Soetroos van Saron deur Theolla Langenhoven: ’n resensie

  • 0

Titel: Soetroos van Saron
Skrywer: Theolla Langenhoven
ISBN: 9780795711312
Epub ISBN: 9780795711329
Uitgewer: Kwela Boeke 

Soetroos van Saron is die debuutroman uit die pen van Theolla Langenhoven, ’n nuwe opkomende skrywer in Afrikaans.

Die verhaal volg die lewe van Delicia Basson, ’n student wat uit die klein dorpie van Saron in Stellenbosch aankom vir haar eerste jaar op universiteit. Delicia word gehuisves deur Manetty en JP Nicols, ’n welgeplaaste familie wat haar studies en verblyf borg. Delicia word nie net aan die studentelewe blootgestel nie, maar ook aan die wêreld van die rykes.

Wat begin as ’n tipe sprokiesverhaal, ontaard later in ’n nagmerrie soos Delicia leer dat nie alles in hierdie wêreld so goed is soos dit lyk nie. Sy word blootgestel aan sexual grooming en ’n geheime onderwêreld van die “mannebond” (soos daar verwys word na JP en sy groep vriende).

Die roman vloei goed, met ’n vinnige pas en storielyn wat die lees daarvan maklik maak. Langenhoven gebruik ’n mengsel van Standaardafrikaans met Kaaps-dialek tussendeur, wat die gesprekke tussen Delicia en haar beste vriendin Shunté geloofwaardig maak.

Die inhoud van die roman herinner sterk aan die werk van EKM Dido en dui op die groei van die literêre tradisie van hierdie tipe werk – terwyl die storielyn sterk is, is daar ’n duidelike maatskaplike boodskap wat deurkom. Dit is in die opinie van hierdie leser ’n belangrike toevoeging tot die literêre genre wat deur Dido gevestig is.

Langenhoven is ’n vars nuwe stem in die Afrikaanse literatuur. Haar debuutwerk bring ’n nuwe inslag op gevestigde temas. Die leser word deurgaans geboei en die karakters is goed ontwikkel. Die boek getuig van deeglike redigering met ’n storielyn wat goed vloei. Delicia se verhaal word met deernis vertel, terwyl daar ook lewenslesse gedeel word.

Skrywers soos EKM Dido, Pat Stamatélos, Diana Ferrus en Ronelda Kamfer het die weg gebaan vir die vertel van die verhale uit gemeenskappe regoor die Wes-Kaap. Dit is hierdie leser se opinie dat Theolla Langenhoven met hierdie roman hul nalatenskap verstrek en vorentoe sal neem. Hopelik volg haar tweede werk binnekort.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top