Sophia Kapp gesels oor Driehoek

  • 2

Titel: Driehoek
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799361476
 

 

Koop Driehoek by Kalahari.com.

 

Naomi Meyer vra Sophia Kapp oor haar jongste boek, Driehoek.

Hallo Sophia, dankie dat jy tyd maak om te gesels. Is jy ten eerste dosent of ten eerste skrywer?

Ek is 'n taalpraktisyn (en deeltyds 'n dosent) om den brode. Skryf doen ek vir die lekker. En omdat ek sal mal word as ek dit nie doen nie. Op dieselfde manier as wat lesers verslaaf raak aan lees, is ek verslaaf aan skryf. Ek skryf liefdesromans, wat 'n subgenre is van romantiese fiksie – dit is "goedvoelstories" waarin die leser van 'n gelukkige einde (die sogenaamde "happily ever after") verseker is. Dit is onbeskaamd ontvlugting wat die leser vir die duur van die storie uit haar omstandighede haal en haar saam met die heldin op die held laat verlief raak. Dit wat die leser kry, kry die skrywer natuurlik vir die duur van die skryfproses ook.

Jou boek Driehoek het pas by LAPA verskyn. In hierdie boek is daar baie dinge wat gebeur, maar onder andere kom 'n dominee so soort van tot bekering - wel nie heeltemal op die tradisionele manier nie. Was hier doelbewus 'n geestelike tema in die boek?

Ek kies altyd doelbewus om 'n bepaalde tema of temas in 'n boek aan te raak. In hierdie geval het die vroulike hoofkarakter haarself reg aan die begin van die storie in 'n hoek in geleef, en sy kry, van alle manne in die lewe, 'n Dopper-dominee van Potch. Dit skep natuurlik dadelik groot konflik tussen die twee karakters, en dit is juis bedoel om spanning vir die leser te skep, omdat baie van die vooroordele waarmee dié twee spook, ook maar in ons koppe sit. Dit beteken dat die leser nie die geleentheid gegun word om kant te kies en dan gemaklik in 'n kampie te sit nie. Sy moet saam met die drie hooffigure besef dat die lewe en die liefde nie altyd gemaklik of eenvoudig is nie en dat 'n mens soms hard moet werk om heel anderkant uit te kom.  Maar romantiese fiksie is nie die plek om op 'n seepkis te klim nie. 'n Mens mag 'n mening oor alles hê, maar 'n mens mag dit nie op jou leser afdwing nie.

Driehoek word verpak as 'n liefdesroman, maar jy skram nie weg van moeilike temas soos onbeplande swangerskappe nie. Weer eens: was dit 'n tema wat jy gekies het, of het jou karakters dit besluit?

Die feit dat romantiese fiksie ontvlugting is, beteken nie dat 'n mens nie sosiale probleme daarin kan aanraak nie. Die goedvoel-ding is meer kompleks as wat die meeste mense besef: jy kan jou leser regtig optel net as jy haar eers die donker kant gewys het. En lesers van romantiese fiksie is belese, intelligente vroue wat al self 'n hele paar verse geleef het. As jy kwessies soos egskeiding, miskrame en middelmisbruik gaan ophaal, moet jy verantwoordelik daarmee omgaan. Jy kan nie 'n baie moeilike en traumatiserende ervaring vervlak nie – daar is van jou lesers wat dit aan hulle lywe ervaar het en jy moet genoeg respek vir sulke vroue hê om die tonele geloofwaardig te skryf.

Hoe het die storie van Driehoek ontstaan – kan jy die sneller daarvan onthou?

Driehoek is 'n opvolg van Die verhuising. Daarin was Tessa die ouer vriendin wat met gesonde verstand en haar nugter realisme gehelp het om Danelle deur haar eerste jaar op Potch te kry. In Driehoek is Tessa tien jaar ouer en het haar vry gees en lewensuitkyk haar ingehaal – en Danelle is die een wat moet help om die stukke op te tel. Ek het nooit beplan dat Tessa so 'n prominente karakter in Die verhuising sou word nie, maar sy is nie iemand wat haar laat ignoreer nie. Sy het toe reeds baie sterk gefigureer en ek het net geweet sy het 'n storie van haar eie. Om haar terug te bring Potch toe en haar met 'n baie konserwatiewe, konvensionele held te konfronteer, was heerlik.

Hoe ontspring die stories wat jy skryf gewoonlik? Is dit 'n kwessie van inspirasie of van harde werk?

Die oorspronklike idee is inspirasie. En die storie speel letterlik soos 'n fliek in my kop af – ek sien en hoor die karakters en ek ervaar alles saam met hulle. Maar daar is 'n groot gaping tussen 'n storie in jou kop beleef en 'n boek. Om te gaan sit en dit wat jou kop vir jou gegee het, in 'n samehangende, geloofwaardige storie te omskep, is donnerse harde werk. Dis frustrerend, uitputtend en geweldig eensaam, en as jy vir inspirasie wag om daardie gedeelte van die proses af te handel, gaan jy met die storie ongeskryf in jou kop doodgaan.

Ek lees in 'n leserspeiling van Rooi Rose hoe baie van hulle lesers skryf dat hulle Driehoek nie kan neersit nie. Het jy nog altyd geweet dat jy kan en wil skryf?

Ek het eers na 40 begin skryf. Die soort stories wat ek skryf, gaan oor die liefde, maar die liefde is 'n komplekse ding. Dis iets waaroor ek kon begin skryf eers nadat ek self 'n paar keer deur die meule is en geleer het wat dit jou kan kos. Dit is vir my belangrik dat die heldinne in my stories nooit liefde kry en dan heel word nie. Hulle word heel, en kry dan liefde. Liefde is nie 'n kruk nie, dis 'n beloning vir iemand wat bereid was om deur al die gemors en wroeging te werk wat die lewe in haar rigting gestuur het, en bereid is om haarself uit die modder op te tel. Ek is bewus daarvan dat baie jong meisies wat nog nie in permanente verhoudings is nie, hierdie soort boeke lees, en ek hou nie daarvan om aan hulle 'n leuen te verkoop nie. Hulle moet in die liefde glo en hulle moet weet watse enorme krag daarin sit, maar hulle mag nooit dink dat 'n verhouding die oplossing vir hulle probleme is nie.

Hoe vind jy dit om jou universiteitswerk met jou skryfwerk te versoen – maak die twee ruimte vir mekaar?

Skryf is 'n vreeslik selfsugtige ding. Jy is heeltyd met jou storie en jou karakters in jou eie kop besig. Dis eers die dag wat jy jou boek in die wêreld uitstuur dat dit die lesers s'n word. Vir my is die kontak met studente heerlik – onderwys in enige gedaante is liefdesdiens. Jy gee – van jou kennis, van jou tyd, van jou entoesiasme – en jy is eintlik geheel en al in jou studente se diens. Die twee het in my lewe die ideale balans geskep.

En moederskap? Waar vind jy tyd vir skryf?

My kind maak baie opofferings – dit is onvermydelik. Daar is tye wat my gewete my opkeil en ek wonder of ek nie te veel tyd aan skryf afstaan nie. Maar ek dink dis maar dieselfde wroeging waarmee elke werkende ma sit: Het ek nie my kinders afgeskeep deur te gaan werk nie? Moes ek nie maar by die huis gebly het en "daar" gewees het vir hulle nie? Uiteindelik moet 'n mens die lewe leef wat jy gekry het om te leef. My kind sit nou met hierdie vertaler/dosent/skrywer-ma. En my arme man is daarmee getroud. Dit is wie ek is, en as ek dit nie doen nie, word ek knorrig en jammer vir myself. Dis nog baie erger!

Jy was onlangs in Valhalla Park by hul biblioteek (wat 'n ATKV-toekenning ontvang het vir leesbevordering) om met vroue oor bemagtiging te gesels. LitNet het jou toespraak van daardie dag geplaas. Wat beteken bemagtiging elke dag vir jou?

'n Bemagtigde vrou is iemand wat na haar situasie kan kyk en kan besluit hoe sy dit wil/moet hanteer. Dis nie iemand wat kyf en raas en vloek en in alle omstandighede haar sin kry nie – so iemand is 'n bitch en is nie 'n vreugde om mee saam te leef nie. Dis ook nie 'n vonkelvrou wat alles wat sy aanraak, in goud omtower nie. 'n Bemagtigde vrou is bloot iemand wat weet wat sy werd is en dit uitleef. Sy weet dat sy op menswaardigheid en respek geregtig is en sy het daardie regte vir haar toegeëien. Haar lewe is nie noodwendig maklik nie en die krisisse wat sy moet hanteer, is nie kleiner as ander vroue s'n nie. Maar sy laat nie van haar 'n slagoffer maak nie en sy praat as dit nodig is.

As jy byvoorbeeld kies om hierdie genre te skryf, loop jy jou gereeld in vooroordeel vas. Veral in die akademie is daar altyd die een of twee literêre snobs wat neerhalend is oor die werk wat 'n mens doen of vir jou vra of jy dit al ooit oorweeg het om "behoorlike" romans te skryf. (Ek moet bysê dat ek wonderlike kollegas gehad het, en steeds het, wat my ondersteun en waardeer. Dit was nooit vir my nodig om my te laat geld nie, maar nie almal is so gelukkig nie.) As 'n mens jou laat intimideer deur so iets, gaan jy swaarkry. Dis ook nie moontlik om sulke mense se menings te verander nie – hulle dink wat hulle wil en gaan altyd snedig wees oor my stories, omdat hulle dit nie ken of die waarde daarvan begryp nie. My uitgangspunt is bloot: ek hoef hulle nie te beïndruk nie – ek moet myself tevrede stel. En ek moet my lesers tevrede hou. Ek kan met ander woorde kies of ek 'n slagoffer van hulle nyd wil wees, of ek kan kies om op my skryfwerk te fokus en dit na die beste van my vermoë te doen.

Is jy besig om aan 'n volgende roman te skryf?

Jip. Ek skryf tans 'n romanse (dis die "kleiner" boekie, waar die woordtelling beperk is tot 44 000 woorde). Ek is 'n langdradige storieverteller en wou dit aanpak om te sien of ek die dissipline kan aankweek om bondig te skryf. Dis inderdaad 'n uitdaging!


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 2

Kommentaar

  • Die storie Driehoek is beslis 'n lekker storie. Ek kan net nie verstaan waarom Sophia so baie lelike woorde gebruik nie. Ek het altyd gedink sy's 'n baie goeie skryfster, maar ek weet nou nie  meer so mooi nie. Die taalgebruik sit my beslis af.

     

  • Mariette Mienie

    Hoe kan ek kontak maak met Sophia Kapp? (Stuur vir haar 'n boodskap via Facebook - LitNet)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top