Springbokstories op kykNET

  • 0

Philip Rossouw, die vervaardiger van kykNET se Springbokstories, gesels met Naomi Meyer oor dié lekker program.

Daar is al stories oor Springbokke gemaak – wat maak hierdie program uniek of anders?

John van Rensburg (SuperSport)

Springbokstories handel oor die stories agter die stories. Hier word lekker gekuier en die doel van die program is beslis nie om die Springbok op enige manier in 'n swak lig te stel nie. Die Springbok maak sy hart en sy huis se deur oop vir ons om daar te kuier.  Die grootste rede hoekom ons besluit het om nie 'n ateljee te gebruik vir opnames nie, is om die gas op sy gemak te kry sodat hy lekker kan gesels oor sy dae wat hy die Springboktrui gedra het. 

Daar is baie Springbokke. Hoe is daar besluit op die deelnemers en die spelers wat hul stories sal deel?

Met reeks een het ons op 'n paar Springbokke besluit en ons glo en vertrou dat daar wel verdere reekse sal wees waar ons gaan probeer om by al die Springbokke aan huis te kuier.

Nie almal stel ewe veel belang in rugby nie – vir dié vir wie rugby nie hul hoofsport is nie, wat sal hulle na hierdie program lok?

Die program is in 'n baie ligte luim en van die staaltjies wat uitkom is skreeusnaaks, so al hou jy nie van rugby nie, gaan jy nog steeds lekker saam lag. 

Vertel ons ook van die aanbieders, asseblief. Wat is húlle stories (of agtergrond; van belang is dat hulle die stories uit die deelnemers kan trek wat dalk nie lus het om hulle stories alles uit te lap nie)?

Die hoofaanbieder is John van Rensburg, die baie bekende sportkommentator. Hy het 'n ongelooflike passie vir die sport en hy het selfs sy huis omskep in 'n museum waar mens ongelooflik raar items van die Springbokke kan sien.  John se kennis oor die sport en die spelers speel 'n ankerrol in die reeks.  John se mede-aanbieder is Balie Swart, 'n oud-Springbokstut wat ook betrokke was by die 1995-Wêreldbeker. Hy vertel ook van sy staaltjies in die reeks.  Balie se ervaring van die span en toere maak dit makliker vir die Springbokke om te vereenselwig. 

Die stories van 'n Springbok sou sekerlik 'n groot impak hê op sy gesinslewe. Hoor ons ook die vroue (en kinders) se kante van die storie(s)?

Indien die gesin betrokke wil raak, is hulle baie welkom. In episode 4 met Smiley (Werner Swanepoel) kom groet sy kinders hom terwyl ons besig is en vorm deel van die episode. Die Bokke gesels met trots oor hulle gesinne en ons voel dit het 'n positiewe inpak op die gesinne. Ons wil nie negatiewe goed hoor nie en plaas ook nie die Springbok onder kruisverhoor nie – ons kuier net lekker saam en dit dra ook so oor in die program.  Die program is tans net 'n halfuur lank en daar is ongelukkig nie genoeg tyd in die program om die kinders en die gesinne se volle stories vas te vang nie. 

Springbokstories vertoon op Vrydae om 18:30 op kykNET.

Besoek ook kykNET se webwerf vir nog besonderhede.

Foto's voorsien

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top