
Foto: Pexels
“It has been argued that secrecy will have an adverse effect on family relationships and, consequently, on the child. However, as far as the present evidence goes, this belief has proven to be false in the case of donor conception.” (Pennings 2017:971)
Die professionele praktyk van kunsmatige inseminasie met skenkersperm (KIS) het merkwaardige ontwikkeling oor die afgelope dekades getoon. Dié prosedure kan ’n welkome uitkoms bied waar sensitiewe vrugbaarheiduitdagings of infertiliteitskwessies onverwags in verhoudings ter sprake kom. Benewens die mediese en etiese oorwegings rondom KIS kom die kwessie van openbaarmaking van die geboortegeskiedenis teenoor geheimhouding daaroor deesdae as ’n kernpunt in die debat oor KIS na vore.
Hierdie artikel het hoofsaaklik ten doel om die ingewikkeldheid van besluitneming inherent aan hierdie diskoers te ontleed. Die implikasies van deursigtigheid versus anonimiteit geld vir alle partye wat by die KIS-besluit betrokke is, sowel as die nageslagte wat verwek word. Etiese, sielkundige en regsimplikasies kom ter sprake en die veelfasettige aard van openbaarmaking (of geheimhouding) is kompleks. ’n Ingeligte benadering wat die welstand en regte van alle betrokke partye prioritiseer, is van deurslaggewende belang.
Die toepassing van KIS binne die konteks van geassisteerdevoortplantingstegnologie (Assisted Reproductive Technology, of ART) behels die professionele en kliniese bestuur van ’n reeks kritieke veranderlikes wat binne ’n dinamiese en komplekse sisteemverband funksioneer. Skenkerspermatosoa word (onder andere) gebruik tydens intra-uterus-inseminasie (IUI-S), intraservikale inseminasie (ISI-S) en intravaginale inseminasie (IVI-S), wat as in vivo-fertiliseringsprosedures bekendstaan.
Ten einde die onderwerp vir die doel van hierdie bondige bespreking realisties en sinvol af te baken, word hier slegs verwys na heteroseksuele pare wat van KIS gebruik maak as ’n behandelingstrategie om ’n infertiliteitsprobleem binne die konteks van hul verhoudings op te los.
Skenkerinseminasie is lank reeds ’n bekende behandelingstrategie vir manlike onvrugbaarheid wat by heteroseksuele paartjies presenteer (Kuji en Daniels 2023). Aanvanklik het ouers (in die meeste lande wêreldwyd) nie inligting met hul kinders gedeel oor die kinders se biologiese herkoms nie (nie-openbaarmaking). Die skenker se identiteit was ook ontoeganklik vir beide die ouers en die nageslagte (skenkeranonimiteit).
Dit kon egter wel onverwags gebeur dat ’n kind op ’n later stadium heel toevallig ontdek dat hy/sy deur middel van skenkerinseminasie gebore is. ’n Familielid sou byvoorbeeld die inligting onverhoeds of onnadenkend kon laat uitglip, of een van die ouers kan die kind(ers) daaroor inlig na afloop van ’n egskeiding of die dood van ’n eggenoot/eggenote.
........
Indien die ouers die bekendmaking oor die gebruik van ’n spermskenker sou uitstel totdat die kinders reeds volwassenes is, kan die feit dat die proses geheim gehou is, ernstige emosionele reaksies, selfs konflik, ontlok.
........
Indien die ouers die bekendmaking oor die gebruik van ’n spermskenker sou uitstel totdat die kinders reeds volwassenes is, kan die feit dat die proses geheim gehou is, ernstige emosionele reaksies, selfs konflik, ontlok. Deskundiges beveel gevolglik aan dat besluite oor die gebruik van skenkers in hierdie verband vroegtydig en openlik gekommunikeer behoort te word. Verder het verskeie lande reeds hul beleidsdokumente in verband met anonieme spermskenkings gewysig. Dit kom daarop neer dat anonieme skenkings in hierdie lande nie meer toelaatbaar is nie, weens ’n drastiese toename in die publieke aanvraag en aandrang om betroubare inligting oor spermskenkers te bekom.
