Spieëlbeeld: ’n onderhoud met Franz Marx

  • 0

Spieëlbeeld
Franz Marx

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485303992

Skryf vir geld – van sy hoërskooldae af, maar nou gaan dit net daarom om die storie te vertel – elke dag ’n paar reëls, ’n paragraaf of ’n bladsy, want dit is nou lewensbloed.

Dit is Franz Marx aan die woord, draaiboekskrywer van oa die veelbekroonde televisiedrama Die buitestaander (1986), ’n streep televisiereekse, enkeldramas, minireekse én die eerste Suid-Afrikaanse sepie, Egoli: Plek van Goud, wat ’n ikoniese status in die genre geniet.

En nou – die klimaks – Franz Marx se debuut as skrywer met sy spanningsverhaal Spieëlbeeld, wat pas deur Protea Boekhuis uitgegee is.

Ons kom ’n lang pad saam – van ons universiteitsjare op Stellenbosch – en nou sit ons vir die eerste keer om oor hierdie merkwaardige en hoogs produktiewe loopbaan kajuitraad te hou.

“Ek is akteur, draaiboekskrywer, regisseur en vervaardiger van verskeie films en TV-reekse, en dis hoe ek bemark word, maar eintlik is ek heeltyd met skryf besig. Om te skryf en te verwoord, dis eintlik die kern van my loopbaan en uiteindelik het ek nou my eerste boek in die hand,” vertel hy.

Hoekom so laat eers?

Paraat is sy antwoord: “Ek het gedink toe Pieter Fourie op sy oudag met ’n digbundel kan debuteer, hoekom kan ek dit ook nie waag met ’n spanningsverhaal nie?”

Spieëlbeeld, met die subtitel “die anatomie van ’n huurmoord”, uiteindelik dan Franz Marx se skrywersdebuut. Dis moeilik om met so ’n uitgelese lys skryfstukke aan ’n Marx-debuut te dink. Soos ander resensente het ek dit ook verkeerd gehad dat hy Skooldae, ’n jeugboek, immers op sy naam het. “Nee, ek het dit nie as boek geskryf nie; dis so aangepas uit die TV-reeks, so dit kan nie tel nie,” dring hy aan. Punt gemaak.

Is hierdie pakkende en boeiende verhaal wat in Spieëlbeeld ontvou, die somtotaal van sy jare in die film- en TV-bedryf?

“Nee, daar’s elemente dalk wat ek leer ken het, maar dis hier in my aftreehuis bedink.

“Wat uit my professionele jare kom, veral in die Egoli-tyd, was my kontak met die berugte nagklubbaas Lolly Jackson, met wie ek ’n sakeverhouding gehad het. Ek het gereeld gebruik gemaak van sy vloot motors – hy’t ook ’n luukse karversameling gehad – en soms het hy my na sy klubs genooi vir ’n drankie. Ons het nooit huisvriende gewees nie, so ’n sakeverhouding gehad. Deur hom en sy vertellinge het ek die daaglikse bedryf van daardie wêreld waarin hy beweeg het, van nader leer ken.

“Oor ’n drankie het hy die daaglikse bedryf van sy nagklubs breedvoerig met my gedeel. Ek was toe net nuuskierig en geïntrigeerd. Eers jare later het dit vir my sin gemaak om my storie teen so ’n agtergrond te laat afspeel. Ek onthou Lolly met groot dankbaarheid.”

Ander kennis was nodig – oor die “donker konkelwerk van dwelmhandelaars”, die dwelmwêreld, handvuurwapens, wat gebeur as ’n koeël ’n kop tref, die moets en moenies van die uitvoer van lykskouings en die hantering van ’n koeël by ’n noodlottige skietwond. Jy moet ook kennis en begrip hê om die binnewerking van ’n lyfwag se lewe te kop, die “harde werklikheid” in die wêreld van gimnasiums, die daaglikse roetine van ’n ontkleedanseres en die “binnekennis” van ’n verassing.

Wat van die karakter Belinda Eksteen?

“Haar prototipe in die beroepswêreld waarin ek jare gestaan het, ken ek goed. Sy’s op niemand spesifiek gebaseer nie, eerder ’n samestelling van verskillende karakters, maar eintlik dink ek nie ek het haar so goed behandel in my boek nie.”

Nee, sê Franz, hy’t nooit in boek in sy kop gehad nie – nie vir publikasie in elk geval nie. Maar hoe gebeur Spieëlbeeld toe?

“Soos al my ander goed. Ek reageer op ’n uitdaging. “Skooldae, wat as jeugboek verskyn het, saamgestel uit die TV-reeks, is by die Woordfees bekendgestel. Ek wou niks daarmee te doen hê nie. So uit niks nooi Nicol Stassen my vir middagete, bring ’n mooi meisie saam wat ’n redakteur van Protea is, en uit die bloute vra Stassen of ek nie ’n roman vir hulle het nie.

“Voor ek my kon kry, het ek onderneem om 50 bladsye te skryf. Ek word ’n kontrak gegee, ’n sperdatum en ook ’n belofte – toe ek teen nog ’n ‘deadline’ vasskop, wat ek myself beloof het om nooit weer te hê nie – dat hulle my hierdeur sal voer. Nouja, dis soos dit was.

“Ek sit hier by Le Clemens en moet nou dink aan ’n storie. ’n Heeltemal nuwe ondervinding vir my. In televisie het ek altyd die einde eerste geskryf. Die einde was die geboorte van die storie. Dan werk jy punte uit en so begin ek aan die storie werk. Skielik sit ek nou met 18 uur werksdae om die tema van Spieëlbeeld te ontwikkel.

“Ek begin skryf in drie verskillende tye. Man, dit was nou vir jou fyntrap in die pietersielie. Ek werk ure lank. As dit uitwerk, is dit lekker. Dit het vir my lekker begin word toe ek agterkom dat om die storie vertel te kry ek uit myself moet delf.

“Waar ek nie weet nie, kry ek mense wat wél weet om my te kom help. Ek het die milieu van die wêreld van Spieëlbeeld geken, maar ek moes agter die harde werklikheid kom.”

So skryf Marx: “’n Spieël is ’n vreemde ding, want in ’n spieël leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieël lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag.”

Dolf Eksteen leef in die weelde wat ryk sakemanne as hul reg aanvaar. Die weelde kom teen ’n prys. Dit word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente. Die beeldskone Belinda Eksteen aan sy sy is ’n opkomende vermaaklikheidster. Sy is soos ’n emosionele en finansiële tikkende tydbom aan sy sy. Joe Minnie se opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak.

’n Groot aantal karakters – ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap – word verweef met die intriges van hierdie sosiale substrata van ’n gure milieu van onaantasbares, die onderduimses en die verdruktes. Marx bied psigologiese karakterstudies van sleutelfigure wat jou lank bybly – meesleurend, boeiend en intens.

’n Boeiende subtema is rondom ’n eertydse Johannesburgse Afrikaanse kultuurstrewe, lidmaatskap van “Afrikaans Eerste” en taalstryders wat in die “Maggie-kamer” vergader. “Die nege taalstryders sit bewegingloos stroef soos vaalgeel geskilderde portrette onder die unieke en kleurryke versameling jeugdige Maggie Laubsers.” Hier vind die “nimmereindigende gevegte oor die behoud van Afrikaans plaas.”

Vir dr Dolf Eksteen is die “vyand van die taal” die Afrikaansprekende. Hy sê: “Jy kan nie hofbevele afdwing om die harte van mense te verander nie.”

Teenoor hierdie “behoudendes” is dit interessant hoe Marx gemengde tale in die narratief inwerk. So betrek hy die “deursnee”-Suid-Afrikaners, maar vang sy leser om hom die speurder in hierdie spanningsverhaal te maak.

Dit is deurleefde gegewens en breër ervaring wat Marx aanwend om volbloed karakters te skep waarom hierdie verhaal wentel. So skep hy ook ’n visuele konteks waarin die milieu en die karakters realisties voor die leser geteken staan.

Ons draai weer terug na die tyd toe Franz as leerling aan die Hoërskool Windhoek en die Sentrale Hoërskool Bloemfontein, waar hy matrikuleer het, was. Twee sjielings en ses pennies, oftewel ’n halfkroon, was die “going rate” om ’n opstel te skryf. “Ek het graag ander se opstelle geskryf en toe reeds besef dat om te skryf vir my ’n inkomste kan inbring.”

In sy eerste jaar op Stellenbosch (1961) skryf hy ’n roman. Hy onthou dat hy ’n Olivetti-tikmasjien as verjaarsdaggeskenk van sy ma ontvang het en dat hy die manuskrip dubbelspasiëring getik het. “Toe ek klaar is, het ek begin rondkyk waarheen ek dit kon stuur vir my ‘twee-en-ses’. Ek lees iewers dat APB (Afrikaanse Pers-Boekhandel) prosamanuskripte soek.

“Ek stuur dit en kry toe ’n brief van ene BJ Smit, die uitgewer, wat sê dat dit vir publikasie aanvaar word. Ek sweef op die wolke en geen vier dit by die ou Jakaranda Kafee. Intussen het ek al vir Sarie (Marais) onder ’n skuilnaam ’n kortverhaal of twee geskryf.

“Ek studeer daardie tyd onder (DJ) Opperman en (JC) Kannemeyer. Hulle weet nie van my roman nie. Toe vind ek uit BJ Smit is Bartho, die dramaturg van Die verminktes en Moeder Hanna en ek is heel begeesterd. Ook hoor ek Chris Barnard is toe ’n jong outjie by die uitgewery en ek is net die hond se snor.

“Weke gaan verby, Ronnie Belcher bied ’n lesing aan van FE Malherbe se stadsroman en die nuus van my aanvaarde manuskrip bereik Opperman. Deur Ronnie kom die boodskap terug na my: ‘Moenie publiseer nie.’

“Plat geslaan en ’n knou vir ’n jong ou se selfbeeld, maar Opperman bied aan om self met Bartho te praat. Dit was nie die tyd vir só ’n debuut nie.”

Dit was immers die geboorte van die Sestigers met Jan Rabie se 21 as ’n draaipunt in die “lokale realisme” van die tyd. Wat vooraan was, was André P Brink se Lobola vir die lewe en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins. (Terloops, Opperman was in hierdie tyd literêre redakteur van Human & Rousseau, die uitgewers van die drie Sestigers.)

Die manuskrip is na Franz se laai en hy het nooit weer daarna gekyk nie.

Eers het hy sy roemryke loopbaan as verhoogakteur en filmster – ons eerste matinée-idol – gehad. Later het hy self draaiboeke geskryf en as regisseur en vervaardiger het hy ’n indrukwekkende lys films op sy naam.

Tussendeur het hy stories vir die laai geskryf. In die 1980’s vra die SAUK Televisiediens of hy ’n draaiboek het. Hy sou ook self moontlik as vervaardiger kon optree.

“Om die skeiding tussen my akteurswerk en skryf te bring, kry ek ’n vakansieplekkie in Margate, bring my ou lessenaar daarna toe en vind weer die ou vergeelde manuskrip in die laai – my befaamde stadsroman wat twee dekades vroeër teruggetrek is.”

Hy trek dit weer nader.

“Ek begin tonele uitwerk, dramatiseer tonele en skryf dialoog en dit word die dramateks Die buitestaander.” Franz onthou dat hy die teks “vinnig geskryf” het. Die manuskrip of die draaiboek bestaan nie meer nie. In 1986 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se SAUK-prys vir Televisiedramas vir die draaiboek.

Foto van Franz Marx: Nic de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top