Spoke om die lyf en die teks: Mark Behr praat prontuit

  • 0

As jy nog nie een van Mark Behr se boeke gelees het nie (Die reuk van appels het in 1993 verskyn, Embrace in 2001 en Kings of the water in 2009), is die kanse goed dat jy nogtans van hom weet: dié skrywer en aktivis het al dikwels in die nuus beland oor sy omstrede uitsprake.

Mark Behr, wat deesdae hoofsaaklik in die VSA woon en werk – hy gee ook jaarliks klas by die Wits Meestersprogram vir Skryfkuns – het die pas afgelope Franschhoek Literary Festival bygewoon, waar hy deel was van paneelbesprekings oor gayliteratuur en die Grensoorlog.

JB Roux het kort voor dié letterkundefees met Behr gesels – en ontdek dat dié internasionaal bekende skrywer steeds nie bang is om te sê presies wat in sy kop aangaan of hoe hy oor selfs die neteligste kwessies voel nie!


Jy woon en werk al lank in die buiteland, maar besoek Suid-Afrika gereeld. Hoe vergelyk die houding teenoor gays in ander lande met dié in Suid-Afrika? Daar word dikwels gesê dat as ’n mens die gaykwessie in ag neem, dit ironies is dat Suid-Afrika een van die mees liberale grondwette het ...

Wat wetgewing betref, verskil die VSA van staat na staat: hoe meer inklusief New York en DC, hoe doller die fundamentaliste in Mississippi en Tennessee. In Moskou en Boedapest is daar ook nou pogings om homofobiese wetgewing te vestig en nader aan ons is daar die skrikbewind teen gays in Banjul, Harare, Kampala en Lagos. Dit is ten dele reaksies teen positiewe verandering: meer lande laat huwelike tussen mense van dieselfde geslag toe; meer promulgeer wetgewing ter beskerming van vroue en minderhede soos transmense. Nuwe kennisnetwerke, kommunikasie deur elektroniese media en populêre kultuur verander denkwyses en vestig nuwe alliansies waarteen die nasiestaat dit toenemend moeilik vind om sy eie agendas te handhaaf.

Soos in Suid-Afrika is dit elders meestal vroue, dié met die laagste inkomste, beperkte mediese hulp en die minste toegang tot die regstelsel, wat die meeste ly onder patriargale liefdes- en geslagskodes. In Suid-Afrika het ons die wonderbaarlike klousule in die grondwet wat stadig maar seker die heteronormatiewe kultuur uitdaag deur formele diskriminasie onwettig te verklaar. Dis geen kitsoplossing nie, maar funksioneer gereeld as meganisme om homofobie en seksisme te beskaam en almal tot openbare verantwoording te roep.

Jy het grootgeword as ’n gay man in ’n verskeurde land, deel van ’n regsgeoriënteerde “volk”. Jy was ’n offisier in die weermag en het aan die Grensoorlog deelgeneem, in ’n konvensionele sin sowel as ’n spioen en teenspioen. Voel dit soms hierdie dinge het gebeur nét sodat jy later die soort boeke kan skryf waaraan min ander skrywers hul hand kan waag: subtiele verhale met vreeslose, selfs gewelddadige ondertone, waarin realiteite soos soldaat-wees teenoor gay-wees opgestel word? (Ek verwys nie slegs na die praktiese kennis wat jy byvoorbeeld as soldaat opgedoen het nie, maar na die plofbaarheid van ’n lewe vol emosionele katalisators.)

As ek my boeke en stories kon verruil vir ’n minder moreel en psigies komplekse jeug, sou ek dit waarskynlik sonder skroom doen, want ek voel myself mens (in verhouding tot ander) lank voor ek aan myself dink as ’n skrywer.

