Sprokies in Kaaps: Sneeuwit ennie siewe dwergies (deel 1)

  • 0

’n Sprokiesvehaal geskryf deurie Grimm-broes

Dit was innie middel van winte, ennie sneeuvlokkies het geval soes veertjies uitie lig uit. ’n Koningin het langs haa venste gesit en wêk an haa borduuwêk. Die borduurraam was gemaak van ebbehout. Soes sy gesit en wêk het, het sy van tyd tot tyd byrie venste uitgekyk. En soes sy byrie venste uitgekyk het, het sy nie gekyk wat sy gemaakitie, toe stiek sy haa vinge raak mettie naald. Daa het drie druppeltjies bloed oppie mat geval. Toe sy sien hoe mooi dit uitstaan en rooi dit lyk, toe sê sy vi haaself: “Ek wens ek het ’n kind gehad wat soe wit soes sneeu was, soe rooi soes bloed, en so swart soes die hout vannie borduurraam!”

Nie lank daana nie het sy toe geboorte gegie an ’n meisiekind. Haa vel was soe wit soes sneeu, haa lippe soe rooi soes bloed, en haa hare was soe swart soes ebbehout, en hulle het haa naam gegie Sneeuwit. Maa die dag toe sy gebore was, hettie koningin doodgegan. Na ’n jaa veby geganit, hettie koning uiteindelik wee ’n anner vrou gevat. Sy was ’n baie mooi vrou, maa sy was vol van haaself, en sy’t altyd gedink dat syrie baas vannie plaas is. Die êgste was dat sy dittie kon vat as daa iemand was wat mooier as haa wassie.

Sy’t ’n spieël gehad wat gedoekom was, en sy’t aliewig voorie spieël gestaan en innit gekyk en virrie spieël gevra: “Spieëltjie, spieëltjie tienie muur, wie is die mooiste en pragtigste in ôs land?”

Ennie spieël het vi haa geantwoord: “Djy issie mooiste en pragtigste van amal.”

En dan was sy wee heppie, wannie spieël het altytie waarheid gepraat.

Maa Sneeuwit het elke dag net mooier en mooier geraak, en toe sy siewe jaa oud was, toe was syrie mooiste mens wat djy al ooit gesien het. Sy was soeme baie mooier dannie koningin self.

Eendag toe gan staanie koningin wee voo haa gedoekomde spieël en sy vra toe wee virrie spieël: “Spieëltjie, spieëltjie tienie muur, wie is die mooiste en pragtigste in ôs land?”

Toe antwoortie die spieël: “My koningin, djy is baie mooi, ek liegie, maa Sneeuwit is baie mooier as djy.”

Die koningin het soe groot geskrik dat sy ampe ’n hatanval gekry het toe sy hoo die goed wattie spieël gepraat het. Sy’t geel en groen getrek van jaloers wies. En van daai dag af het sy tien Sneeuwit gedraai, en sy’t haa beginte haat. En haa hart het net harder en harder elke dag geraak tienoo Sneeuwit. Dit het soe êg geraak virrie koningin dat sy nie rus kon kry nie. Sy was soe afgunstig en vol trots tienoo Sneeuwit dat sy nie eens vriede of rus vi haaself kon kry nie.

Sy kon dit laterie mee vattie, en dis toe sy ’n jagter lat roep het en vi die jagter gesêrit: “Vat daai kind die bos in, en gat raak ontslae van haa, wan ek wil haa nie wee voo my aangesig sienie. Maak haa dood en bring haa hart vi my om te bewys dat sy dood is.”

Die jagter het toe ingestem en vi Sneeuwit die bos ingevat, maa toe hy sy kapsabel uithaal om haa dood te maak, toe beginte sy te huil, en sy soebat toe by hom: “Asseblief menee, moet my assebliefie doodmaakie. Ek willie nou al doodgannie. Asseblief! Ek sal vê weg gan en nooit wee trugkô nie. Asseblief spaar net my liewe.”

