Staatsrede 2020

  • 5

Cyril Ramaphosa (foto: Wikipedia)

Vooraf

Dis nie ʼn verkiesingsjaar nie, maar tog hang daar oor hierdie staatsrede ʼn maak-of-breek-gevoel.

Cyril Ramaphosa het dalk in sekere opsigte vordering gemaak, maar in soveel ander was daar verlede jaar net leë beloftes. Hierdie is nie ʼn jaar waarin leë beloftes en lugkastele geduld kan word nie. Die wittebrood is oor. Nou is dit tyd om te begin werk aan hierdie huwelik tussen burgers en leiers.

Die aanloop tot die staatsrede skop af met protesoptogte en dreigemente van die EFF dat hulle die staatsrede gaan onderbreek. Hulle hét al, verskeie kere, met Zuma. Die toets vir Ramaphosa is of hy in staat sal wees om sy beroemde oorredingskrag te gebruik om Malema te laat afsien van sy planne.

Die hoop is dat Ramaphosa die volk sal gerusstel oor die veiligheid van hul pensioene. Hy sal konkrete planne op die tafel lê om gebroke instansies soos Eskom en SAL te herstel. Hy sal leierskap gee rondom onteiening sonder vergoeding. Hy sal die onderwysstelsel onder die loep neem. Hy sal verseker dat staatskapers aan die pen sal ry. Hy sal die onsekerheid rondom die gesondheidstelsel aanspreek.

Hy sal hoop gee, en ʼn plan om dit wat gebroke is in ons land te herstel.

Vir ʼn man wat nie eens daarin kan slaag om al die faksies binne sy eie party suksesvol onder bedwang te bring nie, is dit veel gevra om ʼn hele land te oortuig dat hy ʼn verskil kan maak. Maar dis wat hy vandag moet doen.

Nie meer beloftes van Eerste Wêreld-geriewe en lugkastele terwyl basiese dienslewering nie geskied nie. Nie mooi leuens oor hoe goed dit gaan in ons land nie.

Wat ons vra, is dat ons president ons in sy vertroue sal neem en ʼn sobere, realistiese beeld sal skets van wat ons uitdagings is en hoe ons dit kan oorkom.

Ramaphosa se eerste probleem is dat hy heeltemal uit voeling is met wat die gewone mens op straat nodig het.

Die aanloop tot die toespraak

Selfs voordat Ramaphosa nog sy toespraak kon begin, het Malema alreeds met sy eerste aanval begin deur te vra dat FW de Klerk die vertrek moet verlaat, tesame met die leier van die Vryheidsfront Plus. Daarna het verskeie lede van die EFF met punte van orde vorendag gekom. Dis presies soos wat hulle vantevore gedoen het. Dis jammer dat die EFF hulself as ʼn een-truuk-perdjie bewys het. Die eerste keer toe hulle dit met Zuma gedoen het, was amusant. Dis soos ʼn kind wat ʼn nuwe toertjie geleer het en dit nou tot vervelens toe herhaal. Dit word uitputtend.

Dit het ook nie lank geduur voordat die “Pravin Gordhan must go”-refrein begin het nie.

My groot vrees was dat die EFF hardhandig verwyder sou word, iets wat in geen demokrasie geduld kan word nie, maak nie saak hoeveel hulle mens irriteer nie. Dit het genadiglik nie gebeur nie. My respek vir Thandi Modise het mateloos gestyg terwyl sy die EFF met ʼn ferm hand hanteer het. Daai antie vat nie nonsens van kabouters nie.

Na 53 minute is die verrigtinge egter opgehef sonder dat die President ʼn enkele woord kon sê. Na 75 minute het die EFF die verrigtinge verlaat. Die President kon na 90 minute uiteindelik met sy toespraak voortgaan.

Dis nie heeltemal seker wat die EFF gedink het hulle gaan bereik met hul optrede nie. Een gevolg wat hulle nie kon voorsien het nie, is dat die ander partye dwarsoor partypolitieke grense sou saamstaan en hul optrede veroordeel.

