
Foto-erkenning: Gioele Gatto op Pexels, © geen datumbeskikbaarheid, Gioele Gatto, verskyn onder die gratis lisensievoorwaardes van Pexels
Carl Jung: Loneliness is not the absence of people around us, but the inability to express what truly matters within us. – The Economic Times
Friedrich Nietzsche: In loneliness, the lonely one eats himself; in a crowd, the many eat him.
Isolasie en eensaamheid is wêreldwye verskynsels met ’n verskeidenheid sielkundige, maatskaplike en gesondheidsimplikasies, veral indien Jung en Nietzsche se woorde hier bo in aanmerking geneem word. Die doel van hierdie artikel is eerstens om (in die vorm van ’n narratiewe literatuuroorsig) kortliks te verwys na spesifieke teoretiese sienings in hierdie verband. In aansluiting hierby word die wyse waarop die voorkoms van isolasie en eensaamheid met liggaamlike siektes geassosieer word, bespreek, asook die effek wat eensaamheid uitoefen op diegene wat op grond van moreel-etiese oorwegings as informele versorgers optree vir persone met diverse chroniese siektes.
Eensaamheid word deur Petitte ea (2015) gedefinieer as ’n unieke sielkundige konstruk, bestaande uit (hoofsaaklik) negatiewe kognisies en emosies wat voortspruit uit die werklike of waargenome afwesigheid van betekenisvolle persoonlike verhoudings. Kanby ea (2023) sluit hierby aan en wys daarop dat eensaamheid verband hou met subjektiewe emosies wat voortspruit uit ’n persoonlike interpretasie deur die waarnemer dat hy/sy geïsoleerd is, ongeag die mate van sosiale kontak wat beskikbaar is.
Sosiale isolasie gaan nie noodwendig altyd met eensaamheid gepaard nie. Vrywillige isolasie of afsondering (retraite), daarenteen, behels ’n tydperk van alleenwees met die fokus op persoonlike geestelike verdieping.
Cacioppo ea (2014) onderskei tussen drie aanverwante dimensies van eensaamheid, naamlik intieme eensaamheid (’n gebrek aan kontak met opregte vertrouelinge), verhoudingseensaamheid (die afwesigheid van kwaliteitvriendskappe of gesinsbande), en kollektiewe eensaamheid (’n gebrek aan betekenisvolle groepsidentiteit).
Teoretiese beskouings
Enkele voorbeelde van ouer publikasies met isolasie en eensaamheid as tema (De Jong, ea 2006) is Zimmermann se Uber die Einsamkeit, asook Loneliness deur Fromm-Reichman, wat onderskeidelik in 1785 en 1959 verskyn het. In aansluiting hierby kan ook verwys word na die sosiaal-filosofiese teorie van die Nederlandse skrywer Couwenberg (1956). In De vereenzaming van de moderne mens wys hy daarop dat die sentrale probleem van die moderne samelewing nie noodwendig ekonomiese ongelykhede is nie; die kern van die probleem is eerder geleë in die innerlike isolasie wat die mens beleef.
Couwenberg se sentrale argument is dat moderniteit (veral sekularisering, industrialisering, kapitalisme, verstedeliking, rasionalisme en individualisme) geleidelik tradisionele gemeenskapsverhoudings, soos familie- en gesinsbande, godsdiens, woonbuurtverbondenheid en moraliteit erodeer en verswak. Namate die individu meer vryheid en outonomie nastreef, tree sielkundige en geestelike vervreemding in ten opsigte van medemenslikheid, die natuur en die mens self, en uiteindelik vind dit neerslag op religieuse gebied. Eensaamheid word voorgestel as ’n diepgaande morele en sosiale krisis van die hedendaagse Westerse beskawing, en Couwenberg voer aan dat ware menslike vervulling hernude sosiale verbondenheid, gedeelde verantwoordelikheid en geestelike begronding vereis.
In die werk van die Nederlandse historikus en teoloog PJ Bouman, Revolusie van die Eensames (1958), word hierdie redenasie voortgesit deur aan te toon hoe die wêreldgeskiedenis, veral gedurende die dekade van 1900 tot 1950, daartoe gelei het dat massas mense vervreemd en verward begin voel het terwyl hulle na orde en struktuur soek. Die eensaamheid wat deur individue en miljoene mense deur die 20ste eeu ervaar is, het meegewerk om die twee Wêreldoorloë wat die mensdom geraak het, te veroorsaak en te beëindig (Venter s j).
