Sonia Cabano se koservarings van 2014

  • 0


Kom die versoek van LitNet: noem jou tien beste koservarings van 2014. Nou kyk, vir iemand soos ek, wie se lewe rondom kos wentel, is dit ’n bykans onbegonne saak om net tien hoogtepunte uit te sonder. Wat van vyftig? Alles omtrent kos is vir my heerlik – om dit te koop, te kook, voor te sit, te deel, daaroor te lees en skryf  én te gesels. 2014 het inderdaad ’n ryke oes gelewer in alle opsigte, en dit verskaf my natuurlik groot vreugde om my uitsoekbelewenisse met lesers te deel.

Kapenaars is besonder bevoorreg om soveel wêreldgehalte-restaurante op hul drumpel te hê. Tog, so gelukkig as wat dit my maak om met haaipolfaais en ’n fleurige rokkie ’n glasie vonkelwyn te geniet by ’n uithanggeleentheid, is ek ewe tevrede met ’n ordentlike smeltkaas-en-tamatietoebie van ’n wegneemkafee af. (’n Rare ding op sigself, daardie toebie, in hierdie tyd van wraps en panini’s, geniet hom maar waar en wanneer jy kan.)

Dus spring ek weg met ’n eretoekenning aan die piepklein Zorina’s in Paardeneiland, waar Farieda Salie daagliks ’n dankbare werkersgemeenskap voed met haar keurige, varsvoorbereide Kaaps-Maleise snoephappies, roti’s en kerries. As jy nog nie ’n vars kerriemaalvleisvetkoek of speserybolla in jou mond voel wegsmelt het nie ... boeta, hoort jy jou in aller yl soontoe te haas. Wees bereid om in ’n tou te staan, en gaan vroeg, voor alles uitverkoop is.

Café Zorina, hoek van Industry- en Cumberlandstrate, Kaapstad: 021 511 4212. Oop Maandae tot Vrydae: 8-5nm. (Ook: Café Zorina, Loopstraat 172, Kaapstad: 021 424 9301)

Michelle Theron is sedert Mei 2014 die nuwe hoofsjef by La Motte-wynlandgoed net buite Franschhoek en mensig, kán sy kook. Meer as meeste sjefs waaraan ek kan dink, is sy werklik verlief op haar bestanddele en weet net hóé om die beste uit hulle te haal. La Motte bedien seisoenale Kaapse Wynlandkontreikos, en die fynproewerdisse is dikwels gebaseer op historiese resepte wat aangepas is vir moderne smaak deur La Motte se kulinêre direkteur Hetta van Deventer, Terblanche en Michelle self. Die Snow Egg – ’n meringuekoepel wat deur die eter self aan tafel oopgebreek moet word - is die lekkerste nagereg wat ek in 2014 geniet het, en ek hou nie eens eintlik van soetgoed nie. ’n Belewenis. Gunsteling La Mottewyne is die Sauvignon Blanc en 2011 Syrah. Die atmosfeer is heerlik ontspanne, die restaurant ruim en lig met ’n lieflike reusekaggel vir snerpende wintersdae, is besonder familievriendelik ingestel en kyk uit op ’n pragtuin. Die vriendelike personeel lewer foutlose diens. Koop die wyne, La Motte se eie kookboek, Cape Winelands Cuisine, varsgebakte brood, La Motte-koffie, porseleinware en ander snuisterye by die klein plaaswinkeltjie. Die omliggende natuurskoon laat mens letterlik na jou asem snak wanneer jy die restaurantontvangs verlaat. Ek het ’n onderhoud met Michelle gevoer vir my blog; klik hier om meer te lees.

La Motte, Hoofstraat, Franschhoek: 021 876 8000

Net ’n ent af in die pad lê La Motte se susterslandgoed, Leopard’s Leap, waar die jong en hoogsbekwame Sjef Pieter de Jager se rotisserie-roostervleise met ’n hemelse feestafel van buffetgeregte geesdriftiges van heinde en verre lok. Hy bied ook gereelde meesterskookklasse aan. Die sakpasspyskaart, yslike onderdakstoep, grasperk en lieflike berguitsig maak Leopard’s Leap besonder gewild onder gesinne, en is ook ons eerste keuse vir enige familiefeesviering, veral wanneer Ouma ’n spesiale bederf nodig het. Die winkel verlei mens met haas-onweerstaanbare kookboeke en allerlei kombuiswareskatte. Vrydae word ’n kos-en-wynproe met die gesogte Culnariawynreeks aangebied: ses wyne met ses kos-pasmaats teen ’n bekostigbare R120 pp. Smulpape sal dit geniet om tuisspyskaarte van hul eie voor te berei as proepasmaats vir Culinariawyne en ek is altyd opgewonde wanneer ek die kans het om Culinaria of ander Leopard’s Leap wyne aan my gaste te bedien met ’n gepaste spyskaart. Die Muscat de Frontignan dessertwyn is ’n wenner, so ook die Culinaria Chenin Grenache Blanc en Grand Vin rooiwyn. Prima!