Dis ’n lewenslange taak om te probeer verantwoording doen vir die leed wat ons mense aandoen. Uit ons vrot besluite en foute en ons pogings om dit reg te maak of om sin te maak daarvan, kom daar egter soms verruimende en durende verhoudings, ’n vernuwende, morele verbeelding vir onsself en vir ander. Dis onmoontlik om te peil wie ek sou wees, wat ek sou glo, dink, doen of skryf sonder my medepligtigheid aan en bevoorregting deur apartheid. Die dramatiese politieke en intellektuele skuiwe – veral die intieme verhoudings wat ek gesmee het tydens daardie tye, verhoudings wat ek steeds handhaaf – was emosioneel, en wat my kreatiwiteit betref, emblematies en formatief. Ek ervaar blywende dankbaarheid vir wat hierdie plek en mense my van kindsbeen af en nog steeds gee en leer.

Daar word gereeld gesê jou skryfwerk is veral daarop gerig om die “psige” van die Afrikanerman te omskryf, ontleed, ontgin. Maak dit sin om “die Afrikanerman” steeds in die letterkunde te isoleer? Het Afrikaners regtig teruggetrek na ’n laer bínne die “Nuwe” Suid-Afrika of is die teenoorgestelde aan die gebeur?

Ek dink nie ek het ooit iets oor ’n Afrikanerman se psige geskryf wat geïsoleerd was van ander groepe se vergestalting van manlikheid nie. Ek is lugtig vir ’n tendens wat gerieflik die Afrikaner-ervaring as uniek of eiesoortig tipeer. Ek sien interseksies tussen verskillende vorme van koloniale geweld en manlike bevoorregting die wêreld oor: vrouehaat, kapitalisme, die kommunisme van die 20ste eeu, ekologiese vernietiging, homofobie, heteroseksisme, transfobie, rassisme, antisemitisme – en uiteraard ook uitsonderings op al dié reëls.

Christelike Nasionalisme het bepaalde gewelddadige vorme van ’n rasse-kapitalistiese en militaristiese manlikheid tot baie laat in die 20ste eeu gevoed. Maar dit was elders en vroeër die norm. Mens sien ook gedeelde waardes en gedrag tussen uiteenlopende manifestasies van heteronormatiewe manlikheid, byvoorbeeld tussen wit en swart Suid-Afrikaanse mans: groot getalle van beide groepe handhaaf hulself deur verbale of fisieke geweld teen lesbiese, gay en transmense. Die meeste wil ’n onderskeid handhaaf tussen vroulike en manlike rolle in die werkplek of huis; groot getalle verkrag vroue en behandel “hul” vroue soos bediendes, poppe of stukke eiendom.

Hierdie verskynsels verskil van geslagsformasies en gedrag onder vroue en mans in byvoorbeeld Skandinawië en dele van Asië. Dat daar uitsonderings en alternatiewe vorme van geslagsgedrag die wêreld oor bestaan en ontstaan, en dat geslagsvorme en seksualiteit gedurig aanpas by nuwe uitdagings, wetgewing en kennis, is ’n aansporing vir almal wat streef na groter gelykheid en geslagsgeregtigheid. Ook hier sal ons toenemend begin erken dat die woorde “man” en “vrou” bloot ordenende fiksies is, verwant aan fiksies soos “wit” en “swart”, “heteroseksueel” en “homoseksueel”. Wat maak ons met daardie kennis? Dit neem ons terug na my antwoord op jou eerste vraag.

By die Franschhoek Literary Festival het jy deelgeneem aan ’n paneelbespreking oor gay-literatuur as hoofstroomliteratuur. Is so ’n bespreking nodig? Hoekom kan almal nie skryf wat hulle wil sonder etikette soos “gay-lit” nie?

Sedert die magsbalans teen wit heteronormatiwiteit begin draai het, is een van die vrae wat aktiviste vra: Kan ’n mens sisteme soos rassisme en heteroseksisme teëgaan sonder om diegemarginaliseerdekategorieë téén die ou gediskrediteerde, disintigrerende sisteme te gebruik? Kan kategorieë soos gay, lesbies, transseksueel en interseksueel op strategiese wyse gebruik word sonder om nuwe beperkings op seksuele en geslagsidentiteite te plaas? Dis ’n vraag die wêreld oor, nie net in Suid-Afrika nie.