Noreena Hertz gaan in haar meer onlangse boek, The lonely century (Runge 2024), uit van die standpunt dat eensaamheid epidemiese afmetings aanneem en dat die mensdom tans ’n “eensame eeu” beleef omdat eensaamheid wydverspreid in samelewings voorkom en nie net ’n individuele kwessie is nie. Ekonomiese ongelykheid, werksonsekerheid, stedelike ontwerp en digitale tegnologie is faktore wat tot vereensaming bydra. Eensaamheid voed populisme en ekstremisme, aangesien geïsoleerde individue sterk behoeftes toon om te “behoort” binne die konteks van verdeelde samelewings.
Volgens Hertz is vervreemding in die werkplek ’n sosiaal-ekonomiese verbandhoudende faktor wat solidariteit ernstig benadeel. Die impak blyk duidelik uit die feit dat toenemend meer werksgeleenthede in die gig-ekonomie (gekenmerk deur korttermynkontrakte, vryskutwerk en onafhanklike kontrakteurs) beskikbaar is as tradisionele voltydse permanente posisies. Hertz is ook van mening dat ’n verbruikerskultuur wat markgedrewe individualisme en mededingendheid bo samewerking prioritiseer, sosiale verhoudings verswak. Die tegnologieparadoks kom verder daarop neer dat sosiale media geneig is om verbruikers met mekaar te koppel, maar dat fragmentasie terselfdertyd bevorder word omdat hierdie verhoudings eerder oppervlakkig as eg en diepgaande is.
Hertz (anders as Couwenberg) stel eensaamheid voor as ’n sistemiese toestand, kenmerkend van die moderne samelewing, en nie hoofsaaklik as ’n individuele of persoonlike dilemma nie. Sy beklemtoon dat kollektiewe oplossings met die doel om wedersydse vertroue, inklusiwiteit en interpersoonlike verbondenheid te bevorder, die aangewese oplossings is.
Eensaamheid is dus nie in alle opsigte slegs ’n hedendaagse verskynsel nie.
In hierdie verband is ’n interessante gesigspunt dié van Cacioppo, ea (2014). Hierdie Amerikaans-Nederlandse navorsingsgroep maak ’n saak daarvoor uit dat oorerwing en evolusie ’n rol speel in die ervaring van isolasie en eensaamheid.
Eensaamheid word as ’n oorlewingsmeganisme getipeer. In die antieke menslike geskiedenis is oorlewing bepaal deur die mate van samewerking binne en tussen familie- en stamgroepe. Om eensaamheid te ervaar was ’n uiters onwelkome en gevaarlike teken, bykans soos ’n honger- of pynprikkel. Hierdie gewaarwording spoor gevolglik individue aan om sosiale kontak te herstel en sodoende hul kanse op oorlewing en voortplanting te verhoog. Eensaamheid het evolusionêr ontwikkel as ’n soort “sosiale pyn” wat die individu waarsku indien sosiale verhoudings geleidelik aan die verswak is.
Net soos fisieke pyn as motivering dien om die liggaam proaktief te beskerm, motiveer eensaamheid die individu om sosiale verbindings doeltreffend te handhaaf, ’n proses wat absoluut noodsaaklik is vir die instandhouding van goeie gesondheid, veiligheid en aanvaarbare lewenskwaliteit (Cacioppo ea 2014).
Wanneer hierdie outeurs dus verwys na evolusie as ’n faktor wat ’n rol in eensaamheid speel, bedoel hulle dat eensaamheid nie noodwendig ’n menslike tekortkoming of ’n psigopatologiese toestand is nie, maar eerder ’n fisiologiese sein of prikkel is om individue teen die gevare van isolasie te beskerm.