’n Verdere onlangse ontwikkeling is die moontlikheid vir alle rolspelers (naamlik die skenkerverwekte nageslagte, ontvangers van spermskenkings asook die spermskenkers self) om die betrokke skenkerpartye deur middel van die beskikbaarheid van genetiese databasisse op te spoor. ’n Verdere ingrypende verandering is die toepassing van draersiftingtoetse op gameetskenkers. Draersiftingtoetse (met ander woorde die identifisering van draers van geneties oordraagbare siektes) bring veral regskwessies (verskillende interpretasies van regsreëls) en etiese kwessies (moontlike gevolge vir spermskenkers) na vore (Pennings ea 2021).
Daar is ’n wesenlike behoefte aan meer en deeglik gekontroleerde navorsing oor die psigososiale faktore voortspruitend uit KIS-behandeling, veral wat die voornemende ouers se rolle en houdings behels jeens die uitweg om die dienste van ’n skenker te benut al dan nie. Sälevaara ea (2013) beweer dat mans wat van skenkersperm afhanklik is vir vaderskap, meer geheimsinnig is oor die proses as vroue wat die geboorteproses moet deurvoer. Mans is ook minder geneig om aan ouervoorligtingsprogramme oor ouerskap wat uit KIS voortspruit, deel te neem. Dit is te verstane, omdat mans met ’n diagnose van infertiliteit of steriliteit slegs op sosiale vaderskap, teenoor biologiese vaderskap, kan aanspraak maak.
Voorbeelde van enkele navorsingstudies
- Op grond van ’n retrospektiewe studie in die Väestöliitto Fertiliteitskliniek, Helsinki, Finland het Sälevaara ea (2013) vraelyste uitgestuur aan 139 moeders en 127 vaders van kinders wat deur middel van KIS gebore is. Slegs 16,5% van die ouerpare het hul kinders ingelig oor hul ware biologiese herkoms. Ouers met ouer kinders was minder gewillig om die vertroulikheid rondom KIS te verbreek as ouers met jonger kinders. Die beskikbaarheid van sielkundige ouervoorligtingsprogramme voor KIS het daartoe bygedra om beter begrip te vestig in verband met die belangrikheid van openbaarmaking. Dit word aanbeveel dat persone wat ouers word na afloop van KIS, verdere sielkundige voorligting/psigoterapie behoort te ontvang na die babas se geboorte.
- Lampic ea (2021) wys daarop dat alhoewel kinders wat deur middel van KIS gebore is, die reg het om te weet wie die skenker was, openbaarmaking hiervan vir baie ouerpare ’n enorme uitdaging is. In hul Sweedse longitudinale studie oor gameetskenking is ouerpare gewerf wat tussen 2005 en 2008 KIS-behandeling by sewe infertiliteitsklinieke ontvang het. Die deelnemers is versoek om vier aanlyn vraelyste oor die volgende 10 jaar te voltooi. Meer as 50% van die ouerpare het reeds die inligting oor skenkerinseminasie aan die kinders bekendgemaak. By die ouers wat nog steeds geheimhouding gehandhaaf het, was daar ’n positiewe verband tussen die opvatting dat openbaarmaking positiewe gevolge sal inhou aan die een kant en dat openbaarmaking in ooreenstemming is met sosiale norme. Hierteenoor is bevind dat hoe minder die selfvertroue van die ouers was om die kwessie aan te roer, hoe minder was die intensie om die openbaarmakingsproses te inisieer.