Een komiese oomblik was toe Terror Lekota die regters vra om al die LP’s, en die “youngsters” van die EFF te leer omtrent die Grondwet. Op daardie oomblik het die kamera regter Dunstan Mlambo gevang waar hy sy kop laat sak terwyl hy glimlag. Ek ken regter Mlambo toevallig persoonlik, en weet dat hy ʼn platjie is wat beslis iewers in hierdie hele situasie die komiese sou sien.

Die staatsrede

Die tema van hierdie staatsrede was social compacts, die samewerking tussen staat en privaatinstansies.

Enigeen wat my rubrieke gereeld lees, weet dat ek krities oor Ramaphosa is. Met hierdie staatsrede het ek vir die eerste keer hoop gevind dat ons op die regte pad is. Daar was geen onrealistiese lugkastele nie. Waar daar probleme is, soos met Eskom en SAL, is die probleme erken. Maatreëls om regstellings te maak is aangekondig.

Sommer met die intrapslag het die President erken dat die hoë werkloosheidsyfer en die voortdurende kragonderbrekings die groei van die ekonomie inhibeer.

Soos te verwagte het hy gefokus op die herstel van die ekonomie en werksverskaffing. Daar is besondere fokus geplaas op planne om werkloosheid van die jeug, tans op meer as 50%, die hoof te bied. Ek sal die bespreking van daardie planne, wat omvattend is, aan ekonome oorlaat.

Een area waar ek teleurgesteld was, was die voortgesette verknogtheid aan die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP). Die NDP werk nie in sy huidige vorm nie, maar die Ramaphosa-administrasie lyk nie of hulle in staat is om ʼn nuwe plan te bedink nie.

Soos wat verwag was, het hy aandag geskenk aan die epidemie van geweld teen vroue en kinders. Die regering het vir die eerste keer bewys dat hulle erns maak met hierdie saak. R1,6 miljard is hiervoor opsygesit, en sluit maatreëls in om wetgewing rondom gesinsgeweld en seksuele misdade te verbeter. Die register van seksoortreders, so belowe hy, sal uiteindelik behoorlik implementeer word. Riglyne rondom die toestaan van borg en vonnisoplegging sal versterk word.

Geen toespraak sou volledig gewees het sonder dat Eskom en beurtkrag aangespreek word nie. Die slegte nuus, wat ons verwag het, is dat beurtkrag voortgaan. Die President het die versekering gegee dat daar ondersoek ingestel word na alternatiewe kragbronne. Dit beteken dat ten minste op mediumtermyn ons afhanklikheid van Eskom afgeskaal sal word. Die plan om te vereis dat kleinskaalse kragopwekking vir eie gebruik onder een megawatt ʼn lisensie benodig, is laat vaar. Dis dalk die beste, mees realistiese nuus van hierdie staatsrede. Verder is aangekondig dat munisipaliteite toegelaat sal word om hul eie kragvoorsieners buite Eskom om te kontrakteer. In beginsel beteken dit dat elektrisiteitspryse meer bekostigbaar vir verbruikers behoort te word.

Een area van kommer vir werkers oor die afgelope rukkie was die plan om werkers se pensioen te gebruik om Eskom se geldnood te verlig. Die President het die versekering gegee dat dit nie sal gebeur nie. Die plan om SAL te herstruktureer sal ook binne die volgende paar weke bekendgemaak word.

Een aankondiging wat waarskynlik omstrede sal wees, is die een oor die stigting van ʼn staatsbank.

Ek verwag dat die begrotingsrede, wat binnekort gehou gaan word, verskeie skokke vir staatsdepartemente sal inhou. Ramaphosa het dit duidelik gemaak dat die wyse waarop besteding tot nou toe geskied het, moet verander. Besteding moet beperk word, en maatreëls sal aangekondig word om dit te verseker.

Verder sal alle ministers ook voor die einde van Februarie prestasie-ooreenkomste teken. Hierdie ooreenkomste sal aan die publiek bekendgemaak word, sodat burgers kan weet wat van ministers verwag word. Die redes wat hiervoor aangedui is, was om korrupsie en staatskaping uit te skakel. Dit sal beslis ook enige lyfwegstekery ontmoedig.