Die reaksie op hierdie gevaartekens is egter nie altyd simplisties nie, soos blyk uit die volgende gevallestudie (Kar-Purkayastha 2010): ’n 82-jarige vrou is in ’n hospitaal opgeneem met geringe simptome wat nie verdere hospitalisasie vereis nie. Alhoewel sy medies geskik was vir ontslag, het sy herhaaldelik nuwe pyne en klagtes gerapporteer, wat die indruk gewek het dat sy poog om haar ontslag uit te stel. Uit gesprekke tussen die pasiënt en dokter het dit duidelik geword dat sy reeds vir 20 jaar ’n weduwee was. Haar kinders het oorsee gewoon en sy het die meeste van haar tyd alleen deurgebring. Namate Kersfees nader gekom het, het sy toenemend bekommerd geraak oor die vooruitsig om na ’n “leë” huis terug te keer. Uiteindelik het sy die ware rede vir haar weerstand teen ontslag onthul as diepgaande eensaamheid. Sy het die dokter op ’n aangrypende wyse gevra: “Dokter, kan u vir my ’n geneesmiddel vir eensaamheid gee?” Die dokter het besef dat haar probleem nie ’n mediese siekte, reaktiewe depressie of fisieke toestand is nie, maar eerder sosiale isolasie en die verlies aan betekenisvolle persoonlike verhoudings.
Die geval illustreer hoe eensaamheid in gesondheidsorgomgewings as verlengde hospitaalverblyf, herhaalde klagtes oor simptome of ’n emosionele krisis kan manifesteer. Dit beklemtoon ook die beperkings van mediese behandeling wanneer die onderliggende probleem sielkundig en eksistensieel is. Verder toon dit hoe hospitale soms toevlugsoorde word vir ouer volwassenes wat sosiaal geïsoleerd is of oor beperkte sosiale netwerke of ondersteuningsbronne beskik.
Chroniese eensaamheid word tans nie as ’n selfstandige diagnostiese entiteit in die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Psigiatriese Siektetoestande (DSM 5-TR) of die Internasionale Klassifikasie van Siektetoestande (ICD-10) aangedui nie, maar wel tydens ’n diagnose aangeteken as ’n simptoom wat by sommige persoonlikheidsversteurings asook kliniese depressie voorkom (Krieger en Seewer 2024). Ter illustrasie word verwys na ’n studie deur Duan ea (2026) waartydens 466 547 persone (met ’n gemiddelde chronologiese ouderdom van 56 jaar en van wie 54% vroue was) se data soos verkry deur die VK se Biobank, ontleed is met betrekking tot die verband tussen die aanwesigheid van isolasie en eensaamheid en die ontwikkeling van multisistemiese siektes. Die belangrikste bevinding was dat die risiko (gevaarverhouding of hazard ratio) ongeveer twee maal groter was om persoonlikheidsversteurings te ontwikkeling wanneer isolasie en eensaamheid aanwesig is as wanneer dit afwesig is.
Kanbay ea (2023) voer aan dat sosiale isolasie en eensaamheid belangrike, maar dikwels onderskatte, risikofaktore vir die ontwikkeling van swakgesondheidspatrone is. Dit dra by tot die ontstaan van chroniese siektes en verhoogde sterftesyfers as gevolg van stres, inflammasie, immuundisfunksies en ongesonde gewoontes.
Na aanleiding van Kanbay ea (2023) se opmerking ontstaan die vraag watter spektrum liggaamlike/fisieke sieketoestande in die wetenskaplike literatuur met isolasie en eensaamheid geassosieer word en wat presies die metodologie behels wat toegepas word om die verwantskap te bewys.
Enkele voorbeelde van fisieke siektes
- Inflammatoriese ingewandsontsteking is ’n chroniese siektetoestand met ’n wye spektrum moontlike oorsake. Diarree, abdominale pyn en ander komplikasies beperk dikwels pasiënte se vermoë om hulle verblyfplekke te verlaat en aan sosiale aktiwiteite deel te neem. Die uitwerking van isolasie en eensaamheid op 218 Turkse pasiënte met ingewandsontsteking is deur Yildirim ea (2025) deur middel van ’n aanlyn werwingsproses ondersoek. 72% van die pasiënte was geïsoleerd en 54% het hoë vlakke van eensaamheid gerapporteer. Die insluitingskriteria was soos volg: Chronologiese ouderdom 18 jaar en ouer, vermoë om Turks te praat en te verstaan, en ’n formele diagnose van ingewandsontsteking moes vir minstens ses maande van toepassing wees. Die uitsluitingskriteria het pasiënte met gevorderde komorbiditeite, soos kanker, diabetes of chroniese obstruktiewe longsiekte, ingesluit. Lineêre regressie-analise (Yildirim ea 2025) het aangedui dat hoë vlakke van eensaamheid en sosiale isolasie betroubare en akkurate voorspellers van negatiewe sielkundige gesondheid was. Die intensiteit van die siektetoestand is as ’n mediatorveranderlike geïdentifiseer, wat die effek van isolasie en eensaamheid op sielkundige gesondheid bepaal het. Met ander woorde, hoe meer intens die fisieke siektetoestand was, hoe groter was die negatiewe effek op sielkundige gesondheid.
