Soekmekaar deur Dana Snyman: 'n lesersindruk

  • 5

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het. 

Titel: Soekmekaar
Skrywer: Dana Snyman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088660

Soekmekaar, die nuutste boek deur Dana Snyman, is alles wat mens verwag van Snyman se skryfwerk. En dalk meer.

Soos wat ek gelees het, het ek probeer onthou wat in al sy vorige boeke geskryf staan. Ek wil my verbeel dat sy boeke oor die jare al meer en meer persoonlik geword het. In Soekmekaar onthul hy sommer baie van homself en sy familie. Die familie het natuurlik lank op die klein dorpie Daniëlskuil in die Noord-Kaap gewoon, maar mens moet ver soek in sy skryfwerk om iets oor Daniëlskuil op te spoor. In Soekmekaar is daar egter ’n vertelling van ’n Republiekdagviering op dié dorp in 1971 waarby die familie betrokke was, en waar hy ook ’n paragraaf of twee skryf oor sy mees onlangse besoek aan die dorp.

Dit is egter Snyman se uitgebreide vertellinge van Ventersdorp en sy mense waar die boek uiters onthullend word. Vir myself as ’n boorling van Noordwes, is dit ’n wêreld wat mens dink jy ken. En tog ook nie. Ek onthou ook die 1990’s en vir Eugène Terre’Blanche goed. Ek het eenkeer na ’n prosessie van die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) in die dorpie Bloemhof gaan kyk. ’n Prosessie met perde, as mens dit so kan noem. En die onsinnige magsvertoon van kinders, wat geen indruk op my gemaak het nie. Snyman skryf oor sy verhouding met Terre’Blanche, en hulle gedeelde liefde vir die Afrikaanse poësie. Snyman se predikantvader had ’n rang van hoofkapelaan in die AWB, en was uiteraard dus huisvriende met Terre’Blanche. In een van die dramatiese vertellinge in die boek, hoofstuk 22, getiteld “Ventersdorp – ’n ware lewensdrama”, met as subtitel tussen hakies “(Opsomming vir ’n boek wat nie geskryf gaan word nie)”, vertel Snyman hoe hy as Huisgenoot-joernalis deur sy redakteur verplig is om ’n ongemaklike onderhoud met Terre’Blanche te gaan voer. Die drama wat daar afspeel, kan mens skoon aanvoel soos jy lees.

Die tyd het egter alles verander. Die AWB kon die nuwe Suid-Afrika nie stop nie. En Snyman vertel later roerend hoe sy ma uiteindelik uit die Hervormde Kerk begrawe is omdat die Afrikaanse Protestantse Kerk nie die familie se swart arbeiders wou toelaat by die begrafnis nie.

Dana Snyman se grootste kritici verwyt hom konstant daarvoor dat sy boeke wemel van wit skuld. Diesulkes moet maar liefs ver wegbly van Soekmekaar af. Of nee, miskien moet ek niemand ontmoedig om die boek te lees nie. Maar wees gewaarsku. Gelukkig is dit darem ook nie alles net politiek politiek politiek nie. Tipies van Snyman is daar ook sosiale kommentaar. Hoofstuk 18, getiteld “John-Henry”, ’n stuk kritiek teen die sogenaamde goedvoelteologie, het ek al voorheen gelees, maar dit is so treffend dat mens dit sommer weer wil lees. Daar is ook ’n hoofstuk oor Karel Schoeman – die groot skrywer van wie baie mense ook hulle eie ervaringe kan vertel. En daar is ’n stuk oor die skrywer JP Nel. In hoofstukke 51 en 52 reis Snyman na Suid-Afrika se buurland Mosambiek, waar hy besoek aflê by die Trichardt-gedenkmuur, ter nagedagtenis aan die mense van die Trichardt-trek wat tydens die Groot Trek van 1838 daar oorlede is. Die verhaal getiteld “Barend”, wat om ooglopende redes my aandag getrek het, en wat ek eerste gelees het, sou egter weer vierkantig onder die vaandel van blanke skuld kon ressorteer.

Daar is verskeie ander hoofstukke waarop mens hier sou kon voortborduur, maar in essensie is Soekmekaar weereens ’n briljante boek deur ’n geliefde Afrikaanse skrywer. Dit is ’n boek wat lesers gaan aangryp en roer. Heelwat van die verhale is al voorheen  in die media en sosiale media gepubliseer, maar ek vermoed nie almal nie. Die vertelling van Snyman se reis na Bloemfontein na sy verloofde, Anette Roberts, se tragiese heengaan, is ook opgeneem in die boek. Op sy kenmerkende manier worstel Snyman in Soekmekaar voort met Afrikaneridentiteit. Daar is ook hoofstukke waar hy besin oor Steve Hofmeyr en die laertrekkery van sy mense. Dit word dan weer gebalanseer met die verval van die land en die wanhoop en armoede, wat hom egter telkens weer uitbring by stories van hoop. Dit is hierdie nimmereindigende siklus van Snyman se skryfwerk waarvan sy aanhangers net nooit genoeg kan kry nie. Omdat dit so eerlik is en jy jouself daarin herken, en ook jou eie wêreld daarin kan raaksien.

Snyman se predikantvader het ’n getekende kopie gehad van Andries Treurnicht se boek Credo van ’n Afrikaner. Ek onthou die boekie. Dit was in so ’n geel omslag, en ek het self eens deur daardie opstelle van Treurnicht geworstel. In die slotverhaal vertel Snyman egter hoe hy van die boek ontslae raak, want “dit is ’n padkaart na nêrens” (bl 229). Treurnicht was eens ’n prominente leier binne die Nasionale Party, ’n sterk kandidaat vir latere presidentskap van die land, maar het uiteindelik die leier van die wegbreek-Konserwatiewe Party (KP) geword. In ’n hoofstuk met dieselfde titel as daardie boek lys Snyman ’n versameling gesegdes waarvan baie vandag verdag is, maar wat sy lesers sal eien as tipiese Afrikaanse sêgoed uit die verlede. Hy kom dan tot die volgende ontnugterde gevolgtrekking: “Soveel van wat ek is, is onder beleg en verdenking. Ek is ’n onseker, wankelende Afrikaner (150).

Soekmekaar is ’n boek vol van onsekerheid, maar ook een van sekerheid kry van wat agtergelaat moet word op die pad vorentoe.

Lees ook:

Op pad deur Dana Snyman: ’n lesersindruk

 

  • 5

Kommentaar

  • Avatar
    Linda Zaaiman

    Stem saam, Soekmekaar is n besondere leesbare boek. Maar ek wonder of Barend en ek dieselfde boek gelees het. Hy skryf oor n hoofstuk oor Karel Schoeman. In watter hoofstuk? Wel n hoofstuk oor Ntate Schoeman - allermins Karel S.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Dankie Linda. Vir jou kommentaar. Oor Schoeman - dit is een en dieselfde Karel Schoeman. Onthou dat die woord "ntate" nie 'n eienaam is nie maar 'n titel in Sesotho. Wat onder meer vertaal kan word met "meneer". Lees weer die inleiding van die stuk mooi op bladsy 65, waar Snyman vertel hy was in die dorpie Prieska toe hy verneem van Karel Schoeman se heengaan.

    Groete.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Geen probleem. Ek het 10 jaar in die Vrystaat gewoon en daar studeer dis hoekom ek bietjie Sesotho ken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top