Ek dink ons moet die benamings gebruik, met dien verstande dat ons krities en selfreflektief is oor ons eie taalgebruik, ons vloeibare identiteite en deelname aan sisteme van bevoorregting en ontkenning.

Jy het in bogenoemde bespreking saam met die gay uitgewer Robin Malan, die gay skrywer Peter Krummeck (sy Adam and Luke het pas verskyn) en Richard de Nooy (The Big Stick) opgetree. Hoe belangrik is dit om ’n straight skrywer soos De Nooy op die paneel te hê?

Mens wonder: Het die skrywer self gevra om so geëtiketteer te word, dalk om hom van ons drie mowwe te onderskei? Of is dit die uitgewer wat boekverkope in gedagte hou? Of die organiseerders wat gesofistikeerd en polities korrek wil voorkom? Wat presies word bedoel met “straight”? Wat is “gay”? En nog moeiliker, wat is ’n “straight skrywer”? Is seksuele identiteit gegrond op wat jy met jou lyf doen, en indien wel, watter deel van die lyf? Hand? Borste? Penis? Mond? Vagina? Anus? Enkels? Neusvleuels? Of het dit te make met erotiese verbeelding? Soms fantaseer jy oor ’n seksdaad met iemand van dieselfde of ’n onbekende geslag, maar jy eksperimenteer nooit met die daad self nie – is jy dan “straight”?

As ’n man met twee mans seks gehad het in die weermag of tronk en daarna met een vrou of met niemand nie, is hy dan “straight”? Was ek “straight” toe ek tussen 18 en 28 hoofsaaklik seks met vroue gehad het? Was ek ’n “straight skrywer” voor ek meer eksplisiet gay mense in my werk begin inskryf het?

Wat van skrywers wat seks of lewenslange liefdesverhoudings het met mense van hul eie of ’n tussengeslag, maar nooit selfbewustelik sulke temas in hulle werk aanraak nie? Wat nooit in die openbaar praat of skryf oor hul seksuele of geslagsidentiteite nie? Is hulle bloot lafhartig, of is hulle net skrywers – soos wit, manlike, heteroseksuele skrywers wat gesien word as “bloot skrywers” sonder ’n komplekse subjektiwiteit?

Dis ’n lekker kwessie om oor te stry en ons gaan dit beslis nie hier of in Franschhoek oplos nie!

Jou debuut, Die reuk van appels, is telkens herdruk en het ook in die buiteland uitstekend verkoop. Dit is dus ’n blitsverkoper, maar is dit ook ’n gay-roman? Wat van die vele fasette wat nie regtig iets met homoseksualiteit te doen het nie? (Of: Hoe gay moet ’n stuk literatuur wees om as gay-lit te kwalifiseer?)

Ek dink Appels gaan oor mites van manlikheid. Moderne weergawes van manlikheid (waarvan wit, Afrikanermanlikheid slegs een voorbeeld is) is dikwels onder meer geskoei op ’n chroniese verfoeiing van swart mense en vroue en ’n vrees vir sogenaamde vroulikheid in mans (laasgenoemde word homofobies verwoord as “verwyfdheid”, en manlikheid in vroue as “mannetjiesagtigheid”). In sekere tydvakke in Europa en die VSA is Joodse mans as “verwyfd”’ verdag gemaak.

Binne ideologieë van manlike bevoorregting is “gay” mans verdag omdat normatiewe manlikheid staat maak op solidariteit tussen mans. “Gay” mans doen simbolies afstand van patriargale mag, beide deur wat ons seksueel met mekaar doen en deurdat ons die heteroseksuele huwelik ondergrawe. Die sogenaamde abnormale man – dikwels die homoseksuele man – funksioneer as skimfiguur, as waarskuwing en noodsaaklike bedreiging vir die handhawing van normatiewe manlikheid.