- Dit is algemeen bekend dat kardiovaskulêre siekte (KVS) een van die belangrikste oorsake van sterftes wêreldwyd is (Nie ea 2025). Die studie het ten doel om te bepaal of sosiale isolasie en eensaamheid met hierdie siektes geassosieer word; of oorsaaklikheid bestaan tussen sosiale isolasie, eensaamheid en KVS; en of sosiale isolasie die ontwikkeling van KVS bespoedig. ’n Steekproef van individue se data is vanuit die VK-Biobank onttrek. Die data-inskrywings in die rekords het oor ’n mediaanperiode van 12 jaar gestrek. Die individue se vlakke van sosiale isolasie en eensaamheid is met behulp van vraelyste gemeet en dié gegewens was ook op die rekords beskikbaar. Verskillende kardiovaskulêre siektes (soos hartversaking, bloedvatvernouing, hipertensie, miokardiale infarksie, perifere vaskulêre siekte en beroerte) is deur middel van hospitaalopname- en sterftedatarekords geïdentifiseer. Nadat die effek van spesifieke veranderlikes soos demografie, sosio-ekonomiese status en leefstylfaktore statisties uitgeskakel is, is bevind dat die mees geïsoleerde groep persone verhoogde risiko’s vir bykans die volle spektrum kardiovaskulêre siektes getoon het, in vergelyking met die mins geïsoleerde groep. Sosiale isolasie het ook die progressie of ontwikkeling van miokardiale infarksie bespoedig. Hierdie resultate beklemtoon die nadelige invloed van sosiale isolasie en eensaamheid op die voorkoms en ontwikkeling van kardiovaskulêre siektes. Hierdie bevindings word in hoofsaak ondersteun deur ’n studie deur Wang ea (2025) wat op ’n meta-analise gebaseer is.
- Proteomese data van meer as 42 000 volwassenes se mediese rekords soos onttrek via die VK-Biobank is ontleed om die biologiese verband tussen eensaamheid, sosiale isolasie en sekere siektetoestande te ondersoek (Shaw 2025). 175 proteïene is geïdentifiseer wat met sosiale isolasie geassosieer kon word en 26 wat met eensaamheid verband hou. Die resultate dui daarop dat die verhoogde proteïenvlakke in bloedmonsters binne die konteks van eensaamheid en isolasie in verband gebring kon word met die aanwesigheid van inflammatoriese siektes, sowel as immuun- en metaboliese reaksies (Shen ea 2025). Verskeie proteïne kon gekoppel word aan veranderinge in breinareas wat betrokke is by emosionele en sosiale prosessering. Meer as die helfte van hierdie proteïene kon gedurende ’n opvolgperiode van 14 jaar geassosieer word met beroerte, kardiovaskulêre siektes, tipe 2-diabetes en sterftesyfers. Dit word beklemtoon dat hoewel die bevindings statisties op beduidende verband dui, oorsaaklikheid baie moeilik is om te bewys. In hierdie verband meld die epidemioloog dr Michelle Mielke in Shaw (2025): “It has become evident in recent years that social isolation and loneliness are associated with an increased risk of a variety of diseases, but we don't necessarily understand why that is or what underlying mechanisms are involved. Protein levels could be related to other pre-existing conditions that themselves lead to loneliness and social isolation.”
Aansluitend hierby is goed beplande ingrepe wat ten doel het om geïsoleerde persone wat eensaamheid ervaar te ondersteun, van besondere belang, veral omdat hierdie soort programme sosiale interaksie bevorder en ook terselfdertyd ’n positiewe effek op neurologiese disfunksie kan uitoefen. Menslike verbondenheid is ’n baie basiese lewensbehoefte en kan soos kos, water en huisvesting, wanneer dit ontbreek, uiters negatiewe implikasies tot gevolg hê (Shaw 2025).