- Lassalzede ea (2017) het die responspatrone van 105 pare ontleed wat kinders gehad het wat uit die gebruik van skenkerspermatosoa voortgespruit het na infertiliteitsbehandeling by ’n universiteitshospitaal. 38% van die deelnemers het reeds die skenkeroorsprong aan hul kinders bekendgemaak. 62% het dit nog nie gedoen nie. Van die respondente wat wel die skenkeroorsprong bekendgemaak het, het 93% reeds die besluit geneem voordat van geassisteerdevoortplantingstegnologie gebruik gemaak is. In die geval van respondente wat ten tye van die opname nog nie hul kinders ingelig het nie, het 65% beplan om dit binnekort te doen, maar 31% het verkies om die spermoorsprong geheim te hou. Van diegene wat die oorsprong vertroulik wou hou, het bykans die helfte reeds ander persone oor die gameetskenking ingelig. Hulle het egter nie hulle kinders ingelig nie en hulle was ook nie van voorneme om dit wel in die toekoms te doen nie.
- Spanning en angs word geassosieer met geheimhouding binne gesinne in die konteks van gameetskenking en gesinsbou (Daniels ea 2011). Hierdie Nieu-Seelandse navorsers het die persepsies en houdings van ouers wat die gebruik van skenkerinseminasie in hul gesinsverband geheim gehou het, bestudeer. Indringende onderhoude is gevoer met heteroseksuele ouers (44 gesinne word verteenwoordig) wat tussen 1983 en 1987 geboorte geskenk het aan kinders wat via skenkerinseminasie verwek is. Hierdie reeks onderhoude was deel van ’n opvolgstudie, met die eerste onderhoude wat gevoer is toe die kinders tot sewe jaar oud was. Kwalitatiewe inligting is verkry met ’n subgroep uit 12 ouers (wat sewe gesinne verteenwoordig) wat op daardie stadium van voorneme was om hul kinders in te lig. Die oorwoë mening was dat die (nou volwasse) kinders beslis vroeër ingelig moes gewees het, maar die ouers se deursettingsvermoë en oortuiging het hulle telkens begewe. In die meeste gevalle het die kinders reeds voorheen tentatiewe vrae begin vra oor die aanwesigheid van moontlike genetiese diskonneksies (perceived genetic disconnections) tussen hulself en hul ouers.
........
Omdat die gebruik van skenkerinseminasie vir die nasate geheim gehou is, het ’n nadelige chroniese stressituasie met verloop van tyd vir hierdie ouers ontwikkel. Ten spyte van geheimhouding kan kinders ook spontaan bewus word van ’n genetiese diskonneksie wat binne gesinsverband bestaan.
........
Omdat die gebruik van skenkerinseminasie vir die nasate geheim gehou is, het ’n nadelige chroniese stressituasie met verloop van tyd vir hierdie ouers ontwikkel. Ten spyte van geheimhouding kan kinders ook spontaan bewus word van ’n genetiese diskonneksie wat binne gesinsverband bestaan.
- Pennings (2017) het probeer vasstel of enige beduidende, meetbare en stabiele verskille voorkom in die sielkundige funksionering van skenkernasate wat wel ingelig is oor hul genetiese herkoms, in vergelyking met dié wat nie ingelig is nie. Volgens Pennings is die antwoord hierop eenvoudig en onomwonde “nee”. Gegewe die gebrek aan objektiewe bewyse is die huidige riglynstandpunt oor openbaarmaking in wese ’n moreel-etiese opvatting wat hoofsaaklik op deontologiese argumente gebaseer is. (Deontologiese etiek postuleer dat sommige handelinge moreel verpligtend is, ongeag die gevolge daarvan vir menslike welsyn.) Die afwesigheid van objektiewe bewyse van skade weens geheimhouding aan kinders wat deur middel van KIS gebore is, behoort in ’n pluralistiese samelewing ’n rede vir selfbeheersing en versigtigheid (restraint) te wees.
Wat beraders, praktisyns en sielkundiges betref, word selfbeheersing sterk deur die beginsel van nierigtingewendheid ondersteun. Die morele oortuigings van die ouers moet altyd gerespekteer word. Daar kan wel grondige redes bestaan waarom openbaarmaking van genetiese herkoms belangrik is, maar dit sluit nie die beste belang van die kind in nie.