Ramaphosa het ook ʼn groot deel van sy toespraak daaraan gewy om opvoeding op alle vlakke aan te spreek. R64 miljard word byvoorbeeld opsygesit om studentebehuising uit te brei.

Vir die eerste keer in die demokratiese bestel word daar ook gekyk na laekostehuurbehuising, sodat mense kan huur en nie huiseienaarskap bekom nie. Ek vermoed dis om die wydverspreide praktyk van mense wat hul HOP-huise verkoop en dan steeds met behuising sukkel, aan te spreek.

Misdaadbekamping het onder die loep gekom. Meer polisiebeamptes, beter-toegeruste polisiestasies en meer sigbare polisiëring in toeristegebiede is aangekondig. Ek sou graag wou gehoor het dat sigbare polisiëring in álle gebiede verhoog sou word, maar dit het helaas nie gebeur nie.

Wat my besonder opgewonde maak, is ʼn plan om besighede wat vroue bemagtig te bevorder.

Ironies genoeg het Malema en die EFF se #datamustfall-veldtog vrugte afgewerp, in die aankondiging dat die koste van data vir voorafbetaalde-selfoon-opsies gesny sal word.

Dit klink asof wysigings aan artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding toe te laat binnekort ter tafel gelê sal word. Dit sal groter sekerheid vir alle partye teweeg bring, alhoewel ek vermoed dat baie plaaseienaars effe bekommerd gaan slaap het.

Op ʼn ligter noot sal beleidsvoorstelle oor die medisinale gebruik van hennep ter tafel gelê word. Boonop is daar planne om die vervaardiging van hennepprodukte te bevorder.

Gebaretaal sal binnekort as ons twaalfde amptelike taal erken word.

Vir die eerste keer het ek die gevoel gekry dat Ramaphosa besig is om sy voete te vind en die land in ʼn rigting van ekonomiese herstel te stuur. Meer as dit, met hierdie toespraak het ek vir die eerste keer ʼn landspresident gehoor, nie ʼn ANC-afgevaardigde wat die ANC-agenda klakkeloos napraat nie.

Nou moet die implementering van al daai wonderlike planne net plaasvind.

  • 5

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dis seker 'n verbetering op die Zuma jare ja. Tog sou ek graag meer wou hoor hoe die regering gaan poog om werkloosheid te teiken, en spesifiek hoe die regering die privaatsektor gaan help om werk te skep. Die groot rede vir hierdie gemors waarin Suid-Afrika sit met werkloosheid is die ANC se swak beleid aan die een kant, waar die ANC regering by alles wil inmeng en beheer wil neem oor sake waarvoor hulle nie die kapasiteit het nie. Privaatgesondheidsorg is 'n goeie voorbeeld. Die regering kry dit nie reg om self hulle hospitale te bestuur nie. Wat eens spoghospitale was het sedert 1994 onder die ANC vervalle plekke geword. Ten spyte daarvan dat die regering duidelik geen kapasiteit het om menswaardige gesondheidsdienste te lewer nie, wil dit nou inmeng in privaatgesondheidsorg. Die resultaat sal weer klomp werksverliesse wees, want die privaatsektor is die enigste een wat die potensiaal het om die werkloosheid op te los. Die regering se werk is om 'n omgewing te skep waarbinne die privaatsektor kan floreer.

    Maar omdat die ANC sosialistiese beleid aanhang, wil dit alle mag sentraliseer, al beskik die regering nie naastenby oor die kapasiteit om dienste te lewer nie.

    In die meeste van ons land se 9 provinsies is die plaaslike owerhede ook besig om totaal te disintegreer. Dorpe sit soms weke lank sonder water. Vullis hoop op. Elektrisiteit gaan af. Dit veroorsaak dat besighede vou. Dit beduiwel die toerismebedryf waarvan so baie mense afhanklik is. Weereens is daar maar weinig oor plaaslike regering gepraat.

  • Die lewe bestaan uit keuses. Die President moes kies tussen ’n verdeelde ANC of Suid Afrika 1ste, en kies toe die ANC.