Dit blyk duidelik dat die assosiasie/verband tussen eensaamheid, sosiale isolasie en die voorkoms van liggaamlike siektes ’n uiters komplekse studieterrein is, veral wat die invloed betref wat mediator- en moderatorveranderlikes op die ontleding en interpretasie van die data uitoefen.
’n Mediatorveranderlike kan die afhanklike veranderlike deur middel van ’n direkte of indirekte oorsaaklike roete beïnvloed, maar in komplekse biologiese sisteme kom wederkerige verhoudings en terugvoermeganismes ook algemeen voor. Hoewel tradisionele mediëringsmodelle dikwels eenrigtingoorsaaklikheid impliseer, weerspieël hierdie aanname nie noodwendig ten volle die dinamiese interaksies wat kenmerkend van baie biologiese prosesse is nie (Svensson 2018; Talluri en Shete 2018). Die finale woord oor die verband tussen eensaamheid, kardiovaskulêre siektes en verhoogde proteïene is dus nog lank nie gespreek nie en is ’n onderwerp wat in hierdie artikel slegs oppervlakkig aangeraak is.
Informele versorging en eensaamheid
Die Nieu-Seelandse navorsers Robertson, Thyne, Thomson en Watkins (2025), verbonde aan die Departement Bemarking, Universiteit van Otago, ondersoek die impak wat isolasie en eensaamheid op informele versorgers van persone met demensie uitoefen. (Met informele versorgers word bedoel die onmiddellike gesinslede, byvoorbeeld die eggenote/eggenoot of metgesel) wat die versorging hanteer.)
Die navorsers maak gebruik van ’n verteenwoordigende steekproef bestaande uit 1 643 individue (van wie 48% vroulik en almal 18 jaar en ouer was). Proporsionele-steekproef-samestelling is toegepas om 'n studiegroep te verkry wat verteenwoordigend is van die Aotearoa-provinsie se bevolkingsamestelling in terme van etnisiteit, ouderdom, geslag, opvoeding en inkomste. Sielkundige funksionering is gemeet met behulp van twee tegnieke: die Flourishing Scale en die Personal Well-being Index. Isolasie en eensaamheid is geassesseer met behulp van ’n vriendskapverhoudingsbeoordelingskaal. Die informele versorgers het in die algemeen laer presteer op die indekse van sielkundige gesondheid as nieversorgers. Alhoewel versorgers nie méér geïsoleerd was as nieversorgers nie, het hulle wel beduidend meer eensaam gevoel. Namate die getal individue met gediagnoseerde demensie deurlopend toeneem, sal dit al hoe belangriker word om te verstaan presies hoe informele versorgers effektief ondersteun behoort te word. In pogings om beter begrip van die psigososiale behoeftes van versorgers en die gesinne van individue met demensie te bewerkstellig, behoort die klem geplaas te word op die ontwikkeling van ondersteuningsprogramme om versorgers se behoeftes aan te spreek, hul sielkundige gesondheid te verbeter en sodoende beter diens te lewer aan persone met demensie.
Die streng inperkingsmaatreëls wat COVID-19 meegebring het (soos afsondering/grendelmaatreëls, mobiliteitsbeperkings en sosiale distansiëring) het versorgingsomgewings wêreldwyd erg ontwrig, veral in Suid-Asië (Troy ea 2025). Informele versorgers (familielede, vriende wat onbetaalde sorg verskaf) het verhoogde emosionele druk ervaar as gevolg van die streng toepassing van hierdie maatreëls. Die doel met hierdie studie was om (1) sekere omgewingsveranderinge te identifiseer wat tot die stres van versorgers bydra; (2) hierdie stressore as chronies, verbygaande of onbeduidend te klassifiseer; en (3) oplossings voor te stel om versorgers se dilemmas gedurende toekomstige krisisse te versag.
Die persoonlike data van 454 versorgers in Bangladesj, Indië en Pakistan is statisties ontleed. Vyf faktore is deur middel van faktorontleding geïdentifiseer, waarvan twee, naamlik sosiale inperking (“voel vasgevang”) en verminderde kontakgeleenthede met die ontvangers van versorging (“voel geïsoleerd”), voortdurende emosionele spanning by die versorgers veroorsaak het.
