Sophia Kapp (1965–)

  • 0

Gebore en getoë

Sophia Kapp is in 1965 gebore as die enigste kind van Matthys Swart en Gertina Swart. Haar pa, ’n Vrystater wie se oupa ’n boer in die Senekal-distrik was, was ’n prokureur en haar ma was ’n Afrikaans-onderwyseres. Haar twee jonger boeties was albei gestremd en is op ’n jong ouderdom oorlede.

Sy spandeer haar grootword- en skooljare in Durban en matrikuleer in 1982 aan Dirkie Uys Hoërskool in Durban.

Sophia dink met nostalgie terug na haar grootwordjare in Durban, vertel sy aan Rooi Rose (Januarie 2008): “Noudat ek ’n stuk geleef het en iets ervaar het van ons stukkende wêreld, besef ek hoe bevoorreg ek was om juis my ouers se kind te wees. Hulle is albei baie emosioneel gereserveerd en benader alles rasioneel, maar ek het nooit in my lewe gewonder of hulle vir my lief is, of my in hulle lewe wou hê nie.

“Ek is van kleins af geleer dat niks in jou skoot val nie. Jy werk daarvoor. My ma veral, was baie streng daaroor dat ek nie bedorwe moes wees net omdat ek die enigste kind is nie. Twee van die wonderlikste goed wat ek by hulle geleer het, is hoe om vir myself te besluit en om onafhanklik te wees.”

En Pa Matthys het op sy beurt weer geglo dat sy haar saak moet kan stel: “Hy het geglo dat selfs ’n jong kind die reg het op ’n mening en die reg om dit uit te spreek. Maar as jou argument nie opgegaan het nie, het hy die vloer daarmee gevee.”

En dit is hoe Sophia geleer het om haar man te staan, logies te dink en ’n argument klaar te maak.

Sophia het ná die publikasie van Heimwee (2022) aan Cliffordene Norton (LitNet) gesê dat dit nie soseer haar ervaring as ma was wat die gebeure van Heimwee beïnvloed het nie, maar eerder haar ervaring as kind: “My ma was ’n baie bekwame mens – hardwerkend, prakties, pragmaties, pligsgetrou – maar sy was ook rigied en voorskriftelik, en dit was nie altyd maklik om met haar saam te leef nie. Haar standaard was hoog, en jy het geweet as jy nie daaraan voldoen het nie. (Sy het haar bitterlik vir my skryfwerk geskaam!) Tog was sy baie lief vir my, en sy het my altyd ondersteun. En dis mos altyd eers ná ’n mens se ma dood is dat jy besef hoeveel sy vir jou opgeoffer het, en hoe baie jy haar mis.”

Verdere studie en werk

Ná skool sit sy haar studies voort in Bloemfontein aan die Universiteit van die Vrystaat, waar sy in 1987 haar BA-graad in tale verwerf.

Sy was vir ’n hele ruk ’n dosent in Afrikaans aan die Noordwes-Universiteit en het daarna as taalpraktisyn vir die Suid-Afrikaanse Aptekersraad en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gewerk. Daarna was sy weer dosent, maar hierdie keer in Vertaal- en Tolkstudie by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

Sy was ook al van ’n barista tot ’n persoonlike assistent en ’n boekhouer in die bank. Sy gaan werk as taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Sedert 2013 is sy lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Sophia is in 2022 by VivA weg en doen tans vryskutwerk.

Sy het ’n hele klompie jare in Pretoria gewoon voordat sy Amerika toe is, waar sy sewe jaar gewoon het. In 2006 is sy Kaapstad toe, en sy vertel aan Rooi Rose dat die Kaap haar hart gesteel het: “Ek kry skeidingsangs as ek oor die Breërivier gaan – en ek is elke dag dankbaar vir die pragtige plek waar ek woon.”

Uit Sophia se huwelik is Jan Daniel gebore. Sy is later geskei. Sy noem Jan Daniel die “liefde in haar lewe”. Sy het intussen weer teruggetrek na Pretoria.

Sy is twee jaar opeenvolgens aangewys as die wenner van die Rapport-prys vir die mees inspirerende dosent in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit.

In 2007 lees Sophia ’n artikel in Rooi Rose oor drie populêre hygromanskrywers en dit inspireer haar om haar pen op te tel en ook te begin skryf.

Haar eerste gepubliseerde storie is in 2007 by LAPA uitgegee onder die titel Die erflating, en met die intrapslag móét die lesers van romanses van haar notisie neem – die boek word in 2008 bekroon met die ATKV-prys vir Liefdesromans. Dit is ook die eerste in ’n trilogie. Die ander titels is ’n Nuwe lente en Waar die hart is, wat onderskeidelik in 2007 en 2008 ook by LAPA verskyn het.

In Beeld van 16 September 2008 is Jaybee Roux baie opgewonde oor die nuwe stem wat die Afrikaanse liefdesverhaalwêreld “soos ’n bom getref het”: “Haar drietal romans is gewaarborg om lesers te laat sug en te droom van die romantiek. Sophia is een van min skrywers wat nie ’n uitmergelende pad moes loop voor sy sukses behaal het nie: dié enkelma het eenvoudig haar eerste manuskrip in ’n koevert gedruk, by die naaste poskantoor ingehandig en die res, soos hulle sê …”

Die eerste van die trilogie, Die erflating, is in Kaapstad gesitueer, waar Adri Malan finansiële direkteur by haar pa se besigheid is. Jaybee Roux skryf vertel verder: “Ná haar pa se dood moet sy hoor hy het die beherende aandeel aan ’n vreemdeling verkoop. In plaas daarvan om die besigheid by haar pa oor te neem soos sy verwag het, werk sy skielik vir ’n aantreklike, bombastiese vreemdeling, Wouter Mouton. Adri bevind haar in ’n stryd om emosionele en professionele oorlewing, maar dit lyk of meneer Mouton haar van die vróú in haar bewus kan maak.”

In die tweede titel van die trilogie, ’n Nuwe lente, verskuif die fokus na JC, Adri se suster, en Roux skryf só: “JC is meer saggeaard as Adri en toe ’n onbevredigende verhouding op die rotse loop, gaan JC na ’n idilliese stranddorpie om weer haar voete te vind. Sy word gedwing om ’n strandhuis met die slonserige, afsydige en ongeskikte Josua du Toit te deel. Maar soos die tyd verbygaan ontdek JC dat daar ’n sensitiewe siel agter Josua se barsheid skuil.”

Waar die hart is, die laaste deel van die trilogie, het Idalette, Adri en JC se rooikopstiefsuster, as hoofkarakter. “Sy het ’n temperament wat by die kleur van haar hare pas. Haar loopbaan as model is verby; haar huwelik is op die rotse; haar finansiële vooruitsigte lyk allesbehalwe rooskleurig. En Charl Nienaber, wat in beheer is van haar erflating, laat geen twyfel oor wat hy van haar vermoëns as enkelma dink nie. Sy slaag daarin om haar lewe stuk vir stuk te herbou, maar wat sy die graagste wil hê, is Charl Nienaber se hart – en om dít te bereik, is een van die grootste uitdagings waarvoor sy al ooit te staan gekom het.

“Dié verhale gee geensins voor om méér as goeie, romantiese vermaak te wees nie, maar dis vermaak uit die boonste rakke. [Kapp se] vierde roman is pas voltooi en lesers kan uitsien na nog ’n meesleurende ervaring,” skryf Roux verder.

Oor die oorsprong van die idees vir haar stories moet Sophia erken dat sy nie weet waar dit vandaan kom nie. “Die stories kom sit in my kop en ek skryf hulle net. Ek verknies my ook nie oor sogenaamde ‘dooie tyd’ (huis skoonmaak ens) nie. Dis tyd wat jou kop met jou storie kan werk. […]

“Ek glo ook daarin om ’n tree terug te gee en dinge om my te bekyk. Dis een van die waardevolste lewenslesse wat ek geleer het. Daar is in elke lewe ’n storie opgesluit. Elke ding wat jy ervaar, maak jou wyser, voller en ryper. En alles is materiaal vir ’n storie, selfs die slegste ervaring. Dalk veral die slegste ervarings. Dis hoekom ek sê elke dag maak saak.” (Rooi Rose, Januarie 2007)

Sophia se volgende treffer word in 2008 gepubliseer onder die titel Die tuiskoms. Hierdie slag haal dit die kortlys van 2009 se ATKV-prys vir Liefdesromans en word uiteindelik as die naaswenner aangewys. Hierdie roman vertel die storie van Liz Aucamp, ’n suksesvolle dokter en mediese navorser. Sy keer ná baie jare in die stad terug na haar grootworddorp. Hier moet sy leer om die verlede met ander oë te bekyk en vrede te maak met dit wat met haar gebeur het. Daar is ook Herk Louw, ’n baie verwaande prokureur, wat sy moet leer om te trotseer.

In Taalgenoot van Februarie 2009 skryf die resensent: “Die boek raak verskeie sosiale probleme aan waarmee Suid-Afrika worstel: kanker, drankmisbruik, vigs, armoede, diskriminasie, ’n gebrekkige gesondheidstelsel, verkragting en geweld teenoor vroue. […] Gelukkig is Liz ’n sterk vrou wat haar nie laat onderkry nie. En sy leer dat ware vriendskap vir ewig duur.”