  • Meneer die President, u staatsrede het nuwe hoop geskep. Dankie … dit was nodig.
    Ek dink u is tans die mees geskikste persoon om ons leier te wees, en die feit dat ek aan ’n ander party as u behoort moet my nie blind maak vir dié waarheid nie.
    Ons moet leer om werklikhede te aanvaar en verskille met respek te hanteer.
    Dat daar altyd rassiste sal wees – dis ’n werklikheid.
    Dat daar altyd kleurverskille sal wees – dis ’n werklikheid.
    Dat daar altyd kultuurverskille sal wees – dis ’n werklikheid.
    Dat daar altyd verskillende geloofsankers sal wees – dis ’n werklikheid.
    Dat sommige individue meer intelligent is as ander – dis ’n werklikheid.
    Dat daar altyd skelms sal wees – dis ongelukkig ook ’n werklikheid.
    Ons moet aanvaar dat hierdie werklikhede natuurwette is wat vir ewig met ons sal wees. Ons kan dit nie wegwens nie, maar wel leer om dit op ’n beskaafde wyse te hanteer. As leiersfigure rassisties optree is dit ’n teken dat daardie persoon nog nie tot ’n vlak ontwikkel het wat hom geskik maak vir die pos wat hy beklee nie – vervang hom/haar… en dit geld vir almal in ons land. Sonder almal se hulp sal geen president van hierdie veelvolkige land suksesvol kan lei nie.
    Die feit dat sukses nie oornag bereik kan word nie is ook ’n werklikheid. Ons kan nie aanhou verniel en afbreek om ons sin te kry nie. Ongeduld en bande wat brand dien slegs as versperrings in die pad tot voorspoed.
    Ongelukkig het ’n onnatuurlike samedromming van mense na stede plaasgevind om stemme te werf, en die infrastruktuur tot so ’n mate onder druk geplaas dat munisipaliteite nie die wanbalans ten opsigte van dienste kan hanteer nie. Die beskikbare lewensbronne (water, elektrisiteit, skole, hospitale, polisiëring ens.) kan eenvoudig nie die massa absorbeer nie – en misdaad seëvier.
    Meneer Ramaphosa, eien die mees bruikbare persone om die land te bestuur – ongeag hul politieke verbintenis, kleur of kultuur en ek sal u ondersteun – ongeag mý politieke verbintenis, kleur of kultuur. Dit is nie normaal vir partye om in die parlement en daar buite, voortdurend van mekaar te verskil nie. Verskil beskaafd en ondersteun met wysheid waar nodig … in hierdie verband moet ons leiers die voorbeeld stel.
    Ons is honger vir orde en voorspoed. Draai die druk uit Noord-Afrika ( wat ontslae wil raak van witmense in Afrika ) om, en wys vir die wêreld wat ons saam kan vermag – tot voordeel van al die inwoners in Suid-Afrika en Afrika.
    Afrika was nog altyd jaloers op Suid-Afrika se voorspoed. Kom ons verenig as kamerade (alle kleure) en omskep Afrika in ’n toerismeparadys wat oorweldigende ekonomiese voorspoed vir die hele kontinent sal bring.
    Moenie toelaat dat die foute van die verlede ook die toekoms verongeluk nie. ’n Tit-for-tat-regering bring nie voorspoed vir ons land nie. Die beste eienskap van ’n goeie leier is om te weet wanneer hy self leiding nodig het en dan die mees bekwame persone kies om hom in te lig. Swart bemagtiging is ’n meulsteen om die regering se nek en besig om die land dood te wurg. U benodig kundiges – swart, bruin en wit – om die land suksesvol te regeer… die Springbok-rugbyspan het dit so pas bewys.
    Moenie slaagvereistes en standaarde verlaag om ’n tekort in die professionele sektor te oorkom nie, want die buiteland én ons topstudente gaan ons kwalifikasies as minderwaardig beskou en elders studeer…en nie weer terugkom nie.
    Word kleurblind en omskep Suid-Afrika weereens in ’n 1ste wêreld, voordat die bekwame mense wat u daarmee kan help (swart, wit en bruin) almal die land verlaat.
    Ons glo in u en wil graag help ... gebruik ons.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top