En ommat sy soe mooi gewies het, het hy haa jamme gekry, en hy sê toe vi haa: “Haloep! Voo ek my mind change. En djy maak sieke djy kommie wee truggie.” Wan hy was vesieke dat ’n wille dier haa sal opvriet. Dit het vi hom gevoel of ’n klip van sy hart afgerol het ommat hy haa liewe gespaarit.

Dis net op daai oomblik toe kô daa ’n willevark uit ’n bos uit gehaloep. Hy’t dit gevang ennit dood gemaak. Hy’t toe die willevark se hart uitgehaal ommit virrie koningin te loep wys as ’n tieken dat hy vi Sneeuwit doodgemaakit. Die hart was toe gesout en gekoek, ennie slegte koningin het dit opgeïet, wan sy’t gedink dat Sneeuwit dood is.

Sneeuwit was toe stoksielallien innie bos en sy’t toe beginte bang raak. Sy was soe bang dat sy einlik geskrik het assie wind deurie blare vannie boeme waai, en sytie gewiet wat om te maak ommie bang te wiesie. Sy’t toe maa beginte haloep van kan bang wies, oo skêp klippe en deu doringbosse. Die wille diere het haa oek agtena gesit, maa hulle het haa nie see gemaakie.

Sy’t anhou haloep tot sy nie mee kon haloepie. En toerit aand raak, toe kô sy by ’n klein huisie an. Sy het toe annie deurtjie geklop, maa niemand het oep gemaakie. Sy’t byrie vênstes in gekyk, maa daa was niemand ie. Sy’t ’n paa kee geroep: “Hallo, is iemand hie?”

Maa niemand het geantwoord ie. Sy was te moeg om nog vêder te stap en sy besluit toe dat sy innie huis ’n bietjie sal gan slaap, wan daa is tog niemand innie huisie. Sy voel toe annie deu en sien dat die deu oep is. Sneeuwit het toe in gegan, maa sy moes buk wannie deu was soe laag. Toe sy binne kô was sy vebaas om te sien dat alles mooi skoon was. Wat haa nog mee vebaas het, was toe sy sien hoe klein alles innie huis was. Die tafeltjie, wat mooi uitgelê was, was klein met siewe klein bordjies op, met siewe messe en vurke, en siewe klein koppies het oek oppie tafel gestaan.

Tienie muur het syrie siewe klein bedjies gesien wat in ’n ry langs mekaa gestaanit. Dit was oek mooi toegegooi met skoon koeberse. Sneeuwit se maag het beginte raas van kan honge wies en haa lippe was droeg van kan dôs wies. Sy’t toe uit elke bordjie ’n bietjie pap en ’n stukkie brood geïet. Sy’t uit elke koppie ’n klein bietjie wyn gedrink, wan sy wil toe nie alles opiet of opdrinkie, wan sy wiet toe nog steedsie wie se huis sy in staan nie. Maa sy was te bang en te moeg om vêder te stap en sy was te swak om nog vêder te wharrie oorie mense vannie huis. Haa oë het beginte toe val, wan sy was baie moeg. Sy’t toe besluit om op een vannie bedjies te loep lê, net soe vi ’n rukkie. Sy’t oppie eeste bedjie gelê, maa die bedjie was te klein vi haa. Sytie neks een getraai, maa dit was te lank vi haa. Sy’t elke bedjie getraai, maa dit wassie gemaklik vi haa nie, totdat sy oppie siewende bedjie gan sittet. Dit het heel gemaklik gevoel vi haa en sy’t toe daaop gan lê. Toe haa kop die kussing raak, toe is sy vas annie slaap.

Toe dit baie donke was, hettie mense vannie klein huisie byrie huis gekô. Sneeuwit was nog vas annie slaap en hettie gehoo hoe die siewe kabouters die huis binne kô nie. Hulle het gewêk innie onnegrond se myne, innie berge, waa hulle gesoek het vi diamante en goud. Toerie kabouters hulle kêse anstiek om lig te maak innie huis, toe sien hulle dat iemand was daa binne in hulle huis. Wan alles wassie soes hulle dit gelos hettie.

