Spoegwolf: "Daar is magic in woorde"

  • 0

Die gewilde, vernuwende rockers Spoegwolf het onlangs ’n nuwe album, Die donker toring, bekendgestel. Danie du Toit, voorman van die groep, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Danie. Hoe’s dinge deesdae?

Ek het so pas tot 3-uur die oggend in my pa se ou rugbybroek gewerk aan ’n nuwe song saam met die res van die gang. Ons bly nou op die duisendste vloer van ’n plek wat buig in die wind. As die weer sleg is, moet jy die mic-stand vashou. So dit gaan goed. Ons het die wind op ons rug, en so net-net onder ons voete.

Foto: Henry Engelbrecht

Baie geluk met Die donker toring. ’n Mens wil natuurlik met elke nuwe album ’n mate van groei, of koersverwisseling, of bloot ’n bietjie musikale verkenning pleeg. Aan die ander kant is ’n groep teen die derde, vierde album al redelik gevestig in die aanslag, en die aanhangers se verwagtinge moet ook in gedagte gehou word. Dit als in ag genome: Wat wou Spoegwolf musikaal met Die donker toring bereik? Hoe verloop daardie soort gesprekke tipies binne die band? Of tot hoe ’n mate is dit ’n geval van gelei word deur die musiek soos dit uitkom? Is daar ’n soort goue middeweg in hierdie opsig? 

’n Album klink maar soos die plek waarin hy gemaak is. Ons het weer die fondasies gaan lê by Sunset Recording Studio, so die ruggraat van die gedierte loop maar net so skeef. Groot dele van die album is ook opgeneem in my en Chris se vorige woning (ons is uitgeskop). Ons wou maar die kamer waarin ons was, vasvang: Albert se kombers op die bank, Moskou se pan op die stoof, die girls op die stoep tussen die bome in, Chris se sonbrille op die tafel en (sorry, Heuwels) my pen op ’n servet wat ek al weer, al weer, iewers moes vergeet het.

Ons wil maar net iets vasvang met die musiek. Die musiek skryf maar haarself tussen die biere en bure deur.

Goue middeweg? Ek weet net van die goudstandaard – bier. Soms is dit ook die goue draad tussen vier bandmembers.  

Wat die lirieke en algemene aanslag betref ... Ek neem aan dit is veilig om Die donker toring as ’n break-up album te bestempel? Glad nie neerhalend nie: ek dink Dylan se Blood on the tracks is sy beste ooit, en dis ook mos ’n break-up album. Party kunstenaars (Adele, Taylor Swift, Damien Rice) maak loopbane van hartbreekliedere. Tog: dit moet geweldig moeilik wees om jou siel – in sy mees platgetrapte vorm – só te ontbloot. Tot hoe ’n mate was die album vir jou terapeuties, of moes jy kners om tog oor al hierdie dinge te skryf en sing? Is daar verlossing in digkuns?

Die donker toring is ’n paar dinge – en ’n groot deel daarvan is hartseer.  Die eerste woorde wat ek geskryf het (wat dit nie tot die album gemaak het nie) was: “Ek sal weer skryf, dalk nog dig, as die pyn weer lig.” Ek sien nou eers die ironie daarin.

Met die maak van die album het ek ’n wending beleef in die vorm van ’n tekkiedraende Jedi met die naam Marguerite. Die album, voel ek, beweeg heen en weer tussen die Dark Side en die Light. Marguerite se WhatsApp-status toe ons ontmoet het, was Valiant se “Kyk of jy vir my die son kan vang”.

Om jou vraag (seker nie) te beantwoord (nie): vir die meeste van die album het dit geen kners gevat om die songs te skryf nie. Dit het maar gevoel soos wat dit voel om vir ’n love-interest alles te vertel van jou lewe op die eerste date. Dit is maar wat dit was. Groot dele was ook geskryf uit happiness. Dit klink seker nie so nie, want happiness maak ons bang (omdat ons dit nie wil verloor nie?).

Die album is meer ’n bewys van terapie (in die vorm van Marguerite) as wat dit terapeuties was.

Is daar verlossing in digkuns? Ek dink daar is magic in woorde. Hulle kan, as jy lucky is, toekoms bepaal. Die enigste woorde wat God ooit die tyd gevat het om te skryf, is in die vorm van ’n moerse digbundel genaamd Die Bybel. As gedigte goed genoeg is vir Hom, is dit goed genoeg vir my. 

Gepraat van digkuns: daar is heelwat meer rap (“Delila”, “Verlanger in die bo-venster”) en spoken word (“Die donker toring”) as in vorige Spoegwolf-lewerings. Dink jy daar is iets wat dié gebruik van woorde uitsonder van lirieke sing? Met ander woorde: Is daar sommige woorde wat ’n mens bloot moet spreek, en ander wat jy bloot moet sing? Waar lê daardie grens, en hoe het julle spesifiek op dié album besluit wat moet waar beland? Watter invloed het die wiskunde van ritme hierop?

Dit hang af wie die woorde skryf, dink ek. Die rap-gedeeltes is deur Albert en Die Hooflig geskryf. Beide van hulle kan hulself baie goed uitdruk in woorde, en ek dink die musiek moet met sulke woorde die backseat inneem. Die “spoken word” waarna jy verwys is ’n gedig wat baie laat geskryf is. Ek het letterlik nie die tyd gehad om nog aan ’n wysie ook te dink nie! 

