SONA 2019: Cyril, ons man by die robotte

  • 0

Ek het Cyril Ramaphosa se staatsrede gesien, die fopdossers en die foptroepe, die EFF wat ganse van hulself maak, die soustreintannies wat by die trappe afsukkel, en die reaksie gelees: Cyril se trein! Squirrel City! Ramapolis! En ek het gedink, wat ’n skynheilige klomp is ons Suid-Afrikaners nie.

Nkosi is ’n veertienjarige leerling van ’n staatskool in die middel van Johannesburg wat deur my dogter Mia onder hande geneem is nadat haar ma, Florence, by ons kom kla het. Florence is ’n sterk, intelligente vrou, iemand wat ek graag iets anders as ’n bediende wil noem, behalwe dat dit presies is wat sy is: ons bediende. Nkosi was ’n ster op laerskool, maar op hoërskool kan sy wiskunde nie deurkom nie.

Dit het gou duidelik geword dat die fout by die skool se onderwysers lê. Die gewone storie: Klasse is laat, word net half gedoen; daar kom geen terugvoer nie; die onderwysers weet skaars wat hulle doen. En dan is daar die kurrikulum. Nkosi is ’n ywerige leser, maar sy moet Romeo and Juliet doen. Wat dink sy daarvan, het ons eendag gevra: “It’s stupid!”

Die President moes ’n rede lewer oor die staat van die nasie. En wat is die staat van daardie nasie? Nkosi sit saam aan tafel, maar wil niks anders as brood eet nie. Florence verseg om haar kos op enige ander plek as ’n hoekie in die agterplaas te eet. Sy het nie ’n man in haar lewe nie. Sy is nog mooi, maar iets het skeefgeloop. ’n Mens kan maar net raai, want ook daaroor verseg sy om te praat.

Ek was aanvanklik ’n bewonderaar van Ramaphosa as politikus. Hy het veel meer struikelblokke as Herkules moes oorkom om die hoogste pos te bereik, ’n doolhof van uitdagings met Job se geduld genavigeer. Maar my agting het Donderdag verder in my skoene gesak. Vyf take. Sewe uitdagings. Tien dit. Nege dat. Negentig minute van verveling. Soos Ramaphosa self gesê het, daar was 1 100 indikators vir die sukses van die laaste vyfjaarplan. Selfs Ace Magashule kon ’n gaap nie keer nie. Hoeveel PowerPoint-planne gaan die ANC nog na ons gooi?

Wat sou dit ooit vir Nkosi en Florence kon beteken?

Die staat van die nasie. Dat Ramaphosa veel beter as Zuma weet wat in die land aangaan, is seker vordering. Misdaad moet gehalveer word. Maar wat die nasie nodig het, is iemand om die posttraumatiese stres waaraan so baie mense ly, aan te spreek. Die oudredakteur Peter Bruce het dit mooi gestel in Business Day: Vermy nuwe idees, Meneer die President, “empatiseer met Suid-Afrikaners in pyn oor die geliefdes wat hulle verloor het, met arm mense wie se moeders en seuns in gewelddadige townships vermoor word, met mense wat woon en werk en te dikwels op plase sterf, met die families van mense wat vergeet het om 'n deur te sluit in 'n dorp, met die ouers van klein kinders wat gedink het dat die skool 'n veilige plek is. Staan saam met hulle. Sit jou arms om hulle.”

Die naaste wat hy aan enige soort emosie gekom het, was ’n swakkerige gedig deur Ben Okri. Leiding vir die lyding van burgers was daar nie.

Die grootste deel van die toespraak was ’n bymekaar hark van die clichés en burotaal op staatsdepartement se webwerwe. Sleutelvraagstukke is toegewikkel met nuwe wol: Die berugte paneel vir grondhervorming se insette sal die finalisering van ’n program ingee. Is daar dus reeds een op die tafel?

Die ander lakmoestoets, die Reserwebank, is eweneens vol Rorschachkolle wat afhang van die interpretasie: Dit lyk of hy die status quo ondersteun, maar dan voeg hy by dat die minister van finansies altyd met die bank sal praat oor die eise van ontwikkeling. Ace Magashule kon weer verklaar dat Luthulihuis en die Uniegebou bure is sonder sonde met mekaar.