Die ideaal van wit Afrikanermanlikheid – soortgelyk aan wit Noord-Amerikaanse en Europese manlikheid – het berus op ’n psigiese en morele terrorisme teen verskeie buitestanders, maar ook teen die self. Enige stuk letterkunde wat met mans of manlikheid omgaan, betree die loopgraaf van seksuele en geslagsidentiteite. ’n Heteroseksuele man bestaan nie sonder dat homoseksualiteit en/of sogenaamde verwyfdheid by hom spook nie. Die vraag is of ons bereid is om die gespook om alle manlike identiteit te erken: spoke om die lyf sowel as spoke in en om die teks.

’n Soortgelyke logika geld die gespook om wit karakters in die letterkunde van die afgelope 500 jaar.

Jy was ook deel van ’n paneelbespreking, saam met onder meer Brent Meersman en Johan Vlok Louw, oor die Grensoorlog en die letsels wat dit gelaat het. Daar het die afgelope ruk ’n stroom publikasies oor dié oorlog verskyn. Verreweg die meeste is uit ’n wit oogpunt geskryf. Dis asof baie Afrikaners dié oorlog, of herinneringe daaraan, vir hulleself “opeis” om hulle te help om ’n groepsidentiteit te behou. Sou jy sê Afrikaners het altyd militêre konflik nodig gehad (ook in ’n emosionele sin) om hulle as deel van Afrika te vestig, en ervaar hedendaagse Afrikaners ’n identiteitskrisis omdat gewapende konflik teenoor wie ook al nie meer ’n opsie is nie?

Afrikanerskap was uit die staanspoor ’n paradoks: gebore in Afrika, na Afrika vernoem, maar bereid om hand en tand teen Afrika te baklei. Die mite van ’n wit Afrikanervolk is waarskynlik iets van die verlede, en daarmee saam die militêre en ideologiese geweld waarop ons kortstondige wensdenkery gebou was. Maar geweld en oorlog het die Afrikanerskap van die laat 19de eeu en wit Suid-Afrikanerskap van die 20ste eeu ver vooruitgeloop. Die ideaal om “wit”, bevoorreg en apart te leef ten koste van ander was die probleem, nie om Afrikaans te praat nie.

Hoe gouer wit mense en wit skrywers – beide Afrikaans en Engels – toegee dat ons oorloë tussen 1652 en 1994 gerig was op die beskerming van rassebevoorregting, hoe meer sinvol en kreatief kan ons voortgaan met die viering van ons verbasterde identiteite en veelvuldige lojaliteite. Afrikaners was nog altyd basters, en om anders voor te gee was ons grootste fout. Ons verreken steeds die skade wat daardie fout aan ons eie én ander se menslikheid aangerig het.

Alexander Strachan het in ’n onderhoud gesê: “In ’n oorlog soos die Grensoorlog raak jy heeltemal geïsoleerd van die sogenaamde ‘saak’ waarvoor daar geveg word (nie almal stem saam hieroor nie). Maar daar word, in wat ek gesien het, vir selfbehoud geveg en vir die makkers saam met jou, terwyl ideologie op die agtergrond skuif.” Het jy dit ook so ervaar?

Die idee van makkers wat mekaar beskerm, is ’n ou storie wat soldate hulself tydens en na afloop van elke oorlog vertel. Dis ’n dominante tema in alle na-oorlogse letterkunde. Dis deel van hoe oorlog en geweld verromantiseer en verheerlik word ter wille van die handhawing van ’n manlike ideaal: hier word lojaliteite gesmee, word seuns mans, word helde en lafaards ontbloot in ’n smeltkroes van verwoesting en doodsgevaar.

