Spesiale nuusbrief: Ondersteun ons protes teen die dreigende kopiereghervorming

  • 1

Beste lid van PEN Afrikaans

Die bestuur van PEN Afrikaans het reeds in 'n vorige spesiale nuusbrief op 9 Junie 2017 daarop gewys dat die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017, groot gevare vir skrywers en uitgewers inhou.

Ons het intussen in oorleg met die kopieregkonsultant Catrina Wessels 'n skriftelike voorlegging voorberei wat ons voor die sperdatum vir kommentaar (7 Julie 2017) in samewerking met PEN South Africa aan die Porfeuljekomitee op Handel en Nywerheid sal voorlê.

Ons versoek jou hiermee om die belang van hierdie kommentaar te beklemtoon deur jou naam, of dié van jou organisasie/uitgewery/onderneming, ter ondersteuning hieraan te koppel. Die lys van ondersteuners sal saam met die kommentaar ingelewer word. 

Die Afrikaanse weergawe van ons kommentaar is hier op ons webportaal beskikbaar; die Engelse weergawe hier. Jy kan op enige een van hierdie bladsye jou ondersteuning aandui en ook ons kommentaar op die wetsontwerp verder op sosiale media deel. 

Help ons asseblief om stem dik te maak oor hierdie blatante poging tot die onteiening van intellektuele eiendom.

Met vriendelike groete
Danie Marais
Bestuurder: PEN Afrikaans

Hier is die Afrikaanse weergawe van ons voorlegging aan die Portefeuljekomitee:

Kommentaar deur PEN Afrikaans op die
WYSIGINGSWETSONTWERP OP OUTEURSREG, 13 VAN 2017
Ingedien vir aandag: Me. J Fubbs
(Voorsitter: Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid)
Per e-pos: 
ahermans@parliament.gov.za

Inleiding

PEN Internasionaal, die wêreld se voorste outeursvereniging, is ’n nie-politiese organisasie wat Spesiale Raadgewende Status by die Verenigde Nasies geniet, en Geassosieerde Status by UNESCO. Dit is gemik op die bevordering van letterkunde en die beskerming van vryheid van uitdrukking op ’n internasionale vlak. PEN Afrikaans ondersteun hierdie doelwitte en is daarop toegespits om as drukgroep op te tree vir die regte van outeurs, joernaliste en uitgewers, soos en waar nodig. PEN Afrikaans is ’n vereniging van outeurs, joernaliste en uitgewers wat, deur lidmaatskap aan PEN Internasionaal, sy lede in ’n internasionale konteks verteenwoordig. PEN Afrikaans se ledetal bestaan uit outeurs wat in die Afrikaanse taal in alle genres en kategorieë skryf en publiseer. PEN Afrikaans verteenwoordig outeurs wat vir die algemene handelsmark skryf (fiksie, niefiksie, en kinder- en jeugboeke), opvoedkundige werke soos skoolhandboeke, asook akademiese en vakkundige publikasies.

PEN Afrikaans is oortuig dat verskeie van die wysigings aan die Wet op Outeursreg, 98 van 1978 (hierna “die Wet”), wat deur die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, 13 van 2017 (hierna “die Wetsontwerp”) voorsien word, ’n regstreekse en nadelige uitwerking op sy lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal hê. Daarom aanvaar PEN Afrikaans die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid (“die Komitee”) se uitnodiging aan belanghebbendes om geskrewe kommentaar op die Wetsontwerp in te dien, en lê hiermee sy kommentaar voor.

Omvang

Selfs met die uitstel van die sperdatum vir skriftelike voorleggings tot 7 Julie 2017, is PEN Afrikaans van mening dat belanghebbendes nie voldoende tyd gegun is om behoorlik met die inhoud van die Wetsontwerp om te gaan en daarop te reageer nie. Hierdie voorlegging is daarom nie ’n omvattende en afdeling-per-afdeling kommentaar op die Wetsontwerp nie, maar eerder ’n uiteensetting van die hoofoorwegings wat PEN Afrikaans se lede, en Suid-Afrikaanse outeurs in die algemeen, sal raak. 

