Staatsrede 2019: “Watch this space”

  • 4

Foto: YouTube

So een keer elke paar dekades kom daar ’n toespraak wat my hoendervleis gee. Obama se “Yes we can” was een. Hierdie een van Cyril Ramaphosa is nog een.

Dit was ’n toespraak wat gepoog het om ons as Suid-Afrikaners te verenig, om ons sover te kry om saam te bou aan ons toekoms. In baie opsigte was die temas dieselfde as verlede jaar se “Thuma mina”-rede, maar gelewer met ’n passie wat aansteeklik is. Verskeie kere in die toespraak het hy belowe “Watch this space”, tot groot vermaak van sy gehoor.

Op verskeie van die aankondigings, soos optrede teen korrupsie, werkverskaffing en investering en dies meer, sal ontwikkelinge inderdaad met groot belangstelling dopgehou word.

My aanvanklike verwagting was dat die President al die regte geluide sal maak voor die verkiesing, maar niks van substansie sal daarstel nie. Soos verwag kon word, het hy heelwat gewag gemaak van die dinge wat die afgelope jaar gedoen is – en ons het nie eens gehoor van die kompakte met die duiwel(s) agter die skerms nie.

Hy het heelwat klem gelê op werkverskaffing aan jongmense, ondersteuning van klein en mediumbesighede, geleenthede om te belê, geleenthede om toerisme uit te brei en dies meer.

Hy het aangekondig dat die verkiesing op 8 Mei 2019 sal plaasvind. Hy het verder belowe om die regering voor die verkiesing te herstruktureer – dus letterlik tot op die dag binne die volgende drie maande.

Die Nasionale Intelligensiediens word herstruktureer om die land se belange te dien eerder as die belange van individue – ’n duidelike steek teen die afwesige Jacob Zuma.

Zuma het verkies om nie die staatsrede by te woon nie – met rede. Ramaphosa se staatsrede het nie doekies omgedraai omtrent staatskaping en korrupsie nie – Zuma se twee stokperdjies gedurende sy tyd aan bewind.

Twee aankondigings in hierdie verband het groot reaksie ontlok. Die eerste was dat staatsamptenare (en parlementslede) in die toekoms verplig sal word om kursusse oor etiek en teenkorrupsie by te woon.

Die tweede – en dit is die een wat die staatskapingnetwerk slapelose nagte behoort te besorg – is die aankondiging dat ’n gespesialiseerde eenheid in die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, se kantoor gestig word. Hierdie eenheid sal bestaan uit ondersoekers en aanklaers wie se taak dit sal wees om korrupsie en staatskaping te ondersoek en te vervolg. Hulle sal ook by magte wees om bates te herwin wat gesteel is. Skerpioene v 2.0, met ander woorde.

Malema het belowe om die staatsrede te onderbreek, soos wat hy gereeld met Zuma gedoen het. Dit het nie gebeur nie. Die grootste reaksie van die nag was toe die President Gwede Mantashe se naam noem, in verband met Total se betrokkenheid in Outeniekwa. Terwyl omgewingsbewustes na verwagting heelwat kommentaar hierop gaan lewer, was die parlementslede se reaksie veel eerder gemik op onlangse onthullings in die Zondo-kommissie dat Mantashe een van die ontvangers van somme geld van Bosasa was.

Hopelik gaan Mantashe binnekort ’n intense gesprek met Batohi se spesiale eenheid voer.

Geen staatsrede vlak voor ’n verkiesing sou volledig gewees het sonder beloftes om die herverdeling van grond te bespoedig nie. Stukke staatsgrond sal vir huisvesting beskikbaar gestel word. Grond vir landbou en nywerhede sal ook beskikbaar gestel word.

Die onderneming om boere wat onlangs deur herverdeling grond bekom het, met kundigheid by te staan om hul boerderye suksesvol te bedryf, gee hoop.

Eskom beter sy sokkies optrek of daar is perde. Uitvoere moet verbeter, buitelandse beleggings neem toe. Meer toeriste as verlede jaar kom kuier vir ons, en volgende jaar sal selfs beter wees. Opvoeding is ’n prioriteit, en putlatrines is binnekort ’n ding van die verlede. Bekostigbare, gehaltegesondheidsorg vir almal is op die drumpel. Daar is planne om die ekonomie te stimuleer en vir almal werk te verskaf. Dis als beloftes wat ons met elke staatsrede hoor.