Leopard’s Leap, R45, Franschhoek, 021 876 8002

Sjef Ryan Shell bedien ’n liplekker seisoenale spyskaart by Haute Cabrière Cellar Restaurant, met vars groente uit hul eie kombuistuin om die Haute Cabrièrewyne en Pierre Jourdan vonkelwyn te komplimenteer. Sy interessante vegetariese disse verbly enige nie-vleiseter se hart en hy geniet dit om self brood te bak, biltong, konfyte en konserf te maak en selfs Pinot Noir-gegeurde botter en sout. ’n Sesgang Vintage Menu word op versoek met aandete bedien met ’n keur van die kelder, of bederf jouself met ’n glasie vonkelwyn en snoepgoed van die nuwe Delicious Little Things spyskaart, beskikbaar vanaf 15h00 op die terras buite die kelder. Dink Caesarslaai, gemarineerde olywe,  gerookte salmpatee, Wagyu bief-sliders (mini-burgers), varkvleis-en-appelsosaties, biltongpatee of lekker ryk sjokolade brownies en konfytdoughnuts. Alle landgoedwyne is per glas beskikbaar op die terras.

Haute Cabrière, Lambrechtsstraat, Franschhoek: 021 876 2630

Ons het ’n hele paar wonderlike gesinspieknieks op wynlandgoede gehou hierdie jaar, en kan Warwick Wine Estate, Hartenberg en Lanzerac uitsonder as ekstra-spesiaal. Lanzerac bied onder andere ook ’n wynproe met sjokolade (R70 pp) en ’n nuwe wyn-geinspireerde roomysreeks. Die deli verkoop heerlike koue vleise, vars brode, piekels en kase om jou eie piekniekmandjie mee saam te stel. Oornagverblyf in ’n luukse reusesuite en die kamerontbyt het my soos ’n Hollywoodster laat voel. Lekkerste Eggs Benedict in die Kaap!

Lanzerac Wynlandgoed, Lanzeracstraat 1, Stellenbosch:  021 887 1132

Warwick Wine Estate het oulike "picnic pods" – hutjies – in die fynbostuin, waar kinders lekker kan baljaar en die heerlike piekniekmandjie met bottelslaaie, koue vleise, kaas en varsgebakte brood was ons gesin se Kersete verlede jaar. Bespreek vroeg, want dis baie gewild. By Hartenberg, in Bottelarypad naby Stellenbosch, kan jy jouself onder die reusebome op die grasperk neervlei of boules – Franse rolbal – speel. Skaf gerus ’n paar bottels Hartenbergwyne aan vir spesiale okkasies.

Warwick-wynlandgoed, op die R44 tussen Stellenbosch en Klapmuts: 021 884 4410

Hartenberg-wynlandgoed, Bottelarypad, Stellenbosch: 021 865 2541

Seker die mooiste landgoed wat ek nog in my lewe besoek het is Antonij Rupert Wyne, ook buite Franschhoek. Sjef HW Pieterse se tapas-spyskaart met tuisgebakte brood is ’n treffer en die L’Ormarins brut classique vonkelwyn ’n skamele R29 per glas by jou ete. Ja, ja, toe, bestel een, jy verdien so bietjie bederf! Die proelokaal verkoop landgoedwyne, onder andere my gunsteling rooiwyn Terra del Capo se Sangiovese, asook die Proteareeks (die chenin blanc en chardonnay is ’n moet-proe) en natuurlik die L’Ormarins MCC en rosèvonkelwyn. My idee van ’n perfekte dag is ’n gesinsete van tapas, ’n wynproe en -aankope (sluit verniet by hul wynklub aan om 20% afslag op wyne te kry) en dan ’n heerlike wandeling deur die landgoedtuine.

Antonij Rupert Wyne, R45-wynroete, Franschhoekvallei: 021 874 9041

Sjef Nic van Wyk het aan die breë publiek bekend geraak deur sy verskyning in die gewilde Kokkedoor-kykNET-reeks en het onlangs ’n nuwe restaurant op Welmoed-wynlandgoed oopgemaak, naamlik Bistro 13. Vroeër vanjaar het ek hom ontmoet by ’n prettige affêre waartydens Carmien se organiese rooibosteereeks met Maison wyne en Nic se spogkos as proepasmaats bedien is, en kon ek eerstehands beleef watse fyn hand hierdie gawe sjef het wanneer hy agter die kospotte staan. By Bistro 13 bring hy hulde aan klassieke Franse tegnieke op sy eie kenmerkende manier, met uitdagende, tradisionele geure voorgesit in nuwe gedaante. Daar’s ’n skaflike spyskaart vir kinders ook, wat in ag neem dat nie alle kleintjies chicken nuggets en tjips en tamatiesous-met-alles begeer vir ete nie. Grootmense kan kies uit geregte soos Provensaalse garnale, sampioen-risotto met gruyère en truffelolie, steak tartare met kwarteleier, lamsrib, gekrummelde varktjops en vele ander watertandgeregte. Die ontbytspyskaart bied ongewone keuses soos ’n Mediterreense ontbyt van platbrood, halloumi, hummus en kwarteleiers, ’n crepe met roereier, gerookte salm en hollandaise, sowel as ’n “bou-jou-eie-ontbyt” opsie met komponente soos hoenderlewers, wors, spek en gevulde sampioene. Gaan gereeld, en gaan hónger.