Die bekende skrywer Chanette Paul was die manuskripontwikkelaar vir LAPA en sy het Die tuiskoms vir die uitgewers gelees en skryf: “Dit maak my skoon aangedaan dat ons hier sit met die eerste volwaardige, eietydse romantic novel in Afrikaans en dit presies 75 jaar nadat die Bybel in Afrikaans vertaal is. Hierdie manuskrip kan sy plek met trots inneem tussen die Maeve Binchey’s, Nora Robertse en Jodi Piccoults. En die lekkerste van alles is dat Sophia dit regkry met ’n hele nuwe stem van haar eie. […]

“Ek het lanklaas so ’n deurleefde, deernisvolle verhaal in enige taal gelees. Dis ’n verhaal sonder foefies, sonder aansittery, sonder enigiets anders as deurwinterde menslikheid en ’n oorkoepelende mededoë. En dit kry Sophia reg sonder om oorsentimenteel te raak, daarvan red haar heerlike skerpsinnige humor haar telkens. Die verhaal het my beter laat voel oor myself, oor die mensdom en oor die lewe. Om dit reg te kry, inaggenome die verwoestende agtergrond van die karakters se lewens, is ’n kragtoertjie. […]

“Daar is bittermin liefdesromans in Afrikaans en dikwels dra dié ’n bietjie swaar aan literêre eienskappe en swaarwigtigheid. Wat Sophia Kapp se boek onderskei, is dat dit nie ’n tree agteruitstaan vir die soort liefdesroman wat in die internasionale mark so gewild is nie. Dis ’n universele storie wat amper toevallig in Suid-Afrika afspeel en tog klop daar ’n sterk (Suid-) Afrikaanse hart in die kern daarvan, ’n hart wat ’n mens onder meer met nuwe oë na die Klein-Karoo en die lewe self laat kyk.” (LAPA-boeke-katalogus, Oktober–Desember 2008)

Sophia se aanhangers het al gewoond geraak daaraan dat daar feitlik elke jaar ’n nuwe titel uit haar pen verskyn, en met die publikasie van Die ooreenkoms in 2010 stel sy weer nie teleur nie.

Jaybee Roux skryf in Volksblad (19 Junie 2010) dat Sophia met Die ooreenkoms weer nie die pot mis gesit het nie: “Sophia Kapp doen met hierdie boek weer feitlik alles reg. ’n Goeie hook dryf die intrige en verseker konflik en emosionele meelewing.”

Die storie verloop soos volg: “Petronel Cilliers, ’n sanger en kunstenaar met ’n geheimsinnige verlede, se pad kruis met Adam Rossouw, eienaar van die plattelandse huurhuisie waarin sy bly. Petronel besef kort daarna sy is swanger. Adam, ’n alleenouer met twee tieners, oortuig haar om ’n jaar lank met hom te trou. Onverwagte swangerskappe en gedwonge huwelike is ’n ou truuk, maar Kapp weet hoe om holruggeryde temas vars aan te bied.

Die ooreenkoms is heftig, sensitief en aangrypend. Adam oortuig sonder om gestereotipeer te word: ’n mán, weerloos teen die teerheid wat hy instinktief onderdruk. Paul en Jeanne is so befoeterd en verward soos ’n mens van tieners uit ’n gebroke huis sou verwag. Delia is ’n feeks sonder dat die skrywer die krake in haar persoonlikheid probeer regverdig. Jazz, Petronel se vriendin, bring balans en humor. Petronel is ’n sterk, trotse vrou. Feilbaar, maar ’n engel wat met geduld en deernis ’n gebroke gesin wil heelmaak.

“Die intrige swenk, styg en daal, maar dit bly koersvas. Die taalgebruik is meestal ráák, met opmerkings soos ‘’n heerlike pienk sopkom van ’n hoed’. […]

Die ooreenkoms is ’n meesleurende, gevoelvolle verhaal wat groot vreugde bring – ten spyte van enkele dinge wat pla. Kapp gaan nie maklik in hierdie genre oortref word nie.”

Op haar blog skryf die skrywer Alta Cloete só oor Die ooreenkoms: “Geloofwaardige, moderne liefdesverhale is deel van die verskuiwing na kwaliteit- ontspanningslektuur in Afrikaans. Sophia Kapp is vandag ’n leidende stem in hierdie genre. Haar stories is onbeskaamd romanties, maar toon duidelik dat romanties nie geloofwaardigheid hoef uit te sluit nie. Haar hoofkarakters is moderne Suid-Afrikaners wat met moderne probleme worstel en dit op moderne maniere probeer oplos. Die vroue is sterk, maar hulle kern is steeds sag. Die held is nie daar om die heldin se probleme vir haar op te los en haar redder te wees nie, maar om haar binne ’n geborge verhouding toe te laat om as vrou en as mens tot haar volle reg te kom. Die manne is steeds aantreklik, maar hulle het ook ’n hart en vind dat hulle by die regte vrou ook die sagtheid van daardie hart kan toon.

Die ooreenkoms is ’n oënskynlike Aspoestertjie-verhaal van ’n (oënskynlike) arm en onbelangrike meisie op wie ’n magtige, ryk man halsoorkop verlief raak. Hierdie Aspoestertjie is egter van ’n besondere stoffasie gemaak en laat haar geensins intimideer nie. Nie Adam Rossouw se rykdom of sy moeilike kinders en nog moeiliker familie kry haar onder nie. Petronel se wapen is doodgewone liefdevolle belangstelling en menslikheid, gekombineer met ’n eiesoortige sin vir humor en daarmee breek sy stelselmatig die mense rondom haar se mure af. In minder as die jaar van hulle ooreenkoms bring sy soveel verandering en verdieping in Adam Rossouw se lewe dat hy aan die einde van die verhaal nie meer dieselfde ietwat hardvogtige man is nie.

Die ooreenkoms se mense praat moderne Afrikaans wat growwe taal en Engels insluit en juis daardeur die karakters vir die leser lewend maak. ’n Persoonlike gunsteling is Petronel se vriendin Jazz wat vir menige ligte oomblik in die roman sorg, maar terselfdertyd die verpersoonliking van ware vriendskap en omgee is.”

Elize Parker som Sophia Kapp se liefdesromans as volg op: “Sophia skryf warm, emosionele liefdesromans met geloofwaardige heldinne met wie elke vrou kan identifiseer. Gevoelsromans op hul beste.” (Maroela Media, 20 Junie 2014)

Met haar volgende liefdesroman, Die verhuising (2010), bevestig Sophia wat Elize Parker oor haar verhale geskryf het.

“Eerstejaar-belewenisse was nog nooit só opvoedkundig, avontuurlik en beskrywend soos in dié Sophia Kapp-roman nie. In haar boek van 493 bladsye word die wel en wee van die gebore Kapenaar Danelle Liebenberg se eerste jaar by die Pukke vertel,” skryf Gerda-Marié Viviers (Volksblad, 15 Januarie 2011).

Danelle se ouers is geskei en as gevolg daarvan word sy en haar “hoogdrawende” ma verplig om na Potchefstroom te verhuis. Hier ontmoet Danelle ’n uiteenlopende klompie karakters – “onder wie so ’n paar doodreguit, byna skurwe karakters wat haar opbou en afbreek,” skryf Viviers verder. “Daarteenoor is daar ook in-die-dop-gekruipte karakters wat deurgaans onverwagshede oplewer. Danelle moet deur verskeie maatskaplike probleme waarmee sy te make kry, probeer kophou tesame met haar eerstejaarversoekings en -uitdagings. […]

“Die verskeidenheid uiteenlopende persoonlikhede verskaf humor, drama en skep kleurryke beelde in die leser se kop. Voortdurende dramalyne en onverwagshede lei die leser deur die boek met ’n onversetlike wil om aan te hou lees.

“Hoewel Kapp se vertelling effe te grafies omskryf word vir die sedelike leser, verklik dit die diepste en persoonlikste gedagtes van ’n vrou en dit is werklikheidsgetrou. […] ’n Welkome verandering van die roman is dat dit gestroop is van soetsappigheid sonder om die liefde te onderspeel.”

Met haar sewende roman, Huis van die wind, wat in 2011 verskyn het, word Sophia in 2012 weer bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans. Die beoordelaars het gesê dat Huis van die wind goed geskryf is – ’n verhaal wat die leser deurgaans betrokke hou by die ontluikende romanse tussen die twee hoofkarakters. Dit is boeiend en die leser kan met die karakters identifiseer. (Maroela Media, 17 September 2012)

Die roman het in 2020 in Huisgenoot as vervolgverhaal verskyn.

Sophia vertel aan Jaybee Roux (Beeld, 6 Februarie 2013) dat haar uitgewers haar ge-“boelie” het om Huis van die wind in te skryf vir die prys en dat sy bly is hulle het dit gedoen: “Dis ’n groot eer en dis baie lekker om erkenning vir jou werk te kry. Ek is dankbaar dat ’n kultuurorganisasie soos die ATKV toegee dat gewilde genres soos liefdesromanses en romanses ’n enorme rol binne die kultuur speel.

“My grootste beloning is egter wanneer ’n leser sê een van my boeke het dit laat voel asof iemand haar verstaan. Of wanneer iemand sê sy het nou ná baie jare weer Afrikaans begin lees.”

Vir Roux is daar iets spesiaals aan al Sophia se verhale. Baie lesers sal egter saam met Roux ervaar dat veral die menslikheid, teerheid en geloofwaardigheid in Huis van die wind hulle aanraak.

Roux wou by Sophia weet hoekom Huis van die wind vir haar so spesiaal is: “Elke storie wat ek skryf, is anders as my vorige romans omdat ek intussen ouer en wyser geword het. Ek verstaan beter, kan met groter deernis skryf, kan mense beter uitbeeld en hul wroeging beter verwoord.

Huis van die wind is effens ongewoon in hierdie genre omdat ouwêreldse Afrikanerdom teenoor die nuwe bestel opgestel en ’n bietjie vooroordeel in elkeen van ons blootgelê word. Die boek lewer sosiale kommentaar, maar op ’n sagte en gemaklike manier sodat die leser nie voel sy word aangeval nie.”

In Huisgenoot is die storie van Huis van die wind só opgesom: “Die Jordaans is stoere Afrikaners en Rosalie se ma is ongelukkig omdat haar dogter werk as projekbeplanner by die lodge op die buurplaas aanvaar; die lodge behoort aan Juan-Carlos D’Oliveira, die Portugese kafeebaas se seun.

“Juan-Carlos se minnares en jong kind bly saam met hom daar. Met die kontrak wat hy Rosalie aanbied, daag hy haar uit om drie maande lank die aantrekkingskrag tussen hulle te onderdruk en nie sy verhouding te ondermyn nie (of so lei ’n mens af; dié aspek van die roman is effens vaag). Verrassings is volop en die held so sexy dat ’n mens wil begin spaar aan ’n vliegkaartjie Portugal toe. Daar is ’n lang, knetterende toneel wat lesers se wenkbroue sal skroei, maar smaakvol bly.

“Rassisme, snobisme, gay-wees en seksuele teistering word betrek, maar dit voel nooit of dit aan lesers opgedring word nie. Die intrige en emosionele impak sal genrelesers enduit boei. Kapp skryf met haar hele hart, en met ’n vreesloosheid wat ander skrywers in die genre na hul asem sal laat snak.”

Oor die skryf van “stomende” liefdestonele in haar stories vertel Sophia aan Roux dat sy lewensverhale skryf, nie “hygromans” nie, maar sy vermy nie liefdestonele nie: “Ek skryf liefdestonele met dieselfde toewyding en eerlikheid as enige ander toneel in die boek. Maar dis nié nodig om liefdestonele in romantiese fiksie te hê nie. Eva Ibbotson, een van my gunstelingskrywers, het glad nie liefdestonele by haar stories ingeskryf nie en haar boeke is absoluut lieflik.”

Driehoek, Sophia se volgende roman, is in 2013 uitgegee en die heldin daarin, Tessa, was een van die newekarakters in Die verhuising. Met Driehoek verwerf Sophia wéér ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans (2014).

Sophia vertel aan JB Roux (Beeld, 6 Februarie 2013): “Tessa was een van die karakters oor wie ek die meeste kritiek gekry het. Sy vloek dat die blou dampe staan! Maar ek het haar uitgebeeld soos wat ek die studente leer ken het toe ek in Potch gewoon het. Vreemd genoeg was dit ook Tessa oor wie ek die mees positiewe kommentaar gekry het. Lesers het van haar gehou, miskien juis omdat sy so onvolmaak was.

“In Driehoek ontmoet sy die liefde van haar lewe, al verskil hy in elke denkbare opsig van die man van haar drome. Die twee karakters werk hard vir die vervulling aan die einde. Albei word gekonfronteer met hul eie vooroordele – sy is steeds ’n ‘vrye gees’ en hy ’n professor in teologie – en hulle moet ’n groot stuk emosionele groei ondergaan voordat hulle ‘reg’ is vir mekaar.”

Sophia vertel ook meer aan Naomi Meyer op LitNet van Tessa en haar agtergrond: “In Die verhuising was Tessa die ouer vriendin wat met gesonde verstand en haar nugter realisme gehelp het om Danelle deur haar eerste jaar op Potch te kry. In Driehoek is Tessa tien jaar ouer en het haar vry gees en lewensuitkyk haar ingehaal – en Danelle is die een wat moet help om die stukke op te tel. Ek het nooit beplan dat Tessa so ’n prominente karakter in Die verhuising sou word nie, maar sy is nie iemand wat haar laat ignoreer nie. Sy het toe reeds baie sterk gefigureer en ek het net geweet sy het ’n storie van haar eie. Om haar terug te bring Potch toe en haar met ’n baie konserwatiewe, konvensionele held te konfronteer, was heerlik.”

Oor die “geestelike” tema in Driehoek sê Sophia aan Meyer: “Ek kies altyd doelbewus om ’n bepaalde tema of temas in ’n boek aan te raak. In hierdie geval het die vroulike hoofkarakter haarself reg aan die begin van die storie in ’n hoek in geleef, en sy kry, van alle manne in die lewe, ’n Dopper-dominee van Potch. Dit skep natuurlik dadelik groot konflik tussen die twee karakters, en dit is juis bedoel om spanning vir die leser te skep, omdat baie van die vooroordele waarmee dié twee spook, ook maar in ons koppe sit. Dit beteken dat die leser nie die geleentheid gegun word om kant te kies en dan gemaklik in ’n kampie te sit nie. Sy moet saam met die drie hooffigure besef dat die lewe en die liefde nie altyd gemaklik of eenvoudig is nie en dat ’n mens soms hard moet werk om heel anderkant uit te kom. Maar romantiese fiksie is nie die plek om op ’n seepkis te klim nie. ’n Mens mag ’n mening oor alles hê, maar ’n mens mag dit nie op jou leser afdwing nie.”

Madri Victor was een van die beoordelaars vir die ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans vir 2014 en sy het as volg oor Driehoek geskryf: “Met Driehoek bewys Sophia Kapp haar bekwaamheid as skrywer. Haar vurige hoofkarakters, asook die newekarakters, is genuanseerde mense waarmee die leser kan identifiseer; jy word emosioneel betrek van die eerste toneel. Temas soos swangerskap, skuldgevoel, verlies, vooropgestelde idees, Christenskap en die mens se verhouding met God word hier met sensitiwiteit ingespan. Kapp begin en sluit die verhaal af met ’n liefdestoneel, ’n slim strategie wat die vroulike hoofkarakter, Tessa, se groei en ontwikkeling beklemtoon. Kapp laat egter ook die manlike hoofkarakter met sy eie kwessies stoei voordat die liefde hom beskore is. Hertzog en Tessa se liefdesverhaal is oortuigend, lekker hedendaags en romanties. Driehoek is ’n lekkerlees liefdesroman – een van dié wat jy wil aanhou lees tot lank na die einde van die boek.” (LitNet, 13 November 2014)

En in haar artikel “Oor Sophia Kapp, sosiale media en die mag van die leser” (LitNet, 13 November 2014) voeg Madri Victor die menings van die Rakkers op Lekkerlees Boekrak oor hulle voorkeur van Sophia Kapp se boeke só saam: “Waarvan hou ek? Die subtiele wyse waarop sy liefde beskryf. Kyk maar hoe sy al die drie betrokkenes by ’n liefdesdriehoek geteken het. Al drie ly – dikwels dra hulle die gevolge van hul eie optrede, maar op verskillende maniere. Haar werk is nie soetsappig nie. Dis eg menslik – ek kan identifiseer met die karakters, ‘regte’ vrouens wat ook kwaad raak, lelik praat en foute maak. En daar is altyd ’n lekker held wat vir ’n goeie einde sorg. Kapp se karakters lyk en klink soos hedendaagse mense, nie stywe helde en heldinne nie. Hulle is sterk en groei deurlopend in die stories in hulle verhoudinge en hulle eie menswees. Hierdie skrywer skrik ook nie vir ’n ‘hot’ liefdestoneel nie; haar karakters kan lekker warm vry in Afrikaans sonder om vulgêr te raak.

“En terwyl ons aan taal raak, my ma is veral mal oor die suiwer, ordentlike Afrikaans wat sy gebruik. In Kapp se boeke word verskillende storielyne uitstekend aangebied: die karakters bly getrou aan hulself, wat sorg vir harmonie en konflik, en genoeg verrassings wat jou lus maak om verder te lees. Die spanningslyne verflou nooit. Dis bitter moeilik om haar boeke neer te sit, nog moeiliker om afskeid te neem van haar karakters. As ek ’n boek van haar klaar gelees het, is dit asof ek die hele tyd na die karakters bly soek, nog bietjie wil meeleef, meer wil hoor van hulle lewens. Sophia Kapp is een van vier skrywers van wie ek die nuwe boek sal koop die oomblik wat dit die rak tref sonder om te weet waaroor dit gaan. Want ek weet dit sal goed wees.” (LitNet, 13 November 2014)

Een onderwerp wat Sophia baie na aan die hart lê, is geweld teen vroue en die reg van vroue om hulle regte op te eis. Sy het op 29 Augustus 2013 in Valhalla Park, ’n gemeenskap op die Kaapse Vlakte, daaroor gepraat. (Die biblioteek in Valhalla Park was in 2013 aan die ontvangkant van ’n ATKV-toekenning vir leesbevordering.)

Op LitNet is ’n opsomming van haar toespraak geplaas: “Geweld teen vroue kom oral voor. In die armste dele van ons land, en in die rykste woonbuurte. Die vrees wat vroue ervaar, is universeel, die pyn ook. Geld en status beskerm vroue nie teen mishandeling nie; alle vroue, hoe ryk of hoe arm, moet saamwerk om die siklus te stop. Word dit nie gedoen nie, dink meisies wat in gewelddadige huise grootword dat hulle ook eendag hulself moet onderwerp aan geweld, en seuns wat só grootword dink dat hulle ook eendag so moet optree. Néé, sê Kapp. Vroue moet aan hul meisiekinders wys dat dit nie só mag wees nie en moet op hul seuns se harte druk dat dit nie is hoe vroue behandel mag word nie.

“In haar eie skryfwerk spreek sy die donker sy van die lewe aan. Haar boeke is daarop gemik om vroue te wys dat dit reg is om op te staan uit moeilike situasies. Sonder om skaam te wees skryf sy wel oor die liefde, maar haar heldinne is mense wat eers die lewe in die oë moet kyk om gelukkig te wees. Kapp se boeke beloof nie eenvoudige oplossings as ’n fabelagtige held skielik opdaag nie. In haar jongste boek, Driehoek, is dit juis die manlike hoofkarakter wat die meeste groei moet toon voordat die vrou hom toelaat om haar lief te hê.

“Waarom skryf sy oor die liefde? Die pers is dikwels minagtend oor hierdie genre, maar vroue wat swaarkry, wil ontvlug deur oor die liefde te lees. Kapp sê in haar boeke is daar wel ontvlugting teen die einde, maar dit kom nie sonder dat die karakters daarvoor moet werk nie.” (LitNet, 29 Augustus 2013) (Lees haar volledige toespraak, “Vrees het nie ’n kleur nie”: Sophia Kapp se toespraak op die Kaapse Vlakte – https://www.litnet.co.za/vrees-het-nie-n-kleur-nie-sophia-kapp-se-toespraak-op-die-kaapse-vlakte).

Sophia se volgende roman word in 2016 gepubliseer onder die “eye-catching” titel Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva. Kortliks loop die storie van Oorlewingsgids só: “Dis die storie van Simoné, ’n tipiese middeljarige vrou wat die tweede keer uit ’n huwelik stap. Sy is in elke opsig bankrot en moet van voor af opbou aan haar lewe en al haar verhoudings. Sy moet boonop terugkeer na haar geboortedorp, waar sy ten aanskoue van haar kritiese ma en suksesvolle suster die drade moet optel. Tree vir tree vind sy weer rigting, maar sy is nie voorbereid daarop dat die liefde haar weer sal vind nie.”

Sophia vertel aan Elna van der Merwe (Huisgenoot, 10 November 2016) dat die boek bedoel is as ’n lekkerleesboek, hoewel daar so tussen die storie deur wel stukke is wat lyk of dit bedoel is vir vroue wat nog nie herstel het ná ’n egskeiding nie: “As enigiemand dus iets uit die storie haal wat vir hulle iets op hul lewenspad kan beteken, is dit ’n bonus.

“Die stukkies uit die ‘diva-gids’ is eintlik maar gewaarwordings wat ek self versamel het uit my eie en my vriendinne se ervarings. Ek het dit geskryf omdat ek soms moeg raak vir die fraai pleistertjies wat ’n mens veronderstel is om op te plak wanneer jy voel die aarde het van sy as af geknak.”

Sophia sê ook aan Van der Merwe dat sy nie daarin belangstel om meer “literêre” skryfwerk aan te pak nie: “Ek is regtig 100% gemaklik met wat ek skryf. Ek weet geen liefdesroman is ooit onsterflike letterkunde of gaan in ’n kanon opgeneem word nie. Dit wat ek op voetsoolvlak doen, is myns insiens net so belangrik as om letterkunde te skep.

“As ’n mens ’n gewone leser weer gretig maak om Afrikaans te lees (en hier moet ek my meer ervare skryfkollegas soos Irma Joubert, Wilna Adriaanse, Chanette Paul en Kristel Loots baie krediet gee), het jy ’n rol vervul wat net so belangrik is as om literêre fiksie te skep.”

Simoné, die heldin in Bedonnerde diva, raak ná haar egskeiding verlief op ’n man heelwat jonger as sy, en Van der Merwe wou weet hoekom Sophia dan die “katelknaap” in die storie ingebring het: “Want Simoné verdien ’n man wat by haar kan byhou. Ná haar rampspoedige huwelik waarin sy op elke moontlike manier verwerp is, ook fisiek, kry sy ’n man wat haar waardeer, ook vir haar seksualiteit.”

En oor vroue in hul middeljare sê Sophia dat vroue op daardie tydstip in baie opsigte onderskat word, en hul seksuele vermoëns is maar net een aspek daarvan: “’n Vrou wat haar jeugdige vrese oorwin het, wat gemaklik is in haar lyf, al is sy nie meer perfek nie, is ’n wonderlike bedmaat.”

Oor die seks in boeke en of die uitgewers “sensuur” toepas as dit by sekstonele kom, verduidelik sy aan Elna van der Merwe: “Ek kan nie namens Lapa praat nie, maar die algemene ‘reël’ vir romantiese fiksie is dat enige fisieke gebeurtenis in diens is van die ontluikende liefdesverhouding. Seks ter wille van seks of ter wille van die erotiese gehalte daarvan hoort in ’n ander genre. Daar is nie ’n reg of verkeerd nie; jy kan nie vir ’n leser van romantiese fiksie biologie aanbied as sy romantiek wou gehad het nie.”

Elmari Rautenbach gee haar mening oor Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva in Die Burger van 7 Maart 2016: “Kapp se Oorlewingsgids is onverdunde plesier. Dit het my laat terugverlang na Desembervakansies op hoërskool, toe ek smiddae in die koel stilte van Hermanus se biblioteek stapels liefdesverhale kon uitneem om dit dan in ons agterkamer te lê en verslind.”

Maar, skryf Rautenbach, daar is ’n hele aantal verskille tussen Sophia Kapp se diva en die heldinne van toeka. Verskil nommer een is dat Simoné weet sy gaan in ’n geveg betrokke wees en dit met haarself: “Dis die eerste kenmerk van diva-wees, leer ons uit ’n oorlewingsgids, wat die hoofstukke van die storie afwissel: ‘Al wat jy kan fieks, is jouself’.”

Vir Rautenbach is dit een van die groot plesiere van Oorlewingsgids: om te ervaar hoe die hoofkarakter haar pad na heling en opstaan begin loop.

Die tweede verskil is: “Hierdie vrou is geloofwaardig. Sy’s middeljarig en haar bra lyk soos ‘twee inkopiesakke met ’n appelkosie onder in elk’. Haar wêreld is geloofwaardig, veral met haar seun en ma. Dié karakters is ’n vonds. SW (die seun) stap volkome mens uit die blaaie uit – van bedremmelde seun tot jonghondjie-gelukkige puber. Magdaleen, Simoné se ma, vou as ’t ware oop van ’n konvensionele tannie in ’n empatieke ouer, wat haar omgee en kommer onder voorskriftelikheid verberg.

“En dan is daar die held – verskil nommer drie: hy sorg vir ontvlugting, en hóé! Barnard Richter dra by tot ’n klimaks wat die betekenis van die woord in alle opsigte gestand doen.

“Die boek sluit af met ’n verrassing, die inleiding tot die oorlewingsgids, wat finaal bevestig: Jy kan so ’n gids net skryf as jy sélf die pad geloop het.”

Naomi Meyer is die onderhoudvoerder oor Oorlewingsgids op LitNet en sy wou by Sophia weet wat die swaarste vir haar weeg: die mening van haar leser, of die mening van haar resensent. As sy nie wil kies nie, hoe sien sy die rol van die leser en/of die resensent?

Sophia reageer só: “Omdat ek liefdesromans skryf, loop ek nie rond met die verwagting dat my boeke geresenseer gaan word nie. Dit is nie iets wat my grief nie, dit is bloot ’n feit. Resensies soos wat ons dit geken het, is iets wat al die jare maar vir letterkunde gereserveer is. Maar ek dink die boekewêreld is, nog meer as enige ander afdeling van ons lewe, deur digitalisasie op sy kop gekeer. Die ou model waar ’n boek verskyn het en deur resensente onder lesers se aandag gebring is, is verby. Sosiale media het ’n momentum van sy eie en boekwurms is mos in elk geval woordmense – hulle praat. Teen die tyd dat die resensie verskyn, het hulle al vergeet hulle het die boek gelees. Sonder om gemeen te wees daaroor, dink ek die outydse resensie in ’n boekeblad is ’n gebaar, nie ’n diens aan lesers nie.

“Die uiterlike erkenning wat soms oor ’n mens se pad kom (resensies, artikels soos hierdie, pryse, praatjies), is heerlik en ’n geleentheid vir interaksie met mense wat jy nie andersins sou leer ken nie. Maar ek het nog nooit ’n enkele woord geskryf met dit as oogmerk nie. Ek skryf altyd ’n storie en ek skryf dit altyd vir die leser. Ek is in haar diens. Iemand wat vir my ’n boodskap op Facebook stuur en sê sy het my boek geniet, is meer werd as enige resensie.”

Die storie van Simoné is in Oorlewingsgids verweef met bladsye uit haar dagboek, skryf Daleen Venter op LitNet. In hierdie bladsye leer die leser vir Simoné ken deur al haar woede en hartseer, asook “onkonvensioneleselfhelpwenke vir divas”. Hierdie wenke vorm dan later die inhoud van Joernaal vir ’n bedonnerde diva, wat ook in 2016 uitgegee is.

“Die joernaal is ’n selfhelpgids wat enige bedonnerde vrou kan help om weer koers te kry nadat die lewe haar ’n paar dwarsklappe gegee het,” skryf Daleen Venter. “In Joernaal vir ’n bedonnerde diva raak Kapp belangrike temas aan. Daar word onder andere raad gegee vir die vrou wat pas ’n eksvrou, stiefma of enkelouer geword het. Tussendeur is daar eenvoudige resepte van gunstelingdisse en ook leë bladsye waar jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Jy kan jou eie wenke en resepte neerpen en selfs foto’s, briefies, kaartjies en breipatrone inplak om jou te herinner dat jy ‘’n skeppende wese is wat iets kosbaars het om vir die wêreld te gee’.

“Die blinkste juweel in hierdie joernaal is egter die kort essays. Die vrou wat afgeleef en verlep voor die winkelrak met Valentynsdagbederfies staan, oom Thys en die kinders in die kosmos, en die moedelose ma wat voor die bokspap staan en bid, sal jou bybly lank nadat jy die joernaal volgeskryf het.

“Met Kapp se diva-boeke is dit weer eens klinkklaar hoekom sy soveel getroue lesers het. Sy ken haar karakters én haar lesers. Sy skep lewensgetroue helde en heldinne vir intelligente, ingeligte lesers. Kapp skryf eerlik, dikwels pynlik eerlik, en sy draai nooit doekies om nie: jy word gestroop van jou pretensie en gekonfronteer met die onregte van die lewe. Boweal word jy aangehits om self die leisels in die hande te neem en nou jou eie lewensbesluite te neem ten spyte van die foute wat jy in die lewe gemaak het. […]

“Koop die diva-boeke vir jouself, jou suster, ma of vriendin. Enigeen wat al deur die lewe (of ’n man) bedonner is. Koop dit ook vir diegene wat oënskynlik die perfekte verhouding en lewe het, want alles is nie altyd rooskleurig nie en hulle gaan waarskynlik nog eendag bedonner word. Pantser hierdie vrou met Joernaal vir ’n bedonnerde diva sodat sy weer kan opstaan, die stof van haar hoëhakskoene kan afskud en die aanslae van die lewe onwrikbaar kan aandurf.”

Tussendeur die liefdesromans wat Sophia skryf, ruim sy ook tyd in om titels in die Romanza-reeks te skryf – Moeilikheid met ’n meermin (2016) en Tweede kans op geluk (2019) – en in 2017 skryf sy haar eerste romanse in Engels onder die titel My brother’s keeper en word dit deur Kindle uitgegee.

Sophia se volgende roman is Kantelpunt wat in 2018 deur LAPA uitgegee is.

In Sarie (2018)skryf Phyllis Green só oor die storie van Kantelpunt en die hoofkarakter, Nellie van der Merwe – ’n wit 50-jarige, Afrikaanse vrou: “Deur haar verhaal met ons te deel sê sy uiteindelik alles wat elke vrou in Suid-Afrika wil sê. Sy vra vrae oor wat haar plek nou in die nuwe demokratiese bestel is. Het sy die reg om haar frustrasies uit te spreek, om ’n stem daaraan te gee?”

Nellie het vir baie jare, soos so baie ander vroue in Suid-Afrika, haar mond gehou. Sy was haar man se onderdanige slaansak as sy teen sy sin optree, en boonop moes sy ook haar mond hou vir haar skoonma wat altyd aan haar seun se kant is – al weet sy hy is verkeerd.

Toe moes Nellie ’n histerektomie ondergaan, “en kantel haar wêreld. ‘Sy is ’n vrou en sy weet nie wat ’n histerektomie aan ’n vrou se lyf doen nie’ (p 32). Al is dit haar eerste vraag, bly dit nie daar nie. Nellie begin alles bevraagteken: patriargie, seksisme, die kerk se rol in die samelewing, seksualiteit en Afrikanerskap.”

Phyllis Green skryf verder: “Kapp skryf die roman in die vorm van ’n hipomnemata. Daar is Nellie se verhaal en dan is daar stukke aanhalings uit akademiese tekste, ander romans, biografieë, liedjies, gedigte en ander bronne. Dit vorm ’n belangrike deel van die roman, want dit gee vir die leser insig in waarom Nellie se gewaarwordinge is wat dit is. Haar verhaal is direk, met humor en deernis vertel en een waarmee elke vrou in die land uiteindelik sal identifiseer. Dit laat jou ook met vrae oor wat jou eie plek as vrou in die samelewing is.”

Oor wat haar geïnspireer het om Kantelpunt te skryf, vertel Sophia aan Phyllis Green (2018) dat daar ’n hele paar “vonke” vir die verhaal was: “Maar ek het op ’n kol in ’n gesprek betrokke geraak waaraan ’n jong swart meisie deelgeneem het. Oulik, woordvaardig, gesofistikeerd, welsprekend. En iewers deur die loop van die gesprek, toe ek my sê wou sê, sê sy vir my ek moet stilbly en luister, want my beurt om te praat is verby. Ek het my bloedig vererg, maar dadelik besef ek is nie kwaad vir haar nie, ek is kwaad oor iets anders. En toe ek behoorlik daaroor nagedink het, besef ek die meisie dink ek het ’n stem gehad omdat ek wit en Afrikaans en ’n produk van die apartheidsjare is. Intussen moes ek die hele tyd my mond hou omdat ek wit en Afrikaans en ’n produk van die apartheidsjare is. Dit was daardie besef – dat wit vroue in die ou SA nie ’n stem gehad het nie, en dat hulle nou al weer nie ’n stem het nie, weer omdat hulle wit vroue is – wat die hele boek se sneller was.”

Oor die skryfproses van Kantelpunt erken Sophia aan Green dat om die boek te skryf nie ’n maklike proses was nie: “Dit was vir my moeilik om ’n hoofkarakter te skryf wat absoluut verseg om verlief te raak. Ek het vir haar ’n mooi man geskep, maar sy was so skrikkerig om betrokke te raak dat ek die keuse aan haar moes oorlaat. Dele van die boek het my gedreineer. Daar was stukke wat my so sat gehad het dat ek vir twee weke niks kon skryf nie.”

Nadia de Kock resenseer Kantelpunt vir LitNet (14 Januarie 2019): “Kapp kán ’n storie vertel, en haar waarnemingsvermoë is fyn ingestel. Die alledaagse word raak beskryf. Wie het nie al oë toegeknyp en meer kos probeer optower wanneer ongenooide gaste vir ’n braai-en-rugbykyk opdaag nie? Eweneens die hartseer besoeke aan bejaarde ouers in ouetehuise, asook die ongemaklike jaarlikse ginekologiese ondersoek.

“Die skrywer slaag merendeels daarin om die slaggat van stereotipering te vermy. Hendrik se ongelukkige kinderdae word met sensitiwiteit geteken en aspekte van sy gedrag kan aan die hand hiervan verklaar word. Sover dit Nellie se vriendin Selma aangaan, word daar egter gevaarlik na aan stereotipering beweeg. Karakters soos Annabelle, Stefan en Ntando word goed uitgebeeld. Die toneel waar Nellie uiteindelik haar stem teenoor Ntando vind, is ’n hoogtepunt.

Kantelpunt is uiters leesbaar, met genoeg humor om die donker te verlig en taalgebruik wat louter genot is om te lees. Die aanhalings wat Nellie versamel en wat deurlopend in die roman voorkom, kon egter op sommige plekke beter met die storie geïntegreer gewees het. Aan die positiewe kant sal die aanhalings lesers moontlik oorreed om verder na te lees oor die verskynsels wat bespreek word. Daar sal ook lesers wees wat ’n tweede lees van die roman waarskynlik vinnig na die eerste een sal aanpak. Dit getuig van die skrywer se bekwaamheid as storieverteller dat die verhaal meesleurend bly ten spyte van die onderbrekings wat die aanhalings tot gevolg het.

“Kapp is ’n gewilde skrywer. Haar vorige roman, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, het in 2016 verskyn en is steeds onder Graffiti Boeke se topverkopers. Kantelpunt verkoop ook reeds soos soetkoek. Die roman, wat deur die uitgewer as ’n feministiese roman vir konvensionele vroue beskryf word, kan ook as ’n inleiding tot die feminisme beskou word en sal vroue waarskynlik laat besin oor hul rol en regte in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hopelik lees mans saam; Kantelpunt het die potensiaal om die debat oor die patriargie en feminisme behoorlik te laat vlamvat in die Afrikaanssprekende gemeenskap. Die roman word sterk aanbeveel vir alle Afrikaanssprekende lesers – mans én vroue.”

Sophia se Kantelpunt het Nicole van Niekerk, student aan die Open Window Institute, na die pen laat gryp om haar mening op Netwerk24 te lug (24 Januarie 2019): “Sophia Kapp stel dit duidelik in haar boek, Kantelpunt. Die vrou moet op haar eie vlak wees, nie op dié van die man nie, maar sy moet dieselfde regte en geleenthede hê as ’n man. […]

“Hoekom moet daar ’n kantelpunt in ’n vrou se lewe, baie keer ná 40, kom voordat sy haarself die reg toe-eien om selfgeldend te wees? Ek raai almal aan om Kantelpunt te lees. Kapp trek elke greintjie van wat fout is met ons kultuur uit die fondasies van Afrikaans-wees uit en herbou dit met ’n verruklike en baie realistiese ‘rebirth of Venus’.

“Sy bevraagteken die patriargale en konserwatiewe fondamente van ons samelewing en sy gee bevryding vir dié wat nog nie gedesensiteer is nie en wat steeds skuldig voel. Hierdie boek het my laat besef dat ek nie ’n lewensveranderde gebeurtenis hoef te ondergaan om my mening te lug oor dinge wat my raak nie. Ek het ’n sê hê oor my lyf en wat daarmee gebeur en ek gaan nie stilbly nie as ’n man voel hy kan my soos ’n vloerlap hanteer omdat dit die voorbeeld is wat aan hom gestel is. […]

“Ek is dankbaar vir Kapp en die insig wat sy in haar boek gedeel het.”

In 2020 word Kanaän gepubliseer en is dit in 2020 Nielsen se naasbeste verkoper op hulle boekverkopelys.

Op Maroela Media word die storie van Kanaän opgesom: “Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eens ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om haar stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.”

Naomi Meyer gesels met Sophia op LitNet (Februarie 2021) oor Kanaän en wil by haar weet wat die vonk was agter die ontstaan van Kanaän. Sophia antwoord: “Ek het ná Kantelpunt geweet ek is nou moeg vir ’n militante vrou en ’n lamsakkige man; ek het nou ’n behoefte aan ’n mooi meisie en ’n held in die ware sin van die woord. Chrisjan was die eerste karakter wat ek geskep het, en ek het Katryn letterlik vir hom gemaak. Ek het vir almal in Kanaän ’n sagte plek, maar ou Chrisjan is maar my gunsteling. Maar die sneller vir hierdie storie was die opkoms van Donald Trump en sy moderne weergawe van nasionaal-sosialisme. Mense se onvermoë, of onwilligheid, om die verbande tussen moderne nasionalistiese retoriek en Nazisme raak te sien, maak my bang.”

Kanaän het as agtergrond die plaaswêreld, en om dit outentiek te laat voorkom, het Sophia een vakansie haar pa oor die telefoon uitgevra oor sy oupa se plaas naby Senekal in die Vrystaat, vertel sy aan Meyer. “My pa het as ’n jong skoolseun vakansies daar gaan kuier, maar sy oupa is oorlede toe hy 10 was, en ek het nooit die plaas te siene gehad nie. Ek moes dus staatmaak op wat hy kon onthou […]. Die goed in die huis, of daar water en elektrisiteit was, of daar ’n foon was, en die opset met die opstal en die stalle kom dus uit sy vertellings, maar die res bestaan net in my kop.

“Maar kom ek verklap hier so ’n bietjie van ’n skrywer se geheime: Dit is nie nodig om vir ’n leser vreeslik baie besonderhede oor ’n omgewing te gee nie. Dis genoeg om een of twee goed oor die omgewing te sê wat ’n bepaalde indruk skep, en die res aan die leser oor te laat. Die lekkerste stories is trouens dié waarin ’n skrywer net genoeg inligting gee dat die leser self die prentjie kan inkleur, want op dié manier raak die leser by die storie betrokke. As ’n mens ’n lysie sou maak oor wat in die boek oor die plaas en die plek geskryf staan, sal jy sien die werklike beskrywings is min. Daardie prentjie in jou kop het jy self gemaak.

“Dit is ’n skryftegniek, soos ek gesê het, maar dit was vir my veral in hierdie verhaal belangrik dat die leser haar eie belewing en haar eie prentjie van die plek moes skep. Ons het almal iewers in ons verlede ’n Kanaän, en ons moet almal daardie plek gaan besoek, sodat ons kan erken wat daar gebeur het en kan gaan versoening soek met die mense wat nou nog daar is.”

Oor die skryf van haar helde en heldinne in Kanaän vertel Sophia aan Cliffordene Norton op LitNet (22 April 2020): “Die uitdaging vir my is altyd om ’n liefdesverhaal verantwoordelik te skryf. Ek wil nie ’n held of ’n heldin skryf wat nie die titel verdien nie, en in hierdie geval moes ek van wit Afrikaanse grondeienaars helde maak. Binne ’n moderne narratief is hulle almal per definisie boos, en ek moes baie versigtig aan Chrisjan en sy bure skryf dat hulle nie aan die een kant versink in die gewone mitologisering nie, maar ook nie aan die ander kant onwaardige en ongeloofwaardige karakters word net omdat hulle bang is om ’n moderne geslag lesers te affronteer nie.”

Anschen Conradie gee haar reaksie op Kanaän op Goodreads: “Hier – en elders – is al baie oor hierdie boek gesê; dit is dus sinneloos om die sinopsis te herhaal. Ek sal volstaan met die volgende: Kanaän is ’n historiese roman wat teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika (hoofsaaklik op ’n plaas in die Vrystaat) afspeel. Vooroordele en diskriminasie is belangrike temas; die onaanvaarbaarheid van ‘anders’ wees sentraal daartoe.

Kanaän is nogal ’n lywige boek (bykans 500 bladsye) maar dit lees maklik en vinnig, vloei lekker, stel die leser bekend aan karakters wat gou in jou hart kruip, die dialoog is pittig en oortuigend en die omgewingsbeskrywings besonder realisties (ek het my verbeel ek vóél die Vrystaatse winter.)

“Mense se onvermoë om te kommunikeer veroorsaak heelwat konflik en misverstande en was soms – veral tussen die hoofkarakters – vir my ’n bron van frustrasie, maar ’n paar onverwagte kinkels het verhoed dat sulke situasies in clichés verval. Op die ou end het ek die boek toegemaak en gedink: dit was nou lekker!

“Ek het baie gedink oor die stertoekenning; om ’n boek soos Kanaän te vergelyk met die (meestal Engelse) rillers wat ek die afgelope tyd gelees het, sou onregverdig wees. As historiese fiksie met ’n dik romantiese streep verdien dit ’n soliede 4 sterre by my. Lesers wat Irma Joubert geniet, kan Kanaän gerus ook aanskaf.”

Kanaän is Sophia se eerste historiese roman en sy moes noodgedwonge heelwat meer leeswerk vir die storie doen. Dit spreek ook die Tweede Vryheidsoorlog aan en Cliffordene Norton wil op LitNet weet watter navorsing sy gedoen het en of dit vir haar moeilik was om oor dié oorlog te skryf.

Hierop antwoord Sophia: “Die verhaal speel ’n geslag ná die oorlog af. Teen 1944 was daar ’n hele paar ander goed wat ook al die verloop van die geskiedenis gestuur het (onder andere die Depressie) en die jongmense van daardie tyd het nie meer ’n persoonlike belewing daarvan gehad nie. Maar ek het in ’n familie grootgeword wat die Vryheidsoorlog aan hulle eie lywe ervaar het – die einste oupagrootjie met die plaas was ’n krygsgevangene op Diyatelawa (nes Chrisjan se pa) – en ek weet hoe intrinsiek daardie oorlog deel gebly het van mense se denke.

“Die hele verskuiwing in die geskiedenis wat in daardie jare plaasgevind het (in 1943 het Smuts nog die verkiesing gewen; in 1948 het die Nasionale Party aan bewind gekom) is ’n direkte gevolg van Afrikaners se onvermoë (of onwilligheid) om van die onreg van die Vryheidsoorlog te vergeet. Afrikaners het in groot getalle in die idee van nasionale trots ingekoop, en vir baie was Nazisme ’n ding waarby hulle aanklank gevind het. My een oupa het Duitse familie in Namibië gehad, en vir hom was dit ondenkbaar dat ons aan die kant van die Engelse teen die Duitsers moes oorlog maak.

“Die verontregting wat Afrikaners oor en tydens die Vryheidsoorlog ervaar het, was werklik. Die vernedering daarvan, en die verontmensliking, was ’n werklikheid. Maar die vraag bly: Wat is die aanvaarbare reaksie op so ’n verontregting? Is wraak geregverdig? Is wrokkigheid? Vir hoe lank? Watter vorm mag die wraak aanneem? En is daar ooit ’n einde aan, of mag ’n mens nou maar net vir tyd en ewigheid aan die onreg vasklou?

“Dit het my altyd verstom hoe ons die skakels tussen Nazisme en die opkoms van apartheid miskyk. Is dit doelbewus? Wil ons nie erken dat die boosheid wat in hierdie land gepleeg is, dieselfde boosheid is wat soveel chaos in Europa veroorsaak het nie? Dit help nie ons skram daarvan af weg nie. Dit is die les wat ons uit die geskiedenis moet haal: Wat het ons verkeerd gedoen? Wat moet ons in die toekoms vermy?

“En ek het die aanhaling [‘It happened, therefore it can happen again’] van Primo Levi (’n Italiaanse Jood wat Auschwitz oorleef het) voor in die boek doelbewus gekies omdat dit ons herinner dat ons nie kan dink gruwels gaan nie weer gebeur nie. Die geskiedenis bestaan uit patrone, en as ons nie keer nie, gaan dié patrone hulle herhaal. Net soos wat die wêreld destyds gesteier het onder die opkoms van ’n ongesonde nasionalisme in Duitsland, so het Suid-Afrika later gesteier onder die opkoms van ’n ongesonde Afrikanernasionalisme.

“Net so sal die wêreld steier onder ongesonde Chinese of Amerikaanse of Afrika-nasionalisme. As ons nie vir mekaar tyd maak en plek gun nie, gaan die tragedies net bly voorkom, en gaan ons kinders geslag ná geslag soos Gabriella Lerato Bruno van hulle wortels en hulle plek afgesny word. Iewers sal ons – en ek bedoel alle Suid-Afrikaners, nie net Afrikaners nie – moet leer om te vergewe en om te aanvaar. En om saam met mekaar om ’n tafel te sit met die wete dat ons almal ewe veel daar hoort.”

Sophia se Heimwee tref in 2022 die rakke en dit is deur Boekdiva uitgegee. Boekdiva se naam is deur Leonie van Rensburg geskep. Sy was die eienaar van Graffiti Boekwinkel en haar bynaam in die boekbedryf was al die jare Boekdiva.

In 2023 word Heimwee bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans. Die beoordelaars (Malene Breytenbach, Cliffordene Norton en Ilse Salzwedel) het Heimwee beskryf as ’n “klassieke liefdesverhaal met goed ontwikkelde karakters wat tot die leser spreek en met intrige wat regdeur boei. Die meesterlike hantering van die verhaallyne getuig van ’n bedrewe skrywer, en ’n mens verlustig jou in haar uitstekende taalgebruik. Sy doen ook deeglike navorsing, maar sluit die historiese feite naatloos by die verhaal in. Dis ’n goed afgeronde roman uit die pen van ’n skrywer wat nie net haar lesers ken en verstaan nie, maar ook haar genre.”

Sophia het dankie gesê vir die ATKV vir die toekenning en “vir die werk wat die vereniging doen om aan skryfwerk wat op die breë publiek gemik is, erkenning te gee. Dit is ’n groot eer en voorreg om deel te wees van die galery wenners in dié kategorie. Hulle is almal wenners.” (Netwerk24, 20 September 2023)

Heimwee vertel die storie van twee vroue – Liesbet Vermaak s’n wat rondom 1945 afspeel en professor Mart-Mari Louw s’n wat in die hedendaagse tyd afspeel.

In Huisgenoot (9 Desember 2022) skryf Elna van der Merwe verder oor Heimwee: “’n Onnoembare tragedie tref die Vermaaks, wat veroorsaak dat Liesbet skielik na haar twee jonger broers moet omsien. Sy word deur omstandighede gedwing om ’n onbekende soldaat se foto te steel en voor te gee dat dit haar man is. Haar leuen begin haar inhaal die dag toe sy Gert Niemand sien, ’n man wat van die slagveld na Suid-Afrika teruggekeer het waar niks en niemand op hom wag nie.

“Mart-Mari is ’n pediater wat glo sy kan net suksesvol wees as sy haar afsny van emosie. Sy moet na die familieplaas Heimwee gaan vir ’n begrafnis – sonder ’n man aan haar sy. Haar drie susters staan vir seker gereed om haar weer hieroor te vergal. Sy vra haar buurman, ’n flentergatnutsman, om haar te vergesel en te maak of hy haar ou is.”

Al Sophia se lesers weet al hoe belangrik verhoudings en die ontwikkeling daarvan vir haar is, en in Heimwee is dit weer so. Sy vertel aan Van der Merwe watter belangrike verhouding die vonk vir haar verhaal was: “As ’n mens verhoudingsromans skryf, is dit die verhouding met die ma wat jy moet ondersoek, want dit is die een verhouding wat ons almal het – ons is ’n ma of ons het ’n ma. Dis ook die een verhouding wat jou vir die res van jou lewe vorm. As daardie verhouding om watter rede ook al skeefloop, is daar skade, en die skade is dikwels diep en permanent. En tog is ons almal se ma’s ook net mense – hulle het foute.

Heimwee gaan in wese oor ’n ma se menslikheid, die keuses waarvoor die lewe haar stel en die vergifnis wat sy by haar kinders kry wanneer hulle – gewoonlik eers ná haar dood – besef wat sy vir hulle opgeoffer het.”

Cliffordene Norton gesels op LitNet met Sophia oor Heimwee en sê sy hou altyd baie van Sophia se helde. Sy hou veral van Gert Niemand, die historiese held, wat so kwesbaar is, terwyl Anton Nieuwoudt, die nutsman, sensitief is, maar beslis niemand toelaat om oor hom te loop nie. Wat was die inspirasie agter twee manne?

Sophia sê: “Ek skep altyd baie versigtig aan my helde. Hulle is nie noodwendig perfek nie, maar hulle is perfek vir die heldin saam met wie hulle aan die einde van die boek lank en gelukkig moet saamleef.

“Gert was die dwalende een, wat op Heimwee (die plaas) ’n tuiste gekry het. In die moderne storie is Mart die dwalende een. Die parallel is dus eintlik tussen Mart en Gert, nie tussen Anton en Gert nie. Maar ja, Anton is die dapper, koppige een wat Mart uit haar dop trek. Soms ’n bietjie onhandig, omdat hy ook maar nie verstaan hoe haar kop werk nie, maar altyd met deernis en altyd met onbetwiste lojaliteit.

“Ek dink as ek een eienskap moet uitsonder wat my helde moet hê, is dit daardie een: Hulle is lojaal. Al verstaan hulle nie die heldin altyd nie, al maak hulle soms droog, is hulle lojaal. As ’n man lojaal is, kan ’n mens hom eintlik maar enige ander tekortkoming vergewe.”

Sophia het haar ook uitgespreek oor die pryse van boeke en Norton wou by haar weet hoe belangrik lesersopvoeding is as dit kom by die publikasie van boeke: “Ek is nie mal oor daardie woord ‘opvoeding’ nie. Dit laat dit altyd klink asof die mense met wie jy praat, onopgevoed is, en Afrikaanse lesers is dit allermins! Selfs sogenaamde ongeleerde lesers is dikwels baie belese, en hulle is ryk aan lewenswysheid, al het hulle dan nou nie materiële rykdom nie.

“Maar ja, ek dink dis belangrik dat die inligting omtrent boeke en die boekbedryf meer openlik bespreek word. Ek het met die gesteel van boeke op WhatsApp en ander sosiale media besef mense dink skrywers rol in die geld – ons is almal net een trappie onder JK Rowling en Danielle Steele en woon in huise met marmervloere en vyftig skoorstene.

“Intussen is die meeste van ons in die wolke as ons ’n kind se skoolgeld met ons tantième kan betaal. Vir die meeste skrywers is skryf liefdeswerk, wat ons doen vir ons eie kreatiewe siele, vir die lesers en vir Afrikaans.”

Oor die titel Heimwee vertel Sophia op LitNet aan Norton dat haar ma se ouers op ’n suikerplaas in die destydse Stanger-distrik gebly het. “My oupa was ’n bestuurder, en hul opstal se naam was Heimwee. Dis vir my so ’n mooi woord, en dis ook myns insiens een van die mens se diepste behoeftes – daardie sin van plek, waar ’n mens behoort ongeag wat jy is en nie is nie. Dis ’n soort sekuriteit wat groot skade berokken as ’n mens dit nie het nie.”

In Sarie van 10 Januarie 2023 gesels Phyllis Green met Sophia oor Heimwee en spesifiek oor die rol van afskeid en afsluiting, tweede kanse en ’n nuwe begin, aangesien dit alles saam vir Green ’n sterk tema in die verhaal is.

Sophia antwoord: “Ons is terug by daardie patroonmatigheid en sirkelgang van die geskiedenis. Dit is so, so belangrik om te begryp dat die verlede ’n mens maak wat jy is, maar dis ook belangrik om te begryp dat jy nie ’n willose slagoffer van die verlede is nie.

“Dis moontlik om te verander, maar dan moet jy die verlede in die oë kyk, erken wat verkeerd geloop het en doelbewus werk aan die mens wat jy graag wil wees. Daarom moet ’n mens dapper genoeg wees om oor die verlede te praat, maar ook groot genoeg om dit neer te lê. […]

“Ek glo onwrikbaar in tweede kanse. As daar nou een waarheid is wat in alle omstandighede geld, is dit dat ons almal foute het en almal by geleentheid droogmaak, ernstig droogmaak. In so ’n mate dat ons nie die gevolge daarvan kan omkeer nie, die gemors is blywend. Al wat ons dan tot ons beskikking het, is die liefde en deernis van ons naaste mense, wat ons vir ons menslikheid vergewe. Môre maak hulle droog, dan moet ons vergewe.

“Maar ek glo ook nét in tweede kanse. Ek glo nie in vierde en vyfde en sewehonderdste kanse nie. As jy jou tweede kans weg het, en jy verbrou weer, moet jy gaan.”

Op afrikaans.com gesels Sophia oor Heimwee en oor Mart-Mari wat vir Anton saam na die begrafnis genooi het: “Mart-Mari was loshande die moeilikste karakter wat ek tot nog toe geskryf het. Sy is ontsettend geslote, en sy hol weg as dinge moeilik word. Anton is haar spieël – hy dwing haar om stil te staan en te besin oor goed, ook oor haar eie aandeel aan die moeilike verhouding tussen haar en haar sibbe. Ja, dis doelbewus. Ek kies my heldinne se manne baie versigtig – ek wil kan glo hierdie twee gaan vir ewig en altyd gelukkig wees, nie net tot aan die einde van die storie nie.”

Jonathan Amid is die resensent van Heimwee op Netwerk24 (13 November 2022): “Kapp is bereid om ’n hele paar van Heimwee se geheime of dramatiese gegewens vroeg reeds te ontbloot, maar daar wag ’n skok of twee veel later in die verhaal. Ondanks die feit dat Kapp haar lesers trakteer met ’n goeie dosis tradisionele ‘battle of the sexes’ met konflik, misverstande en hardkoppigheid aan albei geslagte se kant, voel jy nooit dat haar hoofkarakters en die res van die rolverdeling onnatuurlik optree of dat daar op die leser geskel word nie. Dié leser het groot waardering vir die wyse waarop Kapp in haar boeke ’n gepaste en gevarieerde register vind, om buite die vermaaklikheidswaarde van die verhaal self ’n groot liefde vir die evokatiewe, meerduidige en speelse kenmerk van die Afrikaanse taal te verklap. Jy betaal vir al die ure wat Kapp agter die sleutelbord sit om ’n fyn spel met taal te vervolmaak.

Heimwee handel oor ouerskap, moederskap, hoe ons mekaar verwond en probeer heel maak. Kapp onderstreep voortdurend min dinge lees so lekker soos ’n familiesage in keurige, knetterende Afrikaans. Dis presies wat Heimwee is.”

Anschen Conradie skryf só oor Heimwee: “Oënskynlik is Liesbet en Mart-Mari se lewe ligjare van mekaar verwyder. Anders as wat met Liesbet die geval was, is Mart ’n suksesvolle besigheidsvrou, onafhanklik van mans in gesagsposisies. Die ironie van die 21ste-eeuse patriargie word geïllustreer deur haar behoefte om ’n man aan haar sy te hê by haar ma se begrafnis. Die skrywer gebruik die karakter Anton as ’n spieël waarin Mart subtiel verplig word om haarself en haar verhoudings met haar ouers, grootouers, sibbe en mans met rou eerlikheid te bekyk.

“Die roman verloop in twee tydslyne, met Heimwee as gemene deler wat ’n intieme agtergrond skep vir ’n teks wat gemaklik tussen humoristiese, verbale skermutselings, hartverskeurende onreg en die subtiel erotiese beweeg. ’n Sentrale tema is ouerskap, nie beperk tot biologiese moederskap nie.

“Die delikaatheid van die ragfyn teekoppie op die voorblad word deur die keurige taalgebruik van die teks weerspieël en die veelseggende, sagte versoek van ’n geswore koffiedrinker op bladsy 432: ‘Sal jy vir ons tee maak?’ Dis ’n besonder treffende wyse om die sirkel wat reeds in 1945 begin het, met deernis, en as ’n duidelike bevestiging van troos en heel word, te voltooi.” (Netwerk24, 23 Oktober 2022)

Sophia se volgende boek is Sterre is vir altyd wat in 2025 deur Boekdiva uitgegee is. Met Janie as hoofkarakter is dit die eerste in ’n reeks oor die vier Barnard-susters – in die ander drie boeke is die hoofkarakters Elinor, Marianne en Annie.

Sophia vertel aan Phyllis Green (Sarie, 2 Desember 2025) dat die vier karakters van die susters saam in haar “kop” ontstaan het: “Ek wou oorspronklik sterker leun op Jane Austen se meisiekinders in Pride and prejudice, maar hierdie vier het hulle eie kop en persoonlikheid gevolg.

“Dis vier sterk, maar uiteenlopende meisies. Hulle ma, Vivien, is die verpersoonliking van die deugsame vrou en die vier dogters kry haar deugde, maar elkeen kry net een. Janie hou van kosmaak, wat haar natuurlik van al vier die ‘tradisioneelste’ maak. Marianne is mooi, Annie is musikaal en Elinor is slim. Dit beteken elkeen het ’n wonderlike eienskap en ’n groot, vet blindekol wat hulle hoofbrekens in hul verhoudings met mans besorg.”

Sophia het aan Christa Steyn-Bezuidenhout van Maroela Media (30 Januarie 2026) vertel dat daar tye is wanneer lesers nie wil wroeg terwyl hulle ’n boek lees nie, maar net wil ontspan met ’n liefdesverhaal waar romanse, ontvlugting en hoop die toon aangee.

Sy erken dat sy self óók ’n behoefte aan ligter stories het: “Die huidige wêreldklimaat plaas ’n demper op my gemoed. Ek is ’n bietjie bedruk deur die toestand van die wêreld. Dit voel of almal in ’n mate terneergedruk is oor die tydsgees waarin ons leef, en ek het op hierdie stadium sagter stories nodig. Dit beteken nie Sterre is vir altyd is spookasem nie, maar dit is nie so swaarwigtig soos my vorige werk nie.”

Die vonk vir Sterre was Sophia se eie behoefte aan ontvlugting en benewens die huidige wêreldtoestand ervaar sy dat mense al hoe meer venynig raak, veral op sosiale media: “En ek het self die behoefte gehad aan die koestering en warmte van ’n veilige verhouding. Ek het dus doelbewus al die tradisionele elemente van ’n liefdesverhaal gaan uitsoek en dit in hierdie storie ingeskryf, juis omdat dit koesterend is. Maar ek het darem (hopelik!) ’n moderne kinkel daaraan gegee wat dit ook relevant maak,” vertel sy aan Phyllis Green van Sarie (2 Desember 2025).

Die bemarking vir Sterre is vir altyd lui so: "Sy is Janie, die gewone eendjie wat haar eie verjaarsdagwegbreek Parys toe moes reël en toe in elk geval op die lughawe in die steek gelaat is. Max is presies die tipe man vir wie sy geen ooghare het nie – mooi, macho, sexy en suksesvol, wat haar nog meer gewoon laat voel as wat sy reeds is.

“Maar Parys is ’n magiese plek waar selfs gewone eendjies romantiek vind. Hy lê die Stad van Liefde se skatte voor haar voete neer; sy kan haar hande oor ’n tafel uitsteek en hom anker. Al wat sy moet onthou, is dat die dae vol wonder en nagte vol passie ’n sprokie is. Selfs die familieplaas met die Alpe in die agtergrond, wat hy met bloedgeld moes koop om die onreg van die verlede reg te stel, is deel daarvan. En as daar nou een eienskap is wat alle sprokies deel, is dit dat hulle tot ’n einde kom.

“Gaan sy, as sy terugkeer Suid-Afrika toe, dit wat sy vir hom voel met wortel en tak uit haar hart moet ruk? Of is daar dalk vir haar ’n verhaal wat beter is as ’n sprokie, een wat in die sterre geskryf is?"

Anschen Conradie bespreek Sterre is vir altyd op Netwerk24 (5 Januarie 2026) en vir haar is Max, wat grootgeword het in Athlone en nou skatryk is en boonop baie aantreklik, en Janie, die middelkind en die ‘Andersen-kindjie’, se Parys-week die sentrale deel van hierdie romantiese verhaal “wat ewe gemaklik as ’n goedvoelroman beskryf kan word”.

Conradie skryf verder: “Die koestering en geborgenheid van omgeegroepe skep ’n holte vir die lesersvoet wat toenemend uitgedaag word deur die hedendaagse onrus en chaos. Subtiele perspektiefwisselings verseker ook dat die leser by die binnewêreld van die twee hoofkarakters betrek word eerder as om deurlopend ’n eensydige beeld te kry of ’n onbetrokke toeskouer te wees.

“Van Gogh se kuns word doeltreffend as metafoor ingespan en die stereotipiese hoofstroom word vermy deurdat die skildery waarop gefokus word, nie aansluit by die kommersialisering van sy bekende Starry night nie, maar die kollig eerder op sy Starry night over the Rhône laat val.”

Sophia brei ook uit oor die volgende drie boeke in die Barnard-susters-reeks: “Marianne is die volgende aan die beurt. Sy is vernoem na Marianne in Sense and sensibility, die suster wat eers emosioneel reageer en dan dink. Wanneer haar storie begin, het haar loopbaan as internasionale model pas in duie gestort. Op 30 sit sy sonder matriek, sonder ’n kontrak en sonder rigting. Ek gee vir haar die moeilikste moontlike van voor af begin wat jy kan kry. Die held in Marianne se storie is David, ’n boer op die plaas Goedgegun in die Klein-Karoo. Die titel van die boek is Goedheid en guns.” (Maroela Media)

“Na Marianne kry Annie iemand wat die musiek in haar siel verstaan en laaste moet die hardgebakte en intens private Elinor leer wat dit is om oor te gee.” (Sarie, 2 Desember 2025)

Sophia het in haar bydrae op LitNet in 2015 geskryf oor die regering se “16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders”-veldtog: “Ek is nou sommer knorrig. Ek wil nie hierdie artikel skryf nie. Ek wil nie aan hierdie veldtog deelneem nie. Ek wil nie my steun daaraan toesê nie en ek wil nie my naam daaraan gekoppel hê nie. Ek wil nie 16 dae van die jaar afstaan aan aktivisme nie. Ek wil eintlik glad nie eers hoef te dink dat die regering, die onderwysdepartemente, die pers en die politici, die kerke en die wetstoepassers, die gemeenskap en die intelligentsia sestien dae per jaar opsy sit om te agiteer dat vroue en kinders as mense beskou moet word nie.

“Moenie my verkeerd verstaan nie – hierdie saak lê my na aan die hart. En aan die lyf. Ek was al aan die ontvangkant van ’n vuis, en ek weet watse verwoesting dit meebring. Ek was ook bevoorreg – ek kon daaruit losbreek en vir myself ’n lewe skep waar ek veilig is. Nie almal is so gelukkig nie. Nie almal het die materiële of emosionele kapasiteit om dit te doen nie. En ek weet: daar is huise waar hierdie siklus dag na dag, jaar na jaar en geslag na geslag herhaal word. Ek wil mal word van frustrasie as ek net daaraan dink. Want 16 dae, ’n paar toesprake en ’n klompie artikels, hoe vurig ook al, gaan niks daaraan verander nie,” het sy haar bydrae begin.

En dit só afgesluit: “Sien, ek skryf net een genre, liefdesromans, en dit is ’n genre wat by uitstek tradisionele rolle en konvensionele opvattings oor verhoudings bevorder. Ek gee geredelik toe: Daar is heeltemal te veel stories wat in hierdie genre gepubliseer word waarin geweld, subtiel en openlik, voorgehou word as ’n teken van manlikheid. Daar is te veel stories waar ’n gekyf en verbale mishandeling voorgehou word as die teenvoeter vir chauvinisme. Dit help nie ek ontken dit nie – dit maak dit net moontlik vir sulke snert om te gedy. Maar ek gaan ook nie ophou om liefdesromans te skryf nie. My taak as skrywer en as verantwoordelike lid van ’n geweldgeteisterde samelewing is nie om my genre te versaak, romantiek as snert af te maak of om tradisie en konvensie swart te smeer nie. (Daar is op die aarde niks met liefde, romantiek, tradisie of konvensie verkeerd nie; dis wanneer gruwels in die naam daarvan geregverdig word dat dit ’n probleem word.) My taak is om my genre van binne af te herskryf en so aan te bied dat die siek daarin blootgelê word. Ek kan nie veldtogte voer nie, maar ek kan, vir langer as net sestien dae, daaraan werk om seker te maak dat my lesers bewus raak van watter soort optrede ’n ander mens geweld aandoen.

“Laat ek jou verseker: Georganiseerde verset verander nie opvattings nie. Opvattings verander net as mense (en let op die inklusiwiteit van daardie woord) op voetsoolvlak besluit het hulle het genoeg gehad. Daarom is dit jou taak: om waar jy jou ook al bevind van binne af te werk om ongeregtigheid bloot te lê. As jy hierdie samelewing verander wil sien, moet jý dit bewerkstellig. Jý moet aandring op respek en menswaardigheid, selfs al skel mense jou uit vir al die goed hierbo. Jý moet vir jou dogter leer hoe om seksuele teistering te herken en jou seun leer dat manlikheid en baasskap nie dieselfde ding is nie. Jý gaan die standaard moet stel. Jy kan nie wag vir die regering, die onderwysdepartemente, die pers en die politici, die kerke en die wetstoepassers, die gemeenskap en die intelligentsia nie. Jy kan nie wag vir ’n veldtog nie. Want jy sien, ware verandering kom van binne af. Dit begin by jou.”

Publikasies

Publikasie

Die erflating

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339789 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2008 ATKV-prys vir Liefdesromans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Die erflating [deur] Sophia Kapp
  • Roux, Jaybee: Drie liefdesverhale verskaf goeie vermaak. Beeld, 16 September 2008
  • Swart, Martie (samesteller): Boek van die maand. Taalgenoot, Februarie 2008

 

Publikasie

’n Nuwe lente

Publikasiedatum

2007

ISBN

9780799339833 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die tuiskoms

Publikasiedatum

  • 2008
  • 2014

ISBN

9780799339789 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2009 kortlys vir ATKV-prys vir Liefdesromans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Waar die hart is

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780799341485 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die ooreenkoms

Publikasiedatum

  • 2009
  • 2014

ISBN

97780799344714 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Die verhuising

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780799347227 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Huis van die wind

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799352054 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Liefdesroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2012 ATKV-prys vir Liefdesromans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Driehoek

Publikasiedatum

2013

ISBN

9780799361476 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2014 ATKV-prys vir Liefdesromans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799382965 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

 

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Joernaal vir ’n bedonnerde diva

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799378009 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Moeilikheid met ’n meermin (Romanza)

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780799380477 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

My brother’s keeper

Publikasiedatum

2017

ISBN

Kindle edition

Uitgewer

Kindle

Literêre vorm

Liefdesroman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kantelpunt: Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou

Publikasiedatum

2018

ISBN

9780799390919 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Tweede kans op geluk (Romanza)

Publikasiedatum

2019

ISBN

9780799395495 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Romanse

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2020 Kortlys ATKV-Woordveertjie vir romanse

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Kanaän

Publikasiedatum

2020

ISBN

9780799399462 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Historiese roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2020 Naasbeste verkoper op Nielsen se boekverkopelys

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Wimpers op lakens [Albert Bredenhann se storie vertel deur Sophia Kapp]

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780639739700 (sb)

Uitgewer

Onafhanklike publikasie, gedruk deur Shumani RSA

Literêre vorm

Outobiografie

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Heimwee

Publikasiedatum

2022

ISBN

9780639704494 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Boekdiva Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlysbenoemings

2023 ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Publikasie

Sterre is vir altyd

Publikasiedatum

2025

ISBN

9781049203096 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Boekdiva Uitgewers

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken en kortlys-benoemings

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

Sophia Kapp as vertaler

Sophia Kapp as samesteller

Artikels oor Sophia Kapp

Artikels deur Sophia Kapp

Sophia Kapp se LitNet ATKV-skrywersalbum is oorspronklik op 2026-08-31 gepubliseer.

Bron:

  • Knipselversameling van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top