Soen by ’n begrafnis

  • 0

Soen by ’n begrafnis

                   Jou mond het tuitgemaak
toe jy my soen, soos ’n tulp s’n soos
’n varkoor maar jou lippe was nie blank
en ook rooier wat my laat dink ek verbeel
my dinge ek onthou verkeerd het my toe
al dinge verbeel terwyl ons aanstap na die oop
graf van wie ook al

                   het jou lippe so sag
daardie dag gesluit om myne so vol
soos vrou want jy het iets onthou?
Of woorde gevang wat ongesê
moes bly want hulle kon nie wyk
vir ons gedagtes wat moes hou by
die hitte, die grond

                   die kis, die klap
van bolle klei wat nog gaan kom
die blomme uit die hand, die hart-
seer hart, die stingels soos groen
potlode op ’n tafel in ’n skool
met veel minder om te vertel
van die dood, die lewe

                    as jou lippe wat my moes
laat tintel my moes uitnooi na
wat ook al, waar enigiets kon gebeur
enigiets uit die boombas los kon skeur
solank ons net weer die woord kon kry
wat ons laat vergeet dis dinge wat ek
my verbeel

Lees ook:

  1. Soen in kroeg
  2. Nat soen op wang
  3. Soen langs die pad
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top