder om die blame game te speel nie gepaard gaan nie, beteken dit niks en verander dikwels in 'n nagmerrie.

  • Amper Oupagrootjie Johann Vlakvark

    In sy werk 1984 skrywe George Orwell: “Throughout recorded time, and probably since the end of the Neolithic Age, there have been three kinds of people in the world, the High (klein minderheid regerend binnekring elite), the Middle and the Low. The aims of these three groups are entirely irreconcilable. The aim of the High is to remain where they are. The aim of the Middle is to change places with the High. The aim of the Low, when they have an aim – for it is an abiding characteristic of the Low that they are too much crushed by drudgery to be more than intermittently conscious of anything outside their daily lives – is to abolish all distinctions and create a society in which all men shall be equal. For long periods the High seem to be securely in power, but sooner or later there always comes a moment when they lose either their belief in themselves or their capacity to govern efficiently, or both. They are then overthrown by the Middle, who enlist the Low on their side by pretending to them that they are fighting for liberty and justice. As soon as they (Middle) have reached their objective, the Middle thrust the Low back into their old position of servitude, and themselves (Middle) become the High. Presently a new Middle group splits off from one of the other groups, or from both of them, and the struggle begins over again.”
    Klink dit bekend in die post 1994 Suid-Afrikaanse politieke toneel? Wie is tans die “Middle”-groep in Suid-Afrika? Quo Vadis goeie Suid-Afrikaners? Quo Vadis “demokrasie”? Quo Vadis Bettina? Quo Vadis Amper Oupagrootjie Johann Vlakvark. Groetnis en mag geregtigheid seëvier met alle goeie mense se insette.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top