Perspektiewe van nasate
Die bevindings van ’n beperkte getal studies oor die perspektiewe van persone wat deur middel van spermskenkings gebore is (Skoog-vanberg ea 2020), dui daarop dat diegene wat wel bewus is van hul skenkerkonsepsie, sterk gemotiveerd is om kontak met hul skenkers te maak, en dat die meeste skenkers wel bereidwillig is om hierdie kontakte toe te laat.
In aansluiting hierby kom ’n Australiese navorsingsgroep (Rodino ea 2011) tot die gevolgtrekking dat ’n proefgroep skenkerverwekte individue wie se response kwalitatief ontleed is, ’n definitiewe belangstelling toon om meer te wete te kom van hul spermskenkers se eie familiestambome.
........
Almal het laat blyk dat die ontwikkeling van persoonlike sin en betekenis wat hul spermskenkerkonsepsie-agtergrond betref, van wesenlike belang is, asook om die gebeurtenis in hul gesinslewens en selfkonsepte te integreer.
........
Volgens Canzi ea (2019) is inligting oor die genetiese bande wel ’n saak van belang vir individue wat met behulp van spermskenkings gebore is, veral tydens laat adolessensie en vroeë volwassenheid. ’n Beduidende persentasie van die groep skenkernasate wat as respondente gebruik is, wou beslis met hul skenkers kontak maak. Almal het laat blyk dat die ontwikkeling van persoonlike sin en betekenis wat hul spermskenkerkonsepsie-agtergrond betref, van wesenlike belang is, asook om die gebeurtenis in hul gesinslewens en selfkonsepte te integreer. Bo en behalwe blote nuuskierigheid en mediese redes, het die meeste respondente gerapporteer dat hulle met hul skenkers kontak wil maak om hulle sodoende te vergewis van die skenkers se uiterlike voorkoms en hul persoonlikheidstipe, en om sodoende toegang te verkry tot hul eie biologiese herkoms en genetiese geskiedenis.
Van die 528 respondente wat deur middel van spermskenkings gebore is (Siegel ea 2022), het 40% dit oorweeg om self van spermskenkers se dienste gebruik te maak indien hulle in die toekoms nie spontaan swanger sou kon raak nie. 24,6% was besluiteloos oor hierdie kwessie. Diegene wat onseker was oor die moreel-etiese aspekte van spermskenkerswangerskappe, was aansienlik jonger (26 teenoor 31 jaar, p < 0,001) en ongetroud (32,7% teenoor 47,3%, p < 0,001), in vergelyking met diegene wat wel die gebruik van spermskenkers oorweeg het.
Samevatting
Die debat rondom openbaarmaking teenoor nie-openbaarmaking van mediese geskiedenisse aan nageslagte wat met behulp van spermskenkerinseminasie gebore word, is ’n komplekse en veelfasettige kwessie, met belangrike verbandhoudende etiese, sielkundige en wetlike implikasies. Terwyl voorstanders van openbaarmaking argumenteer ten gunste van die regte van die nasate om toegang tot hul genetiese oorsprong en mediese geskiedenis te verkry, opper teenstanders hul bekommernis oor moontlike sielkundige trauma vir en ontwrigting van die gesinsdinamika. Die gesinsterapieprofessie voeg ook ’n verdere argument by, naamlik dat geheimhouding gesonde kommunikasiepatrone tussen gesinslede bedreig en daartoe aanleiding gee dat sommige gesinslede van ander gedistansieer word.
........
Uiteindelik moet die besluit om inligting bekend te maak of te weerhou benader word met noukeurige oorweging van die beste belange van die gesin, binne die konteks van empiriese navorsing, etiese beginsels en wetlike raamwerke.
........
Dit blyk ook dat individue met ’n spermskenkergeboortegeskiedens wel ’n behoefte toon om kontak met hul skenkers te maak. Sinvolle integrasie van die dinamika van hierdie belangrike gebeurtenis in die selfkonsep is van besondere belang.