Wat wil die frase “inclusive, sustainable development?” sê? Dat die Parys-ooreenkoms oor klimaataksie onderhewig is aan die eise van transformasie? Gaan ons die reënboog vervang met die kognitiewe dissonansie van groen en swart?

En toe kom Ramaphosa met sy droom van koeëltreine die hele land vol, van ’n nuwe slimstad. Die inspirasie daarvoor kom uit Beijing. En ons het gedink Zhang Zuma was die laaste president wat ’n kommunistiese staat as model gaan gebruik.

Florence en Nkosi bly naby die Parkstasie van die Gautrein. As ek haar gaan aflaai, moet Corné by die huis bly en ek ekstraversigtig wees: Een van die straathoeke is berug vir kapings van motors helder oordag. In die omgewing is talle geboue wat gekaap was en ’n paar wat nog steeds is. Florence en Nkosi sal waarskynlik nooit ’n kaartjie vir ’n sneltrein kan bekostig nie.

En waar sal die krag vandaan kom? In China kom dit van steenkool wat die lug soms so dik soos ertjiesop maak, of van kernkrag. Maar na Zuma is laasgenoemde van die baan, en die kanse dat iets soos die vergete plan vir die koeëlbed- modulêre reaktor kan herleef, is skraal as Ramaphosa dit goeddink om die Departement van Wetenskap en Tegnologie af te skaf.

Florence en Nkosi bly saam met ’n ander gesin in ’n woonstel in Joubertpark. Hulle besit geen verwarmers nie; die krag daarvoor kos te veel. Hulle hou mekaar warm deur beddens te deel. China het pront verklaar dat sy doelwit bloot is om die helfte van die vlak van lewensgehalte van Westerse lande te bereik.

In Suid-Afrika is die ideaal egter om “witheid” na te aap, in te haal en verby te steek. Maar dit sal grootskeepse oortredings van klimaatsooreenkomste moet behels. Dit is Suid-Afrika se nare tragedie – gelykheid met Westerse lande is haar nie meer beskore nie. Dis net ’n droom.

Ramaphosa se slimstad is ’n skimstad. Maar mense wat in glasstede woon, kan nie die eerste bakstene gooi nie. Is dit nie waarop die hoofsaaklik wit elite in Suid-Afrika hom rig nie? Ons almal is tog bekommerd oor onderwys, omdat ons agter raak by ander Westerse lande. Ons lewer betoog op betoog dat onderwysgeld aan wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde bestee moet word.

Ons wil die beste vir ons kinders hê sodat hulle kan verkas as dinge te erg raak en elders by die kennisekonomie van die wêreld kan inglip met ons Google-Engels. Advertensies, TV-programme, diepte-artikels en kuns gaan al meer oor robotte, kunsmatige intelligensie, virtuele realiteit, 5G. Die vierde industriële revolusie is ’n historiese noodwendigheid, ’n uitkoms van die Westerse Verligting.

Waarom dus spot met Ramaphosa omdat hy dit as ideaal stel? Daarmee skaar die President van die land hom by ons, en by die nuwe tegnologiese elite wat aan die ontwikkel is in die wêreld – die Mark Zuckerbergs, die Sergei Brins, die Bill en Melinda Gates’e, die Elon Musks van Pretoria Boys’ High.

Binnekort gaan robotte wat huise skoonmaak, alledaags wees, of so wil die ideaal dit hê. Florence (en miskien Nkosi ook) gaan dit nie alleen meer nié kan bekostig om die Gautrein te neem nie, sy gaan die bietjie werk wat sy het, ook nie meer kan kry nie.

Sy gaan ook nie meer met Ramaphosa en sy eweknieë in hul beskermde landgoedere praat nie. As sy tog by een beland, wit of swart, sal sy haar broodjie in die agterplaas gaan eet, by die vullisblikke met hul stukkende slimfone, rekenaars en swart robotte.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top