Die donker toring is ’n geweldig interessante album, om baie redes ... Onder meer voel dit of elke snit noukeurig uitgewerk is en ’n mens tog natuurlik meesleur. Tog is daar min liedere wat outomaties opspring as besliste treffer-singles: dit gaan meer oor die geheel, voel dit. Was dit ’n denkrigting met hierdie album? Wat is jou filosofie in die algemeen oor “treffers” skryf en hoe dit moet gebeur? Hoe sou jy Spoegwolf se strategie (as mens dit so kan noem) beskryf wat dit betref?

Ons wou baie graag iets maak wat lekker is om deur te luister. Daarom moet jy partykeer die individual liedjies compromise om in te pas. Ons wou hê dat mense na die album verwys (omdat dit ons so lank gevat het) en nie enkele songs nie, so ons moes ’n paar keer ’n tweede verse of chorus uitsny.

Met die album wat nou op pad is, gaan ons weer fokus op die skep van enkelsnitte wat op hul eie kan staan.

Dit is heerlik om Die Hooflig se rap-werk op Die donker toring te beleef. Hoe het dié samekoms tussen hom en Spoegwolf gebeur? Hoe het julle besluit in watter lied en hoe hard julle hom wil loslaat? Is daar ander kunstenaars met wie jy persoonlik binnekort sal wil saamwerk? Kom ons brei die vraag uit: As jy met enige kunstenaar kan collab – lewend of dood – wie sal dit wees, en hoekom?

Hy is ’n wonderwerk! En ons hoop om weer met hom te kan werk. Gaan luister bietjie sy tunes!

Ek en Die Hooflig werk baie saam by die ATKV Crescendo – ons het daar vriende geword! Ons het juis op daardie liedjie een aand vanself saam gesing – en toe besluit dat dit so moet opgeneem word!

As ons met enige mens ’n collab kon doen? Seker weer met Die Hooflig! Of met Die Skynmaagde? 

Ha! Kom ons praat ... In elk geval, jy het ook onlangs betrokke geraak in die TV-bedryf, met die VIA-programme Moskou se kombuis en Spoegwolf soek nuwe bloed. As ek dit reg het, tree jy op as medevervaardiger van hierdie programme. Wat leer ’n mens oor vermaak en die groter bedryf as jy skielik agter die skerms is, in ’n totaal ander rol as voorsanger van ’n band? Dink jy dit sal ’n impak hê op hoe jy musiek benader, of ten minste die bemarking (of so iets) daarvan?

Yes – en dit was ’n moerse ervaring! Mens leer baie van waarvoor mense in die bedryf soek in ’n produk – maar ook dat almal maar by mekaar moet leer. In die gevolg, byvoorbeeld, sal ek nie sommer dat ’n director van ’n show my te veel voorskryf in terme van hoe ek moet sing of wat ek moet sê nie – veral omdat ek nou weet dat die Director (wel, seker net in my geval met Moskou se Kombuis) nie weet wat aangaan nie.

Met bemarking het ons baie geleer. Ek voel nou dat die beste bemarking ’n goeie produk is. Daarom doen ek en Moskou (en Anina, Francois, Inge, Manie) baie moeite met ons nuwe restaurant, Drum. Quality is everything.

Ek moet vra: In die albumboekie word daar saam met die bedankings “Spesiale jammers” aangebied aan “Ons bure, MFM en die Endler-saal”. Oor die bure kan mens afleidings maak, maar wat het by MFM en die Endler gebeur? Daar sal seker maar altyd collateral damage wees as ’n rockgroep naby is ... Wat is die ergste insident wat julle al oorgekom (of veroorsaak) het?

By MFM: ons was nog nie by ’n onderhoud waar iemand in die band nie high, dronk, laat of paranoid was nie. Hulle verdien beter. Of nie?

Ons het een aand by die Endler ingebreek. Ons voel nog skuldig daaroor.

Die ergste insident? Ons is al drie keer uit ’n woning geskop. ’n Paar van ons pelle het teen die deur van die vrou wat al die klagtes gaan lê het, gaan pis. Ons is nie trots hierop nie. Sy dink seker iemand het ’n bottel brandewyn daar kom uitgooi?

Spoegwolf is soos Eben Etzebeth: eintlik nog bloedjonk, maar dit voel of hy al vir ewig op die toneel is. Wat lê voor vir julle as groep, en vir jou persoonlik, op kort en lang termyn, wat die musiek betref?

World domination.

Ons gaan hierdie hele plek verander.

Het die mens werklik liefde nodig? Hoekom, of hoekom nie?

Ja. Daar is mense wat sê dat ons net diere is, en dat ons net ’n reeks drifte en molekules is. Natuurlik is dit ook waar. Maar dit is ook waar dat alles op jou skerm ’n klomp 01–01–00-kombinasies is. Tog sien jy woorde, en voel jy dinge. Want daar is ’n klomp filters wat betekenis gee aan die kode. Die liefde is een so ’n filter. Ander filters bestaan: haat, die gevoel van betekenisloosheid, vrees, angs, selfsug en die onvermoë om te dink.

Beter as al die bogenoemde is Die Liefde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top