Spookradio 302 FM, verslag een deur Heilna du Plooy

  • 0

Die verhaal is grootliks geslaagd as ’n gotiese verhaal of spookstorie. Ek dink egter wel dat die verhaal verbeter kan word. Dit kan dalk die verhaal sterker maak as daar ’n meer spokerige atmosfeer in die ateljee geskep word. ’n Goeie kortverhaal is heg gebind en daar moet subtiele elemente wees wat regdeur die verhaal loop. As daar in hierdie verhaal vroeër subtiele suggesties is van iets spookagtigs wat die omroeper self onkant betrap en aan die dink sit, sal dit die ontknoping sterker motiveer en meer treffend maak.

Waaraan jy ook moet aandag gee, is die perspektief waaruit die verhaal vertel word. In die paragraaf wat ek in geel gemerk het, word daar sowel van binne as van buite die omroeper se gedagtes vertel. As jy ’n verteller het wat as ’t ware ’n vlieg teen die muur is en wat alles van buite beskou, kan jy sulke dinge sê soos “Persoonlik glo Lourens nie in spoke nie. Hy is ’n logiese mens en glo dat daar ’n verklaring vir alles moet wees. Maar dit bly ’n interessante onderwerp wat mense gewoonlik aan die praat kry.  En hy is ook reg.” Maar dan kan daar nie in die vorige sin staan: “Hy hoop regtig die luisteraars gesels lekker saam vanaand” nie.

Die verhaal word hoofsaaklik uit Lourens se perspektief vertel – dit beteken die verteller weet wat gaan in Lourens se kop aan en beskryf die gewaarwordinge vanuit sy gesigspunt, ervaring en kennis. Want die verrassing oor Ouboet van Zyl word deur Lourens ervaar en dit is sy verbasing wat uitgebeeld word. Maar juis omdat dit gaan oor ’n geheim, moet die inligting gefiltreer word deur een waarnemende en vertellende instansie wat inligting stukkie vir stukkie aanbied.

Gaan lees gerus ’n bietjie klassieke gotiese verhale oftewel dan spookstories. Ek dink hier aan Arthur Conan Doyle se Gothic tales en die versameling van Elizabeth Gaskell wat ook Gothic tales heet. Isak Dinesen (die skrywersnaam van Karen Blixen) het ook ’n bundel verhale gepubliseer as Seven Gothic tales – baie mooi stories met elkeen ’n ongewone kinkel van ’n spokerige aard. Dalk kry jy daar nog idees om jou storie sterker te maak.

Onthou dat dit hier gaan om spanning vanweë ’n geheim. Dalk kan die omroeper meerdere spookgesprekke voer en elke keer ’n besoeker kry, en dan uiteindelik eers later uitvind wie en wat dié een is. Die verhaal verloop ’n bietjie te gelykmatig en kan ’n sterker stygende spanningslyn kry deur enersyds uit te brei en andersyds vinnig te verloop.

Gaan lees ook gerus Flannery O’Connor se bespreking van die kuns van kortverhale (10–41 in Om te skryf) om idees te kry oor die tempo en verrassingselement in jou verhaal.

*

(Nota aan die leser: Du Plooy het ook aan elke skrywer ’n gemerkte weergawe van hulle verhaal gelewer. Dit is die weergawe wat nie geproeflees is nie. Loer oor haar skouer en laai die gemerkte weergawe hier af.)

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:

Spookradio 302 FM

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top