Drie ander faktore het ’n onbeduidende impak op die stresvlakke van die versorgers gehad, naamlik indien die beperking van die getal besoeke deur versorgers aan die ontvangers van versorging deur regulasies afgedwing word, en gevolglik buite die beheer van die versorger val; beperkings op inligting wat versorgers ontvang het; en die dra van beskermende klere.
Die navorsers beveel aan dat ondersteuningstrategieë vir versorgers ontwikkel word, wat voorsiening maak vir die Suid-Asiatiese kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede. Die beskikbaarheid van beradings- en sielkundige dienste (insluitend groepterapie) behoort uitgebrei te word. Telegesondheid- en virtuele konsultasies behoort meer vryelik beskikbaar te wees en openbare advertensieveldtogte asook bemarkingstegnieke kan aangewend word om bewusmaking van versorgers se behoeftes te verhoog.
.........
Die navorsers beveel aan dat ondersteuningstrategieë vir versorgers ontwikkel word, wat voorsiening maak vir die Suid-Asiatiese kulturele en sosio-ekonomiese omstandighede. Die beskikbaarheid van beradings- en sielkundige dienste (insluitend groepterapie) behoort uitgebrei te word. Telegesondheid- en virtuele konsultasies behoort meer vryelik beskikbaar te wees en openbare advertensieveldtogte asook bemarkingstegnieke kan aangewend word om bewusmaking van versorgers se behoeftes te verhoog.
........
Liao ea (2024) doen ’n sistematiese literatuuroorsig in verband met die voorkoms van eensaamheid en sosiale isolasie onder informele versorgers van persone met demensie. Tien databasisse is nagegaan (onder andere PubMed, Cochrane, Embase, PsycINFO en Scopus). Die finale seleksie het 27 artikels ingesluit wat verwys na die data van 11 134 informele versorgers verteenwoordigend van 17 lande. 50,8% van die respondente het gerapporteer dat hulle intens eensaam voel. 37,1% was sosiaal geïsoleerd. Eensaamheid het in Europa (60,3%) ’n hoër voorkoms getoon in vergelyking met Asië (28,1%) en het meer dikwels in Noord-Amerika (46,1%) as in Europa (23,7%) voorgekom. Versorgers wat in die gemeenskap diens lewer, was meer dikwels eensaam as diegene wat in hospitaalomgewings werk. Eensaamheid het ook tydens Covid sporadies toegeneem
Die implikasies van die bevindings is dat informele versorgers ernstige geestesgesondheidsrisiko's in die gesig staar as gevolg van hul werksomstandighede, die eise wat versorging stel, verminderde sosiale netwerke en die beperkings wat met aansteeklike siektes gepaardgaan. In aansluiting by Troy ea (2025) beveel Liao ea (2024) aan dat beleidmakers en gesondheidsorgverskaffers geteikende ingrepe en ondersteuningstelsels behoort te ontwikkel.
Gevolgtrekkings
Eensaamheid en sosiale isolasie is aanverwante, maar terselfdertyd ook afsonderlike konstrukte. Eensaamheid is die subjektiewe ervaring van ’n gebrek aan betekenisvolle persoonlike verhoudings, terwyl sosiale isolasie verwys na die fisiese afwesigheid van sosiale kontak(te). Dus kan 'n persoon geïsoleer wees, maar nie noodwendig eensaam voel nie, of eensaam voel selfs met gereelde sosiale kontak. Eensaamheid is 'n ingewikkelde biopsigososiale verskynsel. Eensaamheid hou nie net verband met individuele persoonlikheidseienskappe nie, maar ook met breër sosiale, ekonomiese en kulturele faktore soos verstedeliking, individualisme, werksonsekerheid, tegnologiese ontwikkeling en die afname in tradisionele gemeenskapsbande. Moderne samelewingstendense skep ’n toenemende klimaat van vervreemding. Teoretici soos Couwenberg en Hertz beweer dat mense vandag al hoe meer ontkoppel raak van hul gesinne, gemeenskappe, die natuur en betekenisvolle sosiale verbintenisse. Gevolglik word eensaamheid as 'n dringende sosiale kwessie van die hedendaagse samelewing beskou. Eensaamheid kan ook 'n evolusionêre doel dien. Eensaamheid het sedert antieke tye as 'n tipe "sosiale pynsensor" gefunksioneer wat mense gemotiveer het om hul sosiale bande te herbou en in stand te hou. Net soos fisieke pyn ’n simptoom van liggaamlike siektes is, kan eensaamheid op die gevare van sosiale isolasie dui.