Bistro 13, Baden Powellweg 310, Stellenbosch: 021 881 3044

Sjef Liam Tomlin en sy vrou Jan oorrompel Kaapse eters met hul gewilde tapas-spyskaart in die piepklein perseel van hul Chefs Warehouse op Heritageplein in die hart van Kaapstad. Deel ’n bestelling van die dag se spesialiteite met jou beste kosvriend, en verlustig jouself agterna aan die fantastiese keuse kookboeke en kombuisware in die aanliggende winkel. Sorg dat jy vroeg gaan om jou sitplek te verseker, want Liam neem nie besprekings nie en die plek is altyd propvol. Wees egter verseker jou lang wag in die tou gaan beloon word met dosyne suiwer smaakontploffings wat jou met hernude respek aan jou eie smaakpappille sal laat dink.

Chefs Warehouse and Canteen, Breëstraat 92, Kaapstad: 021 422 0128

Michael Broughton se Terroir is pas weer bekroon as een van die top tien eetplekke tydens die Eat Out 2014 Restaurant Awards en ’n besoek aan hierdie rustige, informele restaurant op die Kleine Zalze wynlandgoed laat jou baie gou verstaan waarom. Hy is vir my een van die oorspronklikste en opwindendste sjefs in Suid-Afrika, met ’n hoogs-ontwikkelde estetika en ’n fyn begrip van smaak- en tekstuurkomposisie. Sy borde is so mooi ’n mens wil dit raam, kos en al! Drie van sy geregte wat my in 2014 in vervoering gehad het was gerookte bresaola met Parmesaan, vars vye, witwortel en truffelvinaigrette, die hoender en eendlewer terrien en die garnaalrisotto met Amoricainesous.

Terroir, Kleine Zalze, Strandpad, Stellenbosch: 021 880 8167

Jacques Erasmus se Hemelhuijs aan die onderkant van die stad is seker die enigste plek op aarde waar mens mieliepap uit 25-karaatgoud kommetjies kan eet. Die res van sy spyskaart is ewe opwindend en ongewoon, met ’n ruim keuse tradisionele Boerekosgeregte afgestof, herontwerp en voorgesit soos jy nog nooit gesien het nie. Beste melktert wat ek nog ooit geëet het, en die appel-en-nougattert is volgende op my lys. Die restaurant is sjiek en sjarmant, die reuk van varsgebakte mosbolletjies maak jou week in die knieë wanneer jy oor die drumpel trap, en die verleidelike soetgoed, tuisgemaakte konfyte en ’n wye keuse vars sappe en prettige mengeldrankies verseker dat ’n besoek aan Hemelhuijs ’n sintuiglike ervaring uit die boonste rakke is.

info@hemelhuijs.co.za: 021 418 2042

Fyngebak met middagtee is ’n ou tradisie en nêrens in die Kaap doen dit beter as die One & Only Hotel aan die Waterfront nie. R195 pp gee jou ’n enorme keuse soet- en southappies, koeke, tertjies, sjokoladeskeppings om van te swymel, ’n glasie vonkelwyn of selfs mengeldrankie, en die temas verander gereeld. Die beste manier om ’n verjaarsdag in styl te vier.

One & Only Hotel, Dockstraat, V&A Waterfront, Kaapstad: 021 431 5888

Seker een van die ongewoonste liggings vir ’n goeie restaurant is die parkeerarea van ’n besigheidskompleks, maar watwou, Viva Café is ’n wegholwenner sover dit my aangaan. Eienares Karen du Toit en sjef Barend Greyling bied gereelde Rebel Nights wyn-en-kosproe aande, maar wat my weer en wéér soontoe lok is die vet, bros, goue, absoluut onweerstaanbare diepgebraaide aartappelwiggies, voorgesit met óf ’n brandrissie sous, óf ’n lekker kwaai knoffel-pietersieliesous. My tienerseun is dol oor die groot toebies en is besig om stelselmatig deur die hele spyskaart te werk. Stewige ontbyte, lekker ongewone slaaie, flentertjielamsvleis en varklies, en frikkadelle in kaas-en-tamatiesous vir die dae wanneer die honger knaag. My persoonlike idee van ’n wenontbyt is bogenoemde aartappelwiggies, saam met Viva Café se lekker bros beslaggebraaide uieringe, en ’n bak van Barend se lekker tuisgemaakte lam-en-lensiesop. Sop vir ontbyt, ja, want ek kan, en ek mág!

Viva Café, Somersetplein, Highfielstraat, Groenpunt: 021 418 2619 (info@vivacafe.co.za)

Foto's voorsien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top