Sosiale geregtigheid en die ANC se grondbeleid

  • 6

Dink jou die volgende in: 20 kinders is in dieselfde klas op skool. Eendag word hulle in twee groepe verdeel. Lukraak, geen spesifieke redes hoekom ’n spesifieke kind in ’n spesifieke groep geplaas is nie.

Die een groep word blou T-hempies gegee om aan te trek. Die ander groep kry pienk T-hempies. Almal word nou uitgenooi na ’n sportveld buite die gebou. Hulle gaan staan by die wegspringplek in ’n ry. ’n Aansienlike ent voor hulle is die eindpunt. Die fasiliteerder van die groep nooi nou almal in die blou T-hempies uit om so ver, so vinnig en so hard as wat hulle kan te hardloop in die rigting van die eindpunt. Hulle begin wanneer die fluitjie een keer geblaas word. Wanneer hulle die fluitjie ’n tweede keer hoor, moet hulle stop.

Die outjies in die pienk T-hempies moet intussen net daar by die beginpunt bly staan.

Die fluitjie blaas, en die groepie in die blou hempies spring weg. Na ’n rukkie hoor hulle die fluitjie weer, en hulle stop. Nie een van hulle is by die eindpunt nie. Hulle is ook nie meer almal bymekaar nie. Dié met natuurlike atletiese vermoëns het vinniger gehardloop en is verder voor die res van hulle kamerade in die blou hempies. Maar een en elkeen van hulle het nou ’n voorsprong bo die outjies in die pienk hempies, wat glad nog nie toegelaat was om te hardloop nie.

Die fasiliteerder deel hulle mee dat hulle nou almal na die eindpunt toe moet hardloop, so vinnig en so hard as wat hulle kan. Die een wat eerste daar kom, wen die wedloop.

Sommige van die outjies in die pienk hempies, dié met natuurlike atletiese vermoëns, sal sommige van dié in die blou hempies verbysteek. Hulle kry dit bitter selde reg om die voorste atlete in die blou hempies in te haal. Verbysteek gebeur nie.

Die uitslag is maar voorspelbaar. Die wenner is altyd een van die hardlopers in die blou T-hempies. Nie omdat hulle beter atlete is nie, maar omdat hulle alreeds ’n voorsprong opgebou het. Daai voorsprong het hulle toegelaat om vinniger oor ’n korter afstand by die wenpaal uit te kom.

Wie weet wat sou gebeur het as al die kinders van soortgelyke atletiese vermoëns, ongeag die kleur van hul T-hempie, toegelaat was om saam weg te spring?

Agterna word die kinders uitgevra oor hulle ervaring. Dié in die pienk T-hempies is ongelukkig; hulle kla dat die resies onregverdig was. Natuurlik was dit. Die oomblik toe hulle die pienk T-hempie aangetrek het, is hulle kans om te wen ingeperk.

Die enigste manier waarop die resies regverdig gemaak kan word, is om die reëls so te verander dat dit erkenning gee aan die agterstand wat die draers van die pienk hempies opgedoen het, en om hulle geleentheid te gee om in te haal. Die voor die hand liggende manier om dit te doen, is om die blou T-hempies te laat stilstaan en die pienk T-hempies kans te gee om weg te spring en te hardloop.

Dis ’n praktiese manier om sosiale geregtigheid aan jong kinders te verduidelik. Wanneer sommiges benadeel was en teruggehou was as gevolg van faktore buite hulle beheer, vereis sosiale geregtigheid dat hulle geleentheid gegee word om in te haal.

Thuli Madonsela het tydens ’n byeenkoms van die alumni van die Stellenbosch-regsfakulteit gepraat oor die werk van die eenheid vir sosiale geregtigheid, waarvan sy die leerstoel beklee. Wanneer die lede van die eenheid by skole die konsep van sosiale geregtigheid verduidelik, gebruik hulle hierdie oefening. Dan laat hulle die kinders met voorstelle vorendag kom om die resies meer regverdig te maak.

Dit kos nie veel verbeelding om van skoolgrond na landsgebied, en van verskillend-gekleurde T-hempies na verskillende velkleure te gaan nie.

In die konteks van die nasionale gesprek die afgelope ruk neem dit ook nie veel om uit te kom by nasionalisering van grond nie. Ek moet byvoeg, Thuli Madonsela het in haar toespraak ’n wye, wye draai rondom enige kontroversiële kwessies geloop.

Aan die hand van die voorbeeld hier bo maak dit sin dat regstellende aksie in werksverband behoort plaas te vind. Dit maak sin dat daar op die sportveld toegewings gemaak moet word aan spelers wat nie voorheen toegelaat was om op gelyke vlak deel te neem nie. Dit maak sin dat begrippe soos swart ekonomiese bemagtiging inslag vind.

Dit maak sin dat mense wat nie voorheen toegelaat was om grond te besit nie, of wie se grond deur die staatsmasjinerie en apartheidswetgewing van hulle weggeneem is, geleentheid moet kry om in te haal.

Dit maak sin, want daar is geen vraag of daar historiese ongeregtighede is wat reggestel moet word nie. Daar kan nie verwag word dat daar in 24 jaar regstellings van honderde jare se ongeregtigheid moet plaasvind nie. Natuurlik sal daar debat wees oor die vorm wat regstelling moet aanneem, die tydsduur daarvan en dies meer.

Natuurlik sal die blou hempies, dié wat bereid is om te erken dat regstelling moet plaasvind, argumenteer vir die kortste moontlike tyd waarin dit moet plaasvind. Natuurlik sal daar sommiges in pienk hempies wees wat meen geen tydsduur is lank genoeg om regstelling te maak nie.

Natuurlik sal die groep in die blou T-hempies argumenteer dat hulle onregverdig benadeel word omdat hulle nou vir ’n rukkie moet toekyk hoedat die pienk T-hempies hardloop terwyl hulle stil moet staan. Natuurlik gaan hulle die pienk T-hempies se tegniek kritiseer en fout vind. Natuurlik, want dis maklik om te vergeet van die voordeel wat jy alreeds geniet.

Natuurlik is daar diegene in die blou T-hempies wat daarop wys dat hulle nie onder die voorste atlete is nie.

Maar hoe kan dit die pienk T-hempies se skuld wees as jy nie jou voordeel en voorsprong ten volle gebruik het nie? Hoe kan dit gebruik word as basis om te argumenteer dat die pienk T-hempies nie geregtig is op ’n gelyke speelvlak nie?

Daar is in ons samelewing diep behoefte aan sosiale geregtigheid wat moet geskied.

Hoe behoort dit te gebeur? Daar moet reëls wees. Dit moet gebaseer wees op beginsels van geregtigheid, nie wraak nie. Dit moet deursigtig en duidelik wees, om die roekelose propagasie van fopnuus deur organisasies wat finansiële munt wil slaan uit die blou hempies se vrese, hok te slaan. Dit moet op ordelike wyse geskied. Dit moet die grootste moontlike groep help om vorentoe te beweeg. Daar kan nie sosiale geregtigheid wees as net enkele individue voordeel trek nie.

Sosiale geregtigheid gaan, in diepste wese, daarom dat die samelewing in sy geheel vorentoe gaan. Almal, pienk en blou hempies, moet by die wenpaal uitkom. Daar kan nie sosiale geregtigheid wees as daar vuilspel langs die kantlyn plaasvind nie. Daar kan nie sosiale geregtigheid plaasvind as net sekere pienk hempies vorentoe gaan terwyl die oorgrote meerderheid nog steeds kunsmatig teruggehou word nie. Daar kan nie sosiale geregtigheid wees as die blou hempies onregverdiglik die skuld gegee word vir die feit dat die pienk hempies nog steeds kunsmatig teruggehou word, hierdie keer deur hul medepienkhempies nie.

Daar kan nie sosiale geregtigheid plaasvind terwyl pienk hempies met geen atletiese vermoëns kunsmatig vorentoe gestoot word omdat hulle die regte mense ken nie. Daar kan nie sosiale geregtigheid wees terwyl pienk hempies met uitstekende atletiese vermoëns teruggehou word omdat hulle nie die regte mense ken nie.

Daar kan nie ware geregtigheid wees as die regstelling net gebruik word as ’n wortel voor die neus met ’n korttermyndoelwit voor oë nie. Daar kan nie geregtigheid wees as die grondslag daarvan verdere ongeregtigheid teenoor beide pienk en blou T-hempies is nie.

Kan die ANC se beplande grondhervorming dan nog steeds oor die boeg van sosiale geregtigheid gegooi word?

  • 6

Kommentaar

  • Ek meen die argument berus op 'n vals aanname, nl dat die twee groepies op "lukrake, geen spesifieke redes", blou of pienk hempies ontvang het.
    Hulle het eerder met blou of pienk hempies daar aangekom.

  • Ou Erdvark met die oog gerig op Regverdigheidshoop

    Geagte Me. Wyngaard, dankie vir u insette.

    Wat moet die nasie-visie wees? Hoe moet 'n nuwe grondwet vir 'n sosiale geregtigheid daar uitsien? Hoe moet die dag-tot-dag sosiale geregtigheid vergestald in 'n land wat nie ekonomies wêreldkompeteerbaar is nie? En hoe gaan gesorg word dat minderheidsgroepe nie uit die speelveld gerangeer word nie? Hoe gaan ons 'n kultuur van selfrespek vestig?

  • Wonder Maar Net Soogdier Vark@ToekomstigeMooiSuid-Afrika

    Beste Bettina, het die Khoi-Khoi en San Suid-Afrika bewoon voor die aankoms van die swartmense in Suid-Afrika? Het die swartmense die noordoostelike dele van Suid-Afrika se gronde voor 1652 van die Khoi-Khoi en San gekoop, verruil, as geskenk ontvang of hul gronde eenvoudig gekolonialiseer? Is daar enige bewyse? Vra maar net. Wonder maar net.

  • ManZonderNaam

    Moet ons begin eis vir ons oumas en oupas wat deur depressie gegaan het? Toe was alles gelyk want daar was f-all! Almal was ou pienk hempies, as daar materiaal was om hempie te maak. Geskiedenis en konteks strek nie net tot by die retoriek van wat mens wil bewys nie.
    Jou hele beginsel is gebaseer op equal outcome en nie equal opportunity nie. Die gelykenis sou gestaan het 30 jaar terug, maar die jong mense van my ouderdom begin voor my en kry meer as my blou hempie-mense.
    Sosiale agterstand is 'n aaklige aanklag op alle rasse van vandag om te sê dat kinders wat reeds al die geleenthede ontvang het van hul ouers steeds gesien moet word as anders en op die hande gedra moet word.
    Ek verstaan jou punt egter wat jy probeer maak, en dis geldig, in sommige gevalle maar om almal onder dieselfde kam te skeer is as gevolg van 'n noue visie wan wat eintlik te kortkom, naamlik die opvoeding- en gesondheidstelsels in die land. Die feit dat daar nog nie infrastruktuur gelê is met 12 keer die jaarlikse belasting-inkomste nie, is nie die blou span, wat gestem het om gelyk te begin, se skuld nie. Jy verwys nie na die wens van verandering nie, net die toestand wat nie deur die blou span beheer word nie.
    Jy blameer die blou span, maar jy verwys na die afrigter wat die reëls gemaak het. Is dit dan die kindertjies se skuld as hulle maar net moes volg?
    Kom met oplossings en nie verduidelikings nie.

  • Louis de Villiers

    Natuurlik is die skryfster heeltemal reg. Die blouhempies het histories 'n geweldige voorsprong gehad, vandaar die groot gaping wat daar vandag nog op materiële en vele ander gebiede bestaan.
    Waar sy dwaal is by die oorsaak daarvan. Dit is nie deur 'n onregverdige skeidsregter met sy fluitjie so bewimpel nie.
    Die blouhempiespan se voorouers het reeds duisend jaar voor die wegspringfluitjie geblaas het, strukture soos die Notre-Dame gebou.
    Hulle het oseane deurkruis en genavigeer.
    Die pienk spannetjie se voorouers het egter strooi- en modderhuisies 2 meter hoog gebou. Hulle het nog nie die wiel gebruik nie, kon die oseane nie bevaar nie.
    Hoe op dees aarde sou hulle met die blou spannetjie kon kompeteer op hulle eie terrein, nl die ontwikkeling van produktiewe plase, industrieë, bou van spoorlyne, onderwys en gesondheidsstelsels ens?
    Ek glo daar was ander terreine waarop die pienk span weer die toon sou aangee, maar dit was eenvoudig nie die rigting waarin die wêreld ontwikkel het nie.
    Maar hierdie argumente is eintlik sinneloos. Ons behoort eerder te fokus op wat ons te doen staan om hierdie ongelykhede uit te wis.
    Wat ek wel weet NIE sal werk nie, is om 'n betonblok aan elke blou kind se voet vas te bind sodat hy nou stadiger moet hardloop. Dit sal die kinders met die pienk hempies nie 'n duit vinniger laat hardloop nie en die gemiddelde spoed waarteen almal beweeg net verlangsaam.
    Sekerlik lê die sleutel in onderwys en opleiding, ongelukkig juis die sektor wat sedert 1994 die ergste gefaal het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top