Maar as ons eerlik is, sal ons onthou dat ons van kleins af geleer is die “kaffers” gaan alles van ons wegvat en dat ons moes regmaak om teen “hulle” te baklei. Dat swart mense dom, vuil, gevaarlik en wellustig is en dat die polisie en weermag – beide waarvan ek ’n ruk lank met trots deel was – ons wit, Christelike, betaamlike, “vryemark”-lewenswyse moes beskerm. Ons het vanaf ouderdom 13 skoolkadette gedoen en onder meer daar leer skiet. As verdere voorbereiding vir die weermag moes ons spansport speel: veral rugby het jou voorberei op samewerking, dissipline en lojaliteit. Spansport, spangees en heteroseksualiteit was sinonieme vir karakter.

Tydens weermagopleiding het ons gesê ons gaan “kaffers” skiet in Angola. Elke “kaffer” in Namibië en Angola was ’n potensiële terroris. Ons wittes was aan die kant van geregtigheid en vrede; die terroriste – nes die mowwe en alle andersdenkendes – was aan die kant van kommunisme, armoede, verwoesting en die Antichris. Elke wit soldaat wat gesterf het, se naam en gesig het met eerbetoon op televisie verskyn. Waar was die name en gesigte van die swart soldate wat in diens van die SA Weermag gesterf het?

Lank voor ons op so jonk as 16 vriende gemaak het met ons makkers in uniform, lank voor ons eerste saluut of patrollie, lank voor ’n skoot geskiet is, voor iemand gemartel is, is seuns intensief voorberei vir ’n spesifieke ideologiese wit Suid-Afrikaanse oorlog. Geen soldaat in geen oorlog op aarde hoef konstant hiperbewus te wees (of kan konstant hiperbewus wees) van sy ideologiese taak, dat hy ’n sisteem moet laat funksioneer nie. Dit is die logika van militêre opleiding, sportopleiding en ideologieë soos rassisme, kapitalisme en seksisme: dat jy nie meer hoef te dink nie, dat jy juis kan doen sonder om te veel te dink.

Mense wil om verstaanbare redes die geheue orden om te onthou dat alles eerder gegaan het oor makkerskap tussen “regte” manne. Om so te onthou, laat ons ’n rukkie beter voel oor onsself en ons vuil hande. Maar dis oneerlik. Dit lei nie na versoening met onsself of die slagoffers van ons vergrype nie.

Soldaat-wees word deur baie sielkundiges as die uiterste manifestering van man-wees beskou. Baie gay mans – veral dié met ’n streng patriargale agtergrond – voel hulle moet tot elke prys hulle manlikheid “bewys”. Die SAW en Grensoorlog was destyds die ideale geleentheid hiervoor. Hoe voel jy oor hierdie stelling?

Op een vlak is dit deel van die narratief van my eie jeug. Mens kan jou kwalik indink dat my storie buitengewoon was: as “heimlik” gay word jy in ’n heteroseksistiese milieu binne jou eie psige die vergestalting van skaamte: ’n objek of onmens sonder bestaansreg. Ek moet egter byvoeg: hoewel seksuele en geslagsvertwyfeling en -marginalisering in menige gay man se psige uitspeel, is die stryd om ’n sogenaamde man te wees nie uniek aan “gay” mans nie. Sogenaamde heteroseksuele mans, emosioneel bygestaan en aangevuur deur heteroseksistiese of falliese vroue, faal ook chronies in hul strewe na ’n onbereikbare manlike ideaal. Mans se chroniese mislukking om die man te wees wat niemand inderwaarheid kánwees nie, is waarskynlik een van die mees fundamentele oorsake vir geweld die wêreld oor.

Met watter sin – een sin – sou jy hierdie onderhoud wou afsluit?

Ek twyfel reeds oor elke tweede woord wat ek hier kwytgeraak het!

 

* ’n Uittreksel uit hierdie onderhoud het op die boekeblad van Media24 se Afrikaanse dagblaaie verskyn.

* Foto deur John Griffen: Mark Behr in Tanzanië, 2011

* JB Roux is ’n vryskutjoernalis.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top