Chroniese eensaamheid word gekoppel aan ernstige geestesgesondheidsrisiko's. Alhoewel eensaamheid nie as 'n selfstandige psigiatriese entiteit in erkende klassifikasiestelsels gelys word nie, word dit gekoppel aan major depressie, persoonlikheidsversteurings, emosionele stres en negatiewe sielkundige gesondheid. Daar bestaan ook gegronde wetenskaplike bewyse dat eensaamheid en isolasie met fisieke siektes geassosieer word, wat op sigself ’n uiters komplekse navorsingsterrein is.
Versorgers van persone met demensie, fisieke gestremdhede en terminale siektes vorm 'n besonder kwesbare groep werkers. Hulle toon dikwels intense eensaamheid en verlaagde sielkundige gesondheid in vergelyking met nieversorgers. Die verantwoordelikhede wat doeltreffende versorging meebring, beperk dikwels die informele versorger se persoonlike sosiale lewenstyl en ondersteuningstelsels.
Eindnotas
Vir die doeleindes van hierdie artikel is hoofsaaklik die databasis van die Universiteit Stellenbosch Biblioteek benut. Die trefwoorde isolation, loneliness en diseases is gebruik, sowel as die volgende kriteria vir artikelseleksie: publikasiedatums 2025–2026; portuurgeëvalueerd; Engelstalig; volteksbeskikbaarheid. ’n Seleksie van enkele artikels is op grond van die resultate vir die doeleindes van hierdie artikel gedoen. Daarna is die titel, abstrak en volteks van die geselekteerde items (in hierdie spesifieke volgorde) bestudeer en die inligting in die teks bygewerk.
ChatGPT en Perplexity is vir vertalingdoeleindes vir hierdie artikel gebruik, maar nie om enige teks te skryf nie. Die Interimriglyne van US (beskikbaar by https://libguides.sun.ac.za/c.php?g=1497969&p=11205267) in verband met die gebruik van KI in navorsing, is so ver as moontlik nagevolg.
Bibliografie
Bouman, PJ. 1958. Revolusie van die eensames. Kaapstad: Nasionale Boekhandel Bpk.
Cacioppo, JT, S Cacioppo en DI Boomsma. 2014. Evolutionary mechanisms for loneliness. Cognition and Emotion, 28(1):3–21. DOI: 10.1080/02699931.2013.837379. EPUB. 25 September. PMID: 24067110; PMCID: PMC3855545. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC3855545.
Couwenberg, SW. 1956. De vereenzaming van de moderne mens: Kern van het huidige sociale vraagstuk. Den Haag: NV Uitgeversmij Pax. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://www.dbnl.org/arch/couw011vere01_01/pag/couw011vere01_01.pdf.
De Jong-Gierveld, J, T van Tilburg en PA Dykstra. 2006. Loneliness and social isolation. In AL Vangelisti en D Perlman (reds), The Cambridge handbook of personal relationships, ble 485–500. Cambridge: Cambridge University Press. https://www.cambridge.org/core/books/abs/cambridge-handbook-of-personal-relationships/loneliness-and-social-isolation/246AFB3CA8837959725B67497331E0A8.
Duan, T, Z Cao, X Wang, T Sun, Y Wang en C Xu. 2026. Social isolation, loneliness, and multi-system medical conditions: phenome-wide association and disease-trajectory analyses. BMC Medicine, 24:31. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC12801555.
Kanbay, M, C Tanriover, S Copur, IB Peltek, A Mutlu, F Mallamaci en C Zoccali. 2023. Social isolation and loneliness: undervalued risk factors for disease states and mortality. European Journal of Clinical Investigation, 53(10):e14032. DOI: 10.1111/eci.14032. EPUB. 23 Mei. PMID: 37218451. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/37218451.
Kar-Purkayastha, I. 2010. An epidemic of loneliness. The Lancet, 376(9758):2114–5. https://doi.org/10.1016/S0140-6736(10)62190-3. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0140673610621903.
Krieger, T en N Seewer. 2024. Should loneliness be a treatment target? Psychotherapy and Psychosomatics, 93(5):292–7. https://karger.com/pps/article/93/5/292/913080/Should-Loneliness-Be-a-Treatment-Target.
