
Ennie koningin het toe huis toe gegan en sy’t wee voorie spieel gat staan en sy’t gesê:
“Spieëltjie, spieëltjie tienie muur,
Wie is die mooiste en pragtigste in ôs land?”
Ennie spieëltjie het gesê soes dit al gesê het:
“My koningin, djy is beeldskoon,
maa Sneeuwit wat byrie siewe kabouters
innie bos bly is ’n duisend kee mooier as djy.”
Toe sy hoo wattie spieltjie gesê het, het sy gebiewe en skud van kwaad kan wies.
“Sneeuwit sal dood!” het sy geskrie, “al issitie laaste ding wat ek doen.”
Sy’t toe na ’n geheime kame toe gegan, waa niemand haa sou kry nie, en daa het sy ’n giftige appel gemaak. Die appel het soe mooi gelyk – dit was bloedrooi annie een helfte vannie appel, en wit annie annekant vannie appel. Die bloedrooi kant het soe lekke sappig gelyk, soedat wie oek al dit sien dit somme dadelik sal wil hê. Maa as hulle net ’n stukkie vannit iet sal hulle doodgan.
Toe sy klaa die appel gemaakit, het sy haa make-up angesit en haa angetrek soes ’n baie arm vrou. Sy’t toe oo siewe berge gestap, totdat sy byrie huis gekommit waa die siewe kabouters gebly het. En toe sy annie deu klop, het Sneeuwit haa kop by die venste uitgestiek en virrie vrou gesê: “Sorrie antie, maa ek kan niemand lat inkô nie, wan die siewe kabouters het vi my gesê ek moetie.”
“Niee, dis oukei!” hettie vrou geantwoord, “ek kan somme maklik my appels iewers anners gat vekoep. Maa moetie warrie nie, ek sal vi jou een veniet gie.”
“Niee dankie!” het Sneeuwit gesê, “Ek mag niks van niemand af vattie.”
“Is djy bang die appel vegiftig jou?” hettie vrou gevra. “Kyk hie, ek sallie appel in twie sny. Ek sal vi jou die kant gie wat soe lekke rooi en sappig is om te iet, en ek sallie anner kant iet.” Die appel was gemaak dat allie gif innie lekke rooi kant vannie appel gesit het.
Toe Sneeuwit sien hoe lekke rooi en sappig die appel is, toe water haa mond vi dit. En toe sy sien dattie vrou die een helfte vannie appel iet, toe kon sy dittie mee langer hou nie. Sy’t toe die giftige helfte vannie appel by die vrou gevat. Maa dit wassie eens lank na sy ’n happie van appel gevat hettie dat sy net daa dood oppie vloer neegevallit.
Die koningin het vi Sneeuwit veil angekyk soes sy dood gelê het oppie vloer. Sy’t kliphard gelag en geskrie: “Soe wit soes sneeu, soe rooi soes bloed, soe swart soes ebbehout! Dié kee sallie kabouters jou nie kan wee liewendig maakie.”
Sy’t toe trug na haa huis toe gegan en toe sy daa kô het sy wee virrie spieëltjie gevra:
“Spieëltjie, spieëltjie tienie muur,
Wie is die mooiste en pragtigste in ôs land?”
Ennie spieëltjie het toe uiteindelik gesê:
“My koningin, nou is djy die mooiste!”
Haa jaloerse hart het toe uiteindelik vriede gehad, soeveel vriede as wat ’n jaloerse hart kan hê.
Toe die kabouters die aand byrie huis kô, het hulle vi Sneeuwit kô kry daa wat sy dood oppie vloer gelê het. Hulle het gesien dat daa niks asem by haa uitkô nie, en dat sy dood was. Hulle het haa opgelig om te kyk of daa nie iets giftig op haa issie. Hulle het haa rok se toue gesny, hulle het haa hare gekam, en haa met water en wyn gewas, maa niks het gewêkie. Die arme Sneeuwit was dood.
Hulle het haa toe op ’n raam neegelê en amal het toe om haa kis gat sit en huil en treur vi drie hele dae.
Hulle het toe ’n plan gemaak om haa na die dêre dag te begrawe, maa hulle het gesien dat dit nog lyk soes sy liewe, wan haa wange was nog bloedrooi. Toe sê hulle: “Ôs kan haa nog nooit innie donke grondgat sittie.” En toe maak hulle vi haa ’n kis uit glas uit waa hulle haa van alle kante af kon sien. Hulle het haa toe daa’in neegelê. En oppie glaskis geskryf dat sy ’n prinses was en dat haa naam Sneeuwit is. Hulle het toe haa kis naby hulle huis tienie berg gat sit, en een van hulle het altyd by die kis gebly om na dit te kyk.
Die voëltjies het oek gekô en by Sneeuwit getreur. Eeste het ’n uil gekô, toe ’n kraai, en toe ’n duif.
Sneeuwit het vi ’n lang tyd soe gelê, en niks het geveannerie. Dit het maa net gelyk soes sy lê en slaap, wan sy was nog steeds soe wit soes sneeu, en haa wange was soe rooi soes bloed, en haa hare was soe swart soes ebbehout.
Maa eendag toe kommit dat ’n prins deurie woud en veby die kabouters se huis kô ry het. Hy’t tienie berg die glaskis gesien en toe hy gat kyk wie innie kis lê, het hy vi Sneeuwit gesien. Hy het net daa velief geraak op haa. Hy’t toe gelies wat geskryf was oppie kis. Toe sê hy virrie kabouters: “Gie vi my die kis met Sneeuwit in en ek sal vi julle ienige iets gie wat julle wil hê.”
Maarie kabouters sê toe vi hom dat hulle sal die kis vi niks innie wêreld veruillie.
Maa toe sê hy: “Ek vra julle baie mooi. Gie my asseblief net die kis, wan ek kannie ’n dag gan sonner om vi Sneeuwit te sien nie. As julle instem sal ek agte julle kyk soes julle my broes is en vi julle die hoegste eer innie land gie.”
Toe die kabouters sien hoe die prins vi hulle smeek om vi Sneeuwit in haa glaskis vi hom te gie, het hulle hom jamme gekry en toe die kis vi hom gegie. Die prins het toe sy amptenare geroep en vi hulle gesê hulle moet die kis op hulle skouers na sy pa se paleis toe dra.
Nou soes hulle geloep het, het een vannie amptenare se voet by ’n bos vasgehaak. En met die geskud vannie kis toe skud die stukkie appel in Sneeuwit se keel los en dit val toe uit haa mond uit. Dit wassie lank daana nie, toe maak Sneeuwit haa oë oep. Sy’t die kis se deksel afgegooi en kietsregop gesit, liewendig en gesond.
“Ooh jinne! Waa is ek dan nou?” het sy uitgeroep.
Die prins het toe vol blydskap geantwoord: “Djy’s met my nou.” Hy vetel toe vi haa alles en toe sê hy vi haa: “Ek sal aire vi jou wil hê dan ienige iets anners in die hele wêreld in. Sal djy asseblief saam met my gan na my pa se kasteel toe, en my dan met my trou?”
Sneeuwit het toe ingestem, en saam mettie prins gegan om saamit hom te trou. Hulle troue was soe grênd en dit was gehou met net die beste kosse, ennie beste musiek-bands, ennie beste van alles.
Maa Sneeuwit se slegte stiefma was oek genooi na die fees toe. Sy’t toe vi haa mooi angetrek en toe gat staan sy voorie spieëltjie en sê toe:
“Spieëltjie, spieëltjie tienie muur,
Wie is die mooiste en pragtigste in ôs land?”
Ennie spieëltjie het gesê:
“Ai, my koningin, al is daa net een wat soe mooi is soes djy is,
is die niewe bruid ’n duisend kee mooier dan jou.”
Die koningin het net daa gesnep, en beginte vloek en skel, en sy was soe kwaad dat sy die goed om haa beginte stukkend gooi het. Sy’t eeste gedink dat sy sallie na die troue toe gannie. Maa toe dink sy dat sy sal nooit vriede kry totdat sy nie self die bruid gesien hettie. En toe sy haa sien, toe wiet sy dadelik dat dit Sneeuwit is. Sy’t soe kwaad geraak dat sy nie kon beweegie, maa oek ommat hulle gereed was vi haa. Hulle het haa vuuwarm ysteskoene lat antrek om te dans totdat sy dood neegevallit.
En dis die storie van Sneeuwit ennie siewe kabouters.
Lees ook:

