Sons of Settlers: Met ’n kopknik aan gister lê groot dinge voor

  • 0

Guillaume Néel (Nel) het dit in 1690 gedoen. ’n Jaar later doen Johannes Oosthuyzen dit; Hermanus Bosman volg in 1707 en Thomas Buckle in 1840. Vier setlaars in Suid-Afrika. Eeue later, op ’n koue aand in die Kaap van Storms, betree die seuns van hulle seuns se seuns die verhoog voor ’n kamer tot barstens toe vol met ’n mengelmoes van gesplitste en gekruiste gene en vanne. En op ’n geesdriftige dog melancholiese ritme, met aangrypende klavier- en kitaarspel, sing hulle: “To yesterday”.

Hulle is Sons of Settlers: Le-Roi Nel (kitaar, stem), Gerdus Oosthuizen (voorsang, kitaar, klavier), Justin Bosman (stem, tromme) en Reyno Buckle (baskitaar, kitaar, klavier en stem).

Die Kaapse sangsensasie Tailor het die verhoog geopen.

Verlede jaar September het die groep sy huidige vorm begin aanneem en vir ’n paar maande reeds word video’s van die band se live jam-sessies gebeeldsend in die vertakkings van die webwêreld. Aangrypende video’s wat oënskynlik moeiteloos en toevallig vasgevang is waar die groep speel in huise, opname-ateljees en sommer met sonsondergang op ’n hawemuur in Kalkbaai – laasgenoemde ’n slim ironiese knik in die rigting van die setlaar-simboliek van die groepnaam.

Hierdie video’s was gewild genoeg om te sorg vir ’n tjok-en-blok venue met ’n onlangse opname van ’n MK Studio 1-episode by Sgt. Pepper in Langstraat.

Ek is nie heeltemal verbaas dat hierdie groep so goed klink nie. Hoe dan anders, met Gerdus Oosthuizen en Reyno Buckle wat uit New Holland kom, en Le-Roi Nel uit die ewe gewilde Foto Na Dans. Dit is dan ook al die derde band waar boesemvriende Gerdus Oosthuizen en Reyno Buckle musikale kragte saamsnoer, en die geslaagde sinkronisasie is opvallend: hulle is duidelik op die kruin van ’n ooreenstemmende golflengte.

Buiten die duidelike folk-invloed en die voetstamp van rock gesmee met retro-klawers en besonderse harmonisering, hoor ek byvoorbeeld in “You are not alone” iets van die popklank van The Police, maar dan is daar ook natuurlik prikkels uit die geslepe liedjieskryfvermoë van New Holland. Dit is bittersoet ballades wat dit goed laat voel om so ’n bietjie droefgeestig te wees.

Soos die naam suggereer, word familiariteit – en gevolglik ook die kwessie van identiteit – ondersoek, soos in “To yesterday”:

“Mother, I don’t see the things that you taught me about humanity.
Sister, you must choose: the life you want to lead, the things you want to lose.
I want to feel, I want to say I know you.”

Sons of Settlers se Le-Roi Nel

Maar daar is ook die tema van die liefde – ’n bleddie ingewikkelde ding wat minder uitdagend klink wanneer dit vriendelik verpak word in folky snarespel soos in “Stay together”:

Die gevoel van gelyktydige retrospeksie en introspeksie heers deurgaans: sonskyn en diepe wroeging. En as hulle in die eerste enkelsnit vra: “Climb on my back / I want to take you for a ride,” sê ek ja dankie, asseblief.

Ek sien reikhalsend uit na ’n album.

Hier is die amptelike video vir die eerste enkelsnit, “Climb on my back”:

Laai die liedjie hier gratis af.

Sons of Settlers se Ryno Buckle

Gerdus Oosthuizen en Ryno Buckle

MK se Jean Jordaan en Wilma Smit

Daneel Malgas en Christiaan Wink

Le-Roi Nel

Luca Vincenzo

Inge van Eetveldt

Haddad Viljoen, Hagar Graiser en Sannie Fox

Lindi Nieuwoudt

Derick Muller

Renee de Villiers, Louise Crouse en Riana Wiechers

Jacques van Straten en Ruan du Toit

Foto's: Annie Klopper

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top