Teks: Nicholas Spagnoletti
Regie: Matthew Wild
Spelers: Nicholas Dallas, Chi Mhende en Gideon Lombard
Special thanks to guests from afar – solui die bekende troudag-sêding, asook die titel van hierdie produksie op die Nasionale Kunstefees se lys.
Twee ou vriende ontmoet mekaar weer by ? gemeenskaplike kennis se troue in Duitsland. Tabisa (Chi Mhende), ? suksesvolle besigheidsvrou wat in Zürich werk, en haar beste vriend, Luke (Nicholas Dallas), ? gay professor in ekonomie by UK, stry aan en af oor Luke se steeds gebroke hart vanweë ? verhouding wat lank tevore skeefgeloop het en Tabisa se besluit om haar oorsee te vestig. Gedurende hulle besoek aan Duitsland raak hulle bevriend met die bruidegom se broer, Markus (Gideon Lombard), ? Duitse fisioterapeut. Die twee vriende vind hom albei onweerstaanbaar, maar die feit dat hy van nie een van hul meer as net ? eerlike vriendskap verlang nie, kompliseer dinge nog verder.
Die sukses van die produksie se regie lê in die gemak waarmee die akteurs met mekaar omgaan om aan ? baie realistiese en gemaklike vriendskap lewe te gee. Al drie akteurs lewer merkwaardige vertolkings, en skep menslike karakters waarmee die gehoor kan identifiseer en mee simpatiseer. Alhoewel die stel sterk bydra tot die skep van die twee vriende se wêreld, is dit by tye effe lomp en vertraag dit toneeloorgange.
Spagnoletti, voorheen bekend vir London Road, kry dit weer reg om ? eenvoudige storie oor vriendskap en kameraadskap met baie waardigheid te vertel. Dit is in hierdie eenvoud dat die sukses van sy werk lê en wat, tesame met goeie regie en uitstekende spel, so ? roerende verhaal skep.
Die produksie is tot 6 Julie by die fees te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

