Soen in kroeg

  • 0

Soen in kroeg

Ek het ’n man gesien wat ’n vrou wou
soen en toe hy haar vind het hulle gehurk
op die ente van hul stoele hy met sy hand
liggies op haar gebrassierde bors in haar hemp
sy met ’n duim argeloos in sy gordel gehaak
en hulle het die tyd self laat vervorm (lippe
soos stadige parende slakke) en het geglimlag
met hul wangbene en ek het die palmboom
agter hulle bedank vir die groen vuurwerk
van sy applous en die spieëls waarin die begeerte
in die hoeke van oë betrap is het ek bedank
en die safte vrugte in leë glase en myself
omdat ek daar was dankie dankie het ek
aan die vrou gesê toe hy weg is en sy ’n sigaret
opsteek en vra: omgee as ek rook?

Lees ook:

  1. Soen by ’n begrafnis
  2. Nat soen op wang
  3. Soen langs die pad
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top