Hierdie jaar het dit anders gevoel. Hierdie jaar het dit gevoel asof ons te doen het met ’n president wat weet wat hy doen. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het die staatsrede my hoopvol gelaat, veral aan die einde, toe hy al die leiers van die opposisiepartye by die naam noem en uitdaag om te help bou aan ’n beter Suid-Afrika vir almal, verby partypolitieke grense.

Vir die eerste keer in ’n lang tyd het dit gevoel asof dit die president van die land is, nie net van een politieke party nie, wat aan die woord is.

Watch this space.

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Die man van beloftes met die gladde mond. Ons Suid-Afrikaners is "suckers" vir mensies wat mooi toesprake kan maak. Die ou mense was reg en dit geld vandag nog: "Mens word getoets aan jou dade en nie jou woorde nie." Die man weet hoe om netelige sake met kommissies, berade en vergaderings oor die kantlyn te skop.
    Hy kom uit 'n party wat die land in die grond in regeer het in slegs 20 jaar. Hy was deel daarvan en vir lank (2014 - 2018) tweede in bevel. Dog, Cyril was deurgaans so stil soos die graf en het elke keer met gebalde vuiste weggehardloop as situasies wat vir dringende optrede en ingryping gevra het, hulle voorgedoen het. Waarom dan so liries opgewonde raak? Die toets en vraag is daarom uiters eenvoudig: "Is 'n stem vir Cyril nie ook, en WEER, 'n stem vir die ANC nie?"

  • Dit is opmerklik dat President Cyril Ramaphosa geen woord rep oor die ANC
    se toesmeerdery van 'n bykans dekade lange korrupsiebewind onder Zuma terwyl hyself Zuma se adjunk was van 214 tot 2018.

    Noudat Suid Afrika op die afgrond van rommelstatus beweeg het en talle ANC beheerde stadsrade hul pligte versuim en toegelaat het dat eens florende sakesentrums soos bv in Benoni in duie stort en plekke van boemelaars en dwelmslawe word,word 'n nuwe begin belowe

    .Sien https://benonicitytimes.co.za/336201/clean-bustling-and-popular-benoni-plaza-in-its-heyday/ en vergelyk dit

    met https://benonicitytimes.co.za/323111/benoni-plaza-turned-dump-pose-health-hazard/

    Moet ons as kiesers nou werklik beïndruk word en stem vir 'n party wat die afgelope 25 jaar die land in een krisis na 'n ander gedompel het en nou besluit het om 'n poging aan te wend om sy eie gemors op te ruim?

    Eers as 'n paar korrupte minsters soos NP ministers agter tralies beland kan die President ernstig opgeneem word.

    "1988: Hennie van der Walt, deputy minister of co-operation and development and MP for Schweizer-Reinecke. Sentenced to 10 years in prison, five suspended, for 15 counts of theft involving trust monies of R800 000

    1989: Leon de Beer, former National Party MP for Hillbrow. Jailed for two years for 70 counts of electoral fraud.

    1993: Pietie du Plessis, former National Party cabinet minister, sentenced to nine years in jail for 17 counts of fraud involving R300m."

    Woorde wek maar dade trek.

  • Jammer hy het nie ook die skool met die brugtragedie ook by die naam genoem nie- so die gevoel is dat hy net sekeres in die land se president is. Om op Zuma te verbeter is nou nie ‘n prestasie nie. Mooi en gladde woorde is gespreek waarop die opposisie lankal wys. Nou vir die uitvoer daarvan met diegene soos Cosatu en daardie adjunk van hom in sy boesem het hy nie veel beweegruimte nie.

  • NetLid Vlakvark

    "Twee aankondigings in hierdie verband het groot reaksie ontlok. Die eerste was dat staatsamptenare (en parlementslede) in die toekoms verplig sal word om kursusse oor etiek en teenkorrupsie by te woon." Om kursesse oor etiek en teenkorrupsie BY TE WOON? Ha-ha-ha!

    Het die staatsamptenare en parlementslede se ouers hulle dan nie opgevoed oor etiek en om die medemens en die staat se eiendom te respekteer nie en wat werkstrots, skaamte, selfrespek en selfaktualisering is nie? Wat moet die buitelanders van ons regerende party-leierskap en Suid-Afrikaners dink?

    En wat is die rendement op al die kursusse oor Batho Pele (People First)?

    Wat my betref is die regerende party 'n katastrofiese mislukking. Waarskynlik gaan stemdag ook maar net 'n katastrofiese mislukking wees deurdat die bestaande katastrofiese mislukte regerende party aan bewind gaan bly.

    Kan ons enige Suid-Afrikaner verkwalik wat sinies voel oor Suid-Afrika se toekoms?

    Sorteer eers die "entitlement"- en "demand"-kulture uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top