Uiteindelik moet die besluit om inligting bekend te maak of te weerhou benader word met noukeurige oorweging van die beste belange van die gesin, binne die konteks van empiriese navorsing, etiese beginsels en wetlike raamwerke.
Verdere interdissiplinêre navorsing plaaslik en internasionaal oor hierdie onderwerp is ’n dringende prioriteit.
Die beperkte aard en omvang van die inhoud, asook die feit dat die toepaslike literatuur selektief hanteer is, is die vernaamste tekortkominge van hierdie skryfstuk. Terselfdertyd is daarteen gewaak om ’n komplekse onderwerp op ’n oplossingsgedrewe wyse te hanteer.
Bibliografie
Canzi, E, M Accordini en F Facchin. 2019. “Is blood thicker than water?” Donor conceived offspring’s subjective experiences of the donor: a systematic narrative review. RBMO, 38(5): 797-801. https://www.rbmojournal.com/article/S1472-6483(19)30013-6/pdf.
Daniels, KR, VM Grace en WR Gillett. 2011. Factors associated with parents’ decisions to tell their adult offspring about the offspring’s donor conception. Human Reproduction, 26 (10):2783–90. https://academic.oup.com/humrep/article/26/10/2783/609655.
Kuji, N en K Daniels. 2023. Donor insemination for heterosexual couples: a practice in transition. Reproductive Medicine and Biology, 22:e12496. https://doi. org/10.1002/rmb2.12496.
Lampic, C, A Skoog-vanberg, K Sorjonen en G Sydsjö. 2021. Understanding parents' intention to disclose the donor conception to their child by application of the theory of planned behaviour. Human Reproduction, 36(2):395–404. DOI: 10.1093/humrep/deaa299. PMID: 33367734; PMCID: PMC7829471.
Lassalzede, T, M Paci, J Rouzier, S Carez, A Gnisci, J Saias-Magnan, C Deveze, J Perrin en C Metzler-Guillemain. 2017. Sperm donor conception and disclosure to children: a 10-year retrospective follow-up study of parental attitudes in one French center for the study and preservation of eggs and sperm (CECOS). Fertility and Sterility, 108(2):247–53. https://doi.org/10.1016/j.fertnstert.2017.06.001.
Pennings, G. 2017. Disclosure of donor conception, age of disclosure and the well-being of donor offspring. Human Reproduction, 32(5):969–73. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/28333327.
Pennings, G, E Mocanu, J Rothmar-Herrmann, A Skytte, C Burke en A Pacey. 2021. Attitudes of sperm donors towards offspring, identity release and extended genetic screening. Reproductive BioMedicine Online, 43(4):700–7. https://doi.org/10.1016/j.rbmo.2021.06.025
Rodino, IS, PJ Burton, KA Sanders. 2011. Donor information considered important to donors, recipients and offspring: an Australian perspective. Reproductive BioMedicine Online, 22:303–11. https://doi.org/10.1016/j.rbmo.2010.11.007
Sälevaara, M, AM Suikkari en V Söderström-Anttila. 2013. Attitudes and disclosure decisions of Finnish parents with children conceived using donor sperm. Human Reproduction, 28(10):2746–54. DOI: 10.1093/humrep/det313. Epub 2013 Aug 1. PMID: 23906900.
Siegel, DR, J Sheeder, W Kramer en C Roeca. 2022. Are donor-conceived people willing to use donors themselves? Insights from individuals conceived via donor-assisted reproduction. Human Reproduction, 37(9): 2087-94. https://doi.org/10.1093/humrep/deac169. Donor information considered important to donors, recipients and offspring: an Australian perspective. Reproductive BioMedicine Online
Skoog-vanberg, A, G Sydsjö en C Lampic. 2020. Psychosocial aspects of identity-release gamete donation – perspectives of donors, recipients, and offspring. Upsala Journal of Medical Sciences, 125(2):175–82. https://doi.org/10.1080/03009734.2019.1696431. file:///C:/Users/hjb/Downloads/5671-Article%20Text-37021-1-10-20201022%20(1).pdf.