Liao, X, Z Wang, Q Zeng en Y Zeng. 2024. Loneliness and social isolation among informal carers of individuals with dementia: a systematic review and meta-analysis. International Journal of Geriatric Psychiatry, e6101. https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/38752797.
Nie, Y, Y He, J Zhang en YY Liang. 2025. Causal relationship between social isolation, loneliness, and cardiovascular disease. European Psychiatry. 68(S1):155. DOI: 10.1192/j.eurpsy.2025.395. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC12436729.
Petitte, T, J Mallow, E Barnes, A Petrone, T Barr en L Theeke. 2015. A systematic review of loneliness and common chronic physical conditions in adults. Open Psychology Journal, 8(2):113–32. DOI: 10.2174/1874350101508010113. EPUB. 15 Mei. PMID: 26550060; PMCID: PMC4636039. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC4636039.
Robertson, K, M Thyne, R Thomson en L Watkins. 2025. The impact of social isolation and loneliness on the well-being of carers of a person with dementia in Aotearoa, New Zealand. Dementia, 24(2):235–48. https://journals.sagepub.com/doi/epub/10.1177/14713012241279683.
Shaw, G. 2025. Investigators identify the “loneliness protein”, mapping the link between social isolation and neurologic disease. Neurology Today, 25(4):8–9. DOI: 10.1097/01.wnt.0001108348.74556.d3. https://neurologytoday.aan.com/doi/10.1097/01.wnt.0001108348.74556.d3.
Shen, C, R Zhang, J Yu, BJ Sahakian, W Cheng en J Feng. 2025. Plasma proteomic signatures of social isolation and loneliness associated with morbidity and mortality. Nature and Human Behavior, 9(3):569–83. DOI: 10.1038/s41562-024-02078-1. EPUB. 3 Januarie 2025. PMID: 39753750; PMCID: PMC11936835. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC11936835.
Svensson, EI. 2018. On reciprocal causation in the evolutionary process. Evolutionary Biology, 45(1):1–14. https://doi.org/10.1007/s11692-017-9431-x. https://link.springer.com/article/10.1007/s11692-017-9431-x.
Talluri, R en S Shete. 2018. An approach to estimate bidirectional mediation effects with application to body mass index and fasting glucose. Annals of Human Genetics, 82:396–406. https://doi.org/10.1111/ahg.12261. https://onlinelibrary.wiley.com/doi/abs/10.1111/ahg.12261.
Troy, C, A Tjin, A Goodwin, I Leroi, R O’Sullivan en Y Chen. 2025. The emotional cost of containment: a cross-sectional analysis of treatment effects among informal carers in South Asia during the COVID-19 pandemic. Global Health Action, 18(1). https://doi.org/10.1080/16549716.2025.2504227https://www.tandfonline.com/doi/full/10.1080/16549716.2025.2504227#d1e582.
Venter, CN. S j. Die kultuurkrisis en die verbondsjeug. Koers. https://acrobat.adobe.com/id/urn:aaid:sc:EU:ce62dec9-0673-4bd8-b02d-ed1486dc993b.
Wang, L, H Pan, Z Cai, X Li en L Luo. 2025. Association of social isolation, loneliness and risk of cardiovascular diseases: meta-analysis of cohort studies. BMC Public Health, 25(1). http://dx.doi.org.ez.sun.ac.za/10.1186/s12889-025-24300-z. chrome-extension://efaidnbmnnnibpcajpcglclefindmkaj/https://link.springer.com/content/pdf/10.1186/s12889-025-24300-z.pdf. https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/articles/PMC12462301.
Yildirim, Y, Y Artan en NG Unal. 2025. Relationship between social isolation, loneliness and psychological well-being in inflammatory bowel disease patients: the mediating role of disease activity, social isolation in inflammatory bowel disease. Journal of Clinical Nursing, 34:3276–87. https://doi.org/10.1111/jocn.17509. Relationship Between Social Isolation, Loneliness and Psychological Well‐Being in Inflammatory Bowel Disease Patients: The Mediating Role of Disease Activity Social Isolation in Inflammatory Bowel Disease - Yildirim - 2025 - Journal of Clinical Nursing - Wiley Online Library.
Lees ook:

