Sorry, Baba, sê weer?

  • 0

Foto: YouTube (https://www.litnet.co.za/oorspanne-verwagtinge-en-die-wantrouedebat-8-augustus-2017/)

Na Jacob Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie weet mens nie of jy moet lag of huil, of begin om blikkieskos op te gaar nie. Sy stories oor Rip van Winkel-agente is pure vermaak, maar ook ysend gevaarlik. Buite die Empire-gebou in Johannesburg waar die kommissie sit, voer hy sy impi’s aan met danse en hy voed die ANC-vure met daardie angswekkende woord uit die struggle: Impimpi!

Twee aspekte staan egter vir my uit: Zuma se soeke na woorde, en Carl Niehaus se wegpraat van die sentrale teenstelling in die spioenasiestorie: as die ministers wat Zuma onthul het werklik agente was, waarom het hy hulle in die eerste plek aangestel?

Op ’n kol het Zuma die woorde “that wouldn’t be the knowledge that was on me only” gebruik. Wat op aarde beteken dit? Maar ewe steurend, waarom het nie die regter óf die advokaat hom gevra wat presies hy met dié stelling bedoel nie?

Die antwoord op laasgenoemde is natuurlik dat almal aanvaar het dat hy die vraag ontken het. Want ons het nou al so gewoond geraak aan die gebrekkige kommunikasievermoëns van ons leiers – van Bathabile Dlamini tot by Ace Magashule. Die kommunistiese denker, Jeremy Cronin, het verklaar dat hy en andere van die begin af teen Zuma se gebrek aan kapasiteit gewaarsku het. Dit laat ’n mens wonder waarom Cronin dan bereid was om op Zuma se kabinet te dien.

Almal wat egter al vir Zuma ontmoet het, weet dat hy hoogs intelligent is, al is sy aanleg nie op die gebied van byvoorbeeld wiskunde of literêre kritiek nie. Deel van die verduideliking kan wees oor iets wat Dlamini ook vantevore as rede vir die bevinding van meineed teen haar deur die hooggeregshof, aangevoer het: dat sy nie kon verstaan wat aangaan nie want die verrigtinge was nie in Zoeloe nie.

Taal hoef nie ’n probleem te wees nie – dit kan mens sien as jy na die Europese Kommissie se nuwe leier, die Duitser Ursula van der Leyen, se gebrekkige Engels luister. Maar in Suid-Afrika is ons op ’n ander manier geduldig met mekaar, want ons almal weet dat ons tweede taal as lingua franca ons net daardie treetjie terugsit wanneer dit daarby kom om op jou voete te praat. Dit maak nie saak hoe goed jou Engels ookal is nie.

Maar wat veral in die ANC gebeur, is dat hierdie gebrek aan kapasiteit, om weer die Engelse digter Cronin se woorde aan te haal, ’n wapen word, of meer spesifiek, ’n skild soos Captain America s’n. Daaragter kan jy skuil, asem skep, tyd koop en selfs weghardloop as dinge te warm raak.

Die skild het sy eie magiese eienskappe: dit laat woorde in die lug hang nadat dit rondgeswaai is: “spioen”, “ANC-liefde”, “bedreiging”, “karaktermoord” – woorde waarmee die jou helpers met ’n bietjie beter Engels kan woel en werskaf. As dinge agterna verkeerd loop, kan jy en hulle jul daarvan distansieer en sê dit was ander mense se woorde en besluite, of dit bloot afmaak as misverstande.

Dit help natuurlik dat sosiale media en verkenningskapitalisme (Shoshanna Zuboff se “surveillance capitalism”) kommunikasie tot dinge soos twiets, memes en hashtags  reduseer.

Dit bevorder ook die straffeloosheid wat so algemeen is, nie net onder ANC-lede nie, maar ook elders, soos by iemand soos Donald Trump. As jy self nie verstaan wat jy bedoel nie raak dit moeilik om aanspreeklik gehou te word, soos Paul Pretorius, die getuienisleier by die Zondokomissie, goed demonstreer het.

Hy moet ’n fyn balans handhaaf, hy moet mooi en stadig verduidelik aan die een kant, maar neerbuigendheid vermy aan die ander, want anders trap hy oor die fyn lyn van rassisme soos deur die Ashwin Willemse-vloermoer op TV gedemonstreer is. Jy mag nie met Zuma soos ’n kind praat nie en Pretorius doen dit deur sy vrae te deurspek met hoë woorde soos “gravamen” of “cogency” en idiomatiese Engels soos “in the course of the events” wat Zuma soos ’n grootmens laat klink, maar waarvan die wanbegrip nie saak sal maak nie.

Buite in die straat het Niehaus, die ANC se Boere-Terminator, wat die skerwe van sy politieke loopbaan telkens bymekaar skraap en homself laat herrys, met ’n pak klere en geskeerde baard verdere insig verskaf in hoe ding werk. Die spioeneministers is heraangestel om hulle ’n kans te gee om hulself te korrigeer, maar Zuma moes hul name onthul want die korreksie het nie plaasgevind nie.

Ek glo hom. Nie dat die ministers spioene was nie, maar dat oortreders en misdadigers heraangestel word om daardie rede. Honderde verstandelik versteurde mense kan maar sterf weens wanadministrasie in Gauteng, maar die premier word herkies, en die lid direk verantwoordelik vir die sterftes word bevorder binne die party. Hulle sal mos leer uit hul foute. Almal in die ANC moet nog leer, Zuma ook.

In die ANC is mense onskuldig nog voor hulle enige wandaad pleeg. Na my mening is daar geen oersonde by hulle nie – dis mos ’n “witwees”-ding. Die "African Child" is uit onskuld gebore en so gelaat staan.

Dit kom neer op ’n infantilisering van die leierskap – iets wat weereens put uit die algemene infantilisering waaraan die groot sosiale media-maatskappye ons onderwerp (in Facebook se geval ’n vertienering, of ’n verstudentekosing). Dit het natuurlik op groot skaal in die Withuis, waar die leier van die vrye wêreld regeer met twiets en kleutertaal soos “horrible” en “sad”, uitgeslaan.

Trump wen aan straffeloosheid: as hy vrouens tussen die bene gryp, neem dit dekades voor iemand hom daaroor aanspreek. Om op ’n infantiele manier stout te wees en weg te kom daarmee laat Amerikaners met ’n nostalgie vir die utopie van hul kinderdae, toe almal nog onskuldig was. Dit is waarskynlik ook waarom die magiese realisme van Kim Jong-un se propaganda so op sy kinderdae fokus: ’n kind wat op drie al kon skaak speel sal mos enige ma se trots wees. Dit infantiliseer die standaarde van die politiek.

Cyril Ramaphosa praat nie dieselfde babataal as Zuma of baie lede van die ANC nie. Boonop is Engels sy tweede taal, en Zoeloe en Xhosa, sy vierde en vyfde tale. Dit gaan moeilik wees om al die skilde te deurpriem. Gaan dit nog sy ondergang beteken?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top