Verskeie ander belanghebbendes het meer gedetailleerde analises van die Wetsontwerp ingedien, met voorstelle van hoe die teks verbeter kan word. PEN Afrikaans doen ’n beroep op die Komitee om noukeurig te let op daardie voorstelle, aangesien dit duidelik is dat die Wetsontwerp deurtrek is van foutiewe terminologie en opstelfoute wat tot beduidende regsonsekerheid sal lei indien dit ongewysigd as wetgewing bekragtig word. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om spesifieke aandag te skenk aan die skriftelike voorlegging van die Anton Mostert Leerstoel vir Intellektuele Goederereg, ’n afdeling van die regsfakulteit van die Universiteit Stellenbosch.

Opsomming

Die toekenning van ’n reeks uitsluitlike regte aan die outeursreghouer dien as aansporing aan skrywers en die groter kreatiewe bedrywe om hul talente en vaardighede in te span om nuwe werke te skep tot almal se uiteindelike voordeel. Outeursreg stel skrywers in staat om inkomste uit hul skeppende werk te verdien. Die instelling van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg sal skrywers ontmoedig om boeke te skryf, en uitgewers ontmoedig om die finansiële risiko te loop om boeke te publiseer, aangesien dit ’n klimaat skep waarbinne die vrye kopiëring van outeursregwerke vir ’n wye verskeidenheid doeleindes toegelaat word. Ander besware is die voorgestelde verswakking van morele regte en die staat se toe-eiening van die outeursreg in alle staatsbefondsde outeursregwerke. PEN Afrikaans sien hierdie wysigings as onverstandig en versoek die Komitee om te heroorweeg.

Ons maak verder melding van die volgende:

1. Toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek

PEN Afrikaans verwelkom die voorgestelde toevoeging van die reg op kommunikasie aan die publiek as ’n eksklusiewe reg van outeursreg. Die reg van kommunikasie aan die publiek word beskou as die ekwivalent van die reproduksiereg in ’n internet-omgewing. As sodanig verteenwoordig die insluiting daarvan ’n belangrike stap om Suid-Afrika se outeursregwetgewing by te werk om in tred te bly met die digitale era. PEN Afrikaans moedig die Komitee aan om ook die eksklusiewe verspreidingsreg by te voeg.

2. Instel van uitgebreide uitsonderings op en beperkings van outeursreg

Die instel van uitgebreide uitsondersings op en beperkings van die ekslusiewe regte van outeursreg is ’n uiters kommerwekkende aspek van die wetsontwerp.  

Hierdie uitsonderings sluit in: 

  • ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes

Baie skrywers verdien hul brood en botter uit skryfwerk vir die opvoedkundige mark. Die opvoedkundige mark is ’n werkende mark en by verre die grootste sektor binne die boekuitgewersbedryf. Om toe te laat dat boeke vrylik gekopieer mag word en outeursregmateriaal sonder toestemming by kursuspakkette ingesluit mag word in plaas daarvan om opvoedkundige instansies aan te moedig om eksemplare van boeke aan te koop of lisensies te bekom om outeursregwerke te reproduseer, sal skrywers se vermoë om ’n bestaan te maak uit skryfwerk vir die opvoedkundige en akademiese markte drasties beperk.

  • ’n “Billike gebruik”-verweer en outeursreg-uitsondering vir die uitbreiding van toegang aan onderbediende bevolkingsgroepe (“underserved populations”)

Hierdie toevoeging sal aansienlike regsonsekerheid veroorsaak. Daar is geen definisie van “onderbediende bevolkingsgroepe” in die Wetsontwerp nie. Eweneens gee die Wetsontwerp ook geen aanduiding van wie op hierdie manier toegang kan “uitbrei” en wat dit presies beteken nie. Wat wel duidelik is, is dat daar nie sprake sal wees van outeurstoestemming of -vergoeding wanneer werke gereproduseer word om “onderbediende bevolkingsgroepe” se toegang te vergroot nie. Hierdie uiters breë uitsondering is oop vir uitbuiting ten koste van outeurs.

Onderwys en navorsing is ongetwyfeld belangrike beleidsoorwegings, en PEN Afrikaans ondersteun die reg op toegang tot inligting ten volle. PEN Afrikaans maak egter beswaar teen die voorgestelde verswakking van outeursregbeskerming om hierdie doelwitte te bereik.

Dit is verder hoogs onwaarskynlik dat die uitgebreide uitsonderings wat deur die Wetsontwerp voorsien word, voldoen aan die vereistes van die internasionale verdrae waartoe Suid-Afrika as ondertekenaar verbind is. Enige uitsonderings of beperkings wat tot die Wet bygevoeg word, moet in ooreenstemming wees met die drie-stap-toets wat in die Berne Verdrag uiteengesit is. Dit vereis dat enige uitsonderings beperk moet wees tot “sekere spesiale gevalle wat nie in stryd is met die normale ontginning van die werk nie, en wat nie die regmatige belange van die outeursreghouer onredelikerwys benadeel nie”.1

3. Staatsbefondsde werke

Die Wetsontwerp voorsien dat outeursreg met betrekking tot staatsbefondsde werke outomaties by die staat sal berus. Die vlak van befondsing word egter nie omskryf nie. Dit sal onredelik wees vir die staat om beslag te lê op outeursregwerke op grond daarvan dat enige vorm van befondsing bygedra is.

4. Inmenging met kontraktuele bepalings

PEN Afrikaans teken beswaar aan teen die oogmerk om verpligte en standaard kontrakbepalings voor te skryf vir ooreenkomste wat in terme van die Wet aangegaan word. Hierdie oormatig wye bewoording sal die outeur se vermoë beperk om die vrugte van sy of haar arbeid deur lisensiëringsooreenkomste te ontgin. Die Wetsontwerp bepaal verder dat kontraktuele bepalings wat gemik is op die inperking van die wye uitsonderings op en beperkings van outeursreg onafdwingbaar sal wees. Die outeur se vermoë om sy of haar werk te kommersialiseer word hierdeur belemmer.

5. Verswakking van morele regte

Artikel 19 van die Wetsontwerp stel wysigings voor aan Artikel 20 van die Wet, wat die outeur se morele regte bepaal. Die voorgestelde wysiging ontneem outeurs van die geleentheid om hulle op hul morele regte te beroep indien enige van die outeursreg-uitsonderings of -beperkings ter sprake is. Hierdie beperking is ongemotiveerd en behoort summier geskrap te word.

6. Impak op die boekuitgewersbedryf in Suid-Afrika

PEN Afrikaans is uiters besorgd oor die feit dat daar versuim is om ’n onafhanklike ekonomiese impakstudie te doen oor die moontlike uitwerking van die beoogde instelling van ’n outeursreg-uitsondering vir opvoedkundige doeleindes. Ervarings in ander regsgebiede dui op ’n potensieel rampspoedige ekonomiese impak op die boekuitgewersbedryf. Met inagneming van die simbiotiese verhouding tussen die twee partye, sal die skade aan uitgewers noodwendig ook skrywers tref, veral dié skrywers wat hul bestaan maak uit die skep van materiaal vir opvoedkundige en akademiese doeleindes.

PEN Afrikaans verskil sterk van die volgende stelling in die Memorandum oor Doelwitte van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg:

“Daar word ook in die vooruitsig gestel dat die voorgestelde wetgewing outeurs [...] sal beloon en aanspoor.”

In vele opsigte is die teenoorgestelde waar. Die Wetsontwerp stroop skrywers van hul regte en ontneem hulle van geleenthede om met hul skryfwerk vergoeding te verdien. PEN Afrikaans beveel sterk aan dat die Wetsontwerp heroorweeg en hersien word om die belange van outeurs en die kreatiewe bedrywe te beskerm en te dien.

Laat weet gerus indien u verdere terugvoer namens outeurs verlang. PEN Afrikaans sal graag aan verdere gesprek deelneem. ’n Effektiewe outeursregstelsel is van uiterse belang vir lede van PEN Afrikaans, en ook vir skrywers in die algemeen.

Die uwe,

Kerneels Breytenbach

Voorsitter: PEN Afrikaans

1 Art. 9(2) Berne Convention, Art. 13 TRIPS, Art. 10 WIPO Copyright Treaty.

  • 1

Kommentaar

  • Linda raubenheimer

    Dankie vir die inisiatief ... die publiek is al skuins vuisvoos met die aanslae op ons VRYHEDE en REGTE.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top