Die eeste kabouter het gevra: “Wie het op my stoel gesit?”

Die twiede kabouter het gevra: “Wie’t an my pap geïet?”

Die dêre kabouter het gevra: “Wie’t ’n stukkie van my brood geïet?”

Die vierde een het gesê: “Kyk, hie’t oek iemand an my pap geïet.”

Die vyfde kabouter het gesê: “Kyk julle, iemand het my vurk gebruik.”

Die sesde een het gevra: “En wie’t met my mes gesny?”

Die siewende kabouter het gevra: “En wie’t uit my koppie uit gedrink?”

Die eeste kabouter het innie rondte gekyk en gesien dat sy bed deumekaa was, en hy skree toe: “Maa wie’t op my bed gelê?” Die anne kabouters het tot by hom gekô om te kyk en toe skree hulle amal: “Maa daa was iemand in ôs se beddens oek.”

Maa toerie siewende kabouter na sy bed toe kyk, toe sien hy toe vi Sneeuwit wat nog lê en slaap in sy bed in. Hy’t toe virrie annes gesê wat toe vinnig na sy bed toe gekommit. Hulle het amal om sy bed gestaan, vebaas virrie meisie wat vas annie slaap oppie bed gelê het. Hulle het hulle kêse hoeg gehou lat hulle vi Sneeuwit kan reg gesien het.

“Oe-jitte! Wie’s dié?” het hulle geskree. “Maa kyk hoe mooi is die meisiekind!” Hulle was soe bly om haa te sien dat hulle nie gewharrie het om haa nog wakker te maakie, en hulle het haa toe an laat slaap. Ennie siewende dwergie het maa soesie nag veby gegan het, elke uur by een van sy anne broes gat slaap, tottie nag veby was.

Toe dit oggend raak, het Sneeuwit wakke geskrik ennie siewe kabouters gesien. Sy’t baie groot geskrik en was heel bang gewies, maa toe sien sy dat hulle einlik baie vriendelik lyk. Hulle het toe vi haa gevra wat haa naam is. Sy’t hulle toe gesê, en hulle het haa toe in en uit gevra oo hoe sy dan by hulle huis uitgekommit. Sy’t toe vi hulle die hele storie vetel oo hoe haa stiefma, die koningin, ’n jagter gekry het om haa dood te maak. Sy’t hulle gesê dattie jagter haa liewe gespaarit na sy hom gesoebat het om haa te lat gan, en hoe sy die hele dag gehaloep het tot sy by hulle huis uitgekommit.

Toe hettie kabouters gesê: “As djy ôs huis kan skoon hou, en vi ôs kos sal koek, en ôs klere was, en ôs beddends opmaak en ôs klere regmaak en vi ôs brei, en alles baie mooi skoon hou, dan kan djy maa hie by ôs bly. En moenie wharrie nie, djy sal altyd alles het wat djy nodig het.”

Sneeuwit het toe vi hulle geantwoord: “Met my hele hart sal ek dit doen.” Sy’t toe gebly en huis gehou vi hulle soes hulle gevra het.

Innie oggenne hettie kabouters opgestaan om te gat myn vi goud en diamante, en innie aane het hulle huis toe gekô en hulle het vewag dat hulle kos reg moes wies vi hulle. Sneeuwit was elke dag heeldag allien, ennie kabouters het haa gewaasku en vi haa gesê: “Djy moet vesigtig wies vi jou stiefma, wan dit gattie lank wiesie dan gat sy wiet djy is hier. Moenie toelaat dat ienigeen hie in kô nie.”

Lees ook:

Sprokies in Kaaps: Sneeuwit ennie siewe dwergies (deel 2)

Sprokies in Kaaps: Sneeuwit ennie siewe dwergies (deel 3)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top